POSTED BY Steven Sass on 22:08 under

16 September 2012 Patensie
Wees getrou aan mekaar
Eksodus 20:14
Ons ken almal die sewende gebod: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie” (Eksodus 20:14). Dis ‘n gebod waaroor nogal baie gepraat word, en dis omtrent die enigste gebod waarvan die oortreders soms onder kerklike tug geplaas word, wat die indruk skep dat dit die belangrikste van al die gebooie is.

Dit is die gebod waarvan so baie sê: hieraan is ek nie skuldig nie. Ons dink  soms so enkelvoudig oor hierdie gebod, so asof dit slegs verwys na seksuele verkeer tussen persone waarvan minstens die een getroud is. En dit was ook so die geval in Bybelse tye. Toe is gedink dat dit hier spesifiek gaan om getroude vrouens. Mans kon mos met meer as een vrou trou en kon dus nie eintlik egbreuk pleeg nie, tensy dat hy betrokke was by ‘n ongetroude vrou.

Ander het gedink dit gaan eintlik om die beskerming van die man: as iemand anders ‘n verhouding met sy vrou het, word sy : “eiendom beskadig”. Gelukkig dink ons darem nie vandag meer so nie. Maar dink ons nie nog behoudend  eng en letterlik oor hierdie gebod (en die ander gebooie) nie?

In die sewende gebod gaan dit om verhoudings en dan spesifiek om huweliksverhoudings. As hierdie gebod dit duidelik maak dat die persoon wat deur die Here verlos is, nie egbreuk pleeg nie, dan kom die vraag na vore: waarom nie?

Dit word in die Bybel beklemtoon dat die Here die mens geskep het: man en vrou het Hy hulle geskep. Hy het hulle so geskep dat hulle afhanklik is van, aangewese op en eintlik ten diepste eers volkome is met mekaar. Daarom het die Here man en vrou verskillend, maar terselfdertyd gelyk en op mekaar aangewese gemaak. Dit word dan ook duidelik gestel dat die man aan die begin baie alleen was. Toe die vrou bykom, sing hy! Kom ons erken dit maar vandag: man en vrou het mekaar nodig en vind vreugde en vervulling in mekaar.

 Die verhouding tussen man en vrou is dan ook die omvattendste en intiemste van allle verhoudings en vorm die basis  van alle ander verhoudings. Die verhouding omvat die mens in sy totaliteit: liggaam, siel en gees, ons fisiese, emosionele, intellektuele en geestelike lewe. Daarom stel dit ook meer eise as enige ander verhouding.

Dit is ook verder die mees permanente verhouding. Die huwelik is dan tereg die hoeksteen van alle samelewings. Geen gemeenskap kan daarsonder goed funksioneer nie (interessant is tog dat ouerskap en lewe in die Tien Gebooie voorrang geniet bo die huwelik – maar ons moet nie te veel hieruit aflei nie). Die verhouding tussen man en vrou raak die hele gemeenskap: die gesin, familie, sosiale, politieke en ekonomiese lewe. Die huweliksverhouding bepaal die lewenswyse op alle ander vlakke. Die lewe buite reflekteer die huweliksverhouding. Daarom is hierdie gebod so belangrik.

Hierdie gebod verbied eintlik enige optrede wat die huwelik laat verbrokkel en die verhouding tusssen man en vrou skade berokken. Dit is voor die hand liggend dat egbreuk en owerspel die huwelik tot in sy fondamente skud. Dit skend die vertroue in mekaar.

As dit dan die geval is, dan verwys hierdie gebod nie net na egbreuk nie, maar kan dit ook van toepassing wees op ander wanpraktyke en skadelike dade. Is gesinsgeweld nie ook op dieselfde vlak nie? Die man wat sy vrou aanrand, is immers ook besig om sy huweliksband te verbreek. Die vrou wat haar man verbaal aanrand, met praatjies verkleineer en vernietig, is mos ook besig om die huwelik af te breek. Die man en vrou wat gedurig besig is om te baklei, mekaar af te kraak en sleg te maak, is eintlik ook besig om die huwelik ten gronde te laat gaan.

 Is dit nie ook maar ‘n vorm van egbreuk as die man in dronkenskap of met geweld hom aan sy vrou opdring nie? So gesien, kan hierdie gebod oortree word sonder dat ‘n derde party daarby betrokke is! Hierdie gebod kan selfs ootree word al is die seksuele nie ter sprake nie, want die verbreking van die huweliksverhouding is hier ter sprake op watter wyse dit ook al geskied.

Die gebod kan ook van toepassing wees op alle vorme van onsedelikheid. Verkragting sou ook hieronder kon val. Dit sou miskien selfs onder die gebod oor moord kon val omdat dit die verkragte eintlik dood maak. Al is die verkragter en die slagoffer nie getroud nie, is dit nogsteeds egbreuk, want die verkragter staan tog nie in ‘n intieme huweliksverhouding tot sy slagoffer nie.

 Kindermolestering kan ook hier genoem word. Hierdie gruweldaad vernietig die lewe van die kind en laat permamnente letsels. Dit vernietig die huwelik van die molesteerder en dikwels die toekomstige huwelik en geluk van die kind self. ‘n Losse sedelike lewe lê eweneens ook op hierdie vlak. Al besef baie dit nie, het dit ‘n negatiewe uitwerking op die toekomstige huweliks verhoudings. In kern kom dit daarop neer dat enige seksuele wanpraktyke ‘n oortreding van hierdie gebod is.

Hierdie gebod beskerm die huweliksverhouding omdat die huwelik juis die verhouding met die Here weerspieël. Ons het reeds daarop gewys dat die Here die mens so geskep het dat man en vrou op mekaar afgestem is. Die boek Hooglied is dan ook in die Bybel opgeneem waarin die wonder van die liefde tussen man en vrou besing word. Die liefde, en ook die seksuele liefde, is nie sondig of lelik of verkeerd nie. Inteendeel, dis ‘n gawe van God. Dit mag nie vergoddelik of verdierlik word nie. Dit moet in die huwelik geniet word.

Maar die huwelik omvat veel meer as die seksuele. Man en vrou het mekaar nodig. Ondersteuning is van die grootste belang. Op alle vlakke moet die een die ander bystaan en help. As gelyke helper moet die een die belange van die ander hoër ag as die eie belange.

 Ten grondslag van die huwelik is respek. As respek ontbreek, is die huwelik vinnig op die pad van verbrokkeling. Respek is die wortel van liefde. Sonder respek kan die liefde nie blom nie.

Al te dikwels dink ons net aan die negatiewe en verontskuldig ons ons maklik deur te let op enkele woorde. Ek is nie skuldig aan egbreuk nie. Die Tien Gebooie wil ons egter telkens oproep tot ‘n bepaalde lewenswyse as aanduiding van ‘n lewende verhouding met die lewende Here. Kom ons sê dit weer: In Hebreeus word dinge dikwels in ‘n negatiewe vorm gegiet om die positiewe te beklemtoon. Die sewende gebod wil elke man en vrou dan oproep om te werk aan hulle huweliksverhouding. Juis omdat die huwelik so ‘n omvattende en intieme verhouding is, vra dit dat ons baie aktief daaraan moet werk. Geen huwelik slaag sommer net en is sommer net vir altyd en altyd ‘n gelukkige huwelik nie. Ons moet alles insit om dit te laat werk. Ons moet wegkyk van eie belange, ons moet mekaar ondersteun en dra. Ons moet onsself vir mekaar gee, en met respek teenoor mekaar optree.

Die liefde moet gekoester word: sê en wys dat julle lief is vir mekaar. Hoe meer ingesit word in die huwelik, hoe meer sal daaruit geput word. Hoe meer aan die huwelik gewerk word, hoe meer sal dit geniet word.

Vermy alles wat julle huwelik kan skade aandoen en bou julle huwelike, vra hierdie gebod. Dan sal ons huwelikslewe toon dat die Here ons God is wat ons verlos het.
0 Kommentaar: so far: