2 Konings 6:8-17
Vanoggend se gedeelte begin met die verwysing na die oorlog tussen Aram en Israel. Geen melding word gemaak van die tydstip, redes of betrokke konings nie. Daar word nie baie uitgewy oor die detail nie.
Maar die profeet Elisa, speel egter ‘n baie belangrike rol… Vanweë sy besondere bonatuurlike gawes is hy in staat om die koning van Israel vooraf te waarsku om nie na sekere plekke te trek nie. (vers 11-140). Die Aramese koning was naderhand rasend en vermoed verraad in sy eie geledere.
Na die Naaman episode was Elisa goed bekend onder die Arameërs. Een van die Aramese offisiere hierhinner die koning aan Elisa se gawes en daar word besluit om die man van God onmiddellik gevange te neem. Om die bedreiging wat Elisa vir hulle bide uit die weg te ruim.
Uiteindelik word hy in Dotan opgespoor en ‘n groot mag word teen hom uitgestuur. Die hele stad word in die nag omsingel.Dis duidelik dat die koning van Aram geen kanse wou waag dat Elisa dalk kon ontsnap nie.
Die volgende oggend is Elisa se slaaf baie onsteld en vreeslik bang toe hy wakker word en die groot beleëringsmag sien (vers 16-18). En mens kan hom seker ook nie verkwalik nie! Ons sou seker net so bang gevoel het, of hoe?
Maar let bietjie op: In teenstelling met sy slaaf is Elisa heeltemal kalm. Dit lyk asof hy hom glad nie steur aan die vreeslike berdeiging nie… Hoekom nie? Die antwoord is eenvoudig…. want hy vertrou op God. Met sy geloofsoog interpreteer hy die werklikheid anders as sy vreesbevange slaaf. Eers moet die slaaf se (geloofs)-oë oopgemaak word voor hy kon besef dat die wat by hulle is, meer is as wat by die Arameërs is….
Dit is mos net so ook met ons in die lewe. Wanneer ons geloofs-oë toe is sien ons net die bedreigings en verdrukking en swaarkry en moeilikheid van die lewe raak. Dis baie keer asof ons net soos Elisa se slaaf voel asof ons in ‘n hoek vasgedruk word en daar geen uitkoms vir ons is nie.
Die kleinste dingetjie word vir ons so ‘n groot iets dat ons nie die lig aan die einde van die tonnel kan of wil raak sien nie, nie die donker wolk se goue rantjie kan sien nie.
Is dit nie so dat die lewe, ek verwys nou spesifiek na die volheid van die lewe waartoe elkeen van ons in staat is, wat ons in God het, baie keer by ons verbygaan juis omdat ons toe oë deur die lewe gaan.Ons mis baie keer die grootste wonderwerke rondom ons, en in ons eie lewens omdat ons meer soos Elisa se slaaf is en minder soos Elisa is.
Dis vir my baie keer ook asof mense ‘n doelbewuste keuse maak om so toe oë te leef. Dis asof baie mense partykeer vir God wil inperk deur te sê dat wonderwerke gebeur net nie meer nie. Of dat iets onmoontlik is.
Dis asof mense dit baie keer so doen en beleef omdat hulle nie hulsef wil oorgee aan die mag en glorie van God nie… om maar net deur die lewe te gaan op ‘n eentonige bestaans bootjie, en die “magic” die Almag van God mis te kyk, omdat ons dit nie kan of wil verstaan nie…
Wel die goeie nuus is dat niks vir God onmoontlik is nie. Ons aanbid die Lewende God vir Wie niks oonmoontlik is nie. Hy is tot alles toe in staat. Hy maak nog van die begin af die onmoontlike moontlik. Hy is in beheer van alles en almal…. Hy doen elke dag wondere reg rondom ons en met elkeen van ons. Al wat ons moet doen is om ons oë van geloof oop te maak.
Laat vanoggend nog die Heilige Gees toe om vandag jou oë oop te maak… soos wat Hy met vanoggend se doopouers gemaak het, die afgelope paar maande, soos wat Hy met soveel ander mense rondom jou al die afgelope jaar gemaak het! Maak jou oë oop en sien die Alamag van Here!!!!! Komaan, sien net die berge reg rondom ons hier in Patensie is vol perde en strydwaens van vuur! God is by ons….en Hy is besig met jou op hierdie oomblik.
Die uiteinde van Elisa se vertroue op God was ongelooflik gewees. Hy kon deur die lewe gaan sonder om te vrees, sonder om bang te wees. Hy kon wondere verrig en het dit ook op baie geleenthede gedoen. Hy was die toonbeeld vir ons gewees van hoe om op God te vertrou met ons hele lewe. Met alles wat ons is en het en droom om te wees.
Hy het homself totaal en al oorgegee aan die Almagtige God. Wat ‘n reuse geloofsheld en voorbeeld vir elkeen van ons. Hy was die wonderlike bewys dat dit net eenvoudig beter is om op God te vertrou, dat dit net eenvoudig sin maak om te vertrou op die leiding van God.
Elisa se voorbeeld kom gee vir ons die vaste versekering dat waneer ons totaal en al op God vertrou ons ook ons werklikheid hier in Patensie anders kan vertolk. Dat ons ook nie hoef moed te verloor en bang te wees vir die toekoms nie. Sy voorbeeld kom verseker elkeen van ons dat dit die moeite werd is om niks te vrees nie, en net op God te vertrou!
Maar ongelukkig kies te veel van ons om eerder soos Elisa se slaaf te wees. Om eerder elke keer die toekoms en uitdagings van hierdie lewe te vrees. Verseker het Elisa se slaaf daardie oggend in Dotan ‘n baie belangrike lewensles geleer, die vraag is nou net of jy dit nou ook deur hom geleer het. Gaan jy wag tot die vals beskerming wat jy rondom jou oor soveel jare opgebou het ook eers heeltemal inmekaar tuimel voor jy ook maar moet erken dat jy die pad byster geraak het?
slaaf wees? Of aanvaar jy nou saam met my, saam met vanoggend se doopouers die uitdaging om ‘n vreeslose Elisa te wees…’n Man en Vrou van God?
Johannes 1:29:34
Johannes die Doper was ‘n besondere man. Jesus het van hom gesê: “Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie”.
Reeds in die Ou-Testament was daar die verwagting van geboorte, lewe en roeping van ‘n man wat die weg sou voorberei vir die koms van die Messias. Diegene wat gesmag het na die koms van die Messias, het uitgesien na die koms van die een wat die pad sou reguit maak vir die Messias. Nou het dit bewaarheid geword in die geboorte van Johannes die Doper. En juis om hierdie rede was hy ‘n besondere man.
Die geboorte van Joahannes die Doper was eweneens ‘n besondere geboorte. Sy geboorte is deur ‘n Engel van die Here aan sy bejaarde en kinderlose vader aangekondig. Soos die geval met Isak en Samuel was, was ook sy ontvangenis in die besonder ‘n genadegawe van God, omdat sy ma onvrugbaar was. Reeds vanaf sy ontvangenis was Johannes die Doper ‘n besondere man. Vanaf sy geboorte is hy vervul met die Heilige Gees.
Maar Johannes die Doper was veral ‘n besondere man, omdat hy ‘n besondere roeping gehad het om in die lewe te vervul. Hy moes die Wegbreider vir Jesus wees. Hy moes die volk voorberei vir hul ontmoeting met Jesus Christus. Onverskrokke en sonder om terug te deins, kondig hy die oordeel van die Here aan oor die volk en pleit hy by hulle om bekering.
In sy boodskap let hy nie op die mense nie. Suiwer bring hy die boodskap: Bekeer julle en glo. As die Farisieers en Saddusseers na hom kom luister, sê hy vir hulle: “Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die oordeel wat aan die kom is? Selfs vir die koning deins hy nie terug nie. Hy bring die boodskap van God - al kos dit ook sy lewe. Want hy het nie vir homself of sy eie belange geleef nie. Hy leef vir God.
Hy gun homself nie eens die gemak van ‘n gereiflike woning en goeie klere nie. Nee! In die woestyn bly hy – van kameelhare maak hy vir homself klere. Sprinkane en wilde heuning was sy kos! “n Nederige, onaansienlike lewe het hy gelei. Eie belange was na die agtergrond geskuif. Dit gaan hier deur en deur maar om die eer van God.
Nou moet ons onthou dat die moontlikheid van selfverheffing vir hom baie groot kon wees. Die mense het gou besef dat hy ‘n besondere man was! In groot getalle stroom hulle na hom om na sy boodskappe te luister en deur hom gedoop te word. Maar Joahannes die Doper soek nie sy eie eer nie. Steeds verklraar hy uitdruklik: God moet meer word en ek minder!
Die priesters en die Leviete en Fariseërs stuur selfs na hierdie besondere man en vra of hy dan nie die Christus is nie. Die versoeking moes geweldig groot gewees het. Dink aan die verleiding daarvan. Maar uitdruklik verklaar Joahannes die Doper telkemale - ek is nie die Christus nie. Ek is alleen maar die wegbereider.
Johannes die Doper is ‘n besondere man omdat hy ‘n besondere boodskap gehad het. Rondom hierdie boodskap het sy lewe gesentreer. Hierdie boodskap het sy lewe deurdrenk en van hom ‘n besondere man gemaak. Hierdie alles veranderende en vullende boodskap is vervat in die woorde van ons teks: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”
Dit was die boodskap wat Johannes die Doper uitgedra het. Soos ‘n wegwyser langs die pad wys hy met alles wat hy was en waaroor hy beskik het, in die rigting van Jesus Chrstus. Sy woorde het die mense hulle oë laat opslaan na die Verlosser. Sy lewe het gedui in die rigting van Jesus Christus – die Leidsman en Voleinder van geloof.
Die oordeelswoord was nie die laaste woorde van Johannes nie. Nee, as sy prediking by veroordeling geëindig het, was hy alleen maar ‘n doemprofeet en sou sy boodskap nie veel gewig gedra het nie. Nee. Hy kondig die oordeel aan om aan die eiegeregte volksgenote wat so ‘n skeinheilige lewe gelei het, die wit gepleisterde grafte, te toon dat daar in selfregverdiging geen regverdiging is nie. Dat hulle selfbelang ontmasker sal word. Dat daar maar een weg is: Jesus Christus. Daarom pleit hy ernstiger as wat hy oordeel aankondig dat hulle hulle hartgrondig moet bekeer en glo in die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!
Daar is die Lam van God: Jesus Christus. Die nederige en sagmoedige. Die een wat ter slagting gelei is en Hom nie verset het nie! Omdat Hy gekom het om ter slagting gelei te word. In die Ou-Testament bedeling moes daar elke dag ‘n lam geslag word ter versoening van die sondes van die volk. Nou stuur God self die lam – Sy Eniggebore Seun. Hy is self die Offer. Jesus bied Homself aan as offer. Hy bring die volkome offer. En dan nie alleen vir die sondes van Israel nie. Nee. Ter wille van die wêreld. Vir almal. Ook vir ons.
Die Lam van God kom om die sondes van die wêreld weg te neem deur dit op Hom te neem en deur Sy dood weg te neem sodat dit in die oë van God nie meer bestaan nie!
Johannes die Doper was ‘n besondere man omdat hy in ‘n besondere verhouding met Jesus gestaan het. Hy was die een wat gewys en uitgeroep het na die Lam van God. Maar ook Johannes die Doper was nie ‘n superman nie. Hy is eintlik maar slegs ‘n voorbeeld van wat God wil hê dat ons almal moet wees. Ja, die Woord van God roep ons op om wegbreiders te wees. Om ander voor te berei vir die Wederkoms van Jesus Christus. God wil ook dat jy ‘n besondere mens sal wees. En herin moet ons ook soos Johannes die Doper optree.
Om ‘n wegbreider te wees moet ons deur die Heilige Gees vervul wees. Uit onsself kan ons nie. Slegs as ons gevul is met die Heilige Gees van God. As ons nie vir onsself leef nie, maar vir God. Daarom mag hierdie lewe nie die bymekaarmaak wees van aardse skatte of eer en prestige nie. Nie ingestel op eie belange en eer nie. Nee, Lewe moet op God gerig wees. Uit Hom en deur Hom en tot Hom. Hy moet die middelpunt wees waarom my lewe draai.
Dan word ons opgeroep om die oordeel aan te kondig. Om die mantels van skyn af te ruk. Mense te wys op sonde en ongeregtigheid. Maar nie liefdeloos nie! Nie uit die hoogte te veroordeel nie. Ons mag nie ketterjagters word nie.
Nee, oordeel aankondig omdat ons ander liefhet en in dieselfde oordeel as hulle gestaan het! Oordeel omdat ons in liefde begaan is oor hulle lewens en veral hulle einde! Bowen-al: Wys op Jesus: Sê deur jou hele lewe: “Daar is die Lam van God wat alle sonde wegneem.
Ons lewens moet rigtingwysers wees. Ons daaglikse arbeid moet wys in die rigting van die kruis. Ons inspanning moet getuig van Jesus. Ons woorde moet wys op Jesus. Ons lewe en belydenis, woord en diens moet van Hom getuig.
In die Christelike Kerk is daar nie plek vir geestelike papbroeke nie. Ons word almal opgeroep om helde te wees. Nie uit eie krag nie, maar in die krag van Jesus Christus! Moenie apologeties wees nie. Tree kragdadig en onverskrokke op tot eer van die naam
Handelinge 1:9-11
Is dit nie so dat ons maar tot ‘n mate partykeer wegskram van die hemelvaart nie? Dit is asof Christene maklik praat oor die kruisiging van Jesus, moeiliker oor die opstanding van Jesus uit die dood en nog moeiliker oor die hemelvaart van Jesus.
Daar is dan ook baie wat sê dat die hemelvaart nie regtig plaasgevind het nie. Dit is natuurlik nie iets nuts nie. Van vroeg af was daar stemme wat opgegaan het en gesê het dat dit ‘n storie is wat die dissipels uitgedink het.
Deesdae kom die historiese feite van die opstanding en hemelvaart dikwels in die spervuur. Daarop reageer mense dikwels deur te sê dat dit in die Bybel staan en die Bybel is tog waar en daarom moet dit waar wees. En dit is waar.
Vandag wil ek veral let op die betekenins van die opstanding en hemelvaart in die lig van die deurtog deur die Skelfsee en en verkskyning van God in die Ou-Testament. Dan wil ek dit deurtrek na die gebeure in die Nuwe Testament en toepas op ons situasie vandag hier in Patensie.
Die verhaal van die tog deur die Skelfsee is goed bekend. Ons ken almal die verhale in Eksodus oor die onderdrukking en verlossing uit Egipte en hoe die Israeliete by die Skelfsee uitgekom het. Daar het die Egiptiese leër hulle ingehaal en was hulle in ‘n baie groot krisis situasie. Dit het gelyk of hulle in ‘n doodloopstraat beland het: voor hulle was die see en agter hulle die oprukkende Egiptiese leërmag.
Hoe sou hulle ooit weer lewend hieruit kon kon? Dan lees ons hoe God die waters gekloof het en hulle droogvoets deur die see geloop het. Kort daarna het die see weer aanmekaar gevloei en is die Egiptenare gedood.
Nou is daar baie wat sê dat die uittog uit Egipte nie ‘n historiese berig is nie. So is die getalle van die Israeliete net te groot: dit beteken dat daar geen bevolkingsgroei van die tyd tot die tyd van Salomo was nie; dit sou onmoontlik gewees het dat so ‘n groot klomp mense in een nag uit Egipte kon trek, ensovoorts. As ons mooi na die verhaal kyk, dan sien ons dat hier eintlik vier verhaallae (ofverhaal moontlikhede)is.
In die eerste verhaallaag gaan dit om die stryd tussen die Here en die gode. Dit is parallel met die godestryd tussen gode van orde en die gode van chaos waarvan ons in baie ander verhale in die Bybel lees. Hier gaan dit dan om die fiet dat die Here die see, die woonplek en simbool van die gode van die doderyk en van chaos, middeldeur skeur en vernietig. So oorwin God oor die chaos. Die mag van die gode en van die doderyk word verbreek.
In die tweede verhaallaag gaan dit om swerwelinge wat in moerasse beland en deur ‘n groot waatermassa oorweldig word. Maar dan stuur God die oostewind wat die waters wegdryf sodat hulle gered word.
Die derde verhaallaag handel oor die verlossing van mense wat in ‘n militêre opersasie in die krissis beland het en wat dan gered word as God die waters kloof, hulle droogvoets deurgaan en die vyand in die waters omkom.
Laastens vind ons in die verhaal tekens wat daarop dui dat dit kulties herdenk en gevier is. Ons moet dan nie enkelvoudig na die verhaal kyk en sê dat dit dalk nie histories kan wees nie. Hier word beklemtoon dat God Sy kinders gered het. Hy het hulle verlos deur die mag van die chaosgode en die dood te verbreek. Hy het hulle verlos uit die eksistensiele krisis waarin hulle hulle bevind het . Hy het hulle as volk verlos uit die noodsituasie waarin hulle hulle bevind het…
Dit het hulle jaarliks herdenk in die kultus- (dit is die georganiseerde aanbidding van die Here). As hulle dit doen, dan doen hulle dit met die wete dat dit nie hulle vaders is wat die Here uit Egipte verlos en met wie Hy ‘n verbond gesluit het nie, maar dat dit met hulle self is wat lewe en feesvier dat Hy ‘n verbond sluit. Die Here het ons verlos – daarom gebruik die skrywer onder andere die getalle van die volk op sy tyd. Hiermee word die historisiteit van die gebeure nie ontken nie. Daar word nie gesê dat dit nie gebeur het nie. Inteendeel, daar word gesê dat dit eintlik op verskillende vorme baie keer gebeur het en nou weer ‘n werklikheid word as hulle dit vier.
Dit is die basis waarop hulle geloof berus het. Dit is die grondslag van hulle lewe. Dit word dan meer as ‘n eenmalige gebeurtenis wat baie lank gelede plaasgevind het en wat met die tyd vervaag het. Dit word die basis waaruit hulle elke dag lewe. Die kernbelydenis wat hulle lewe bepaal.
Die kernbelydenis van die Ou-Testament word ook die kernbelydenis van die Nuwe Testament. Die kruisiging en opstanding van Jesus beteken die oorwinning oor die magte van die duisternis en die dood. Hy het deur Sy sterwe en opstanding die mag van die Satan verbreek; die dood oorwin. Hy het gekom om die mens te verlos uit die persoonlike krisisituasie waarin die mens hom bevind; om volke te bevry en Vryheid te bring. Dit word gevier in die nagmaal en in die doop.
So word die kruisdood en opstanding nie net historiese dade wat lank gelede plaasgevind het nie, maar word dit elke keer opnuut herhaal en geaktualiseer. Dit word ‘n werklikheid vir elkeen wat in Hom glo. Deur die belewing daarvan word dit opnuut historiese werklikhede wat my historiese werklikheid bepaal. Dit is die basis van ons geloof en lewe.
In die Ou-Testament lees ons dikwels dat die Here aan mense verskyn het. Die Godsverskynings het op verskillende maniere plaasgevind. Tog word dit dikwels beskryf dat God na die mens kom en aan die mens verskyn in ‘n wolk. So lees ons dat die Here aan Moses verskyn op die berg in ‘n wolk; dat Hy aan Elia verskyn in ‘n wolk.
In daardie tyd is dit gesê dat wolke van die hemel af kom. Dit is die woonplek van God kom en dat dit eintlik die voertuig is waarmee God na die mense toe kom. In die lig van die feit dat die verskyning van God dikwels met wolke gepaard gegaan het, is dit ook so dat hulle die teenwoordigheid van die Here met wolke verbind het. Soos die reenboog die simbool van Gods genade was en die teken dat God nie die wêreld met water sou verwoes nie, was wolke vir hulle die simbool van die teenwoordigheid van God. Waar daar wolke is, is God. Op die wolke kom Hy.
Hier vind ons dan ‘n ander interpretasie van die wolk: Jesus gaan weg in ‘n wolk. Hiermee word weereens die wesenseenheid tussen die Vader en die Seun uitgedruk. Soos God in die Ou-Testament gekom en gegaan het, so gaan Jesus op die wolk na die hemel en so sal Hy ook weer kom. So seker as wat daar wolke is, so seker is sy teenwoordigheid; Sy gaan en Sy koms. Daarop moes die volgelinge van Jesus steeds waaksaam wees en elke keer as hulle wolke sien, moes dit hulle herhinder aan die koms van Jesus.
Elke wolk moet die gelowige herhinder aan die hemelvaart en met verwagting laat uitsien aan die wederkoms. Ja, gelowiges moet nie aldag te stip vaskyk in hulle omstandighede en net op die grond bly vaskyk nie; gelowiges moet opkyk. En as ons wolke sien, moet ons weet: God is hier; Jesus het opgevaar en Hy sal weer kom.
Die gelowige is soos ‘n boer wat in tye van droogte met verlangende oë na die hemel kyk in die verwagting dat die wolke reën en lewe sal bring. So wag die gelowige op die teken van die teenwoordigheid van God en wederkoms van Jesus wat die begin van ‘n totale nuwe lewe sal inlui.
In ons tyd is daar ook talle mense wat die werklikheid van die opstanding en hemelvaart van Jesus ontken en dit wil afmaak as feëverhale of stories wat deur mense opgedis word. Netsoos in die tyd van die eerste Christene. Dit gaan egter om meer. Dit is die kern van ons geloof. Dit is die basis van ons lewe. Dit is nie iets wat tot die verre verlede hoort nie. Dit moet vandag nog en elke dag opnuut ‘n werklikheid vir ons word.
Soos ons elke dag die verlossing in Jesus moet ervaar, moet ons ook elke dag herhinner word aan die hemelvaart en elke dag met verlange uitsien na die wederkoms…
1 Korintiers 15:54-58
Almal van ons is betrokke by die grenssituasies van hierdie lewe. Ons lewens word begrens deur geboorte en sterwe. Alhoewel ons by beide betrokke is, is dit nie in ons hande nie.
Prediker het gesê: die lewe bestaan uit vasgestelde tye; ook geboorte en sterwe. Ons almal moet hierdie grense oorsteek.
Die lewe is soos ‘n treinreis tussen twee stede, tussen wie daar nie ‘n direkte verbinding is nie. Dit maak oorklim noodskaaklik.
Die reis neem ons deur lyding, siekte, benoudheid, vervolging, honger en gevaar( Rom.8:35). Die reis is nie altyd presies te beplan nie. Die vertrekpunt en tyd van die eindbestemming is nie in ons hande nie. Prediker sê: “Ons tyd is uitgemeet; ons oorstappunte is bepaal.
Die dood is ‘n werklikheid – hoe ons ookal redeneer. Ons hoor en lees van mense wat sterwe. Ons sien dood op T.V. Ons staan by ‘n graf van ‘n kennis of ‘n geliefde. Ons weet almal: die dood is ‘n werklikheid. Dit wag op ons almal. Nie een van ons is gevrywaar om nie te sterf nie. Die vraag is dan: Hoe ervaar ons dit?
Sien ons die dood as ‘n vyand? Dan kan ons daarteen veg of probeer om te ontvlug. Probeer jy dit vermy of ignoreer? Want dit help nie. Een of ander tyd word ons daarmee gekonfronteer.
Sien ons dit as ‘n afskeidsgeleentheid? So ‘n finale afskeid van iemand. Of as die tyd dat ons moet afskeid moet neem van alles en almal.
Of sien ons dit as ‘n grensituasie. Waar die grens oorgesteek sal word en ons vanuit hierdie bedeling sal oorstap in ‘n ander, nuwe bedeling. Is dit ‘n eindpunt of ‘n beginpunt?
Paulus sê aan die Korintiërs dat die opstanding van Chrsitus ook belangrik is vir die mens. Die opstanding van Christus verander die gelowige se persepsie van die dood. Hy kom tot die gevolgtrekking dat ons nie sal sterf nie. Die oorwinning behoort nie aan die dood nie, maar aan Chrsitus wat oorwin het oor die dood. Daarom is die dood nie die oorwinnaar en eindpunt nie. Christus is die oorwinnaar.
Wat is die grond van so ‘n uitspraak? Paulus het Christus geken. Hy weet dat Christus opgestaan het. Hiervan was daar baie getuies. Dit is die grond en basis van ons geloof. Dit is die grond van die lewensverandering en lewenswyse van baie. Dit het sy lewe verander en sin gegee aan sy lewe wat voorheen nutteloos en ‘n najaag na wind was.
Hy sê dan: As Christus nie opgestaan het nie, is ons geloof nutteloos. Verniet sal ons dan glo en hoop op lewe na die dood.
Is dit vir ons vandag belangrik? Ons leef. Ons moet aangaan met ons lewens. Moet ons in die skadu van die dood leef? Altyd leef in die vrees van die dood?
Nee. Vandag is ‘n voorbereiding vir more, vir die toekoms. In die lig van die oorwinnig oor die dood deur die opstanding van Christus moet ons kyk na die oorwinning oor die dood. Deur die opstanding van Christus moet ons kyk na ons verhoudings. Na ons verhouding met die opgestane Jesus, met die lewende Here. Maar ook na ons verhoudings met ander mense.
Hier is twee aspekte ter sake: omdat ons weet die dood op almal wag, moet ons in liefde leef omdat ons nie weet wanneer ons nie meer hier sal wees nie. Terselfdertyd moet ons in liefde leef juis omdat ons met Christus opgestaan het in ‘n nuwe lewe.
Dit dring ons om aandag te gee aan ons verhoudings… Hoe leef ons: liefdevol of liefdeloos? In die lig van die kortstondigheid van die lewe, die finalitiet, moet ons onsself elke dag ondersoek en vra of ons werklik ‘n opstandingslewe leef. Kan ander sien dat ons met Christus opgestaan het tot ‘n nuwe lewe?
Paulus skryf dan: “Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie”(1Kor. 15:58). Hier word drie dinge genoem wat kenmerkend is van die lewe deur die opstanding van Jesus.
Wees standvastig. Die nuwe lewe wat deur die opstanding van Jesus ingelei word, is ‘n standvastige lewe. Nie ‘n lewe waar die gelowige heen en weer geslinger word deur omstandighede nie. Die gelowige is nie soos ‘n riet wat in die wind heen en weer gewaai word en wat deur sterk stormwinde geknak of gebreek word nie…wat ookal mag gebeur, ons hou vas aan die verlossing in Christus, die lewe deur Hom en aan Hom. Niks kan ons van koers af kry nie. Wees standvastig, betroubaar want ons weet dat Jesus opgestaan het en oorwin het oor graf en dood en hel…
Teedens sê Paulus…wees onwankelbaar. Soos ‘n rots. Is dit nie juis moontlik omdat die grond van ons geloof onwankelbaar is nie. Die lewe van die gelowige is mos gebou op God. Hy is die onwankelbare. Al sou die berge bewe en die aarde ineen stort, bly die Here die Onwankelbare. Hy verander nooit nie. Jesus is gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde. Op grond van ons verbondendheid aan Hom kan ons onwankelbaar wees. Al is die storm ook hoe erg. Al is daar verskriklikke aanslae. Al val alles rondom ons!
Derdens sê Paulus dat die nuwe lewe wat op die opstanding van Jesus volg, ‘n lewe van oorvloedige werke is. Wees altyd oorvloedig in die werk van die Here. Wat beteken dit? Dui dit daarop dat ons net maar in die kerk en op geestelike gebied werke moet lewer? Nee. Dit gaan om oorvloedige werke na die voorbeeld van die Here. Let op: nie baie werke nie, maar oorvloedige werke. Werk voluit. Doen alles wat jy kan en nog meer….
Dwarsdeur die Bybel word bely dat die Here naby Sy kinders is en veral naby is aan diegene in nood. Om oorvloedig te wees in diens van die Here beteken dan ook dat ons baie keer naby mense in nood moet wees. Wees daar vir ander. Wees daar vir jou kinders. Wees daar vir jou ouers en ander ou mense. Wees daar vir almal wat jou dalk mag nodig hê. Die nuwe lewe wat ingelei word deur die opstanding van Jesus word gekenmerk deur nabyheid aan ander.
Wees altyd oorvloedig in die werk van die Here. Dit is ‘n kenmerk van die nuwe lewe wat deur die opstanding van Jesus moontlik gemaak is. Dit is ‘n vol en ryk lewe. ‘n Sinvolle lewe. “n Lewe wat gekenmerk word deur die oorvloed van werke na die voorbeeld van Jesus. Deur die opstanding van Jesus het daar ‘n einde gekom aan die sinlose bestaan wat by die graf eindig!
1 Korintiers 15 beklemtoon dat die gelowiges ‘n nuwe lewe leef; dat die dood nie ‘n skeidig en vernietiging is nie, maar ‘n grenskruisig. Dit sluit aan by Romeine 8 waar Paulus sing dat niks ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie…
Romeine 5;1-11
In hierdie gedeelte wil Paulus die lyn deurtrek vanaf die dood en opstanding van Christus na die lewe van ‘n Christen. Hiers stippel hy die implikasies van die dood en opstanding van Christus vir die Christen uit.
Die paragraaf wat ons saamgelees het, vertoon die opmerklike struktuur waar die verlede , hede en toekoms telkens naas mekaar geplees word. Die Hede is begrond in die verlede en die toekoms vloei daaruit voort. Die lyding, sterwe en opstanding van jesus is nie maar net gebeure waaraan ons terugdink nie. Nee, dit bepaal ons lewe en lewenswyse en ons toekoms.
Doe soendood van ons Here Jesus Christus staan in die middle. Dit is die fokuspunt van die lewe van elke Christen. Christus het op die bestemde tyd vir die goddeloses gesterwe (v6). Christus het gesterwe. Ja, Hy het vir die goddelose, vir die sondaar, vir hulle wat sonder God geleef het, vir hulle wat God verwerp het, ja vir elkeen van ons, wat deel gevorm het het, of vorm van die skaer van goddelose, gesterwe. Die sterwe van Christus is die bewys van liefde van God vir ons(v8). Die liefde van God is so onbegryplik groot, soveel groter as waartoe ‘n mens ooit in staat kan wees. Want ‘n mens sal sy eie lewe nie opoffer ter wille van ander nie- miskien sal iemand nog in die plek van ‘n baie goeie en geliefde persoon sterf. Maar wie sal nou bereid wees om gewillig sy lewe te gee in die plek van hulle wat hom haat; hom verqag;hom vervolg; hom mishandle? Maar God openbaar Sy liefde daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
Dan, sê Paulus, het die dood en opstanding van Christus ‘n aantal implikasies vir ons lewe. IN vers 1 lees ons: ons het vrwede by God deur ons Here Jesus Christus. So bring Jesus ‘n totale ommekeer in die lewe van ‘n men swat vroeër God gehaat het; wat God verwerp het; nie na God geluister het nie en in konflik met God geleef het. Vrede by God beteken om een met God te wees; om Sy wilt e volvoer; saam met Hom te werk en Hom te verherlik met jou hele menswees. Het jy vrede by God deur die geloof in Jesus Christus? Die Here van vrede wil in Christus vir jou vandag volkome vrede gee. Mag die vrede van God ook deel word in jou lewe… dis my wens vir jou.
In vers 2 lees ons dat ons deur jesus die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan. Christus is die deur waardeur onskna ingaan en in hierdie ruimte van genade leef. In Christus het ons die genade van God deelagtig geword. Die genade dat Hy ons sondes vegewe; ons reinig en ons heilig; ons aanneem as Sy kinders en erfgename van Sy koninkryk. Sy genade is elke dag en op alle terreine oorvloedig in ons lewe. ONs leef uit genade; in Sy genade wat soos lug om ons vou.
Dan sê Paulus: omdat ons deur jesus Christus vrede by God het, en leef in Sy genade, kna on sons verheug. Kan ons juig en bly wees. Kan ons jubel en glimlag. En dit wat hy vir die gemeente van Rome sê, geld ook vir almal in die tye van verdrukking. Dit geld ook vir ons. Vir lkeen wat swaarkry. En nou moet jy onthou dat die Christene in Rome baie swaar gekry het. Want keiser Claudius het ook die Christene vervolg. Baie van hulle moes sterf vir hulle geloof. Clauduius het dan ok op die ou end al die Christene uit Rome verban. Toe hy sterf kon die Christene weer terugkeer na Rome. En nou sê Paulus: Omdat ons is Chrsitus met God versoen is, vrede by God het en in Sy genade leef; darom kan en moet on sons verheug. Want ook die swaarkry is deel van God se handelinge met Sy kinders.. Want swaarkry kweek volharding; en volharding kweek egtheid van geloof en egtehid van geloof kweek hoop en hoop beskaam nie, want God het Sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het(v3-5). Swaarkry en teenspeod is soms noodsaaklik om die geloof tot volle wisdom te bring. Vir ‘n plant mag dit nodig wees om swaar te kry ten einde pragtige blomme te voorskeyn te bring. Die liefde van die sterwe van Christus; die krag van Sy opstanding triomfeer oor alle pyn en dood. In die liefde en krag kan die mens; die gelowige triomfeer oor alle menslike leed en pyn en swaarkry. So bring die lyding van Chrsitus vreugde in ons lyding ion die wete: in Chrsitus sal ons daaroor triomfeer. Ons lyding is nie vernietigend nie. Ons sal daaruit opstaan en lewe. Ja, selfs die lyding van die dood is in Chrsitus verbreek. Saam met Homs al ons opstaan en lewe.
Nou stel die gedeelte dit so mooi; die soendood van Christus en Sy opstanding vind sy hoogtepunt in mens se lewe in die blydskap. Dit loop op soos trappe; vrede by God; leef in genade; leef met blydskap. Maar in die blydskap is die hoogtepunt. Ons geloof is in die verlede begrond, maar op die toekoms gerig. Ons leef deur die soendood en opstanding van Chrsitus. Maar ons kyk vooruit; na die wederkoms van Christus. Ons leef in die verwagting van die koninkryk van God wat in Sy heerlikheid sal kom.
Van die konikskap van god wat in sy volkomenheid werklikheid sal word oor almal wat in geloof deur Jesus Chrsitus met Hom versoen is. Die toekoms laat die Christen nie bewe van vrees nie. Aangesien ons nou geregverdig is deur Sy bloed, staan dit soveel vaster dat ons ook deur Hom van die straf van God gered sal word.. Aangesien ons, toe ons nog God se vyande was, deur die dood van Sy Seun met Hom versoen is, staan dit soveel vaster dat ons , noudat ons versoen is, deur die lewe van Sy Seun gered sal word. Maar dit is nie al nie. OPns verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus. So stel Paulus dit in verse 9-11. Daarom gaan die Chrsiten die toekoms met ‘n blye gemoed tegemoet. Want, wat die toekoms ook al mag inhou…on sweet ons sal gered word. Ons sal uit elke noodsituasie bevry word. Deur elke fase van swaarkry gelouter word. Onder alle omstandighede leef in genade en in vrede by God.
Romeine 5:1-11 roep ons op om ons lewe in die regte perspektief te sien. Ja, om ons hele lewe te sien vanuit die lyding en sterwe en opstanding van Chrsitus. Hy het in ons plek gesterf en vir ons Sy lewe afgelê. Hy het oorwin oor die sonde. Hy wil ons sonde uitdelg en ons met God versoen. Soda tons in vrede met God kan leef in Sy genade; kan leef in vreugde en hoop. Hy kom en wil doen vir elkeen van ons. Het Hy dit al vir jou gedoen? Is jy met God versoen deur ons Here Jesus Christus? Leef jy in vrede met God? Lef jy in Sy genade en vreugde?
Romeine 5:1-11 wil ook vir lkeen van ons, onder ons spesifieke omstandighede sê: Die liefde van die sterwe van Christus; die krag van Sy opstanding triomfeer oor alle leed en pyn en swaarkry. In Christus kan jy triomfeer; in vreugde oorwin oor jou swaarkry en oor jou pyn en leed.
Romeine 5:1-11 wil ons oproep om met die oog op die toekoms deur Christus in geloof en hoop te leef in die wete: ons sal gered word deur ons Here jesus Christus!
Joahannes 21:15-25
Dit is duidelik as ons die Nuwe Testament lees dat Petrus en Johannes grootliks van mekaar verskil het. Petrus was ‘n voortvarende en impulsiewe persoon terwyl Johannes weer ‘n besadigde persoon was. Beide het sterk leierseienskappe gehad en het deel uitgemaak van die binnekring van die dissipels.
Uit die ontwikkelinge na die hemelvaart blyk dat daar verskillende groepe (of noem dit kerke) was. Hier word onderskei tussen die Petrus, Johannes en Paulus groep of kerk ( as mens nou die groepe onderskei op grond van die stigter-leiers).. Die groepe, of kerke, het nie altyd oog tot oog gesien. Die eienskappe van die stigters het neerslag gevind in die karakter van die groep en so was die Johannesgroep baie meer verdraagsaam as die Patrusgroep.
Na mate druk van buite (van beide Joodse en Romeinse kant) toegeneem het, het die behoefte aan groter kontak en eenheid sterker na vore getree. Hiervan vind ons ‘n neerslag in die laaste hoofstuk van die Johannes-evangelie. Hier word positief na Petrus verwys en word gevra of hy Jesus liefhet meer as die ander dissipels. ‘n Regstelling word ook gemaak ten opsigte van ‘n tradisie wat in die Johannesgroep geleef het, naamlik dat Johannes nie voor die wederkoms sou sterf nie.
In die gedeelte word twee sake aangespreek, naamlik jaloesie en ‘n verkeerde tradisie.
Pas nadat Petrus verneem het wat sy opdrag is en wat die prys is wat hy sal moet betaal, draai hy om en sien vir Johannes. Eintlik word Johannes nie by die naam genoem nie. Hy word die “dissipel vir wie Jesus baie lief was, wat ook by die maaltyd na Jesus se kant toe oorgeleun en gevra het: Here wie is U verraaier?”(Johannes21:20).
Hiermee word beklemtoon dat Johannes ‘n besonderse posisie beklee het omdat Jesus baie lief was vir hom en omdat hy so na aan Jesus was, ‘n verrtoueling wat die moeilike maar belangrike vraag kon vra.
Daar was dus ‘n mate van afguns van die kant van Petrus. So tipies menslik wil hy dan weet of dit met Johannes netsoos met hom sal gaan. Sal Johannes nie dalk voorgetrek word nie? Moet hy wat Petrus is die harde werk doen en swaarkry terwyl alles nou net voor die wind sal gaan met Johhannes? (2)So tipies menslik: hoe vergelyk my situasie en opdrag en lot met die van ander?
Hierop antwoord Jesus dat dit hom nie aangaan wat die lot van Johannes sal wees nie. Trouens as Jesus sou wou dat hy tot die wederkoms moet bly leef, dan het dit nog niks met Petrus te doen nie. Petrus moet besef dat hy hom nie moet bekommer oor die lot van Johannes nie. Hy moet homself nog minder vergelyk met Johannes. Hy moet luister na wat vir hom gesê is en dit dan net doen. Hy moet Jesus volg (Johannes 21:22).
Dit is so dat daar in die kerk mense met verskillende persoonlikhede is. Party lyk meer soos Petrus en ander weer soos Johannes. Die opdrag van Jesus is in beginsel dieselfde vir almsl, naamlik om Hom lief te hê en te dien met die hele lewe en om ander diensbaar te wees.
Tog is ons ook so dikwels bekommerd oor die lot van ander. Ons wil weet wat met ander gaan gebeur. Hoekom moet ek so swaar kry en gaan dit so goed met ander? Waarom kan ek nie rolle ruil met eiemand anders nie? Waarom het ander dit altyd beter as ek? Hoekom word almal nie maar net eenders behandel nie? Dit is mos nie regverdig nie?
Miskien moet ons ook maar weer ‘n keer maar hoor dat ons nie onsself moet blindstaar teen die situasies van ander nie. Die lot van ander gaan ons nie aan nie. Die gras lyk in elk geval altyd groener aan die ander kant van die draad (ons weet mos hoekom), en as ons aan die ander kant van die draad sou wees sou die gras net weer aan die ander kant groener gelyk het. Ons moet elkeen ons eie taak volvoer en ons eie las dra(3) en ophou om heeldag ons lot met die van ander te vergelyk. “Volg My!”
Die tweede saak wat hier aangespreek word is die feit dat mense so maklik hoor wat hulle wil hoor. Jesus het gesê: “As Ek wil hê dat hy in die lewe moet bly totdat Ek weer kom, is dit nie jou saak nie”(Johannes21:22).
Van die volgelinge van Johannes het dit gehoor asof Jesus gesê het dat Johannes nie sou sterf voor die wederkoms nie. Daarmee het hulle die “as” nie gehoor nie en het hulle van ‘n bysin ‘n hoofsin gemaak. En dit is nie wat Jesus gesê het nie.
Hulle het gehoor wat gesê is, maar het die konteks nie in ag geneem nie. Dit het bygedra tot ‘n selfpersepsie: hulle behoort aan die groep van iemand wat nie voor die wederkoms sou sterf nie en wat dus beter is as die persone wat behoort aan ‘n groep van wie die leier ‘n marteldood sou sterf.
Selfverheffing op grond van ‘n verkeerde interpretasie van woorde. Nou is dit maklik om hulle te oordeel. Maar dit pas nie, want ons trap nog gereeld in dieselfde strik.
Ons hoor so maklik net gedeeltelik en maak dan absolute gevolgtrekkings. Ons vergeet so maklik om die konteks waarin dinge gesê is, in ag te neem. Ons vergeet dat nie net die woorde wat geuiter is nie, maar ook die konteks , die lyftaal en die stemtoon bepalend is vir die betekenis van woorde. En dan word die verkeerd gehoorde woorde baie later, soms jare later gebruik as stok teen ander.
Hoe dom kan ons dan nie wees nie? Soos die deel vir Petrus sê dat hy na homself moet kyk en sy werk moet doen, wil dit ook sê dat mens mooi moet luister en nie verkeerde afleidings moet maak nie.
Dit kan rampspoedige of verreikende gevolge hê. Miskien sou daar al vroeër groter eenheid onder die vroeë Christene gewees het as van die broers nie gedink het hulle behoort aan ‘n beter groep omdat hulle leier nie sou sterf nie.
Ook ons misverstaan kan gevolge vir onsself en ander na ons hê as ons nie mooi luister en hoor nie. Gerugte is gevaarlik!