POSTED BY Steven Sass on 06:03 under
2 Maart 2014 Patensie
Matteus 23:1-36 en 25:31-46
Mooi praatjies het nie veel waarde nie
As daar nou een ding is wat godsdienstige mense goed kan doen, dan is dit om mooi woordjies te gebruik. Hoe mooi kan ons dinge nie formuleer nie, hoe mooi word daar nie in die kerk gepraat nie, hoe suiwer en netjies kan ons tog nie dinge stel nie. So anders as wat die geval soms buite die kerk en die godsdiens is.

Dit was eintlik nog altyd die geval gewees. Dit was ook so in Jesus se tyd, maar dan die skokkende...Matteus sê vir ons dat Jesus nie erg het aan mooi praatjies nie. Moet dit nou nie verkeerd verstaan nie, Jesus het niks teen mooi praatjies as sodanig nie, dit gaan hier dan beslis nie daarom dat mense lelik moet praat nie! Maar die mooi praatjies alleen is nie genoeg nie. Jesus, so leer Matteus ons, soek meer as net mooi praatjies.

Na Jesus se intog in Jerusalem is Sy botsing met die kerkleiers op die spits gedryf, die spanning wat al van die begin af daar was en met die verloop van tyd al groter geword het, gaan nou tot ‘n finale punt gedryf word. Nie alleen gaan hulle binnekort direk vir Sy gevangeneming, verhoor en dood verantwoordelik wees nie, maar Jesus waarsku hier Sy volgelinge direk en duidelik teen hulle.

Wat het Jesus teen die Skrifgeleerdes, die Farisieërs en die Sadduseërs gehad?  As Hy die skare wat om Hom vergader het en die dissipels toespreek, begin Hy deur te sê: “Die Skrifgeleerdes en die Farisieërs het die gesag om die wet van Moses te vertolk”. Dis hulle werk, hulle het die kennis, hulle het die roeping, dis als goed en reg. Meer nog, Jesus sê: “Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê”. Jesus pleit dus nie vir die verwerping van hulle gesag nie, Hy veroordeel nie wat hulle leer en sê nie, Hy vind nie fout met hulle dogmas en kerkleer nie. Dit mag miskien oppervlakkig en onvoldoende gewees het, hulle mag dalk te veel klem gelê het op die uiterlike...ons het miskien meer kritiek op hulle as wat Jesus gehad het.

Nou wat het Jesus dan teen die kerkleiers van Sy tyd gehad? Dit klink mos asof Hy hulle prys en ondersteun. Jesus het dit teen hulle dat hulle net mooi praatjies maak. Hulle woorde is mooi, maar hulle dade rym nie met hulle woorde nie. Tussen hulle woorde en hulle dade is ‘n onoorbrugbare kloof. Hulle eis van hulle volgelinge om dinge te doen wat hulleself nie doen nie. Hulle bak mooi broodjies sodat hulle aansien verhoog kan word en hulle as belangrike mense gesien en geëer kan word. Dit mag nie. Ons val mos ook soms in hierdie slaggat. Ons sê sulke mooi dinge, soms met die onuitgesproke hoop dat mense ons sal respekteer en hoog sal ag.

Hulle het allerlei tradisies en bepalinge voorop gestel en dit vir die mense moeilik gemaak om die Here te aanbid. Soos ons ook soms moeilike eise stel en allerlei reëltjies het waaraan ander moet voldoen om in te wees. Hulle het soos ons, verstrengel geraak in beuselagtighede en onbelangrike dinge tot kernsake verhef. Hulle het ‘n vroom front voorgehou terwyl hulle agteraf hoegenaamd nie so geleef het nie. As die mense hulle nie gesien het nie, het hulle heel anders opgetree as wat hulle die mense geleer en van die mense verwag het. Hulle het so op die uiterlike gekonsentreer dat hulle die mense vergeet het, en so het hulle hard en onmenslik geword. Kortom, hulle het nie geleef in ‘n lewende verhouding met die lewende Here in die konkrete daaglikse lewe nie. Dan word godsdiens ‘n formele spel wat niks met die lewe en die werklikheid te doen het nie. Helaas is dit die tragiese werklikheid wat ons vandag nogsteeds raaksien...ons bely dat ons Christene is, maar in die daaglikse lewe sien ons so min van Christus raak. Ons het wonderlike leerstellings maar in die praktyk sien ons min liefde en genade en vergifnis raak.

Jesus het nie erg aan mooi praatjies nie. Hy het van Sy felste uitsprake juis hierteen gemaak. Skerp veroordeel Hy diegene wat hulle hieraan skuldig maak...Hy is skerper in Sy oordeel oor die wat mooi praatjies maak en anders lees as oor enigiets anders.

Dit vind ons weer en op ‘n ander wyse in Sy laaste onderrig (Matteus 24-25), die sogenaamde profetiese rede. Hier praat Jesus as profeet oor die toekoms en die eindtyd. Hy sê hierin dat moeilike tye vir die gelowiges wag, en Hy wys hulle daarop dat niemand weet wanneer die eindtyd sal aanbreek nie. Hy roep Sy volgelinge op om getrou te wees en gereed te wees vir Sy wederkoms. Dan sluit Hy Sy profetiese rede af met ‘n verwysing na wat op die dag van Sy wederkoms sal gebeur. Dit sal ‘n dag van oordeel en skeiding wees (Matt. 25:31-46). Maar wat sê Jesus nou eintlik hier? Hy vertel op ‘n aangrypende manier dat almal op die oordeelsdag voor Hom sal staan. Dan sal daar skeiding gemaak word. Die skape sal van die bokke geskei word, die een groep sal aan Sy regterkant en die ander aan Sy linkerkant staan. Vir die een groep sal Hy sê: “gaan weg van My.” Vir die ander groep sal Hy sê: “Kom na My toe, kom in die koninkryk wat vir julle berei is.” Nou op grond waarvan sal hierdie skeiding plaaasvind? Op grond waarvan sal ons beoordeel word? Miskien moet ons eers kyk wat hier nie gesê word nie. Jesus vra nie aan watter kerk hulle behoort nie. Hy vra nie wat hulle belydenis is nie. Hy vra hulle nie wat hulle geleer of wat hulle gesê het nie, dis nie eers ter sprake nie, maar wat wel ter sprake kom, is wat hulle en ons gedoen het. Nie mooi praatjies nie, maar ons dade word onder die loep geneem. Maar let op: nie ons betrokkenheid by die kerk nie, nie hoeveel kerke jy al in jou lewe besoek het en wat wat jy al alles daar gendoen of gegee het nie. Ook dit tel skynbaar nie. Nou moet ons mooi verstaan, dis nie dat ons belydenis onbelangrik is en ons kerklike betrokkenheid van geen betekenis is nie, hoegenaamd nie. Waaroor dit wel vir Jesus gaan is of ons belydenis en ons lewe met mekaar rym. Of ons mooi praatjies gestalte vind ins ons optrede in die daaglikse lewe.

Jesus oordeel op grond van wat mense gedoen het aan die wat honger en dors was, aan die vreemdelinge en die armes, aan die siekes en diegene in tronke. Dit was die mense wat destyds, soos vandag ook nog maar, nie aansien gehad het nie. Mense op wie neergesien is. Mense van wie dikwels gesê is dat dit hulle verdiende loon op hulle sonde is. Mense wat darem nie ons klas is nie. Mense met wie ons ons nie wil assosieer nie. Hoe het julle teenoor hulle opgetree, vra Jesus? Hoe tree ons teen hulle op?

Jesus sê hier duidelik...ons optrede teenoor diegene op wie die gemeenskap neersien en wat ons ook maar soms vermy, weerspieël ons optrede teenoor Hom. Dis Hy wat honger of dors is, dis Hy wat ‘n vreemdeling of arm is, dis Hy wat siek of in die tronk is. Die toets van ons geloof lê daarin of ons dade teenoor die minste in die gemeenskap in ooreenstemming met ons belydenis is. Oo ons liefde en geloof, die voorbeeld van Jesus sigbaar is in ons daaglikse omgang met die uitgeworpenes uit ons samelewing....dis die finale toets.


Jesus het nie erg aan mooi praatjies nie...
POSTED BY Steven Sass on 06:31 under
23 Februarie 2014 Patensie
In botsing met die kerk en kermense
Matteus 16:1-12
In die Evangelie van Matteus lees ons dikwels van die botsing tussen Jesus en die Farisieers en Sadduseers. Dit is trouens een van die sentrale lyne wat dwarsdeur die Evangelie loop, en ons kan dit nie sommer so afmaak as niks nie. Dit gaan om ‘n ernstige botsing in en met die kerk. Dit sluit aan by wat ons alreeds in die Ou-Testament aantref en wat ons sedertdien nog altyd in die geskiedenis gevind het en wat vandag nog kop uit steek.

Die stryd tussen Jesus en die kerkleiers van Sy tyd, is tekenend van botsende teologiese standpunte, ons lees mos byna daagliks van die debatte oor die Bybel en die teologie.

As Jesus in botsing is met die kerkleiers van destyds, dan is dit mos ‘n botsing tussen God en Sy kerk. In die Ou-Testament lees ons nogal heelwat van botsings wat die profete bv. met die kerkleiers gehad het. So is Amos belet om verder te profeteer, Jeremia was skerp in botsing nie net met die politieke leiers nie, maar ook in botsing met die godsdiesntige leiers. Jesus het ook verwys na die feit dat die profete in Jerusalem vervolg is en die boodskappers van God daar gestenig is.

Afgesien hiervan vind ons selfs Ou-Testamentiese boeke wat geskryf is as kritiek teen sekere teologiese standpunte wat gehuldig is. Hier kan ons veral dink aan die boek van Job, wat primêr ‘n polimiek is teen die vergeldingsleer. Hulle het geglo dat as teenspoed mens tref en jy siek word, dan kan dit toegeskryf word aan jou sonde. Dit word baie skerp afgewys in die boek Job. Habakuk het ook geworstel met die heersende teologie van sy tyd, wat tot ‘n mate as voorspoedsteologie bestempel kan word en waarin bely is dat dit met gelowiges goed sal gaan terwyl ongelowiges teenspoed sal beleef. Dit wat hy in die praktyk beleef het, het egter nie gerym met die teologie en wat die kerk vir hom vrtel het nie.

In Matteus 16 word die dissipels gewaarsku teen die invloed van die Farisieërs en die Sadduseërs. Nou is dit so dat ons ‘n negatiewe persepsie van hierdie groep het, maar voor ons hulle so maklik veroordeel, moet ons darem ook weet wie hulle was.Eerstens was hulle baie vroom en opregte mense gewees, hulle het ordentlik geleef en vir hulle was die hoof doel van die lewe om die Wet  en die res van die Ou-Testament te bestudeer en noukeurig daarvolgens te leef. Hulle het besondere aandag daaraan gegee om seker te maak dat hulle presies volgens die Woord van God leef en alle godsdienstige bepalings nakom. Hulle het nie net gereeld na die sinagoge en tempel toe gegaan nie, maar ook toegesien dat hulle die godsdienstige gebruike elke dag besonder noukeurig na kom. Hulle was baie godsdienstig en toegewyd, en oor al hulle kennis van die Ou-Testament kan boekdele geskryf word. Min van ons het naastenby ‘n kennis van die Bybel soos wat hulle gehad het, en hulle kon die grootste daarvan, indien nie alles nie uit hulle koppe opsê. Ons moet daarom versigtig wees om hulle sommer af te skryf of om met hulle die spot te dryf. As ons mooi kyk, sien ons dalk nie net baie van onsself in hulle nie, maar selfs baie van wat ons as idieaal sien in hulle.

Bykans dwarsdeur die openbare optrede van Jesus vind ons dan ook telkens dat van hulle naby Jesus is. Hulle luister na Sy prediking, hulle sien Sy wonders, en hulle tree dikwels in gesprek met Hom. Hoe baie keer lees ons nie dat ‘n Farisieër, of Sadusieër vir Hom vra gevra het nie. Trouens, ‘n groot deel van die Evangelie van Matteus word gewy aan die antwoorde wat Jesus  aan hulle gegee het.

Nogtans waarsku Jesus Sy dissipels teen die Farisieërs en die Sadusieërs. Ons weet dat die verskille tussen Jesus en die kerkleiers al groter geword het en dat hulle uiteindelik direk verantwoordelik was vir Sy gevangeneming, verhoor en teregstelling...hoe tragies. Dis nie die wêreld, leiers van ander godsdienste of ongelowiges wat dit aan Jesus doen nie, maar die leiers van die kerk. Die leiers van die kerk waarin Jesus groot geword het, waarin Hy gepreek het...Sy eie mense doen dit aan Hom.

Waar het hierdie skeuring dan gekom? Hoekom het hulle so verskriklik vyandig teen Hom geword? Wat het skeef geloop? Miskien kan ons ‘n paar dinge identifiseer... Een van die belangrikstes was seker die wyse waarop Jesus die Ou-Testament geïnterpreteer het. Hulle het die Ou-Testament letterlik verstaan...presies soos dit daar staan. Hulle het dan verder gegaan en hulle interpretasies en hulle toepassings daarvan op hulle tyd verabsoluteer. So het hulle oor die Sabbatsgebod allerlei bepalings gemaak oor wat met op die Sabbat mag en nie mag doen... en dit het hulle ook oor al die ander gebooie gedoen. Presies so en so moet jy optree, en hiervan mag jy nie afwyk nie. Alles is netjies in hokkies geplaas. SO word die godsdiens formeel... ‘n formele spel. As jy net doen wat vereis word, dan is alles regso. Hoe noukeuriger jy aan die kerklike voorskrifte voldoen, hoe vromer is jy. Jou posisie en status in die kerk en gemeenskap hang alles af van hoe toegewyd jy is in die sin van hoe noukeurig jy die kerklike bepalings en tradisies nakom. Sorg maar net dat jy op die regte tye bid; jou offers reg bring; gereeld in die kerk is; doen wat die kerkleiers vra en die kerklike gebruike en tradisies volg, en dan is jy reg!

Klink dit nie bekend nie? Al te dikwels beperk mense hulle godsdiens tot hulle uiterlike betrokkenheid. Nou sê ons nie dat mense nie by die kerklike aktiwiteite betrokke moet raak nie, glad nie, net maar dat ons godsdiensuitlewing nie beperk moet word tot Sondae of kerklike bedrywighede nie. Elke dag en op alle terreine moet ons ons geloof uitleef. Juis ook daar waar niemand anders dit sien nie...sonder ophef of vertoon.

Nou kom Jesus en Hy interpreter die Bybel baie anders...Hy gooi niks weg nie, Hy lees dit nie letterlik nie. Hy lê die klem op die betekenis  en boodskap van die Ou-Testament. Hy omskryf nie wie die naaste is wat ons moet liefhê nie, maar spel eerder uit wat die geweldige implikasies van die liefde is en wat die liefde alles in hou. Hy lees die Bybel nuut, hieroor sou die kerleiers Hom nie vergewe het nie....
Die vraag kom dan: hoe lees ons die Bybel? Lees on dit soos die kerkleiers in die tyd van Jesus? Daar is baie wat vandag nog die Bybel baie selektief en letterlik lees, dan word na bepaalde teksverse verwys sonder om ander tekste in ag te neem. Die woorde word letterlik en presies net so toegepas sonder om die kontek waarin dit geskryf staan, in ag te neem. Dan word allerlei bepalings daarby gevoeg, en te min word die Bybel in geheel gelees, van Genesis tot Openbaring. Te min word daar gevra na die sentrale tema en boodskap van ‘n Bybelboek, en hoe ons dit in ons tyd moet uitleef. Dit is noodsaaklik dat ons in die voetspore van Jesus sal volg en soos Hy die Bybel lees: vra na die betekenis en boodskap van die Bybel, Bybelboek en gedeelte. Wie in die voetspore van Jesus volg, moet erns maak met die lees, interpretasie, uitleg en uitleef van die boodskap van die Bybel....

Die Farisieërs en die Saduseërs het gedink hulle is wonderlik. Met hulle selfbeeld was daar niks verkeerd nie. Of liewers, so het hulle gedink. Maar hulle het gedink dat hulle beter is as anders mense. Hulle kom mos uit die gelsag van Abraham, hulle was mos die uitverkore geslag, die volk van God. Alle ander mense en volke was dan in hulle oë minderwaardig...hoe tragies. Maar dit is iets wat ons nou nog oral raaksien en waaraan ons ook skuldig maak. Al wil ons dit nie erken nie...dit is so...

Die vraag kom dan of ons nie presies leef soos die kerkleiers van daardie tyd nie? Is ons dan nie in botsing met Jesus nie? Ons moet baie krities na onsself kyk, lees ons nie die Bybel soos hulle nie? Is ons nie net so onbetrokke soos hulle nie? Is ons nie net so selfverheffend soos hulle nie?


Wie in die voetspore van Jesus volg, moet ook na Sy voorbeeld betrokke raak by mense in nood...ons moet persoonlik betrokke raak....self iets doen en nie indirek betrokke wil wees nie. Dit in nederigheid en sonder om dit aan die groot klok te wil hang en daarop te roem. Na die voorbeeld van Jesus moet ons diensbaar wees, al lei dit tot botsings met ander gelowiges. En as ons teenspoed kry van medegelowiges en selfs die Kerk, wees dan getgroos in die wete dat Jesus in botsing was met kerksmens...
POSTED BY Steven Sass on 06:01 under
Lukas 4:14-30
Kom ons vertaal die Bybel  
Die gedeelte wat ons nou sopas saam gelees het, vertel ons van een van Jesus se eerste openbare optredes as volwasse man. Na sy versoeking deur die duiwel in die woestyn, vertel Lukas ons, keer Jesus terug na Galilea toe en gaan na Nasaret, waar Hy grootgeword het. Daar gekom, gaan Jesus, soos dit sy gebruik was, op die Sabbatdag na die sinagoge toe.
En kom ek sê eers so ‘n ietsie meer oor die sinagoge van daardie tyd voor ek verder gaan, dat ons beter verstaan wat presies hier gebeur het. Daar was nie, soos in die geval van die tempel, by die sinagoge offers gebring nie. Die sinagoge, kan ons sê, was 'n plek van oordenking. Daar is uit beskikbare boekrolle gelees en dan is die gedeeltes wat gelees is, oordink.
By die tempel in Jerusalem kon alleenlik die priesters offers aan God bring, hulle was daar in beheer. By die sinagoge was dit egter nie so nie. By die sinagoge was daar nie priesters aan diens nie. Dit het enige man vry gestaan om deel te neem aan die erediens in die sinagoge, as mens dit so kan noem. 'n Man sou aanbied om voor te lees uit die boekrolle van die Ou Testament wat beskikbaar was, en dan het hy gaan sit op 'n klein platformpie en sê wat die gedeelte vir hom beteken het.
Dit is dan ook wat daardie dag met Jesus gebeur het. Toe Hy opstaan om te lees, is die boek Jesaja aan Hom gegee, en Hy het dit oopgemaak by Jesaja 61 vers 2, 'n gedeelte wat baie bekend en baie gewild onder die Jode van daardie tyd was. Die gedeelte het vir hulle hoop gebring, want dit sê dat God vir hulle uitkoms sal bring, dit het hulle daaraan herinner dat God steeds by hulle was.

Die  presiese gedeelte uit Jesaja speel af in 'n tyd toe die volk uit ballingskap in Babilon na Israel toe teruggekeer het. Al was hulle terug in hulle vaderland, het dit maar moeilik met hulle gegaan. Hulle het hard gewerk om die tempel te herbou, maar het deurentyd die wind van voor gekry. Tye was hard, kos was skaars, en die toekoms het maar donker gelyk. Die mense het begin moedeloos raak, en dit het vir hulle voel asof God hulle vergeet het. Hulle was naderhand so moedeloos dat hulle in sak en as gaan sit het, kompleet asof hulle getreur het oor iemand wat dood is.
Midde in hierdie gebeure kom die profeet Jesaja en sê vir hulle dat God by hulle is, en dat Hy uitkoms sal bied. Hy sal hulle red, Hy sal hulle weer 'n magtige nasie maak. Dus 'n boodskap van hoop, van nuutgevonde vryheid, van verlossing.
Die genadejaar waarvan die teks in Jesaja praat, verwys na die jubeljaar (wat elke vyftigste jaar gevier is) waarin mense wat as gevolg van skuld as slawe verkoop is, vrygelaat moes word. ‘n  Mens kan verstaan hoekom juis hierdie Skrifgedeelte by die Jode in Jesus se tyd so gewild was: Hulle het swaargekry onder die onderdrukking van die Romeinse regering, hulle het gesmag na uitkoms, hulle sou graag weer 'n genadejaar, 'n jubeljaar wou beleef, ‘n Genadejaar waarin hulle bevry sou word van vreemde oorheersing en uitbuiting.
Nadat Jesus uit die boekrol gelees het, het Hy dit aan die amptenaar van die sinagoge teruggegee en gaan sit. Almal se oë was op Hom gerig. Hulle wou graag hoor wat Jesus oor die Skrifgedeelte te sê het. En wat Jesus op die ou ent sê, is die heel laaste ding wat hulle ooit sou kon verwag!
Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul. Jy kon seker 'n speld hoor val in daardie sinagoge. Jesus los 'n spreekwoordelike bom onder die Jode. Hy sê vir hulle dat Hy die een is wat God se verlossing bring, die uitkoms wat God bring, kom deur Hom. Hy, Jesus, Hy is die vervulling van God se belofte van hoop, Hy is die vervulling van God se belofte van bevryding.
Aanvanklik reageer die hoorders heel positief, maar hoe meer Jesus met hulle praat, hoe meer raak hulle ontsteld, totdat ons uiteindelik lees: Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg om Hom van die krans af te gooi. Maar Jesus het tussen hulle deur geloop en weggegaan.
Met ander woorde, Jesus word nie aanvaar deur die mense tussen wie Hy grootgeword het nie. Hulle verwag iets meer, iets groter, iets wonderbaarliks wat hulle vir eens en vir altyd sou vrymaak van die onderdrukking van die Romeine. Maar nee, voor hulle staan 'n doodgewone jong man. Hulle ken Hom as Jesus, seun van Josef die timmerman wat daar onder in die dorpie bly. En nou kom hierdie Jesus vir hulle staan en vertel dat Hy die Messias, die langverwagte Verlosser is wat God hulle belowe het?
Nee wat, wat te erg is, is te erg. Kom ons gaan gooi hierdie Godslasteraar by die naaste krans af, sê hulle vir mekaar.
Netso ook beleef ons ook elke Sondag dat Jesus as 't ware voor ons kom staan vir ons uit die Bybel lees van God se beloftes van uitkoms en verlossing en ook vir ons sê: Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.
En nou is die vraag: Wat maak ons met hierdie Jesus? Aanbid ons Hom, volg ons Hom, dien ons Hom,  of probeer ons dalk ook spreekwoordelik om Hom by die naaste krans af te gooi: die krans van onbetrokkenheid, die krans van ongehoorsaamheid, die krans van traak-my-nie-agtigheid, van onverskilligheid?
Kom ek probeer dit anders s¨º: Die storie word vertel van vier dominees wat gesit en stry het oor watter vertaling van die Bybel kwansuis die beste is. Die eerste dominee het gesê dat die Ou Vertaling, die 1933-vertaling vir hom die beste is, want daar is so 'n waardige Bybelse taal wat in die vertaling gebruik word. Die tweede dominee het gesê dat hy die Nuwe Vertaling, die 1983-vertaling, verkies want dit is nie 'n letterlike woord vir woord vertaling nie die vertaling gee vir mens eerder die betekenis van 'n gedeelte weer. Die derde dominee was heelwat jonger as die ander en het gesê dat hy 'n moderne weergawe soos Die Boodskap verkies, want die taal wat daarin gebruik word, spreek sy leefwêreld aan.
Toe hulle die vierde dominee vra watter vertaling van die Bybel hy die meeste van hou, het hy hulle so gesit en kyk en toe vir hulle gesê Die vertaling waarvan ek die meeste hou, is my pa se vertaling, want sien, hy vertaal elke dag die woorde van die Bybel oor in dade. Hy sit die woorde van die Bybel oor in dade en dit is die mees oortuigende vertaling wat ek ken!
En is dit nie ook presies wat Jesus kom doen het nie? Hy het God se beloftes oorvertaal in optredes, Hy het die woorde van God se beloftes omgesit in dade. Hy sorg dat daar vir almal hoop en uitkoms en verlossing kom. Hy maak ons, wat die slawe was van die skuld van ons sondes, vry van hierdie skuld, Hy maak elke jaar vir ons 'n jubeljaar, elke dag 'n jubeldag, want ons kan weet, maak nie saak wat op ons pad kom nie...God is by ons, Hy laat ons nooit weer alleen nie, Hy is elke tree van elke dag se paadjie saam met ons op pad na 'n heerlike toekoms saam met ons Hemelse Vader. Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.
Hoe, lyk ons vertaling van die Bybel? Is dit maar net woorde, bly dit maar net by goeie voornemens, leë beloftes? Of kry ons dit reg om die woorde van die Bybel oor te vertaal en om te sit in dade? Jesus het dit vir ons kom doen. En dit is nou ons beurt, ons tyd om elke dag 'n stuk vertaling te doen, om die woorde die Bybel om te sit in dade. Soos die Vader my gestuur het, stuur ek julle, het Jesus gesê.
 Kom ons begin, sommer vandag nog, met ons lewenslange vertalingsprojek!

POSTED BY Steven Sass on 06:54 under
Februarie 2014 PatensieLukas 4 : 1- 13
Dit is ’n baie interessante verhaal wat hom hier afspeel. Dis nie 'n storietjie nie, dit het regtig gebeur.
Ek wil van hierdie gebeure op ons van toepassing maak, want alles wat Satan op Jesus probeer het, probeer hy op ons ook. Kom ons kyk bietjie van nader hoe die duiwel te werk gaan...
Vers 1: Toe is Jesus deur die Gees die woestyn ingelei. LW. Dit was met die volle goedkeuring van God dat dit plaasgevind het. En die gedeelte eindig in vers 13 met, "die engele het Hom kom versorg". God die Vader het nooit vir Jesus verlaat nie, maar Hy het dit toegelaat!
Satan se strategie. En hy is so arrogant om by Jesus te begin. Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie. Hoekom nie? Omdat hy niks gehad het nie? Ek glo nie. Want toe was die duiwel nog nie by Hom nie. Waarskynlik eerder omdat Hy in daardie tyd gevas het. Om te vas beteken om jouself aan God af te sonder. Daar staan: "Die versoeker het toe gekom." Dus na veertig dae, toe Hy begin honger word het. "As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word." Hier probeer hy vir Jesus tot op die been toets. Toe Hy honger word, kom probeer hy om vir Jesus te verlei met iets wat Hy baie nodig het. En Jesus sê: "'n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom." Kan jy sien dat die duiwel self Jesus se wonderwerkende krag erken, en dit wil gebruik om Hom te verlei? Net so kom die duiwel vandag na my en jou toe met kennis, en insig, maar hy verdraai dit so dat ons daarvoor val. En soos wat hy vir Jesus probeer onderkry toe Hy honger was, doen hy dieselfde met ons. Hy gebruik ons swak punte, of kom na ons op tye wat ons kwesbaar is. Neem net hierdie bietjie geld daar by die werk, jy gaan dit mos die einde van die maand terugsit. Dit word leen genoem, maar dis diefstal. OF: Hoe kan liefde verkeerd wees, dis dan absoluut 'n goddelike beginsel. Jy raak betrokke in 'n buite-egtelike verhouding, want jy is kwansuis nie meer lief vir jou vrou nie, sy verstaan jou nie meer nie; of iets soos, ek het nie gevra dat dit gebeur nie. O ja, jy het. Dit word liefde genoem, maar dis eintlik wellus.
Die Satan word die verleier genoem. En dis presies wat dit is. Soos 'n suikerlagie om 'n bitter pil. Die pilletjie proe lekker, tot die suiker weg is.
Satan neem vir Jesus na die tempel toe en sê: "spring dan af." Verse 5 - 7. Kan jy sien dat Satan die skrif ken. Wat hy sê, is heeltemal waar. Maar hy haal dit net uit konteks uit. En dan sê Jesus iets wat ek en jy vir onsself kan neem. Daar staan óók geskrywe. Die duiwel kom en misbruik skrifgedeeltes om hom te pas. Iets soos "Jy hoef net te glo, en niks te doen nie". Ons moet seker maak dat ons die hele Bybel lees en leef. Ons wil so graag hoor wat God in Sy liefde doen - en dis reg so - maar ons wil nie hoor van Sy opdragte nie. Jesus noem dit: "Jy mag nie die Here jou God op die proef stel nie." Ons hoef nie Sy beloftes te toets nie. Ongelukkig doen ons dit dikwels net vir ons eie gewin.
Die volgende versoeking waarvan ons lees in vers 8 en 9, is 'n baie sterk toets. Kyk wat doen die duiwel, hy bied vir Jesus iets aan wat reeds aan Hom behoort. Alles behoort in elk geval aan God. Satan probeer as't ware vir Jesus met materialisme omkoop. Die wêreld met al sy prag. Val neer en aanbid my, dan is alles U s’n. Net so kom Satan na my en jou toe en sê: Jy kan alles kry, op 'n skinkbord, moet net nie meer vir Jesus aanbid en dien nie. 'n Mens kan nie God en Mammon dien nie. Satan se leuens laat dit alles so aanloklik lyk. So maak die duiwel ook met God se verlossingsplan. Hy probeer iets aanbied wat so reg lyk. Al sê die Bybel iets pertinent, probeer hy vir jou sê "Dis nie so erg nie", of "nee wat, die Bybel word eintlik net verkeerd geïnterpreteer". Dan bied hy vir jou iets aan wat hy nie eers besit nie. Hy probeer selfs  'n weg tot saligheid bied; wat hy beslis nie het nie.
Ons lees hoedat Jesus hom net wegjaag. "Gaan weg Satan, die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien". Net een God, net een verlossingsplan, net een Messias. Ek en jy het ook die mag om te sê, "gaan weg, Satan. Ek dien die Here."
Sê nou Jesus het net op een ding toegegee, dan sou Sy hele Goddelikheid daarmee heen wees. Sy integriteit sou weg wees. Satan wou Jesus uitdaag om Sy Goddelikheid te bewys, terwyl dit reeds vas gestaan het. Hy wou Hom iets voer toe Hy swak was. Hy wou vir Hom iets gee wat Hy reeds besit het. En Jesus jaag hom net weg. As ek en jy vandag sukkel met sonde, dan lees ek vir jou …
Hebr 4 : 15 - 16. " Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16 Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word."
Hy was totaal mens en is aan baie versoekinge onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Dis omdat Hy kon vasstaan, dat Hy aan die kruis kon uitroep: "Dit is volbring". Volmaak God, asof Hy nooit mens was nie, volmaak mens asof Hy nooit God was nie. Die volmaakte God vir die volmaakte mens. As Jesus toegegee het aan een ding, sou Sy hele verlossingsplan daarmee heen gewees het, want dan het Hy voor 'n ander god die knie gebuig. Ek en jy is nie volmaak nie, maar as ons die oog net op Jesus gerig hou, sal ons ook kan uitroep: "Gaan weg Satan, ek het gekies om net Een God te dien. En as jy vir my iets aanbied wat jy nie besit nie, beteken dit dat jy dit iewers probeer steel. Ek hoef nie hierdie gesteelde goed te vat nie, want ek is 'n mede-erfgenaam van Jesus."

Die verleier gaan jou probeer vang met 'n slap riem, maar lees en ken God se Woord.

Maar ons, ons dien die Here.
POSTED BY Steven Sass on 06:58 under
5Januarie 2014 Patensie
Lukas 3:1-14
                            Maak die paaie reguit 
Kersfees was ‘n week of wat  gelede.... En naas Kersfees is nuwe jaar seker die grootste ritueel in ons samelewing. ‘n 
Plek waar ons op verskeie simboliese maniere kies om ‘n nuwe deel van ons lewe aan te pak. Hierdie tyd rondom nuwejaar 
gaan nog sy kwota ongelukke van dronk bestuurders hê, wat deur een ritueel die nuwe jaar ingegaan 
het, maar ook in hierdie tyd  gaan ons ook nog ons kwota nuut verloofdes hê, wat op die nuwe jaar ook ‘n nuwe fase van hulle 
lewens gaan ingaan. In hierdie tyd is ons ook bewus van die eerste kindjie wat gebore is ons vallei van die nuwe jaar....
‘n Baie bekende filosoof skryf op ‘n plek die volgende woorde: Religion is for lovers. Godsdiens is vir 
mense wat iets van die liefde verstaan. Want godsdiens, in sy wese, sê dat die lewe nie net oor my gaan 
nie. Godsdiens sê in sy wese dat die “ander” belangrik is. Die ander mens, ‘n medemens, soos ons 
dikwels sê, maar ook die “groot ander”, soos ons een geloofsbelydenis sê: “dit wat ons God noem”. Ons
kies uiteindelik ook hier vir ‘n ritueel, ‘n manier van die nuwe jaar aanpak hier op die eerste Sondag van die jaar, omdat die ander vir ons 
belangrik is. Soos Jesus ons geleer het: “Jy moet die Here jou God liefhê, en jou naaste moet jy liefhê 
soos jouself”. Hierdie spirituele deel van ons lewens wil ons ook deel van ons ritueel maak waarmee ons 
die nuwe jaar binnegaan. Daarom dat ons ook  vanoggend hier bymekaar is. Omdat God vir ons belangrik is... 
Dit  was  die  vyftiede regeringsjaar  van  keiser  Tiberius.  Pontius  Pilatus  was  goewerneur  van 
Judea, en Herodus heerser van Galilea. Sy broer Filippus was heerser van Iturea en Tragonitis, en 
Lisanias heerser van Abilene. Annas en Kajafas was die hoëpriesters. 
Wanneer Lukas met hierdie woorde, hierdie lysie name van politici, ja, en selfs die hoëpriesters was 
maar politici, begin, is dit nie om dowe neute nie. Dit wek emosie op. Netso voel ons  verskillend oor die dinge wat besig is om in ons wêreld te gebeur.... dink byvoorbeeld aan ons eie leiers... Maar 
Lukas doen dit met ‘n doel. Sy lesers moet verstaan wat die konteks is waarbinne Johannes, en dan later 
ook Jesus, kom preek het. Sy lesers moet die wêreld verstaan waarbinne gepreek is. Wanneer sy lesers 
hierdie name hoor dan weet hulle net soos ons vandag, wat dit beteken. Die tyd van Hitler, die tyd van 
Kennedy, die tyd van Botha, die tyd van Mandela. Die tyd van enige leier, roep by ons herinneringe op. 
Dit skep ‘n konteks. Ons konteks ken ons egter. 
Lukas 3, Jesaja 40 en God in die wêreld 
Jesaja 40 begin met die volgende woorde: 
Die uitkoms is hier! 
Die uitkoms is hier! 
Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê. 
Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom 
Sy swaarkry is verby, hy het geboet vir sy sonde,
hy het van die Here die volle straf ontvang  
vir al sy sondes. 
Iemand roep: 
“Maak vir die Here ‘n pad in die woestyn, 
maak in die barre wêreld ‘n grootpad vir ons God! 
Elke laagte moet opgevul word, 
elke berg en rant moet gelykgrond word. 
Elke bult moet ‘n gelykte word en elke koppie ‘n vlakte. 
Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; 
al wat leef, sal dit sien. 
Die Here self het dit gesê.” 
Wanneer Lukas hierdie woorde aanhaal om die prediking van Johannes in te lui, en in effek daarmee die 
bediening van Jesus wat oppad is, dan het dit ‘n diep  boodskap van hoop. Jesaja 40 lui die tweede deel 
van die boek Jesaja  in, en dit  vertel oor die uitkoms wat  vir  Israel  kom waar hulle onderdruk  is  in 
ballingskap. 
In effek kom sê Lukas vir sy leser: Dit wat nou kom is net so radikaal as toe God die onderdrukte klein 
volkie Israel verlos het 500 jaar gelede. Lukas skryf dat die “woord van God” tot Johannes gekom het, dis 
nou Johannes die doper, wie se geboorte saam met Jesus s’n beskryf is in die eerste 2 hoofstukke. En 
God se boodskap wat deur Johannes gebring word is een van verlossing, net soos destyds toe Israel in 
ballingskap was. 
En vandag? En 2014? 
Ons het baie keer hierdie prentjie van die monnik, die perfekte “spirituele” persoon, wat spiritueel word 
juis omdat hy of sy hom of haarself heeltemal onttrek van die samelewing. Christen monikke, so het ons 
deur die eeue geleer, kan hulleself egter nooit onttrek van die samelewing nie. Ons kom nie nader aan 
God deur verder van die wêreld af te beweeg nie. Christelike spiritualiteit, die Christelike geloofslewe, 
kan op geen ander manier geleef word as binne die konteks van die dag nie. Geloof het deur die eeue 
waarin die Bybel ontstaan het, en in die eeue van die kerk, elke keer grond toe gekom in ‘n spesifieke 
tyd, in ‘n spesifieke konteks, waar mense gaan luister het na die stem van God in hulle tyd, vir hulle 
konteks. 
Die woord van God 
In Lukas 3, is die Johannes die doper wat die stem van God is vir die mense van sy tyd, van sy konteks. 
Wat vir hulle kom wys wat die wil van God vir hulle samelewing is. Daar staan dat die woord van God na 
Johannes toe gekom het. Kan ons dit vandag herhaal? Dat God se woord gehoor word? In hierdie tyd, in 
ons konteks.... Resessie, Obama, Zuma, Economic Freedom fighters.... Is die boodskap dat ‘n pad skoon gemaak 
moet word, dat God se woord gehoor is, soos 2500 jaar gelede vir Israel, en 2000 jaar gelede met 
Johannes. Hoor ons God se stem vir 2014? Of het God se woord stil geword in hierdie tyd? Kom ons maak dit prakties:
Die massas mense wat na Johannes gestroom het, wil uiteindelik by hom weet: Maar wat sê God vir ons,
prakties, vandag. Wat beteken hierdie verlossing vir wat ek moet gaan doen more, en in die jaar wat 
kom? Ons vind Johannes se antwoord in die volgende paar verse: 
Lukas 3:10‐14 (lees dit weer!) 
Te midde van die groot name, die groot onderdrukkings en ongeregtighede, is Johannes se boodskap dat 
elkeen daar waar hy is moet begin om hierdie geregtigheid te leef. Mag hierdie leef soos wat God jou 
geroep het, deel wees van jou storie vir 2014. 
POSTED BY Steven Sass on 06:31 under
1 Desember 2013 Patensie
Lukas 2:8-20
 Ons gaan voort met ons tema van  VREUGDE. Dis maklik om te dink hoekom. Die wagtyd is nou verby halfpad, en die opgewondenheid oor die naderende Kersfees begin groei. Maar  dit is ’n vreemde vreugde; ’n vreugde te midde van, en ten spyte van, die drama, die spanning, die seer en die afgematheid van die alledaagse lewe.
                      
Daarom het ons vanoggend die verhaal oor die engele en die herders gelees, want dis ook ’n vreemde verhaal, so totaal anders as wat ’n mens sou verwag.

1.
Dink ’n bietjie vir jou in in wat daar gebeur het. God se Seun word gebore, en Hy wil dit bekend maak, die Seun van God is gebore. Vir wie gaan Hy dit vertel? Wie is die mense wat dit heel eerste moet hoor?

Dis nie toevallig dat dit die herders was nie. God doen nie dinge sommer net nie. Hy kies om dit heel eerste aan die herders te vertel om vir ons daarmee te sê wie is die soort mense by wie Hy tuis is, wat Hy sy vriende noem, vir wie Hy wil uitsonder as Hy die geboorte van sy Seun bekend wil maak.

Ons sal seker heelwat kan maak van die feit dat hulle eenvoudige mense was, en dat God nie beïndruk word deur glans en status en posisie en aansien nie. Dit is hoekom ons Jesus later dikwels in die geselskap van die nederiges en die uitgeworpenes van die samelewing sien. Hy het gekom vir hulle wat nie status het nie.

Maar ek dink daar lê meer in. Skaapwagters was mense wat geweet het wat dit beteken om afhanklik van God te leef. Jesus het self by geleentheid gesê: Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Dis by húlle waar Hy woning maak. Dís die gees waarin ons die Kerstyd moet vier: in diepe afhanklikheid van God.

2.
Die tweede ding wat my in dié gedeelte opgeval het, is die feit dat daar soveel engele betrokke was by die aankondiging.

 Ek stel my voor God het die engele bymekaargeroep en gevra wie wil saam met Gabriël gaan om die boodskap van sy Seun se geboorte te gaan aankondig. En die engele het almal hand opgesteek. Hulle wou almal by wees, deel wees van hierdie grootse gebeurtenis.

Toe ek dit lees, het ek net weer besef hoe geneig ons is om die evangelie te verskraal tot ’n boodskap vir onsself. Ja, natuurlik is dit ’n boodskap vir ons elkeen persoonlik. Natuurlik het Jesus gekom om jou te red, en my. Natuurlik gaan dit om die mense in wie Hy ’n welbehae het. Maar dit gaan nié net om ons nie.

God se skepping is baie meer as net ons, en hier sien ons so ’n ietsie daarvan. As Jesus gebore word, is dit nie net iets waaroor die mense kan bly wees nie. Dis ook ’n gebeurtenis waaroor die engele bly is. Hulle is óók geraak deur die stukkendheid van die wêreld. Hulle sien óók uit na die verlossing, wanneer God finaal die wêreld vir Hom terugwen. Dis nie net ons wat ly onder die sondeval nie. Die ganse geskape werklikheid ly daaronder.


Paulus skryf so ’n ietsie daarvan in Romeine 8 waar hy sê die hele skepping sug saam met ons in verwagting op die openbaarmaking van die heerlikheid van God. Die hele skepping! Ons is in hierdie dae baie bewus daarvan hoe die natuur al meer ly onder die mens se vergrype. Lukas herinner ons daaraan dat die engele ook geraak word.

Onthou, Christus is nie net ons Verlosser nie. Hy is die Eerste van die hele skepping, en dit sluit die engele in. Gaan lees gerus Paulus se pragtige loflied op die heerlikheid van die Seun in Kol 1:15-20.

Dis die ander ding wat ek dink ons hier moet raaksien: die betekenis van Jesus se koms na die wêreld is baie wyer as ons eie ou klein wêreldjie. Dit het betekenis vir die ganse skepping. Die Bybel wil ons visie op God hiermee so ’n bietjie wyer rek. Hoe sê Joh 3:16? So lief het God die wêreld gehad....

3.
Daar is ’n derde saak wat hierdie gedeelte wat ons nou gelees het, vir ons uitlig. Hierdie gedeelte praat oor die vreugde en verwondering onder die skaapwagters; vers 20 sê hulle het teruggegaan van die stal af terwyl hulle God loof en prys. En Lukas herinner ons aan die opgewondenheid in die hemel; dat die vreugde baie wyer is as wat ons kan verstaan. En as ons nie iewers in hierdie Kerstyd hierdie oorstelpende vreugde in God beleef nie, sal dit baie sleg wees.

Maar dis nie die enigste reaksie wat pas by gelowiges nie. Maria wys vir ons nog ’n weg. Sy het stilweg hierdie dinge in haar hart bewaar en dikwels daaroor nagedink (vers 19). Kerstyd gaan nie net oor vreugde en vrolikheid nie. Kersfees gaan ook oor stil word, nadink, bid. Want net as ons Kersfees só ingaan, sal die vreugde van Jesus se koms na ons toe langer hou as die Kersversierings in ons huise.

Dis mos wat Psalm 1 ons leer oor ’n vrugbare lewe voor God, nie waar nie? Hy sê die mense wat soos bome is wat langs waterstrome geplant is en vrugte dra op die regte tyd, is die mense wat vreugde vind in die woord van die Here en dit dag en nag oordink (Ps 1:2). Soos Maria.


Lukas wil ons met hierdie verhaal daaraan herinner dat God nie soos ons is nie. Hy word nie beïndruk deur status of geld of posisie nie. ’n Eenvoudige herder is vir Hom ook belangrik. Mense wat in afhanklikheid van Hom leef. Jý is vir Hom belangrik.
Ons moet ook raaksien dat Jesus se geboorte in Betlehem baie groter betekenis het as wat ons besef. Daarom strek die vreugde van sy geboorte tot in die hemel self.

Kom dan, kom ons volg Maria se voorbeeld. Kom ons gebruik hierdie tyd van afskaling van ons programme om meer tyd te maak om ons in God te verbly en na te dink oor sy goedheid oor ons.
POSTED BY Steven Sass on 06:15 under
17 November 2013 Patensie

Psalm 118:22-29

Die gawe van vreugde

Die afgelope week het ek  tydens ‘n paar huisbesoeke, het dit my opgeval dat een saak vlak in die harte van baie mense lê: die behoefte aan vreugde...
Ons lidmate, en ook baie ander mense, vra deesdae een vraag al hoe meer: hoe kan ‘n mens, in tye soos hierdie, in omstandighede soos ons deesdae beleef, nog vreugdevol leef. Dit is eintlik nie moontlik nie. Vir baie voel dit net envoudig nie moontlik nie.
Maar die behoefte is duidelik daar.

 Anders sou mense nie hierdie behoefte, op een of ander manier, opgehaal het nie. Mense wil vreugde ervaar, hulle wil blye mense wees, hulle wil hulle lewens sinvol ervaar.
Oor die behoefte om bly te wil wees, om vreugde te wil ervaar, moet ek nou een opmerking maak. Dit is nie maar net ‘n selfsugtige behoefte van mense nie. Nee. Ons is nie in hierdie behoefte besig met ‘n opsionele ekstra in die lewe nie. Inteendeel. Om vreugdevol te leef, is ‘n opdrag van God.
Dit sê Filippense 4:4 baie duidelik: ‘Wees bly’. Asook Psalm 118:24: ‘ dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees!’.
Dit is miskien te sterk gestel, maar ek glo dat ons geskape is om, naas baie ander dinge, gelukkig te wees. En as ons vreugde in die lewe misloop, loop ons daarom een belangrike rede vir ons bestaan mis. Want vreugde, leer God ons, is in ‘n sekere mate een van die grootste geheime van die lewe.

Hoekom, is ons egter baie min kere blye mense? Wat is die probleem? Ons sou seker baie redes kan noem. Maar miskien is die belangrikste rede vir ons gebrek aan vreugde dat ons so dikwels juis nie die dinge doen waarvoor ons geskape (en gered!) is nie. Dit is soos iemand een keer gesê het: ons sluit onsself in ‘n donker hok in die middel van ‘n donker kamer toe, en dan kla ons dat God ons daar hou. In kort: ons weier eintlik om die vreugde van elke dag, van elke dag wat God vir ons geskape het, te ervaar.
Maar kom ons vra eers, voor ons aangaan: as ons van vreugde praat, die vreugde waartoe God ons ‘n opdrag gee, waarvan praat ons? Die vreugde waartoe God ons opdrag gee, is nie oppervlakkige of gewone plesier nie. Gewone plesier is iets wat ons tydelik bly kan maak, kan maak dat ons tydelik van ons sorge en kommer kan vergeet, maar as die soort plesier verby is, is die kommer en sorge maar weer daar.
Die vreugde en blydskap waartoe God ons opdrag gee, is egter nie ‘n vreugde wat ons vir onsself kan skep nie. Ons kan dit net ontvang. As gawe uit God se hand. Vreugde wat ons nie maar net in staat om tydelik van ons kommer en sorge te vergeet nie, maar juis ons kommer, probleme en sorge, elke dag, in elke omstandigheid, blye mense te kan wees.
Ware vreugde, is dankbaarheid. Dankbaarheid vir die feit dat ek vandag, in hierdie dag wat die Here vir my gegee het, nog te kan leef, al is alles in hierdie dag nie reg nie. Want die lewe is mos maar so: ons lewens is hoofsaaklik werk en worsteling. Die meeste van ons bring die meeste van ons tyd deur, deur te wonder, te tas, te sukkel, soms te kruip en soms weer te hardloop, en dit alles teen die getik van die horlosie.
Hoe ervaar ‘n mens vreugde in sulke omstandighede? Wanneer ‘n mens besef: my lewe is ‘n geskenk uit die hand van God. Dit is goed dat ek lewe. Maar selfs meer: my lewe, ek, is ‘n gawe aan hierdie wêreld, en van my vra God nie om net self vreugde te ervaar nie, maar ook om die bron van ander se vreugde te wees. Juis omdat hierdie dag, elke dag, deur God aan my gegee is, en omdat, sê Filippense 4:5, in hierdie dag God naby aan my is.
Maar het ons enige aanspraak op vreugde? Mense vra hierdie vraag baie gereeld. Moet ons nie meer net eerder van hierdie opdrag om bly te wees vergeet en eenvoudig maar net aanvaar dat die lewe net moeite is nie? Nee, is God se antwoord. Julle het ‘n aanspraak op vreugde, want elke dag word deur My gegee. Wees daarom en daaroor bly!
Kom ons kyk na hierdie dag, elke dag, wat God vir ons gegee het in sy eenvoudigste betekenis. Hierdie dag, is elke dag. Daardie bladsy in die dagboek of daardie blokkie op die kalender. Hierdie dag is ook nie ‘n herhaling van gister nie. Hierdie dag is nie gister toe alles nog reg was en ek ongekende sukses beleef het nie. Hierdie dag is ook nie môre nie. Nie die toekoms waarin jy miskien die gejaagdheid van die lewe sal ontkom nie, of wat jy ook al sal bereik nie.
As die Here sê ‘wees bly oor hierdie dag’, dan is dit nie gister of môre nie, dit is vandag. Wat as dag op ‘n keer gelewe moet word.
Hoekom moet ons dit so letterlik verstaan? Omdat vandag die lewe — die ware lewe — is wat God moontlik gemaak het deur te sterf en op te staan en so die God te word wat elke dag by ons is. Wat beteken dat elke nuwe dag nie maar net dag is nie, maar die begin van ‘n nuwe skepping, ‘n nuwe toekoms, met die belofte van hoop wat daarmee saamkom. Die hoop dat môre beter sal wees.
Maar kom ons neem dit nog een stap verder. Wanneer Psalm 118:24 sê dat God hierdie dag gemaak het en dat ons die voorreg het om op hierdie dag te lewe, dan het God nie meer net nog ‘n dag gemaak nie, maar ook aan ons die lewe in nog ‘n dag gegee. Daarom, nie alleen ‘n dag wat aan Hom behoort nie, maar ook lewe wat aan Hom behoort. Lewe waarin ons die vreugde kan ervaar hoe God versorg, troos en help. ‘n Dag waarin ons die vreugde kan ervaar om God by ons te kan hê, en daarom te kan lag en te kan huil, te kniel en te kan bid.
Want ons lewe nog. In ‘n dag wat aan God behoort, terwyl ons in hierdie dag aan God behoort. Nog ‘n dag waarin ons nie alleen is nie, maar ‘n dag waarin die Here naby is. Daarom kan ons vreugde ervaar. Kan ons bly wees.
Want al kan alles in hierdie dag hoe verkeerd wees: God is by ons. Ons is nie alleen nie. En God gee nie alleen elke dag aan ons nie, Hy onderhou dit ook. En daarom kan ons bly wees. Moet ons bly wees. Want in hierdie dag leef ons dan waarvoor ons geskape is: om in God se teenwoordigheid, as God se kinders, onder God se versorging te kan lewe.
Tog, beleef baie mense hulle dae nie so nie. Miskien ons ook nie. Al stem ons saam met alles wat ons vanoggend tot dusver gesê het. Hoekom nie. Ek verwys net na drie moontlike redes.
Sommige mense oordeel dat hulle dit nie verdien om vreugde te kan ervaar nie. Hulle is te sleg daarvoor. En bo alles, vreugde val nie maar net in ‘n mens se skoot nie. Daarom soek hulle daarna. Werk hulle daarvoor. Span hulle hulleself daarvoor met oorgawe in. Maar dit bly hulle ontwyk. Hoekom?
Omdat al die inspanning om vreugde te vind, juis die vreugde uit die lewe neem. Hulle span hulleself so in dat hulle vergeet dat elke dag uit die hand van God kom om te geniet en te beleef.
‘n Tweede rede hoekom sommige mense so vreugdeloos lewe is die illusie dat hulle die verantwoordelikheid dra vir al die ellendes in die wêreld. Dit is ons skuld dat alles so sleg en verkeerd is. Daarom moet ons iets aan alles doen.
God vra dit nie. God vra om te doen wat ons kan. Geniet elke dag, vind vreugde in die lewe as gawe en bring vreugde in ander se lewe. En dit waaraan ons niks kon doen nie, dit is so omdat ons nie anders kon nie.
‘n Derde rede vir ‘n gebrek aan vreugde is ongeloof. Ons maak van niks iets, en van iets rampe wat ons glo vir ons lê en wag. En in plaas daarvan om te glo dat God van ons rampe niks sal maak nie, maak ons van niks rampe. So steel ons ons eie vreugde, en voor ons sien, is ons lewens een stuk paniek.
Ek sluit af. Ware vreugde is nie plesierigheid nie. Dit kan nie self geskep of selfs gevind word nie. Dit is ‘n gawe uit die hand van God. Dit is dankbaarheid vir die gawe van elke dag, en die gawe van lewe in daardie dag.
Dit is om bly te wees dat God nog ‘n lewensdag, spesiaal vir my, aan my gegee het. Dit is om te weet dat in elke dag God naby aan my is. Dit is om te weet dat vreugde nooit sonder pyn en hartseer is nie. Want hierdie dinge is soms deel van elke dag.
Ware vreugde is ook om vir ander ‘n vreugde te wees. Om, soos God naby aan ons is, vir ander naby te wees. Om te doen wat ons hand vind om te doen. En in die aand tevrede te wees met wat ek vandag met my lewe gemaak het. En in die vertroue te gaan slaap dat môre nog beter sal wees.
Ware vreugde is die leef van die lewe, saam met God. Dit is nie om vreugde te gaan soek iewers waar alles in my lewe, volgens my, in plek sal wees nie. ‘n Geloof dat dit moontlik is, steel ons vreugde.
Wat wel moontlik is om elke dag, as gawe van God, uit God se hand, en soos God se hand teenoor ander te gaan lewe. Dan vind ons vreugde in ons bestaan. Dan vind ons vreugde in die wete: ek lewe saam met God