POSTED BY Steven Sass on 22:07 under
27 September 2015 patensie

Ons ken almal die woorde van vers 6a: “In u hande gee ek my lewe oor.” Dit is die woorde waarmee elke Joodse kind saans gaan slaap het; ’n gebed waarin jy jou vertroue in God stel dat Hy in die nag na jou sal kyk en jou sal beskerm, en jou die volgende dag weer sal opwek. Maar ons ken die woorde natuurlik eintlik omdat Jesus dit ook gebid het aan die kruis: “Vader, in u hande gee ek my lewe oor” (Luk 23:46).

Hierdie gebed eggo ook in die woorde van ons teksvers (15,16): “Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God. My tye is in u hand.”

Ek dink, hier in die doodsnikke van 2015, is dit ’n gebed waarmee ons die jaar kan begin afsluit: My tye is in u hand. Ek vertrou die Here met my tye, dat Hy dit kan reël en bepaal. Dawid bely dit ook in ’n ander psalm (139:2,3): “Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.”

As ek bely dat my tye in God se hand is, beteken dit ek bely dat Hy die tydsduur van my lewe bepaal. Hy weet hoe lank ek gaan lewe, en Hy is ook die Een wat my kom haal wanneer my tyd verby is. Daar is van ons wat in die jaar wat  besig is om verby te snel, geweledige emosionele en uitdagiende dinge beleef het. Met hierdie belydenis sê ons: Ook in ons beproewinge en swaarkry tye, was ons in God se veilige Vaderhande gewees

Gelukkig bepaal God nie net ons geboortedag en ons sterfdag nie. As ons bely dat ons tye in sy hand is, sê ons daarmee ook dat ons tyd, elke oomblik, in God se hand is. Daarom het die Joodse kinders elke aand gebid: In u hande gee ek my lewe oor. Want die nag wat voorlê, en die dag wat kom, is alles tye wat in God se hand is, waarin Hy beskik oor ons, waarin Hy sorg.

Dit is mos wat ons bely in HK vr 1. Ek kan net eenvoudig nie genoeg kry hiervan nie!: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? En dan die antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

As ek bely dat my tye in God se hand is, sê ek nie daarmee net dat die hele span van my lewe deur Hom afgemeet is, en dat ek elke oomblik onder sy wakende oog en liefdevolle sorg lewe nie. Ek bely ook daarmee dat my lewe God s’n is. My tye, my lewe, my kom en gaan en oorbly, is nie my eie nie. Ek kan nie maar net my lewe lei soos ék wil nie, want my tye is nie my eie nie. Dis in God se hand. Hý beskik. Hý besluit. Hý reël my lewe, my tye.

Dit is wat Jesus daar aan die kruis bely het toe Hy hierdie gebed gebid het, dat Hy Sy lewe in die Vader se hande oorgee. Die vorige aand, in Getsemane, het Hy dit óók gebid: “Nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” En juis daarom, omdat Hy ons met sy bloed daar aan die kruis losgekoop het uit die kloue van Satan en sonde en die noodlot, kon Hy ons verseker dat niemand ons uit Sy hand kan ruk nie (Joh 10:28).

Dit is ook hoekom ons met vertroue die laaste deel van hierdie jaar kan ingaan, omdat ons bely: ook nou, in hierdie tyd hier,  is ons  in God se hand, en daarom veilig. Ons tye vir die res van die jaar en ook die res van ons toekoms, sal deur God beskik word. Hý sal ons tye ook dan bepaal.

Net as jy leef met die wete dat jou tye nie jou eie is nie, maar aan God behoort, kan jy getroos wees soos HK 1 sê, toegevou in God se veilige beskermende hand.

Kan jy dit vanoggend sê? Dat jy jou lewe aan God oorgegee het? Dat jy Hom vertrou met jou lewe, met die reël van jou lewe, met sy beskikking?

Dié vraag roep natuurlik ’n ander dimensie in hierdie woorde na vore. Want die woorde: “my tye is in u hand” is natuurlik nie net ’n belydenis nie. Dit is ook ’n gebed, ’n verlange, ’n smeking, ’n versugting, dat God jou tye sal reël, want jy begeer niks anders nie as dat Hý in beheer van jou lewe sal wees. “My tye is in u hand” is nie ’n gelate oorgawe aan ’n mag wat jy nie kan ontwyk nie. Dis nie om te swig voor God se almag nie. Dis nie om te sê: “As dit dan nie anders kan nie, sal ek my seker maar daarin moet berus” nie.


 Dit is hoekom nie net die gebed: “U is my God. My tye is in u hand” in hierdie psalm staan nie, maar ook die gebed van vers 6: “In u hande gee ek my lewe oor.” Want ten diepste is hierdie gebed ’n hartgrondige oorgawe, ’n aktiewe daad van beskikbaarstel, van gewillig wees om deel van God se plan te wees. Dis om te sê: “Hier is ek, Here. Neem my, gebruik my, reël my lewe, maak my diensbaar in u Koninkryk!”

Dít is hoe ek die res van die jaar wil ingaan. Wil jy dit ook doen?

Sê dit dan saam met my:

In u hande gee ek my lewe oor.
Ek vertrou op U, Here,
ek Sê: U is my God.
My tye is in u hand.
POSTED BY Steven Sass on 20:09 under
20 September Patensie doopdiens
·          
 Hoekom is jy gedoop? Wat beteken die feit dat jy gedoop is, vir jou vandag? Maak dit enige verskil in jou lewe? Is ’n bewys van jou doop nie maar net nodig sodat jy belydenis van geloof kan aflê nie? Is jou bewys van lidmaatskap nie baie belangriker nie?

Dis nie hoe Petrus oor die saak gedink het nie. Vir hom was die doop die saak wat sy lesers moes moed gee in ’n tyd waarin hulle baie swaar gekry het.

Wat hier in 1 Pet 3 oor die doop gesê word, is amper te ongelooflik om waar te wees. Hier staan immers dat die doop ons red! Dit is tog nie hoe ons oor die doop dink nie. Dit is immers nie die doop wat ons red nie, dit is tog die Here Jesus wat ons red deur sy kruisdood.

Maar om presies te verstaan waarom Petrus hierdie ongelooflike ding kan sê, moet ons gaan kyk wat die omstandighede was waarin hy hierdie brief geskryf het. Toe Petrus hierdie woorde geskryf het, was die gemeente in ’n geweldige moeilike situasie. Die gemeente is hewig vervolg, sodat ons met reg kan sê dat die geloof werklik vir hulle ’n saak van lewe en dood was. Dit gaan in hierdie gedeelte immers om lyding en vervolging, en dat die gemeente onregverdig beskinder word (vgl. vs.14). Daarby was die gelowiges, anders as vandag, verreweg in die minderheid, terwyl die oorgrote meerderheid van die destydse samelewing ongelowiges was wat meegedoen het aan hierdie vervolging.

Hierdie situasie, waarin die gemeente maar min was in vergelyking met die oormag van ongelowiges, laat vir Petrus dink aan die dae van Noag, toe sake ook min of meer so gestaan het. Ook Noag het feitlik man-alleen gestaan te midde van ’n wêreld van ongeloof. Daarby was hulle, hy en sy huis, net soos die gelowiges in die dae van Petrus, bespot en uitgelag. En in hierdie omstandighede bou Noag die ark en vertrou homself aan God toe. En wanneer die stormwaters kom, gaan Noag en sy gesin in die ark in en vertrou hulleself volledig aan God toe in die bede dat Hy hulle regop sal hou, sal laat uitkom, sal laat leef terwyl die woedende watermassa van God se oordeel die goddelose mense uitdelg.

En net so, sê Petrus, is dit vandag nog. Ons leef in ’n ontaarde wêreld, ’n wêreld wat hom nie steur aan God nie, ’n wêreld waarin soveel mense vir hulleself leef. Jesus het ook daarvan gepraat. Hy het gewaarsku dat dit so sal wees in die laaste dae, net soos in die dae van Noag: mense sal eet en drink en trou en met hulle lewe aangaan sonder om hulle aan God te steur (vgl Matt 24:37). Dís die wêreld waarin Noag geleef het, en dis die wêreld waarin ons vandag leef: omring deur mense wat nie glo nie.


Petrus sê: in só ’n wêreld het jy redding nodig, anders gaan jy onder. Noag het die redding van die ark gehad toe die toorn van God se oordeel die wêreld getref het, en ons het die redding van die doopwaters. Wie homself vrywillig daaraan toevertrou, saam met hulle wat aan hom behoort, soos Noag, en hom sodoende op God verlaat, sal ontdek dat hy of sy oorleef, en voor God en deur God staande gehou word.

Ons teksvers sê: “Die doop is ... ’n gebedsversoek tot God om ’n skoon gewete ...” In die doop vlug ’n mens as ’t ware na God toe, steek jy jou hand na God toe uit soos ’n drenkeling sy hand in die lug opsteek en skree: “Help!” Met die doop erken jy dat jy nie jouself kan red nie, en nie jouself wil red nie; dat jy God nodig het om in hierdie wêreld regop te kan bly staan.

Maar ons kan die woord
περώτημα (21) wat die BDV met “gebedsversoek” vertaal, ook vertaal met “plegtige onderneming” (NIV: a pledge). Dan lui die vers: “Die doop is ... ’n plegtige onderneming/belofte aan God dat jy rein sal lewe ...” Want met jou doop vlug jy nie net na God nie, maar belowe jy ook aan Hom dat jy vir Hom, en net vir Hom, sal leef.

Oor ons almal wat gedoop is, is só ’n belofte gemaak. Ons ouers het dit namens ons gedoen. En toe ons belydenis van geloof afgelê het, het ons hierdie belofte opgeneem en ons eie gemaak.

Jy sien, om gedoop te wees, beteken nie dat jy in ’n luilekkerland ingelyf word waar God alles vir jou doen en jy maar net kan saamry op die soustrein hemel toe nie. Om gedoop te wees, is om ingelyf te wees in die huisgesin van God waar jy al die troos en sorg van God ervaar en beleef, maar ook volgens ander waardes leef as die wêreld.  Waar jy uitstaan tussen mense omdat jy anders is. Waar ongelowiges jou eenkant toe kan skuif en selfs vervolg omdat jy nie inpas in hulle wêreld nie, soos die mense aan wie Petrus hierdie brief geskryf het, maar te goed geweet het.

In só ’n wêreld red die doop jou, want dit roep die bloed van Jesus oor jou lewe. Dit maak jou deel van dié volk vir wie Christus met sy lewe duur betaal het, vir wie Hy die dood oorwin het en opgestaan het.

Daarom wil Petrus ook vir ons kom sê dat dit nie sommer net mooi woorde is om te sê dat die doop red nie. Die doop is iets waaraan ons kan vashou in ons diepste nood, in ons grootste twyfel, in die ergste versoeking, wanneer almal om ons die rug op God draai en ons wil saamsleep – omdat God gedoopte mense vashou en bewaar en red.

Hulle vertel dat Maarten Luther by geleentheid, toe die duiwel met al sy versoekingslis vir hom kom pla het, in groot letters op sy lessenaar uitgekerf het: “EK IS GEDOOP!” Bedoelende daarmee – ek is God s’n. Ek leef vir Hom en skuil by Hom. Hý bewaar my.

Kan jy dit sê? En as jy dit sê, bedoel jy dit? Is die doop ’n anker in jou lewe? Troos die doop jou as jy aan jou kinders dink en die besorgdheid oor jou toeslaan? Is die doop jou laaste troos ook oor jouself ... die feit dat jy gedoop is, dat jou hele lewe ’n bede is tot Hom wat aan die regterhand van God is, dat Hy jou deur alles heen sal vashou en sal red?
POSTED BY Steven Sass on 19:38 under
13 September 2015 Patensie

Het jy al gebid, en ... niks? Geen antwoord nie, geen teken dat God gehoor het nie, selfs nie eers ’n indikasie dat Hy hoegenaamd daar is nie. Niks.

Dis die gewaarwording van Asaf in hierdie psalm. Hy roep na God, hardop, sou ons kon vertaal. Die NLV vertaal vers 2 juis só: “Ek roep hardop tot God. Ek roep hardop tot God om na my te luister!” En dan vertel hy in die volgende verse hoe hy tevergeefs op God wag en na Hom soek. Later (8-10) vra hy: “Sal die Here vir altyd verstoot en nooit weer genade betoon nie? Het daar vir altyd ’n einde gekom aan sy trou? Geld sy beloftes dan glad nie meer nie? Het God vergeet om medelye te hê? Het Hy in sy toorn sy ontferming onttrek?”

Ek dink die meeste van ons het in wisselende grade van erns ook sulke tye en emosies beleef; dat dit vir jou gevoel het God speel wegkruipertjie met jou; Hy is nie daar vir jou nie; Hy gee nie om nie; Hy het jou vergeet of is so besig met ander dinge dat jy nie eers die onderste lyntjie van sy lysie haal nie. Dis dán dat jy verlate voel, en wonder waar God dan is as jy Hom nodig het.

Die interessante van Psalm 77 is dat dit nie eindig soos dit begin nie. Nouja, dis nie so vreemd in die psalms nie, maar gewoonlik sê die skrywer vir jou iewers dat God hom gehoor het of gehelp het, en dat hy daarom anders voel. Maar nêrens in hierdie psalm lees ons daarvan nie. Daar staan niks van God wat in sy lewe ingegryp het, of Hom laat vind het, of sy gekerm gehoor het nie. Niks. En tog getuig hy in die tweede deel van die psalm dat God ’n God is van ontferming en sorg en omgee.

So wat het met Asaf gebeur?

As ’n mens mooi na die psalm kyk, is dit duidelik dat die wending in vers 11 kom. Tot by vers 10 sug en kla hy, en in vers 12 sê hy hy wil dink aan die dade van die Here en slaan hy ’n totaal ander toon aan.

So kom ons kyk na vers 11, waar sy gemoed gedraai het. Daar staan: “En ek sê: ‘My grootste smart is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie.’” As mens dit so vertaal, beteken dit dat Asaf se grootste frustrasie is dat hy nie vir God kan manipuleer of dwing om Hom aan hom te openbaar as hy dit wil hê nie. Al sy gekerm en gekla het hom niks in die sak gebring nie; niks nader aan God laat kom nie. Asaf sê dan hier: ’n Mens kan God nie forseer om die stilte te verbreek nie. Maar dalk is dit nie die beste vertaling van wat Asaf bedoel nie. Letterlik staan daar: “En ek sê: ‘Die siekte waaraan ek ly is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie.’” As ’n mens dit só vertaal, huil Asaf nie omdat die Allerhoogste verander het en skielik wegkruipertjie speel nie, nee; hy bely dat dit sy siekte is as God vir Hom so afwesig lyk, dat die fout by homself lê, nie by God nie. Die rede hoekom hy vir God in sy lewe mis, lê nie in iets wat God gedoen of nie gedoen het nie, maar in sy eie tekortkominge; dit gebeur omdat hy God probeer indwing in sý verwagtinge, en ’n God wil aanbid wat is soos hy wil hê.

Kom ek sê dit anders: Asaf ontdek dat die probleem nie by God lê nie, maar by homself. Hy het só op homself gefokus, op sy eie frustrasies en probleme, op wat hý wil hê en nie kry nie, dat hy net al dieper in sy eie selfbejammering ingesak het. So ’n gekerm bring jou nie by God uit nie, want jy bly die hele tyd met jouself besig. Dit was sy siekte, bely Asaf in vers 11. Hy het verkeerd na God gekyk en op die verkeerde plek na God se teenwoordigheid gesoek.

Daarom, van vers 12 af, kyk hy weg van homself, begin hy oor God nadink, oor wat God in die wêreld doen, in die geskiedenis, in die gemeente, en dis asof die wolk oor sy donker gemoed dan lig, want hoor wat sê hy in vers 14: “Alles wat U doen, is heilig, o God. Waar is ’n god so groot soos God? U is die God wat wonderdade doen ...”

Maar daar kom ’n ander gewaarwording ook by hom op. Hy besef hy is nie alleen in sy soeke na God nie. God se teenwoordigheid is oral te vind, maar, soos hy, het talle ander dit ook gemis. Hy vertel hoe God in die wêreld aktief teenwoordig is, en tog merk hy half verbaas op in vers 20: “Niemand het u spoor gesien nie.”

Geloof is juis om God se spoor te sien waar ander dit mis. Dis wat die Hebreërskrywer in hoofstuk 11, in sy groot besinning oor geloof, vir ons leer. “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie” (vers 1). En dan maak hy so vinnig ’n lysie van die geloofshelde van ouds, wat geleef het in die hoop, met die oog op die onsienlike, soos Abel en Henog en Noag, of soos Abraham, wat na ’n vreemde land gaan, sonder enige waarborge, net met God se belofte dat Hy vir hom ’n groot nageslag en ’n land sal gee, want “hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het ...” Hierdie geloofshelde het nie alles gekry wat beloof is nie. Al wat Abraham bv van die nageslag en die beloofde land besit het toe hy dood is, was een seun, Isak, en ’n grot waarin hy begrawe kon word. Maar, sê die Hebreërskrywer, die geloofshelde van ouds, soos Abraham, het dit wat God beloof het “uit die verte gesien en daaroor gejuig ...” (vers 13).

Geloof is om op God te fokus, nie op jouself nie. Dán gaan jou oë oop. Dán begin jy Hom oral om jou sien, in die wêreld, in die geskiedenis, en ook in jou eie lewe. Want God is nie weg nie, en Hy speel nie wegkruipertjie nie. Hy belowe dan dat Hy ons nooit sal begewe en ons nooit sal verlaat nie (vgl Heb 13:5). Dat Hy by ons is, al die dae, tot die voleinding van die wêreld (Matt 28:20). Daarvoor het Jesus sy eie lewe gegee, was Hý van God verlate, sodat ons nooit meer deur God verlaat sal wees nie, soos die ou Nagmaalsformulier dit so treffend gestel het. Daarom kon Paulus in Rom 8:38-39 uitroep: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

“Waar is God as ek Hom nodig het?” Die Woord sê vanoggend: Hy is by jou. Hy was nog altyd, en Hy sal ook steeds by jou wees. Maar sy spoor is nie altyd so sigbaar soos ons dit graag wil hê nie. Dit was in die Bybelse tye al so, en dis vandag steeds so. Dis eers as jy wegkyk van jouself en op God fokus, oor Hóm nadink (Ps 27:4) dat jy sy spore begin herken in die wêreld en in jou eie lewe; dat jy sy teenwoordigheid en liefde en sorg en beskerming begin raaksien.

“Ek wil nadink oor al u werk en oor al u dade peins,” sê Asaf in Ps 77:13. As jy só leef, sál jy God in jou lewe sien.
Amen.
POSTED BY Steven Sass on 20:32 under
6 September 2015 Patensie

Geloof is die wete dat dit wat ons elke dag om ons sien en beleef, nie die hele verhaal vertel nie. So begin die Hebreërskrywer hierdie hoofstuk (11:1). Geloof, sou ons ook kon sê, is die vermoë om beter as hierdie wêreld te kan sien, om jou nie blind te staar teen die aardse alleen nie, maar vir God in hierdie wêreld raak te sien, met Hom rekening te hou.


Maar geloof is nie net die vermoë om dinge te kan sien nie. Die feit dat ons God kan sien in hierdie wêreld, vra van ons dat ons ook ons lewens daarvolgens moet inrig. Hierdie insig wat ons het, hierdie vermoë om God te kan sien in hierdie wêreld, word eers geloof as ’n mens dit nie net verstaan nie, maar ook daarvolgens begin lewe. Dis eers waarlik geloof as jou visie op God en op God se toekoms daadwerklik jou lewe in die hede vernuwe en verander, as jou insig in God se wil, as jou droom van sy koninkryk, as dit jou lewe van elke dag begin beïnvloed, sodat jy jou waardes daarvolgens bepaal, jou program daarvolgens beplan.

Om hierdie gedagte by ons tuis te bring, gebruik die Hebreërskrywer die beeld dat ons vreemdelinge in hierdie wêreld is (11:13). ’n Christen het geword soos ’n burger van ’n ander koninkryk, die koninkryk van die hemel! Soos wat ’n mens burgers van ’n vreemde land, toeriste, of besoekers, maklik kan uitken tussen ander mense omdat hulle anders lyk en praat en doen as die mense van die land waarin hulle reis, so moet Christene ook uitkenbaar wees aan die manier waarop ons optree en praat; ons vreemde, anderse lewenswyse. As mense na ons kyk, moet hulle kan sien dat ons waardes, ons lewenstyl nie soos die waardes en norme van hierdie wêreld is nie, dat ons vreemdelinge in hierdie wêreld is.

Uit Heb 11 kan ons ’n hele paar voorbeelde haal van mense wat nie net beter en verder gesien het as die gewone mense nie, maar ook daarom anders opgetree het as die aanvaarde aardse gebruike.

Neem nou maar vir Noag (11:7v). Toe hy deur die geloof verstaan en gesien het wat God gaan doen, iets wat nog nie gesien is nie, ... het hy God eerbiedig gehoorsaam ... en ... die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom. ’n Mens kan jou nie regtig ’n vreemder gedrag voorstel as hierdie nie. ’n Skip op droë grond, vêr van die water af! Uit die woord eerbiedig waarmee Noag se optrede beskryf word, kan ’n mens agterkom dat dit vir hom ook maar ’n stryd was, dat dit nie die vanselfsprekende ding was om te doen nie. En tog gehoorsaam hy God, omdat hy glo.

Van Abraham lees ons in vs.8. Ook hy tree vreemd op, want hy trek weg uit die bekende ... sonder om te weet waar hy sou uitkom. Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, ’n vreemdeling in ’n vreemde land. In tente (wat beteken tydelike verblyf) het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is. Omdat hy die beloftes het en glo en die stad verwag, is sy eintlike burgerskap elders, in die toekoms, by God. Daarom bly hy hier tydelik in tente, in die vreemde land, as vreemdeling.

En so sou ’n mens die voorbeelde kon vermenigvuldig. In 11:13-16 vat die skrywer dit self saam en pas dit toe: Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na ’n vaderland. As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. Maar hulle het na ’n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ’n stad gereed gemaak.

Die beloftes wat hulle van ver af gesien en geglo het, het hulle lewens daadwerklik bepaal. Dáárom het hulle bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde is en verklaar dat hulle ’n vaderland soek. Dáárom het hulle verlang na ’n beter, hemelse, vaderland en daarom skaam God Hom nie om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ’n stad berei.

Die vraag wat ek en jy vanoggend moet beantwoord, is die volgende: is dit van ons ook waar? Sal mense wat na jou luister, wat sien wat jy doen en hoe jy leef – sal mense van jou en van my sê ons is vreemdelinge? Dat ons nie eintlik van hier is nie? Dat ons net toeriste is?

Iemand sê in die week, die probleem met moderne Westerse Christene is dat ons só ingesuig is in die materialistiese wêreld waarin ons leef dat ons nie meer ’n boodskap vir die wêreld het nie. Ons lyk net soos die wêreld. Ons jaag net soos hulle na meer, na blinker, na luukser. Ons bou kliphard aan ons aardse koninkrykies in plaas daarvan om iets van die hemelse koninkryk, die Koninkryk van God, hier sigbaar te maak deur wie ons is. Jy moet maar self besluit of dit waar is.

Die ding is: ons, gelowiges, kan iets van God se wêreld en sy teenwoordigheid in die wêreld sien. Ongelowiges kan dit nie sien nie. En dít is waar ons roeping lê: ons moet God vir die wêreld sigbaar maak. My woorde, my keuses, my optrede, alles moet dit verkondig dat Jesus leef en teenwoordig is in my lewe, dat Hý, en nie ek nie, Koning is van my wêreld. Dít is wat die kerk deur die eeue bedoel het met die belydenis: Jesus is die Here. Hý is die Koning van die konings. Hierdie wêreld is Sýne, en al kan die wêreld dit nie sien nie, óns kan dit sien, óns weet dit, en daarom volg ons Hom en dien ons Hom en leef ons soos Hy ons leer en lei.

Vreemdelinge. Dís wat ons is. Dit is ons diepste identiteit.

Kom dan, kom ons leef dit uit wat ons is!