POSTED BY Steven Sass on 21:15 under
30 Augustus 2015 Patensie

Ons ken almal vir Abraham, die vader van die gelowiges. ’n Baie belangrike figuur in die Ou Testament, sal almal saamstem. Maar in die wêreld van destyds was Abraham nie juis besonder belangrik nie. Om die waarheid te sê, as daar toe al koerante was, sou daar seker nie ’n voorbladberig gewees het oor sy besluit om uit Ur uit weg te trek nie.


Nou maar hoekom is Abraham dan vir ons, gelowiges, so ’n belangrike figuur dat Paulus hom in Rom 4:16 “die vader van ons almal” kan noem? Ek dink die teks wil vir ons iets daarvan laat verstaan. Want rondom die beloftes wat God aan hom gemaak het, is daar ’n raamwerk wat ons moet raaksien. Vers 1 sê: “Die Here het vir Abram gesê ...” en vers 4 sluit daarby aan as daar staan: “Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here ...”

Abraham is ’n belangrike figuur in die geskiedenis van God met die wêreld omdat hy iemand was wat gehoor het as God praat, en gehoorsaam daarop gereageer het.


Dít is hoekom hy ons almal se vader in die geloof is. Want dit is wat geloof beteken: om te luister na God se stem, om te hoor as Hy praat, en daarop te reageer. Paulus skryf daarvan in Rom 12:2 as hy sê: Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. En in Efes 5:10 sê hy: Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is ...


As ons met die res van die jaar, as gemeente en as indiwiduele gelowiges ’n verskil wil maak in die wêreld, is dit één aspek waarop ons veral bedag moet wees: ons moet sy stem goed leer ken, sodat ons fyn ingestel sal wees op wat God sê, vir onsself, vir hierdie gemeente. Want as Hy praat, maak Hy altyd aanspraak op ’n mens. Om na God te luister, eis iets van my, soms selfs iets groots. Van Abraham het Hy verwag om weg te trek van alles wat vir hom lief en dierbaar was, van al sy sekuriteite.

Gemeente, ek het ’n idee dat God se aanspraak op ons lewens en veral vir die onmiddelike toekoms, ook nie aldag maanskyn en rose gaan wees nie. Om God te gehoorsaam, kos ’n mens iets. Dit vra offers van ons: offers van tyd, van kundigheid, van prioriteite. Ek wonder dikwels of ons regtig bereid is om dié offers te bring. Ek ontdek in myself ook dikwels ’n onwilligheid om my program te verander sodat God se prioriteite meer tyd kry en myne minder. Ek het ’n idee ons is heeltemal te gemaklik as ons bid: “Laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied ...” Besef ons werklik dat hierdie gebede nie los van ons gehoorsaamheid verhoor sal word nie?


In die gedeelte in Lukas 9 wat ons gelees het, sien ons iets daarvan. Jy kan nie maar net op ’n goeie dag besluit jy volg nou die Here nie. Want om Hom te volg, vra offers. Dit is nie ’n glamorous pad waarop jy kan voortgaan asof niks verander het nie. Dit verander jou hele lewe en prioriteite.


Natuurlik eis God nie net nie. Sy eise kom altyd saam met beloftes van seën en sorg, soos vir Abraham. Nie noodwendig presies soos jy dit jou voorgestel het nie, soos Abraham moes leer. Van die land wat God hom beloof het, het hy met sy dood niks meer besit nie as net ’n stukkie grond met ’n grot waarin hy begrawe kon word. En van die groot nasie waarvan God praat, was daar ook maar min te sien: net ’n enkele seun Isak wat op sy oudag gebore is. Dis asof God se beloftes aan hom so half getalm het om in vervulling te gaan.

Ek wil graag aanhaal uit ’n roman oor Abraham se lewe. Abraham en Sara is al oud, en hulle kyk terug. Dan sê Abraham vir Sara:

    "Toe ons vyf en dertig jaar gelede hier aangekom het, was ons nog jonk en vol ideale. En nou het ons altwee oud geword. So baie dinge het gebeur. Ek het destyds daar in Ur geglo dat ons self nog die vervulling van God se beloftes sal belewe; dat ons met ons eie oë die groot nageslag sal sien, en dat die land wat God ons belowe het, volledig ons s'n sal wees." Sy stem raak stil terwyl hy na die Beloofde Land kyk. Dan dwaal sy blik na die boom voor hulle, soek hy na hulle seun wat hoog in die boom op 'n tak sit. Dan gaan hy voort: "Maar dit het toe nie so gebeur nie."
    "Is jy teleurgesteld?" [vra Sara]
    "As ek jou vyf en dertig jaar gelede moes antwoord, sou ek seker ja gesê het."
    "En vandag?" [wil Sara weet]
    "God het my geleer dat sy tydtafel anders as ons s'n lyk." Hy beduie na die land wat wyd en oop voor hulle lê. "Eendag sal ons nageslag so talryk soos die sterre aan die hemel wees, en sal hierdie land, dit alles aan God se volk behoort. Ons staan hier op die drumpel van die nuwe begin. En al wat ons het, is 'n jong seun en 'n lappie grond. Maar vir God is dit genoeg. En vir my."



Dít is geloof: om God te hoor praat, en Hom dan gehoorsaam te volg, wel wetende dat dinge nie noodwendig sal loop soos jý wil nie. Langs die pad mag daar ’n verrassing of twee op jou wag. Maar ’n mens wat bereid is om God te gehoorsaam, ontdek weldra dat sy lewe nooit weer dieselfde is nie, want jy begin leef in die ruimte van God se voorsiening en seëninge.

Die tekens van God se teenwoordigheid en sy seën is soms maar effentjies, gemeet aan wêreldse standaarde. Abraham moes tevrede wees met ’n seun en ’n lappie grond. Ons het dikwels ook maar min om ons aan God se seëninge te herinner: ’n Bybel wat ons vertel van Jesus wat mens geword het vir ons, ’n kerk wat ons op talle maniere daaraan herinner dat Jesus ons gekruisigde en opgestane Here is, ’n gemeente waar ander gelowiges saam met ons op reis is, gehoorsaam aan God se stem soos Abraham, die Gees wat in ons woon en werk ... Dis tekens wat ons daaraan herinner dat God se beloftes wáár is, al lyk dit soms anders as wat ons dit sou wou hê.

Soos Abraham moet ons hierdie tekens vasgryp en gehoorsaam God se pad stap. En weldra ontdek jy: God se tekens is karig, maar genoeg. En dan kan jy moed skep en begin leef. Ook nou....
POSTED BY Steven Sass on 20:30 under
23 Augustus 2015 Patensie
 Ek lees anderdag van ’n seuntjie wat na die Sondagskool die volgende te vertelle gehad het: Moses het op ’n dag by die agterste linies van Israel gekom en toe gesien dat die Egiptenare besig is om hulle in te haal. Dadelik het hy met sy “walkie-talkie” vir Hoofkwartier laat weet dat die geniekorps gou-gou ’n brug oor die Rietsee moet kom bou. So is toe gedoen. En toe die Israeliete anderkant aankom, sien Moses dat die Egiptenare al halfpad oor die brug is. Vinnig laat hy Hoofkwartier toe weer weet om bomwerpers te stuur om die brug op te blaas. Gelukkig het hulle net betyds opgedaag, en toe Farao se tenks in die middel was, het die brug padgegee en het hulle in die see geval. So het ook sy hele infanterie verdrink.

Sy ma was baie ontsteld oor hierdie vertelling, en wou toe weet of die juffrou regtig die verhaal só vertel het. Nee, sê die seuntjie, nou nie heeltemal só nie, maar as hy dit moes vertel soos sý dit vertel het, sou niemand hom tog geglo het nie!


Kom ek vra vanoggend: Glo jý nog? Glo jy nog in die krag van God, in sy liefde en goedheid, en sy alvermoë? En as jy nog glo, verwag jy nog enig-iets van God? Bid jy nog om sy voorsiening en sy sorg as jy in die nood is? As jy siek is of gebrek ly? As jy eensaam is of bekommerd? Glo jy dat Hy dan uitkoms kan bring?

Ons lees in ons teksgedeelte van ’n vrou wat geglo het in die mag van God, wat alles van Jesus verwag het – en dit ook ontvang het! Wat haar naam was, word nie gesê nie. Maar hier staan dat sy twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Behalwe dat sy natuurlik ellendig gevoel het, het hierdie bepaalde siekte haar volgens die Joodse wet onrein gemaak, en almal wat aan haar sou raak, sou ook onrein wees, en daarom nie geskik om na die tempel te gaan om God te aanbid nie. ’n Mens kan net dink watter diepe ellende dit was.

Sy het alles wat sy het, aan dokters uitgegee. Keer op keer het sy ’n ander soort medisyne gebruik. Maar sonder sukses. Markus skryf dat sy eerder erger geword het. Lukas, self ’n geneesheer, spaar sy kollegas hierdie verleentheid.

En toe hoor sy van die Here Jesus. Sy het geglo dat Hý haar kan genees, en daarom wou sy tot elke prys by Hom uitkom. Markus vertel dat sy gedink het: “As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.” En eindelik sien sy haar kans. Daar was ’n groot gedrang om Jesus – sy sou ongemerk nader kruip en aan Hom raak. Versigtig gaan sy deur die skare mense. Meteens is sy vlak by Jesus. Vinnig steek sy haar hand uit en raak aan die soom van sy kleed. En: die wonder gebeur! Sy is gesond! Nou moet sy net so gou as moontlik wegkom.

Maar – te laat! Jesus het gemerk dat daar krag uit Hom uitgaan. Hoe sou Hy dit ook nié opgemerk het nie? En Hy vra toe ook: “Wie het My aangeraak?” Die dissipels was baie verbaas dat die Here nou só ’n vraag kon vra. “Here,” sê Petrus, “die mense dring tog romdom U saam en druk teen U.” Wag, miskien kom sy tóg weg. Maar Jesus hou vol, en sy móét uiteindelik met haar hele verhaal na vore kom. Bewend van angs val sy voor Hom neer. Voor die hele klomp mense moet sy vertel om watter rede sy Hom aangeraak het. Wat sal die Here Jesus sê? Sal Hy haar straf omdat sy Hom onrein gemaak het? Omdat sy, ’n vrou, dit durf waag het om haar aan Hom op te dring? Omdat sy Hom opgehou het terwyl Hy haastig op pad is om ’n baie belangrike man – ’n raadslid van die sinagoge! – se sterwende kind te gaan gesond maak?

Maar wat sê Jesus vir haar? “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.” Nie veroordeling nie, maar genade! “Gaan in vrede!” Hoe kon sy ook anders gedink het! God se koninkryk is tog vol genade, goedheid, liefde en vreugde. God gee om vir mense in nood en ellende. Mense se leed en swaarkry raak Hom, en daarom help Hy hulle. Daarom bely die NGB § 1 van Hom: Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed, en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Maar hoor weer wat sê die Here vir die vrou: “Dogter, jou geloof het jou gered.” Op die ou end het die vrou ook baie méér gekry as wat sy wou hê. Nie net haar liggaam is genees nie, sy is gered! Want Jesus het gekom om die werke van die Satan te verbreek – om die stukkendheid van hierdie skepping heel te maak, soos Hy hierdie vrou genees het, maar veral ook om haar van die mag van die sonde te verlos. Ons sien hier, soos in al die wonders, dat Jesus Christus groter is as die Duiwel, dat God magtiger is as Satan, en daarom Satan se mag kan breek op hierdie wêreld. Die beste sien ons dit natuurlik in die Kruis en Opstanding van Jesus Christus, waar Hy eens en vir altyd die mag van die Bose verbreek het om nie net hierdie vrou nie, maar ons almal, ook vir jou en vir my, te red. Daar het Hy werklik onrein geword – nie net vanweë hierdie vrou se aanraking nie, maar vanweë ons almal se sonde – sodat ons rein kan word, gesond kan word, gered kan word.

Liewe gemeente, die Here red! Hy genees! Dit wil hierdie wonder ons leer. Maar dis nie al nie. Die Here sê vir die vrou: “Dogter, jou geloof het jou gered.” Jou geloof. Natuurlik is dit nie haar geloof wat haar gesond gemaak het nie. Dit was Christus. Maar, en dit is wat Jesus hier bedoel, dit het tog ook nie los van haar geloof gebeur nie. Want hierdie vrou het in God geglo, geglo dat Christus die mag het om haar gesond te maak; sy het Christus se heerskappy erken, en was daarom bereid om Hom ten volle te vertrou met haar gesondheid, met haar lewe. Daarom het sy geen moeite ontsien om tot by Hom te kom nie, want sy het haar vertroue in Hom gestel.

Miskien is dit die rede hoekom ons so dikwels nie God se goedheid en genade, God se vrede beleef nie; hoekom ons nie die krag van sy reddende teenwoordigheid in ons lewens en met ons probleme beleef nie: omdat ons geloof nie daar is nie. Nie omdat ons nie glo nie, maar omdat ons te min glo, te min van God verwag, soos die seuntjie met die Rietsee-verhaal. Daarom bid ons, want ’n mens bid as jy in die nood is. Daarom kom ons kerk toe, want dit is Sondag. Daarom lees ons Bybel, want só is ons geleer.

Maar geloof is baie meer as dit. Geloof is om soos hierdie vrou met die lewende God se almag, sy alvermoë, rekening te hou. Geloof is om ’n lewende Here te aanbid en te volg – Een wat Oorwinnaar is, wat opgestaan het uit die dood, wat ook vandag nog lewe en by ons is. En as jy dan na Hom te gaan met jou nood – jou sondenood, jou siektenood, hou huweliksnood, jou eensaamheid – wat ook al jou nood is – as jy na Hom te gaan soos hierdie vrou gedoen het, glo dan dat Hy lewe, dat Hy magtig is om jou te help.

Want God kan! Daarom het Jesus Christus gekom, het Hy oorwin, selfs die dood! Glo dit! En gaan in vrede! Amen.
POSTED BY Steven Sass on 21:17 under
16 Augustus 2015 Patensie
Vriende?
3 Johannes:1-15
Ons het vanoggend te doen met ‘n brief. Meer spesifiek is dit ‘n brief wat Johannes geskryf het aan ‘n kerkleier wie se naam Gaius was, hoofsaaklik om waardering te betuig vir sy hulp aan ander gelowiges en hom te waarsku teen Diotrefes.

Vir baie van ons is ‘n brief deesdae maar ‘n skaars ding, en is dit nie regtig iets wat ons mee veel te doen het seker nie. Die naaste wat ons dalk aan ‘n brief sou kom is dalk ‘n rekening wat gepos word, of dalk iets selfs meer onpersoonlik soos ‘n boodskap op facebook, twitter, of ‘n whatsapp of sms. Dis min dat ons nog vir mekaar briewe sal skryf, wat nog te sê ‘n mooi persoonlike brief te ontvang.

Hier het ons te doen vanoggend met ‘n persoonlike brief, van een vriend na ‘n ander, en in die brief is daar sekere momente of punte wat ek graag wil uitlig as deel van vanoggend se boodskap.

Die eerste ding wat my opgeval het toe ek hierdie brief gelees het, was dat Johhannes in die eerste vers van Gaius praat as sy vriend vir wie hy liefhet.... Dis darem ‘n mooi ding om vir jou vriend te kan sê. My vriend , ek het jou lief. Onmiddelik dink ek dat sulke vriendskappe en liefdes verklarings selfs nog yler gesaai is as die hele gedagte dat briewe deesdae so skaars geword het. Sulke vriendskappe soos Johannes en Gaius is netso skaars. 

Die vraag is dus eintlik of jy wel so ‘n vriend het, wat so iets oor jou sal sê? Of dalk anders gestel:  Het jy vriende oor wie jy so sal praat? Onthou as jy so vir iemand sê dat jy daardie pesoon liefhet, dan is jy ook besorgd oor sy huidige welstand, maar ook oor sy toekoms in verband met sy saak met die Here en veral ook die ewige lewe. So dis nie sommerso om vir iemand te sê dat jy daardie persoon liefhet nie.

Na my mening is daar regitg nie baie van my gemeentelede wat sulke goeie vriende het nie, en wat ook nie sulke vriendskappe nastreef en koester nie... dit is ‘n geweldige groot bron van kommer vir my. Daar is eerder meer voorbeelde vanwaar mense mekaar ten a kom en slegsê as iets anders. Die oppervlakkigheid van baie van ons mense se vriendskappe en verhoudings met mekaar is vir my ‘n bitter pil om te sluk. Dis asof ons, soos so baie ander ongelowige mense in die wêreld eerder sal wil kyk wat ek uit die ‘vriend’ kan kry as om vir daardie mens regtig en innig lief te kry.

Soos ons aan lees, sien ons dat Johannes die wens uitspreek dat dit met Gaius netso goed liggaamlik gaan as wat dit met hom geestelik gaan (vers 2). Hoe gaan dit met jou vanoggend? Gaan dit met jou lyf netso goed as wat dit met jou siel gaan? Is jy geestelik netso gesond soos wat jou liggaam is? Dis nogal ‘n baie diep vraag om jouself vanoggend af te vra. Ek dink dat dit met baie van ons eerder ‘n geval sal wees dat ons liggame gesond is, maar ons siele, ons gees, is natuurlik ongelukkig ‘n heeltemal ander storie....

Die volgende vers was vir my netso ‘n treffende ding om oor ‘n vriend te kan sê: “ Ek was baie bly toe hier medegelowiges kom en van jou trou aan die waarheid vertel, hoe jy in die waarheid lewe...Niks verskaf my groter vreugde nie as om te hoor dat my kinders in die waarheid lewe nie”.

 Johannes sê eintlik hier dat hy hoor dat Gaius in Jesus leef en dat daar ander mede gelowiges na hom toe gekom het en vertel het hoe mooi Gaius in Jesus se voetspore loop. Onthou dat ons mos nou al weet dat Jesus die waarheid is, daarom kan ons duidelik hier sien dat dit is waarvan Johannes hier praat, naamlik Gaius se mooi lewe wat hy in Jeses het.

Nou ontstaan daar natuurlik die vraag: As iemand oor jou vanoggend iets moet sê, of as iemand van jou moet praat, of anders gestel as iemand oor jou moet getuig.... wat sal hulle van jou kan sê? Sal jou vriende ook so van jou kan praat? Dat jy in Jesus leef? Dat dit met jou geestelik netso goed gaan as wat dit met jou liggaamlik gaan? Wat dink jy sal hulle van jou kan sê?

 Dis tog jammer dat baie van ons vanoggend onseker is hieroor. Baie van ons is dalk bang op die oomblik vir wat ander mense oor jou sal sê, veral hoe daardie dinge wat gesê kan word op papier sal lyk...Dinge lyk mos maar baie keer nog erger as dit nog op papier ook is.

Soos ware vriende dan ook doen, gaan Johannes voort met die brief om ook vir sy maat te waarsku teen slegte mense en hulle moontlik slegte invloed op hom. Johannes waarksu en praat van ‘n spesifieke persoon genaamd Diotrefes.

Diotrefes was basies ‘n skynheilige skelm wat voorgee wat hy nie waarlik was nie en wat vreeslike verskuilde agenda’s gehad het. Johannes draai nie doekies om met sy waarskuwing nie en waarsku sy maat baie duidelik teen Diotrefes. Op hierdie punt dink ek sal dit goed wees as elkeen van ons bietjie kan nadink oor die moontlike slegte invloede van sekere mense op ons eie lewens, en veral ook op ons geestelike lewens.

Is dit nie dalk die geval dat jy dalk gekies het om die Diotrefese van hierdie wêreld te kies as jou vriend/e nie? Dis dalk hoekom jy op die oomblik een is van baie in die vallei wat nie regtig ware Christenvriende het nie. Dis dalk jou eie slegte keuses wat maak dat jou vriende jou eerder aftrek as oplig, dat hulle jou eerder negatief stem en beinvled as positief. Dis dalk ook die rede hoekom dit met jou so geestelik sleg gaan op die oomblik: Jy het nie die regte viende nie! Of dalk nog erger: Jy is dalk nie die regte Christenvriend vir jou maats nie. Jy is dalk die Diotrefes in hulle lewe....
Die Here wil hê dat mense mooi goed oor jou kan sê. Hy wil ook hê dat jy eerder meer mense as minder in jou lewe sal hê oor wie jy sulke mooi dinge soos Johannes oor Gaius kon sê. Kies vanoggend om die Here te gehoorsaam, en te luister as Hy jou aanspreek oor die vriende wat jy op die oomblik kies om in jou vriendekring te wees. Spreuke sê so mooi: “Yster slyp Yster, maar vriende vorm mekaar” en  “Vriende is vriende vir altyd, as die Here hulle Here is.”

Mag elkeen van ons die regte keuses maak...