31 Mei 2015 Patensie
Hoe lyk JY?
Handelinge 2:37-47
Die enigste gepaste reaksie op die boodskap
van Jesus is om jou te bekeer. Bekering beteken om te buig voor Jesus en jou
lewe in te rig volgens die leer en voorbeeld van Jesus. Só dra jy vrug wat by
die bekering pas. Op hierdie manier word God se koningskap 'n werklikheid in
jou lewe.
Bekering is
egter nie net 'n individuele proses nie...Volgens Handelinge is bekering ook 'n
proses wat jou insluit by God se gemeente... Op die dag van Petrus se boodskap,
die dag waarop die Heilige Gees uitgestort is, is omtrent drie duisend mense
"by die getal van die gelowiges gevoeg." (41). God se werk in
Christus, deur die krag van die Heilige Gees, skep altyd nuwe gemeenskap. Dit
sluit mense altyd in by God se kerk. Bekering in die kragveld van die Gees is
altyd om deel van 'n geloofsgemeenskap gemaak te word....
In ons teks word die karaktertrekke van die
geloofsgemeenskap wat die Heilige Gees deur bekering skep, op 'n besondere
manier beskryf. Dis soos die gemeenskaplike vrug van bekering lyk. Die eerste
Pinkstergemeente was volgens vers 42 volhardend toegewy aan:
· Die leer en onderrig van die apostels * Onderlinge
verbondenheid aan mekaar
· Die gemeenskaplike maaltyd * Volhardende gebed Leer en
onderrig van die apostels. Deur die uitstorting van die Heilige Gees het Hy aan
die apostels die bevoegdheid gegee om in sy Naam herders en leraars van die
gemeente te wees, bevoegdhede wat stelselmatig ook deur die Gees as gawes aan
meer gelowiges as slegs die apostels gegee is (Ef. 4:11, 12).
Die
geestelike versorging van die gemeente deur haar Hoof is dus vanaf die eerste
dag van haar bestaan gewaarborg en daarmee saam is die gesagstruktuur vir die
gemeenteliggaam ook vasgelê. Die Here se unieke gawes aan die liggaam van
gelowiges is die herders wat direk teenoor Hom verantwoordelik is vir hulle
taak om die liggaam van Christus, sy vrygekoopte kudde op te bou.
Gehoorsaamheid aan die leer van die apostels is dus gehoorsaamheid aan Christus
self. Dit is hierdie leer wat vir die gemeente van vandag in die Heilige Skrif
opgeteken staan. Uiteindelik word die gehoorsaamheid van die gelowiges aan
Christus gemeet aan hulle gehoorsaamheid aan die heilige Skrif (2 Tim.
3:14-17). Ons moet die Skrif se gesag onvoorwaardelik aanvaar.
Onderlinge
verbondenheid: (vers42) Die woord koinonia wat in die OAV met
“gemeenskap” vertaal word, is meer as net “onderlinge verbondenheid” (NAV). Dit
is ’n onderlinge verbondenheid wat praktiese uitlewing vind in gemeenskaplike
verkeer, aanbidding, dienslewering asook bediening van mekaar tot opbou van die
liggaam van Christus in liefde (Ef. 4:16b).
Hierdie
Pinkstergelowiges het mekaar opreg liefgehad, dikwels onderling gesprek gevoer
en voortdurend bymekaar gekom. Hulle het hulle nie as kluisenaars aan die
samelewing onttrek nie, maar hulle gemeenskap ook in die openbare plekke
beoefen, veral in die tempel waar hulle daaglikse samekoms plaasgevind het
(2:46). Hierdie gemeenskapsbeoefening was hulle helderste getuienis van hoe die
Goeie Herder verlore en verstrooide skape tot ’n goedgeordende en
lewenskragtige kudde wat Hom getrou volg omskep. Hierdie gemeenskap met mekaar
berus op ’n dieper gemeenskap, naamlik die van die gelowiges met die Vader en
met sy Seun, Jesus Christus (1 Joh. 1:3). Gemeenskaplike aanbiddingsgemeenskap
met die Vader en sy Seun is die beste gemeenskap wat gelowiges met mekaar kan
hê . Onderlinge verbondenheid is nie ‘n teorie nie. Dit is prakties waar
gemeente God dien, mekaar dien, versorg en liefhet.
Die
gemeenskaplike maaltyd Die eerste gemeente is gekenmerk deur die eet van die
gemeenskaplike maaltyd (NAV) of te wel die breking van die brood (OAV). Dit is
moeilik om te sê of ons hier te doen het met die nagmaalviering of met die
gewone maaltye. Die breking van die brood was ’n handeling deur die hoof van
die huis of feesviering wanneer hy die seën oor die gebruik van die voedsel
gevra het. Jesus het dit waarskynlik gereeld by die maaltye met sy dissipels
gedoen (sien Matt 26:26 en Luk 24:30). Dit is ook deur hierdie handeling dat
die Emmausgangers Hom herken het. Die Verklarende Bybel verklaar dat dit lyk of
die nagmaal en gewone etes in die vroeë kerk nie duidelik geskei is nie. Die
daaglikse etes sou waarskynlik ook ’n ‘nagmaalsbetekenis’ gehad het; dit is met
ander woorde beleef as ’n herinnering aan die tafelgemeenskap met Jesus. Die
sakramentele aard van hierdie gemeenskap was uiteraard onmiskenbaar.
Die gemeente het voortgegaan met die viering
van die herinnering aan hulle Meester se dood, as mense wat nie skaam was vir
hulle eie verhouding tot Hom en afhanklikheid van Hom, Christus die gekruisigde,
nie. Hulle kon sy kruisdood nie vergeet nie, maar het hierdie herdenking
daarvan in stand gehou as ’n volgehoue praktyk omdat dit die instelling van
Christus was wat aan die kerk deurgegee moes word vir die eeue wat sou volg. Die nagmaal was van die begin van die lewe van
die kerk af die liturgiese handeling wat die verhouding tussen Jesus en sy
liggaam bevestig. Elke keer as hulle saam eet onthou hulle wat Jesus gedoen
het. Jesus het brood gebreek en uitgedeel. Dit is my liggaam, dit is my bloed.
Volhardende
gebed Voor die uitstorting van die Heilige Gees (die gawe wat die Vader belowe
het), op wie die apostels gewag het (Luk 24:49), het hulle saam met ander
gelowiges eensgesind volhard in die gebed (Hand 1:14).
Gebed in
hierdie sin is ’n bewuste wisselwerking van gedagte en woord tussen God en die
bidders en die bidders onderling. Dit is die kommunikasiestelsel deur die
liefde gedryf wat die ganse funksionering van die Hoof en sy liggaam (1 Kor.
12:12- 31; Ef 4:15, 16) rig en beheer. Na die uitstorting van die Heilige Gees
het voortdurende gebed die lewenswyse en uitstaande kenmerk van die
Geesvervulde jong kerk geword. So belangrik is hierdie bedrywigheid geag dat
Paulus in die eerste sendbrief wat hy aan ’n nuutgestigte gemeente geskryf het die
opdrag kon gee: “Bid sonder ophou!” (1 Tess 5:17). Op hierdie wyse is die
gebedskultuur van die eerste oomblikke af deel van die lewe van die kerk.
Gedring deur die liefde vir die Here volg die gelowiges Hom na – altyd in
gebedsgemeenskap met Hom sonder wie hulle niks kan doen nie (Joh. 15:5). Kan
nie gelowige wees sonder gebed nie. Gemeente kan nie funksioneer sonder gebed
nie.
Gesonde gemeente In die Bybel is die
Handelingegemeente kort na die uitstorting van die Heilige Gees waarskynlik ’n
goeie voorbeeld van ’n groep mense wat geestelik gesond geleef het. Hulle
lewenstyl was so aantreklik dat mense graag soos hulle wou geleef het. Clinton
McKinley het in ’n preek oor Handelinge 2 met die titel "Getting
W.E.L.L." die Engelse woord WELL as ’n akroniem gebruik om vier kritiese
eienskappe van die eerste gemeente in Handelinge 2 uit te spel:
· W– Worshipping – hulle het gereeld
saamgekom om te aanbid.
· E – Evangelizing – hulle leefstyl
was aantreklik – ander mense wou ook só leef.
· L – Learning – hulle het God se Woord met daaglikse
dissipline verorber.
· L – Loving – hulle was liefdevol en
het regtig omgegee vir mekaar en ander mense.
Gesonde
kerke wat groei, vertoon vandag nog steeds dieselfde eienskappe. Om geestelik
fiks en gesond te wees, het ons in die lewe ook hierdie dissiplines nodig – ons
moet saam aanbid, saam uitreik na mense, saam leer en saam liefhê. Dit beteken
dat God se Gees ons gees moet beheer....en dis hoe jy moet lyk...