POSTED BY Steven Sass on 22:49 under
8Maart 2015 Patensie
Matteus 6: 25-34
God sal sorg!
In een van Louis L'Amour se cowboyboeke lees jy hierdie bekende storie:
Die toneel is 'n eensame paadjie wat bitter selde gebruik word. Dit is in die dorre, onherbergsame Armargosa-woestyn. Dit is 'n lang, eensame roete, en dis bitter ver van alles af. En dan, in die middel van nêrens, langs die stowwerige paadjie staan 'n geroeste, outydse waterpomp. Aan 'n stuk bloudraad aan sy handvatsel swaai 'n bakpoeier blikkie in die skroeiende wind.
Wanneer die dorstige trekker op hierdie eensame roete die blikkie oopmaak, kry hy binne 'n briefie. Hierop staan die volgende geskryf:
"Hierdie pomp is in 'n 100% werkende toestand. Ek het 'n nuwe suigwasser daarin gesit en dit behoort vir ten minste vyf jaar te hou, vanaf vandag, 16 Junie 1862. Maar die wasser droog uit en die pomp moet gevoer word. Onder die wit rots daar eenkant, het ek 'n bottel water begrawe, in die koelte met die prop na bo. Daar is genoeg water om die pomp te voer, maar nie genoeg as daarvan gedrink word nie. Gooi 'n kwart van die water op die wasser en laat dit week. Gooi die res geleidelik in die pomp en pomp dan vir die vale. Jy sal water kry. Die put het nog nooit opgedroog nie! Glo dit net. As jy genoeg gedrink het en jou waterbottels gevul het, maak weer die bottel vol en plaas dit terug waar jy dit gekry het vir die volgende reisiger wat hier mag verbykom .
Geteken
Desert Pete.
N.S. "Moet nou nie eers die bottel water gaan staan en opdrink nie. Voer eers die pomp en jy sal soveel water kry as wat jy nodig het."

Skriflesing: Kom ons hoor wat sê Jesus oor hoe ons geloof moet lyk...

Hoe groot is jou geloof?
Ek dink Petrus het ’n verskriklike groot geloof gehad. Net om sy eerste voet oor die rand te sit en toe die volgende ene, op te staan en na Jesus toe te stap, is ’n bewys dat hy met álles in hom in Jesus geglo het. Die feit dat hy êrens langs die pad oor ’n stukkie ongeloof gestruikel het, trek nie ’n streep deur sy geloof nie.

As ék maar net so ’n stukkie van sy geloof gehad het, was daar seker al ’n klomp verlamde mense wat op en af spring, siekes wat gesond is, duisende visse en brode wat net meer en meer geword het en dalk berge wat op ander plekke staan.
Hoe groot is my geloof?
Die mense wat voor Jesus sit, weet bitter min van Christenskap. Hulle is nog babatjies in die geloof. Daarom leer Jesus hulle. Hy vertel vir hulle aan die een kant wat hulle moet doen, maar aan die ander kant skuif Hy die deur oop na alles wat daar in God se genade kas vir hulle beskikbaar is.
En hier lê een groot belofte: God sal vir jou sorg! Dit wat jy nodig het, sal God vir jou gee.
Hoe groot is jou geloof?
Ek wonder of Jesus voorberei het vir die preek teen die berg? Dalk. Dalk het Hy gewonder hoe Hy hierdie groot, tog eenvoudige waarheid in die mense se koppe kan laat vassteek. Hy het seker gesoek na ’n goeie voorbeeld. Toe sien hy die voëltjies en die blommetjies. Dit sal werk. Almal sien dit tog om hulle raak.

Vers 30: As God soveel aandag gee aan hoe die veldgras lyk, wat vandag nog groei en môre weer dood is, sal Hy mos vir julle ook sorg.

Hoe groot is ons geloof?
Ons is eintlik stupid! Ons is eintlik lagwekkend. Miskien moet ons in die spieël gaan kyk en net ’n slaggie hardop vir onsself lag. Ons het mos baie meer waarde as ’n blommetjie of ’n lelie of ’n grassie of ’n voëltjie. God sorg dan vir hulle. Hoekom sal Hy dan nie ook vir óns sorg nie?

Het God vir die grassie en die blommetjie sy Seun aan ’n kruis laat vasspyker? Tog gee Hy vir hulle om en Hy sorg dat die regte water en son en kompos daar is vir hulle om van te lewe. Nou ja, soveel te meer sal God vir ons sorg. Hy het ons só lief dat Hy bereid was om sy eie Seun se lewe te neem vir my en vir jou!

Hoe groot die geloof?
Het God dan net gesorg tot by Jesus wat aan die kruis gesterf het? Miskien vóél jy so. Miskien voel jy dat God van jou vergeet het. So asof jy dalk kan dink dat God jou net vat tot op ‘n sekere punt in jou lewe en jou dan netso daar sal los.

Miskien het jou omstandighede jou so verblind dat dit jou geloof in God se versorging by die deur uitgejaag het. God kom sê vir jou, vir my en vir ons almal: vers 31Hou dan op om so kleingelowig te wees! Hy sal sorg dat julle genoeg het om aan te trek. Julle het mos ’n Vader in die hemel wat presies weet wat julle nodig het. Hy sal sorg dat julle dit alles kry.
Mag ek weer vra hoe groot is jou geloof?

Ek weet daar is tye wat jy nie vir God ervaar nie. Daar is tye in ’n mens se lewe wat dit net te rof gaan en daar geen liggie êrens skyn nie. Dit is in sulke tye wat jy vir jouself oor en oor moet sê: God sal sorg! God sal sorg! God sal sorg! Ja, God weet wat jy nodig het. Hy sál sorg. Amper soos ’n stout kind wat uitskryfwerk gekry het, moet ek ’n potlood vat en ’n duisend keer skryf: God sal sorg!
Dan sal my geloof dalk anders lyk!
Om oor na te dink
God sal sorg!
God sal sorg!

God sal sorg!