POSTED BY Steven Sass on 06:12 under
28 September 2014 Patensie
Romeine 5:1-11

God se vooraf-genade


Dalk het julle ook al die baie bekende roman van Victor Hugo, Les Miserables gelees. In hierdie roman word die aangrypende verhaal van 'n Franse jongman vertel wat negentien jaar gevangenisstraf opgelê is omdat hy 'n stukkie brood gesteel het. In die tronk het hy egter 'n geharde misdadiger begin word. Niemand kon hom in 'n vuisgeveg klop nie en niemand kon later sy wil breek nie.
Uiteindelik is hy vrygelaat, maar omdat misdadigers in daardie tyd identiteitskaarte moes dra, kon hy nêrens in 'n herberg plek kry om te bly nie. Vir dae het hy deur die strate van dorpie tot dorpie gedwaal, en probeer om teen die wind en weer te skuil. Totdat 'n biskop van een van die dorpies hom oor die man ontferm het.
Daardie nag het die man stil in die bed gelê en wag tot die biskop slaap, begin rondkrap in die huis en aangrensende kerkgebou, totdat hy op die kosbare silwerware van die familie en gemeente afgekom het. Hy het homself baie vinnig daarmee uit die voete gemaak.
Die volgende oggend was daar drie polisiemanne voor die deur van die biskop, met die man by hulle in boeie. Hulle het hom betrap waar hy besig was om te vlug met die kosbare silwerware, en hulle wou net bevestig dat dit regtig gesteel was. Dan sou hulle die man die res van sy lewe in kettings kon sit.
Die biskop se reaksie het egter almal uit die veld geslaan. `So is hier is jy', het hy gesê. `Ek is so bly om jou te sien. Jy het die kandelare vergeet wat ek ook vir jou gegee het, daardie wat sekerlik meer as 200 frank stuk werd is. Het jy vergeet om dit saam te neem?' `Hierdie man is nie 'n dief nie', het die biskop vir die polisiemanne gesê. `Hierdie silwerware was 'n geskenk van my aan hom'.
Toe die polisie weg was, het die biskop die kandelare aan sy gas gegee, wat sprakeloos en bewend voor hom gestaan het. `En moenie vergeet nie', het die biskop vir hom gesê, `dat jy my belowe het dat jy die geld wat jy sal kry as jy alles verkoop sal gebruik om van jouself 'n eerlike mens te maak nie'.
Hierdie, is seker een van die klassieke verhale wat handel oor onverdiende genade, van vrye guns alleen. Want hier word 'n opperste skelm vrygespreek, meer nog, word 'n skelm met rykdom oorlaai, sonder 'n greintjie verdienste van sy kant af. Trouens, wat hy ontvang gaan lynreg in teenoor wat sy eintlik verdienste moes wees, om gestraf te word, en bo alles, wat hy kry, kry hy nog voordat daar enige sprankie van berou of belydenis by hom teenwoordig is.
Dieselfde verhaal van onverdiende genade, hoor ons ook in Romeine 5, net meer asemrowender, want hier hoor ons van 'n baie groter skuld en 'n baie groter vryspraak. Dit staan opgeteken in verse wat al dikwels in die verlede die oer evangelie, die evangelie in 'n neutedop, genoem is: Toe ons nog magteloos was, het Christus immer reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe… . Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:6 en 8).
Hierdie, is wat ons die vooraf-genade van God kan noem. 'n Genade wat my geloof en ongeloof vooraf gaan, wat my gebede en biddeloosheid voorafgaan, my vroomheid en onheiligheid, my berou en my gebrek aan berou.
Wat, is 'n mens se lewe? Dit is 'n stukkie tyd wat jou tussen jou geboorte en sterfdatum gegun word. Tussen hierdie twee datums, 'n mens se geboorte - en sterfdatum, beleef ons soet en suur, vreugde en verdriet, hartseer en hoop. En, deur God se genade, mag ons lewenspad, iewers op hierdie tydslyn tussen geboorte en dood, met die genade van God in Jesus Christus kruis. Waar ons, uit genade, 'n besluit vir Jesus Christus neem, en, omdat ons dan `in'- Christus is, God se kinders genoem kan word.
Ons sou egter, 'n fatale fout maak as ons sou dink dat ons verhouding met God, ons verlossing, eers in hierdie beslissingsmoment gebore is, ook, dat dit geheel en al afhanklik is van ons besluit. `Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies' het Jesus eenmaal aan sy dissipels gesê (Joh 15:16). Ons verlossing, word nie gebore uit die keuse wat ons maak nie, maar word gebore in God se beslissing, is geheel en afhanklik van God se besluit, van sy vooraf-genade toe ons nog sondaars/goddeloses was, toe ons nog magteloos was.
Efesiërs 1:4-5 beskryf dit so: God het, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Jesus Christus uitverkies. In sy liefde het Hy ons toe al bestem om in Christus sy kinders te wees. Dit het Hy hom voorgeneem nog voordat ons gebore is, nog voordat die wêreld geskep is, nog voordat ons bestaan het. Met ander woorde, God het vir jou  en my al gesien nog voor ons gebore was, nog voordat ons aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. Of, soos Psalm 139:15-16 lees: al my lewensdae was in sy boek opgeskrywe nog voordat ek gebore was.
Dit, is die evangelie in 'n neutedop. 'n Evangelie van genade, 'n evangelie van vooraf-genade. Presies soos ons in Lied 190 vers 2 sing:
Voordat ek kon kies, kon vra,
het u Seun my vloek gedra.
Ek kon vind, U het my gekry
voor ek nog my skuld bely.
Die evangelie in 'n neutedop. God kies uit. En goddank, wanneer God uitkies, is Hy nie kieskeurig nie. Hy kies ons almal, nog voordat ons gebore is, nog voordat ons ons sonde kan bely, nog voordat ons vir Hom enige keuse gemaak het. Ja, voordat ons Hom ken, stort Hy die genade in ons in, skenk Hy ons die geloof, gryp Hy ons, neem Hy so besit van ons, dat ons nie anders kan as om te sê `Ek glo!' nie. Dit, is God se vooraf-genade.
Juis hierom,kan ons nie anders as om klein kindertjies te doop nie. Want ons doop kindertjies nie op grond van hulle geregtigheid, op grond van hulle geloofsbelydenis of hulle prestasies in die geloof nie. Ons doop hulle nie ook omdat hulle min sonde het nie, dat hulle nog so onskuldig is nie.
Nee. Ons doop hulle op grond van God se vooraf genade. Nie dat die babatjie iets van die genade verstaan nie. Maar juis daarom is babatjies sulke ideale ontvangers van die genade. Soos die Woord ook sê: wie die koninkryk nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.
Die doop, wil daarom ook sê: jy kan nie gered word op grond van jou versameling of versamelinkie goeie werke tot op datum nie, jou stand op die punteskaal van vroomheid tel by God geen punte nie. Al wat tel is God se barmhartigheid, sy barmhartigheid wat in die vorm van vooraf genade, die genade wat daar vir jou en my was voordat ek en jy nog was.
Dit bly seker, een van die grootste raaisels, nee, tragedies, dat die mens hom maar altyd weer en weer teen hierdie genade van God verset. Want ons natuurlike neiging is om maar altyd weer die redding in onsself te soek. Die oersonde, het iemand op 'n keer gesê, bly maar eintlik niks anders as 'n baie verfynde stuk hoogmoed nie. Dit maak ons meesters van verskuiwing: dit wat God beskik, verander ons in wat ons sogenaamd besit, dit wat God besluit, word dit wat ons bereik, dit wat God aan ons as vrye gawe gee, word gawe mense met vermoëns, dit wat vooraf-genade van God is, word verwerfde genade van mense.
Iemand,  wat werklik verstaan wat dit beteken om genade te ontvang, kan nooit selfvoldaan oor homself wees nie. Soos die man van wie ons in die begin gepraat het. Sou hy met die silwerware in die een hand en die kandelare in die ander kon gaan staan en sê: kyk watter pragtige silwerware het ek bekom? Nooit nie. Hy het dit dan gesteel. Wat hy wel sou kon sê, is niks anders as om sonde te bely nie: wel, ek het die ou man lekker uitgevang. Ek wonder wat ek nog daar kan gaan steel. Maar interessant: dit gebeur nie.
Die verhaal vertel ons dat hierdie man, na hierdie gebeure, soos 'n handomkeer verander het. Hy het die kandelare as kleinood behou as 'n kosbare herinnering van wat dit beteken om in die teenwoordigheid van naakte genade te kom, en die res van sy lewe het hy daaraan gewy om ander in nood te help.
Hoekom? Want God se vooraf-genade, maak 'n mens se hande leeg. Dit is soos ons sing: leeg, net met my sondelas, hou ek aan u verdienste vas. Dit maak ons hande leeg, want ons besef ons kan niks aan God bied nie. Maar, dit maak ook ons hande vol, dit maak dit vol gawes uit God se hand, gawes soos vergifnis, genade, geduld. Gawes wat ons hande so vol maak dat ons nie anders kan as om dit te gaan uitdeel nie.
Want as dit nie is wat met ons gebeur nou dat ons God ken nie, was God se vooraf-genade in ons geval tevergeefs.

POSTED BY Steven Sass on 06:11 under
21 September 2014 Patensie
Steur jou nie aan bangmaakstories nie!
Nehemia 6:1-14
Geen heropbouprojek was nog ooit sonder teenstand nie. Daar was helaas nog altyd mense wat ander se goeie werk in die wiele probeer ry. Bangmaakpraatjies, skinderstories en verspreiding van vals gerugte was nog altyd van die mees algemene maniere waarop mense die goeie werk van ander onmoontlik of ongedaan wil maak. Baie keer het diegene wat ander wil afkraak en hulle werk wil stopsit, bybedoelings of geheime agendas. Soms gaan mense so ver om ander om te koop om hulle vuil werk te doen om mense wat met hart en siel hulle aan opheffingswerk wy, sover te kry om die goeie werk te staak. As godsdiens dan nog as rookskerm gebruik word om die doel te bereik, word die pogings nog meer verwerplik.

Dit is waaroor dit ook in hierdie gedeelte gegaan het. Sanballat en Tobija het gehoor dat die mure van Jerusalem klaar gebou was en dat dit nêrens meer vervalle was nie. Die enigste deel van die heropbouprojek wat nog nie voltooi was nie, was die poortdeure wat nog nie gehang was nie. Dit was die belangrikste deel van die projek, en sonder poortdeure kon enigeen nog die stad ingaan en kon ‘n aanval van ‘n vyndelike mag nouliksafgeweer word. Dis soos om ‘n hoë muur om jou erf te bou sonder ‘n hek.

Sanballat en sy handlanger het besef dat dit hulle laaste kans was om die stad weerloos te maak en eintlik al die werk wat tot nou toe gedoen is, ongedaan te maak. Al die vroeëe pogins om die werk te stop, het misluk.

Sanballat en Tobija stuur nou ‘n boodskap na Nehemia en vra of hulle nie in Kefirim in die Onolaagte bymekaar kan kom nie. Hulle wou dus buite die stad op ‘n neutral plek bymekaar kom. Nehemia sou sy werk moes laat staan om die reis daarheen te onderneem. Hy besef dat die doel van die byeenkoms was om hom by te kom, en hy sien deur die planne. Dis nie ‘n vriendskapssamekoms nie.

 Hy laat hulle dan weet dat hy besig is met ‘n groot werk en dat hy nie kan kom nie. Hoekom sou die werk moes stilstaan sodat hy na hulle kon gaan?

Sanballat’hulle het net aan en aan gehou. Hulle kry nie end om hom te oorval met versoek na versoek nie. Nie minder as vier keer stuur hulle dieselfde boodskap, en elke keer kry hulle dieselfde antwoord. Nehemia is besig...hy is volkome toegewy aan sy werk. Hy kan nie kom nie en stel nie belang in die ontmoeting nie.

Is dit nie waarmee ons soms te doen kry nie? Mense kan so knaend aanhou om jou te pla, aanhou om klippe in jou pad te gooi, aanhou en aanhou om jou daartoe te kry dat jy jou werk los of verwaarloos of sommer handdoek ingooi. Mense vind fout en kritiseer en doen alles in hulle vermoë om jou goeie pogings ongedaan te maak. Die Bybel sê hier baie duidelik: moet jou nie steur aan hierdie aanhoudende praatjies nie. Hou aan met werk! Doen wat jy moet. Gaan aan met die koninkrykswerk wat jy doen!

Maar nog gee Sanballat-hulle nie op nie. Hulle verander egter nou net van tegniek. Die vyfde keer stuur hulle ‘n amptenaar met dieselfde boodskap, maar ook met ‘n onverseëlde brief, en in die brief word beweer dat ‘n gerug in die omloop is dat Nehemia ‘n opstand beplan en dat hyself koning wil word. Daarvoor sou hy blykbaar reeds voorbereidings getref het deur profete aan te stel wat hom as koning sou salf. Die feit dat die brief nie verseël was nie, dui daarop dat hulle wou hê dat dit deur baie gelees moes word en dat die gerug waarvan hulle praat so kon versprei. Hulle versin self die gerug en versprei dit dan ook self. Op die manier wou hulle Nehemia afpers en dwing om homself te kom verdedig.

Nehemia antwoord in geen onduidelike taal nie: “Niks van wat jy sê, is waar nie. Jy suig dit uit jou duim” (Neh. 6:8). Uit dit wat ons alreeds in die vorige hoofstukke gelees het, blyk dit dat die aantygings teen Nehemia aan die belaglike gegrens het. Hy het selfs al die jare sonder salaris gewerk. Nooit het hy homself op die voorgrond gedwing nie. Trouens, hy was altyd besonder beskeie oor sy werk en sy rol in die gemeenskap. Weer sien hy deur hulle planne. Hulle wil  dat die werk tot stilstand moet kom.

Hoe belaglik kan skinderstories nie wees nie. Ons ken die spreekwoord wat lui dat waar daar ‘n rokie trek, daar ‘n vuurtjie is. En dan gebruik ons dit as verskoning om ons ore uit te leen vir skinderstories. Skindderstories is uit die duimgesuigde stories, en dis van alle waarheid ontbloot. Tog is dit so dat meer mense se lewens al verwoes is daardeur as deur gewere. Die ergste van alles is dat dit baie keer nie die Sanballats, die vyande van die kerk, is wat hulle hieraan skuldig maak nie, maar kerkmense. So word pogings aangewend om die goeie werk wat ander doen tot stilstand te bring. Hoe baie goeie projekte is nie al gestaak nie omdat mense beskinder is en hulle dan maar die handdoek ingooi.

Nehemia stel hier weer die voorbeeld. Steur jou nie aan bangmaakpraatjies nie. Leen jou ore nie uit vir skinderstories nie. Gaan aan met jou werk. Doen wat jy moet om jou gemeenskap weer op te bou. Sit skouer aan die wiel en bly betrokke by die heropbou van die mure, die norme van ons gemeenskap. Werk onverpoosd om alles in jou vermoë te doen om veral in jou gemeenskap aan te spreek. Wees betrokke by misdaadbekamping, gevangenebedienning, opheffingsprogramme, jeugprogramme, voorkoming van drank en dwelmisbruik, voorkoming van vigs en so aan. Bou die mure van Jerusalem en moet jou nie laat afsit deur ongegronde praatjies nie.

Nog gooi Sanballat nie tou op nie. Hierdie keer koop hy Semaja om om Nehemia in ‘n lokval te lei. Ja omkopery is ‘n euwel wat byna so oud is soos die mensdom is.  Semaja sluit homself in sy huis toe. Hy is ‘n regte lafaard. Geen wonder dat hy die ideale omkoopteiken was nie. Mense wat omgekoop word, het mos gewoonlik maar een of ander ernstige swakheid in hulle persoonlikheid. Wat Semaja se optrede selfs meer laakbaar maak, is dat  hy nog ewe vroom vir Nehemia sê: “Kom ons ontmoet mekaar in die huis van God, binne in die tempel, en laat ons dan die deure van die tempel sluit, want daar kom mense om jou dood te maak, hulle kom vannag om jou dood te maak (Neh. 6:10).

Dis laakbaar want hy wil nog die tempel gebruik as plek waar Nehemia om die lewe gebring sou word. Nog meer laakbaar is die feit dat hy hier as profeet voorgehou word! Sy woorde word in die vorm van ‘n gedig aangebied, een van die kenmerke van profetiese uitsprake van daardie tyd. So onder die skyn van godsdiens word gepoog om Nehemia te laat afsien van die werk waartoe die Here hom geroep het! In sy slotgebed verwys Nehemia dan ook na Noadja en die ander profete wat hom wou bangmaak.

Mens kan nog verstaan dat Sanballat en sy handlangers Nehemia wou laat afsien van die heropbouprojek, maar dat daar profete was wat dit ook gedoen het, is onderstaanbaar. Hoe kan kerkleiers tog so dom wees. Hoe verskriklik is dit as die kerk en kerkleiers en kerksmense onder die dekmantel van godsdiens eie belange wil bevorder en eie gesag en mag en eer nastreef. Omkoopgeskenke aanvaar, ampsdraers navolg en die regering gedienstig napraat...dan verloor die profete hulle profetiese taak. Hoe tragies dat dit vandag nog voorkom.

Onverskrokke antwoord Nehemia dat hy nie sal vlug of wegkruip nie. Hy het geweet dat dit wat Semaja gesê het nie die waarheid is nie en dat ook hy ‘n verskuilde agenda gehad het. Dis asof Nehemia nie eers genoeg tyd gehad het om Semaja se valsheid uit te wys en met hom in gesprek te tree hieroor nie. Hy sê sommer net baie kort en duidelik dat hy dit nie sal doen nie. Dit help nie om met mense wat godsdiens as dekmantel gebruik te redeneer nie. Moet jou nie deur hulle laat afsit nie. Gaan aan met jou werk...

Die Woord van die Here leer ons in Nehemia 6:1-14 dat gelowiges teenstand kan verwag. Dit nie net eenmaal nie, maar herhaaldelik. Die teenstand kan verskillende vorme aaneem. Dit kan ons seermaak en bangmaak. Elke gelowige word opgeroep om te volhard in die roeping waartoe die Here jou geroep het. Elke gelowige moet betrokke wees by die heropbou van die mure, by die heropbou van ons gemeenskap. Dit kan op so baie maniere en terreine gedoen word. Elke gelowige sal weet wat sy of haar roeping in die verband is en waar die Here ons talente wil inspan om te bou en nie net aan die heropbou van ons gemeenskap nie, maar daardeur juis aan die heropbou van die koninkryk van God!


Elke gelowige word dan vanoggend opgeroep om volhardend aan te hou werk. Moenie ophou nie, al is die teenstand ook hoe groot. Hou aan werk met die bede van Nehemia 6:9 voortdurend op die lippe: “Sterk tog my hande, o God!”