31 Augustus 2014
Patensie
Ag nee!
Nehemia 5:1-13
Bedreigings van buite kan ernstig en onstellend wees, maar
bedreigings van binne is egter gewoonlik baie meer skokkend. So kan korrupsie
en uitbuiting deur “ander” maklik veroordeel word. Ons almal lewer maklik
ernstige kritiek op sodanige optrede. Maar wanneer korrupsie en uitbuiting in
eie geledere voorkom, is dit ingrypender en ontlok dit nog hewiger emosionele
reaksies.
In Nehemia 4 het ons gelees van bedreigings wat van buite
gekom het. Sanballat en sy handlanger Tobija het die bouwerk bedreig met hulle
smalende spotpraatjies en beplande aanval. In Nehemia 5 lees ons van ‘n
bedreiging wat eintlik erger of ernstiger was.
Sekere mense en hulle vrouens het ‘n ernstige klag teen
hulle Judese volksgenote ingebring. Wat het die klagtes behels? Hulle kla dat
hulle nie kos het nie. Party moes vanweë hongersnood hulle land, wingerde en
huise verpand om kos in die hande te kry. Ander moes geld leen om aan die
koning belasting te betaal. Hulle moes hulle kinders as slawe verkoop vanweë
die benarde finansiële posisie waarin hulle verkeer het. Uitbuiting was aan die
orde van die dag. Armes is op groot skaal uitgebuit. Die rykes het van die
moeilike omstandighede gebruik gemaak om hulle persoonlike posisie te verbeter
ten koste van die armes.
Ons moet onthou dat die Jode pas teruggekeer het uit die
Babiloniese ballingskap. Hulle moes van voor af begin het om ‘n lewe te maak,
om huise te bou, landerye en wingerde aan te lê en ‘n bestaan te maak. Sommiges
het bitter min gehad en het baie swaar gekry. Toe daar nog droogte en plae kom,
het hulle gevou. Hulle kon net nie voorsien in hulle eie behoeftes nie, wat nog
te sê belasting betaal. Die enigste uitkoms was om hulle landerye, wingerde en
huise te verpand en selfs om hulle kinders as slawe te verkoop.
Kan ons ons in hulle situasie indink? Hulle kom terug in
geloof en vol hoop op ‘n wonderlike nuwe lewe in hulle vaderland wat hulle baie
lank gelede as ballinge moes verlaat. Nou lê al hulle drome aan skerwe. En dit
deur omstandighede buite hulle beheer en die toedoen van medevolksgenote en
geloofsgenote. Hulle eie mense, die wat week vir week saam met hulle aanbid en
die Here geprys het, het die finale spyker in hulle doodskis geslaan!
Geen wonder dat Nehemia hewig ontsteld was toe hy dit gehoor
het nie. Ons voel seker maar almal soos hy: kwaad vir die mense wat ander
uitbuit, ander se teenspoed misbruik en hulle verryk ten koste van ander. Mens
doen mos nie sulke dinge nie, maar laat ons nie te vinnig oordeel nie. Dit was
nie net destyds dat sulke dinge gebeur het nie, want dit gebeur mos vandag
nogsteeds. Daar is vandag talle mense wat vanweë omstandighede buite hulle
beheer in die knyp is, sommige het hulle werk verloor, ander moes sien dat
hulle besighede vou vanweë droogte of brande of ander rampe. Daar is so baie
wat swaarkry. En dis ‘n tragiese werklikheid dat baie wat swaarkry, deur ander
uitgebuit word...
Nehemia was hewig ontsteld . Hy oordink die saak deeglik en
tree nie sommer onnadenkend of emosioneel of impulsief op nie. Hy roep ‘n
volksvergadering byeen. Dit doen hy sodat hy die saak openlik kan hanteer.
Nehemia sê dan: “Ons het ons Judese volksgenote wat aan heidene verkoop was,
teruggekoop vir sover dit moontlik was” (Nehemia5:8). Hy sê eers wat hy en
ander gelowiges gedoen het. Daarna spreek hy die uitbuiters direk en reguit
aan: “Nou verkoop julle julle volksgenote en moet ons hulle ook uiteindelik
terugkoop!” (5:8). Hy draai nie doekies om nie. Moet ons nie ook meer reguit en
op die man af praat en die sonde wat teen ander mense gepleeg word, uitwys nie?
Die kerk behoort die onreg wat gepleeg word netso hard aan te spreek. Dit
beteken ook dat elke gelowige die onreg wat teen die ander gepleeg word, sonder
huiwering en sonder om doekies om te draai aan te spreek.
Soos so dikwels gebeur, bly die beskuldigdes doodstil...Nehemia
kon nie ‘n woord uit hulle uitkry nie. Toe al het die mense hulle swygreg
gebruik. Toe al wou mense nie sommer hulle skuld erken nie...netsoos vandag
nog.
Dis dan dat Nehemia sê “Dit is nie ‘n goeie ding wat julle
besig is om te doen nie. Julle moet tog eerbied vir ons God hê in julle optrede
en ons vyande, die heidene, minagting vir ons laat kry nie! (5:9). Wat Nehemia
hier sê is verskriklik belangrik. Julle moet eerbied vir God hê in julle
optrede teenoor ander mense. Wat ons teen ander mense doen reflekteer ons
verhouding met die Here. Hoe kan ons sê dat ons God liefhet as ons nie ons
naaste liefhet nie? Meer nog: is dit nie wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het
dat sover ons dit aan die geringste van ons medemens gedoen het, of nie gedoen
het nie, ons dit ook aan Hom gedoen het, of nie gedoen het nie? Dit help net
mooi niks om baie vroom in ‘n kerk te sit, terwyl ons ander mense uitbuit of
selfs net ander in nood nie help nie maar in hulle nood die geleentheid sien om
ons eie posisies te verbeter.
Nehemia stel ‘n duidelike eis: gee terug wat julle as pand
gevat het en skeld hulle een persent van die geld wat hulle geskuld het, vry.
Jy sien, godsdiens het praktiese implikasies. Godsdiens is nie iets waaroor
mens maar net kan praat nie, maar dit is iets wat gelééf moet word, ook op
materiële terrein. Jy moenie ander mense uitbuit nie, maar eerder die ekstra
myl loop. Help die wat in nood is. As jy sê dat jy glo en as kind van God leef,
moet jy bereid wees om op te offer om ander te help. Ja, om selfs self seer te
kry om ander te help. Iemand het eenmaal gesê dat hulp wat jou nie seer maak
nie, nie hulp is nie. Om ietsie af te knyp waarsonder jyself kan klaarkom, is
geen gawe nie. Ware hulp is om te gee waarsonder jyself sal sukkel.
Hulpverlening moet swaar aan eie lyf gevoel word.
Hoe gaan ons reageer? Die mense het na Nehemia geluister! Is
ons bereid om hierdie ekstra myl te loop om ander wat in nood is, te help? Ek
is nie seker of ons daartoe bereid sal wees nie...maar ons leer hier in die
Bybel dat dit is wat gelowiges doen. Dra mekaar se laste en gee so uitvoering
aan die Wet van God. Het God nie Sy eie Seun gestuur om ons skuld te betaal
nie? Het Jesus Homself nie as offer aangebied en Sy lewe prysgegee ter wille
van ons nie? As God ons so liefhet en so alles gee om ons skuld te vergewe en
ons vry te spreek, behoort ons dan nie ook iets van so liefde te reflekteer in
ons optrede teenoor ander nie? Behels liefde nie dat ons ook op materiële
terrein bereid sal wees om mense in nood prakties by te staan en te gee sonder
om terug te verwag nie?
Behoort ons geloof
nie ook sigbaar te wees in dit wat ons prakties doen vir mense in nood nie? Wat
kan hiervan in ons lewens gesien word?