POSTED BY Steven Sass on 18:12 under
29 Junie 2014 Patensie
Tweede kanse (Ons moet vir mekaar tweede kanse gee)

Skrifgedeelte: Die brief aan Filemon

Die Bybelse brief aan Filemon verteenwoordig ‘n onverbloemde oproep aan die kerk, en by name die kerkleiding, om beskikbaar te wees om genade te betoon. Paulus doen naamlik ‘n beroep op Filemon op grond van die liefde (vers 9) en later in belang van my kind Onesimus (vers 10) om aan hierdie drosterslaaf, wat boonop dalk van sy eienaar gesteel het (vers 18), ‘n tweede kans te gee.

Weinig waarborge

Kyk, dit bly ‘n yslike risiko om aan mense ‘n tweede kans te gee. Die moontlikheid  (sommige sal sê “waarskynlikheid”) van ‘n teleurstelling, is groot. “Ek het jou mos gesê!” hoor ‘n mens dan ook dikwels mense sê wanneer hulle teleurgestel word in die gee van tweede kanse. Paulus kon ook nie aan Filemon enige versekerings gee nie. Al wat hy doen, is om te bevestig wat Filemon reeds weet, naamlik dat Onesimus ‘n nikswerd was (vers 11). Maar, benadruk Paulus, hy is daarvan oortuig dit is nou iets van die verlede; die dinge van voorheen  (vers 11) is verby en nou het dinge anders geword.  
Sê Paulus!

Nou stuur hy hom maar terug, vol vertroue in die volhoubaarheid van Onesimus se rehabilitasie, én in die genade van Filemon.

‘n Voorspelbare reaksie, amper soos ‘n refleks.
Daar ís helaas geen waarborge nie. Daar was ook nie vir Filemon en die gemeente wat in sy huis byeengekom het nie. Verbaas dit dus enigiemand as die oproep “Gee hom/haar nog ‘n kans!” met skeptisisme begroet word en dikwels sinies afgelag word? Afrikaans het selfs ‘n spreekwoord wat pas by hierdie voorafkennis: “’n Jakkals verander (dalk!) van hare, maar (beslis!) nie van streke nie.”

Wat sou ons suster Affia (vers 2) se reaksie wees op Paulus se brief wat deur die gewese tronkvoël by Filemon aangebring is? Hoe was Filemon se reaksie? En wat het die gemeente gesê? Ons weet nie. Net so min as wat hardwerkende en verontregte dagloners aan die laatkommers gesê (of gedoen!) het in Matteus 20. Of Jona se verweer op die Here se hartseer vraag aan die einde van sy en Nineve se verhaal.

Oor die eeue van die kerk se geskiedenis heen, laat hierdie en ander Bybelverhale steeds ‘n stippellyn oop, waar die kerk en die kerk se leiers ‘n respons moet invul. En die vraag bly immers dieselfde: Glo jy/julle werklik dat ‘n jakkals nie van streke verander nie? Oftewel: wát weet jy van die Wind wat waai waar hy wil (Johannes 3:8)? Van sy krag om te herskep, totaal óór te maak, soos ‘n nuwe geboorte?

‘n Beloning?
Welwetend dus dat daar geen waarborge verskaf kan word nie, en terwyl die reaksie van mense goed voorspelbaar is, kan Filemon straks vir homself afvra: is daar dan iets vir mý hierin; sal my opoffering en die kans wat ek gevat het, darem iewers dividende bring? Buiten nou die vae maar kortstondige “feelgood” wat goeie werke darem meestal tot gevolg het? Buiten iets soos Matteus 25:31-46, wat in elk geval heeltemal te veel na ééndag klink?

Nee, na alle waarskynlikheid is daar geen kitsklaar beloning vir die genade wat jy uitgedeel het nie. Behalwe as jy Paulus se aanvanklike groet, en die seën aan die einde, ter harte neem: genade en vrede … van God ons Vader en die Here Jesus Christus, en weer: Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle wees.  Tweemaal genade, Filemon en gemeente, genade van begin tot einde – aan julle wat geroep is om genade te bewys!

Nee, ek weet nie van nóg belonings nie. Dalk is ‘n geseënde, begenadigde lewe tóg genoeg!
Wat dan nou? Hoe maak die kerk en die kerk se leiers en die kerk se mense met die verhaal van Filemon en Onesimus? Want ons word sondermeer in sulke verhale ingetrek, alhoewel dikwels (meestal?) teen ons sin. Trouens, dit is per definisie “kerkstories” dié, dit word in die eerste instansie aan óns vertel!

En die “verteller” maak dit nie juis maklik nie. Dit word só vertel dat die hoorders nie kan misverstaan nie: “genade” is geen leë begrip nie; om aan iemand ‘n tweede kans te gee, vra van Filemon om die droster te ontvang … as ‘n geliefde broer.

En nee, die stem van die Verteller word nie met klinkende metale of galmende simbale stilgemaak nie, nie deur noukeurig genotuleerde besluite of breedsprakige kommissies nie. Ten minste Paulus weet: dit is ‘n saak van die hart (vers 12).


Daar is ‘n  mooi beeld van Dirkie Smit (Geloof sien in die donker: die “uitkomkans” vir albasterspelers na ‘n vrotterige skoot  - “oors!” (Ek het dit geken vir “overs!”) Onmiddellik na die swak poging roep die speler: “oors/overs!” Indien hy sy medespelers kan oortuig, wen hy met hierdie uitroep die geleentheid om weer ‘n kans te kry. Lê ‘n prinsipiële roeping van die kerk nie juis hier nie; die verlening van “overs” aan iemand wat daarom roep nie?
POSTED BY Steven Sass on 19:51 under

22 Junie 2014 Patensie

Vergifnis

Matteus 6:5-15


Om te kan vergewe, is ‘n wonderwerk. Dis vir die meeste mense ontsettend moeilik om iemand wat hom/haar (intens) seergemaak of tenagekom het, te behandel asof dit nooit gebeur het nie. Elke mens weet wat dit is om seergemaak te word, net soos elkeen van ons weet wat dit is om ander seer te maak. En soos wat jy vergewe wil word, moet jy ook bereid wees om ander te vergewe!
In Matteus 6:14-15 sê Jesus: As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.

Om te vergewe, is een van die mees wesenlike sake van ons geloof. Dis waarvoor Christus gesterf het. God verwag van mense om stukkende, gebroke verhoudings heel te maak. Hy wil hê ons moet in versoening, vrede en liefde met mekaar leef.

Christus leer vir ons dat as iemand teen jou gesondig het, jý alles in jou vermoë moet doen om die saak reg te stel. Jý moet die inisiatief neem! Vergifnis begin by jóú! Jý moet uitreik. Jý moet daardie persoon wat jou tenagekom het, verseker van jou vriendskap ten spyte van … (Mat 5: 23-24)

Vergifnis is om nuut te begin met iemand wat jou intens seergemaak het. Dis om tyd vir hom/haar te maak en liefde te betoon aan ‘n persoon wat dit eintlik nie verdien nie. Vergifnis is om die onvergeeflike te vergeef. En hoe moeilik is dit nie! Alexander Pope het by geleentheid gesê: To err is human, to forgive divine.

Vergifnis werk nie soos ‘n skakelaar wat jy aan- of afsit nie. Dis ‘n proses. Dis om seergemaak te word, daarna verbitterd en hatig te wees, en dan uiteindelik om genees te word.

Heel eerste moet jy egter besluit jy wíl die seer wat jou aangedoen is, begrawe. Eers wanneer jy dít gedoen het, kan jy die pad van herstel, vergifnis en uiteindelik bevryding begin stap. Om so ‘n besluit te kan neem, moet jy ingelig wees. Jy moet bewus wees van die vernietigende gevolge van negatiewe gedrag in ‘n mens se lewe, soos om nie te kan vergewe nie. Jy móét op die een of ander tydstip besluit om die boek van seer en haat toe te maak, vóórdat bevryding en genesing enigsins kan begin. Indien jy dít nie gaan regkry nie, gaan jy deur die destruktiewe gebind bly!

Baie keer hoor ‘n mens iemand sê: Ek sal die persoon nog vergeef, maar vergeet – nooit nie!  Nou is daar mense wat sê dís nie ware vergifnis nie. Jy moet ook kan vergeet. Maar dis nie waar nie. Eintlik is dit onmoontlik om te vergeet. Jy sal altyd onthou, want sekere gebeure sny net te diep in ‘n mens se gemoed.

Jy moet egter, wanneer jy aan daardie seer wat iemand jou aangedoen het, dink, dit doelbewus uit jou gedagtes weer. Jy moet jou bes doen om daardie insident nie met dieselfde negatiewe emosies as vroeër te herleef nie. Moenie van voor af verbitterd en hatig word nie. Reinig jou gedagtes voortdurend. Dit bring kalmte en vrede.

Vergifnis is ‘n positiewe geloofsbesluit. Dis suiwer op genade gebaseer.  Hiervoor moet ‘n mens bly bid!

‘n Mens sou maklik kon sê dat jy nie kan vergewe nie, in elk geval nie soos God nie, of dan soos Hy vra nie, want jy ís nie God nie! Tog herinner Paulus ons in Kolossense 2:9-10 daaraan dat as ons ín Christus is, God se volheid in ons leef en ons daarom inderdaad die kapasiteit het om te kan vergewe.

Ek het iewers die volgende gelees: Vengeance may break a man’s spirit, but kindness will break his heart!

Wraak en woede vernietig verhoudings. Dit is in stryd met God se wil. Vergelding bind. Vergifnis bevry! Net soos God jóú die versekering gee dat Hy jou oortredinge vergewe, moet jy ook die persoon wat teen jou oortree het, verseker van jou vergifnis. Gaan sê dit vir hom/haar. Gaan erken dit. Gaan steek jou hand uit. Dis die eerste bevrydende tree vir jou en vir die persoon aan wie jy vergifnis skenk. Dit stel lewensenergie en liefde vry en wek vertroue wat woede, agterdog en haat stelselmatig uit die weg ruim. Om liefdevol te handel, om aan ander te doen wat jy graag wil hê hulle aan jou moet doen, om die kwaad met die goeie te oorwin, is om nuwe lewensmoontlikhede oop te sluit.

God begin elke dag nuut met my en jou. Hy verwag ook van óns om nuut te begin met daardie persone wat ons seergemaak het en teenoor wie ons hatig is. Onthou: Wraak maak die telling gelyk (‘n oog vir ‘n oog). Vergifnis maak van jou ‘n wenner!

Deur ander te vergewe, wys jy dat jy God se vergifnis vir jou verstaan. Die kruis bly ‘n prototipe van vergifnis. Wanneer ‘n mens dit regkry om soos Christus te vergewe (Lukas 23:34), ervaar jy die edelste oomblikke van jou lewe. Dáár ontstaan vrede, geluk en ‘n nuutgevonde entoesiasme vir die lewe wat alle verstand te bowe gaan. Dáár begin jy oorwinnend leef. Daar breek die lentebloeisels en die geur van God se komende koninkryk deur.


 Leonardo Da Vinci se skildery, Die laaste avondmaal. Die skildery het 21 jaar geneem om te voltooi. Hy het vir elkeen van die persone wat hy geskilder het, ‘n lewende model gebruik. Toe hy by die middelste persoon in die skildery gekom het, dis nou Jesus, het hy amper ‘n jaar lank na die geskikte persoon gesoek. Op ‘n dag het hy iemand in die strate van Napels raakgeloop wat hy geweet het uitgeknip hiervoor was. Nege jaar later moes hy die laaste figuur skilder … Judas Iskariot! Hy het ‘n jaar en ‘n half na die regte persoon gesoek … totdat hy eendag in die agterstrate van Rome, ‘n muntstuk in ‘n bedelaar se hand gesit het. Hy het geweet dít was die regte persoon. Die bedrog, die leuens, die verbittering op sy gesig, was waarna Leonardo gesoek het! Omdat hierdie man die geld nodig gehad het, het hy ingewillig om geskilder te word. Toe Da Vinci hierdie man klaar geskilder het, het hy omgedraai en vir hom gesê: Hierdie skildery gaan een van die grootstes wees. Stem jy saam? Maar hierdie man het nie opgekyk nie. Uiteindelik, toe Da Vinci hierdie man so ver kry om op te kyk, het die trane oor sy wange gerol en toe sê hy: Meneer Da Vinci, weet u wie ek is? Ek is dieselfde jongman wat 9 jaar gelede hier vir jou gesit het toe jy Jesus geskilder het. Ja, dis dieselfde mens, maar as gevolg van ‘n grief wat ek teenoor ‘n naaste familielid in my hart gedra het oor iets wat hy aan my gedoen het, het my voorkoms só verander dat jy my nou gebruik het om Judas te skilder.



Griewe, onvergewensgesindheid, haat en allerlei wraakgedagtes maak ‘n mens stadig dood van binne!
POSTED BY Steven Sass on 06:09 under
8 Junie 2014 Patensie
Efesiers 2:1-10
Die Fees van die genooides!
Ons vier vanoggend die teen woordigheid van die Here! Ons is saam om te hoor, te sien, te voel te proe hoe God besig is met ons, deur die wonderlike werking van Sy Heilige Gees. Dit herhinder my nogal baie aan daai bekende liedjie van so ‘n hele paar jaar gelede “I feel it in my fingers, I feel in my toes....” En dit is presies wat God wil bereik met ons saamwees vanoggend: Dat ons ons Hom sal ervaar tot in die tinteling van ons vingerpunte!

Die Here het ons elkeen op ‘n besonderse manier geskape om ontvanklik te wees... met ander woorde om baie dinge te kan ervaar en te beleef en raak te sien of op te let. Dis dus in ons natuur om oplettend te wees. Dis asof God ons ‘spons-agtig’ gemaak het om dinge wat rondom ons en met ons gebeur op te slurp!

Daarom vertrou ek ook vanoggend die Gees van God dat ons sal opneem en inneem wat die Here met elkeen van ons gaan laat gebeur.

Ek wil egter eers by die negatiewe stilstaan (net kortliks darem) voordat ons by die lekker en die mooi uitkom...

Ek wonder of ek dit reg opsom as ek sou sê dat die meeste van ons onsself baie keer instel om eerder die negatiewe dinge en die ‘donkerkant’ van die lewe op te let. Dis asof ons hierdie goed soek om raak te sien tussen al die ander mooi dinge wat hierdie wêreld vir ons kan bied. Omdat ons dan nou so ‘n ‘ingeboude-ontvanklikheid’ het, let ons baie keer op die foute en tekort kominge van ander. Ons sien hoe ander mense foute maak, ons let op hoe ver hulle van die pad af is....

Baie keer hoor mens mense half hulle asem ophou vir dinge om verkeerd of negatief uit te werk vir ander mense, en hoor ons hoe mense nog sê : “aaaaah daarsit, (jy klap gewoonlik jou vingers op hierdie punt) ek het mos gesê dit gaan gebeur jaajajajaj! Hoe hartseer is dit nie dat ons onsself baie keer net oorgee aan hierdie menslike of sondige ontvanklikheid vir die dinge wat met ons of rondom ons gebeur nie. Ons mis juis op hierdie manier so baie, eintlik mis ons eintlik die  ‘regte/eintlike’ sin van die lewe!

In God se Alwetendheid, moes Hy dan seker geweet het dat ons baie keer so ‘n geneigdheid in die lewe sal hê.... dat die einste ontvanklikheid waarmee Hy ons geskape het om Hom te ervaar en raak te sien en op te let, ons juis in die versoeking sou lei om eerder  te let op die dinge wat nie van Hom af kom nie....

 Daarom het God op veral twee maniere hierdie gevaar aangespreek deur vir ons die sakramente te gee. God is altyd sonder end besig om jou so te prikkel met Sy liefde, sodat jy Hom al hoe meer kan raaksien en sodat jy in Hom sal glo en nie in jouself of iets anders nie.

Sondag 25 Vraag 65 van die Heidelbergse Kategismus vra waar kom so ‘n geloof dan vandaan? En die antwoord is dan so mooi: “Die Heilige Gees werk dit ins ons harte (a) deur die verkondiging van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik van die heilige sakramente (b) Ef. 2:8

Die volgende vraag is wat is hierdie twee sakramente dan? Hierdie manier van God om ons geloof te wek, en te sien, te hoor te voel en te proe, te “feel in my fingers, te feel in my toes”?  Die antwoord daarop is heel eenvoudig: Dit is sigbare, heilige tekens en seëls wat God ingestel het om ons deur die gebruik daarvan die belofte  van die evangelie nog beter te laat verstaan en dit te beseël. Hierdie belofte is dat God ons vanweë die enige offer van Christus, wat aan die kruis volbring is, vergewing van sondes en die ewige lewe uit genade skenk (a) Genesis 17:11/ Romeine4:11 en Jesaja 6:6,7.

Daarom vier ons hierdie twee sigbare tekens saam met mekaar. Ons moet ‘n keuse maak vanoggend om God toe te laat om ons ingesteldheid op Hom weer te kom versterk en te vernuwe. Ons moet saam besef dat ons ‘n keuse moet maak teen die geneigdheid om hierdie prikkels van die Here te mis. Kom ons nooi vanoggend opnuut die Here in ons harte in, kom ons raak soos ‘n spons wat gevul word met die liefde van Jesus, met die Gees van die Lewende Here!


Kom ons reageer op die uitnodiging van Jesus wat sê: “Jy’s welkom, volg My....”
POSTED BY Steven Sass on 06:05 under
 1 Junie 2014 Patensie
Romeine 8:18-30
JESUS die hoop vir die wêreld
Hemelvaart was nie as ‘n aparte fees van altyd af in kerk gevier nie. Hemelvaart was  vroeër as deel van die vieringe van Paasfees gesien. Eers in die jaar 386 nC kry ons die eerste voorbeeld van ‘n hemelvaart erediens, ‘n preek van die kerkvader Chrysostomus. Hy het bepleit dat die gebruik gevolg word soos wat Lukas verduidelik dat 40 dae na Paasfees vier ons hemelvaart. In die 5e eeu word hemelvaart vieringe algemene gebruik in die kerk. Die klem in die prediking toe op hemelvaart het baie gesinspeel op die simboliek van die getal 40, die aantal dae vanaf Paasfees tot hemelvaart, maar ook die aantal dae wat die lydingstyd voor Paasfees geduur het. Sommige het gevoel dat daar ook die 40 dae voor hemelvaart ‘n tyd van vas moet wees soos voor Paasfees. In die 11e eeu het die kerk ‘n hele week lange fees vir hemelvaart gevier.

Dinge het so oor die eeue ontwikkel dat ons vandag hoogstens ‘n erediens op hemelvaart vier sonder dat dit ‘n godsdienstige vakansiedag meer is.  Die hemelvaart van Jesus word verbind met die Uitstorting van die Heilige Gees op Pinkstersondag asook met die opdrag aan die kerk om sending te doen (Matt 28). Ek lees, dat in sommige plekke in die vroeëe kerk het die vieringe van hemelvaart gepaard gegaan met die uitdeel van brood aan armes op straat om iets van die opstandingsliggaam van Jesus te simboliseer wat vir die wêreld opgevaar het. Deur eenvoudig vir wildvreemde mense brood te gee, wou die eerste Christene iets uitbeeld van die hoop wat die hemelvaart van Jesus vir mense bring.
  Ek hoef jou nie vanoggend op hoogte te bring van die ellende wat op aarde heers nie. Ons is almal bewus van hoe swaar ons almal gebuk gaan onder: Korrupsie Geweld – moord en diefstal . Vervolging van mense wat wil glo, leef en in vrede ‘n bestaan wil maak. Ongeregtigheid van bevooroordeeldheid, diskriminasie, magsmisbruik . Aarde verniel en vergaan onder besoedeling en uitbuiting . Swak beeld wat die kerk in die wêreld het agv interne struwelinge en stryery. Hierdie dinge kan ons maklik moedeloos maak. Dalk help dit om te weet dat dit nog nooit in die mens se geskiedenis anders gegaan het as nou nie. Die toestand waarin die wêreld nou is, was nog altyd hoe dinge in die verlede was en die kanse is goed dit gaan vir lank nog so gaan wees.

Die dilemmas wat ons vandag beleef is die gevolg van sonde. Nie iemand spesifiek se sonde nie. Maar die sonde van die mensdom. Sonde breek ons verbintenis met God, breek ons verbintenis met mekaar en met die skepping. Sonde maak van ons selfsugtige, liefdelose mense. En die hele skepping gaan onder die gevolge van die sonde gebuk. Die ganse skepping sug (Rom 8:22). Almal sien uit na ‘n tyd wanneer dinge sal beter gaan (Rom 8:21). ‘n Tyd waarin ons ‘n sug van verligting kan gee en weet nou loop dinge reg. Nou leef ons in die heerlikheid wat God vir sy skepping bedoel (Rom 8:21). Nou het die paradys op aarde aangebreek: geen swaarkry, geen haat, geen woede, geen korrupsie, moord en doodslag meer. Ons almal sien uit na daardie tyd wat sal aanbring.

 Paulus verwoord hierdie versugting en uitsien na ‘n tyd van beterskap (Rom 7:24) “Ek ellendige mens. Wie sal ons van hierdie doodsbestaan verlos?” Wat die wêreld kort, is hoop. Ons het min hoop deesdae. Almal kan doen met ‘n tikkie hoop dat dinge weer eendag sal beter gaan. Dit is presies wat gebeur met Jesus Christus se koms na die aarde. Met Jesus se koms, kom daar hoop vir die ganse skepping. Jesus se koms, Sy lewe, Sy sterwe, Sy opstanding, Sy hemelvaart, dit alles bring weer hoop aan ’n wêreld wat arm is aan hoop. Met Jesus se koms, hoor ons die boodskap van:  ‘n God wat nie opgee met mense nie ‘n God wat verlossing en vergifnis van sonde bring ‘n God wat die sonde verslaan ‘n God wat die dood oorwin ‘n God wat die belofte van die ewige lewe bring ’n God wat ware hoop bring.

Vir sommige mense voel die hemelvaart van Jesus soos die anti-klimaks van God se sending van sy Seun na die aarde: Hier kom Jesus – verlos, red en vergewe. Hy sterf en deur Sy dood en opstanding kom daar redding. Maar dan vertrek Hy weer terug na die hemel kort na Sy opstanding uit die dood. Wat beteken die hemelvaart dan? Beteken dit God wil nie meer hier by ons wees nie? Beteken dit God kon dit nie meer op aarde uithou tussen hierdie spul ellendige, selfsugtige sondaars nie? Beteken hemelvaart God onttrek Hom nou soos ‘n goedhartige weldoener wat net nie meer kans sien om hulp aan ondankbare wesens te skenk nie?

Jesus se hemelvaart is nie God se onttrekking van die skepping af nie. Die hemelvaart is nie God se afskeid neem van die mens nie. Inteendeel, die hemelvaart is net nog ‘n teken van God se liefde vir Sy skepping. Wanneer Jesus opvaar na die hemel, gaan Hy om Sy regmatige plek op die hemeltroon in te neem. Hy gaan om van daar in Sy almag oor Sy ganse skepping en koninkryk te regeer. Jesus bestyg die hemeltroon as Oorwinnaar; Oorwinnaar oor die sonde, die dood en alles wat onrein en onheilig is. Hy is die Regeerder, die Heerser. Hy hou alles in Sy handpalm vas. Waarom sal ons op aarde bevrees of moedeloos wil wees?

 In Jesus se opstanding en hemelvaart hoor ons waar ons hoop lê om van hierdie ontaarde wêreld verlos te word. Jesus is die Regeerder oor alles. Oor ruimte en tyd, die verlede, hede en toekoms. Hy gaan die hemel in om vir ons ‘n beter toekoms voor te berei. Jesus vaar op na die hemel met die belofte om eendag weer te kom om ons dan saam met Hom te neem sy hemelse woonplek in.

Intussentyd belowe Hy om oor ons te regeer vanuit die hemel. Hy sien ons ellende en swaarkry raak, en ons trane raak Hom aan. Hy sien en weet van ons sug en trane en hulpkrete. Tot die dag aanbreek wanneer Hy weer kom, belowe Hy om Sy Gees te gee om by ons te wees. Om ons by te staan en te vertroos. Om ons hoop te gee, totdat Hy weer kom.

 Sy hemelvaart skep hoop. God gee hoop (Rom 8:20). Al is die ganse skepping nou in duisternis gehul as gevolg van die sonde van die mens. Al is daar nou ellende en swaarkry en ongeregtigheid. Al is moord en diefstal volop. Al lyk dit of dinge nou net swart, depressief, ellendig en verlore is. God gee hoop. Al kry ons hoe swaar, alles is nie verlore nie. Al sien ons dan nie nou hoe die oplossings en uitkomste gaan wees nie, ons het nie al die antwoorde vir die vrae en probleme van ons tyd nie. Maar ons het hoop. God gee aan ons hoop om aan te hou lewe. Die feit dat Jesus uit die dood opstaan en opvaar na die hemel, bring hoop. Sy hemelvaart is ‘n teken van God se ewige sorg vir ons. Nie net eenmaal lank terug was God geinteresseerd in die welwese van die mens nie. Tot in ewigheid is God gerig op die bestaan van die mens. God se liefde vir sy kinders maak dat God tot in alle ewigheid na ons wil omsien.

Die hemelvaart van Jesus wys dat God vanuit die hemel oor Sy koninkryk bly regeer. Om ons tot troos te wees, stuur God sy Gees om vir ewig by ons te wees. Ons kan nie die hemelvaart sonder die gebeure van Pinkster verstaan nie. Die volgende teken van God se liefde en versorging na die hemelvaart is wanneer God Sy Gees stuur om by ons te wees. Ons is nie alleen in ons aardse stryd om oorlewing nie. Al moet ons nou swaarkry, gebuk gaan onder bekommernisse en vrese en twyfel, ons is nie alleen nie. God is deur sy Gees by ons, met ons, in ons. Dit bring hoop. God bring hoop.

  Die kerk het die verantwoordelikheid om hierdie boodskap van hoop met die wêreld te deel. Hemelvaart en Pinkster kan nie sonder die opdrag aan die kerk om te getuig van God se liefde, verstaan word nie. Die kerk, ons, is geroep om te getuig van hierdie hoop wat God gee. Die kerk het die voortdurende taak om die wêreld te bly vertel dat Jesus die ware antwoord op die eintlike vrae van die mensdom is. Jesus bring uitkoms, gee vergifnis, herstel liefde, skep geloof en laat ons met hoop. Hierdie getuienis van die kerk in die wêreld vind plaas onder die leiding van die Gees. God lei ons om vrymoedig te bly getuig van die hoop wat in ons lewe (1 Petr 3:15).

 Hoe doen die kerk dit? Al moet dit beteken dat ons brood uitdeel aan ‘n honger wêreld. Al moet ons dan soos die eerste Christene eenvoudig kos vir armes gee. Hoop moet ons bly gee. Oplossings en antwoorde het ons dalk nie, maar hoop, daarvan het God ons ‘n oorvloedige voorraad gegee.  Natuurlik is Jesus die finale antwoord op ons eintlike vrae. Hoe daardie antwoord in my en jou lewe gestalte vind, dit is die antwoord wat die wêreld raaksien. Hoe Jesus my en jou lewe verander en maak dat ons die wêreld om ons wil verander, dit is die hoop wat die wêreld soek.



 Al moet ons dan nou nog sug, swaarkry, bewe en huil, God bly ons hoop. Die feit dat Jesus in die hemel sit en oor Sy koninkryk regeer, dit gee hoop van nou af totdat Hy eendag weer kom.