13 April 2014
Patensie
Aan die kruis het
Jesus omgegee en oorgegee
Johannes 19:17-27,
Lukas 23:44-49
Op Goeie Vrydag, staan ons in die gees aan die voet van die
kruis op Golgota. Dan dink ons in die eerste plek aan Jesus, ons Verlosser wat
Sy lewe afgelê het om ons van sonde te verlos. In die gedeeltes wat ons gelees
het, vind ons ook ‘n ander klem: Jesus as Seun. Terwyl Jesus aan die kruis hang
en besig is om te sterf, praat Hy met Sy moeder en met Sy Vader.
Die kruisdood was ‘n verskriklikke dood, ‘n stadige dood wat
voorafgegaan word deur baie pyn, en vreeslike lyding. Om aan jou hande en voete
te hang totdat jy sterf, kan nie maklik wees nie. As Jesus aan die kruis hang
en Sy kragte uit Hom uitvloei en Sy einde nader kom, dink Hy nie aan Homself nie.
Hy is nie so vasgevang in Sy eie pyn en lyding dat Hy alles en almal vergeet
nie. Hy sien Maria aan die voet van die kruis staan.
Vir Maria moes hierdie ure seker die verskriklikste ure van
haar lewe gewees het. Haar lyding moes intens gewees het. Om ‘n kind te sien
sterf, is al byna ondraaglik swaar. Om jou Seun só te sien sterf is nog baie
erger. Vir Maria moes dit nog swaarder gewees het, want het die engel nie voor
Sy geboorte aan haar gesê dat Hy die Seun van God is nie? Het sy nie nog altyd
geglo dat Hy die volk sal verlos nie? En nou? Nou hang Hy aan die kruis. Is Hy
besig om die dood van ‘n vervloekte te sterf? Buite die stad. Terwyl die mense
Hom bespot. Hoe kan dit tog? Nee, dit kan nie moontlik wees nie. En tog gebeur
dit. Haar pyn was anders as die fisiese doodspyn van Jesus... Maria was
inderdaad ‘n stukkende, gebroke ma.
Jesus sien Sy ma. Hy merk haar smart en lyding op. Hy reik
uit na haar, al is Sy krag min en Sy lyding groot. Hy sien om na haar. Selfs Sy
sterwensuur het Jesus omgegee. Hy sê vir haar: “Vrou daar is u seun.” As Hy
haar as “vrou” aanspreek, is dit ‘n vorm van eerbied en respek. In daardie tyd
het vrouens nie hulle mans op die naam aangespreek nie, maar as “my heer” of “my
man”. Jesus ag sy ma hoog. Hy spreek haar met eerbied en respek aan.
Jesus dra Maria aan die sorg van Johannes op. Hy sê ook vir
Johannes dat hy na Maria moet omsien. Dit is mos die verantwoordelikheid van ‘n
seun om sy ouers te sorg. Jesus kom Sy verantwoordelikheid na, selfs in Sy
sterwensuur. Hy gee om. Ons weet dat Maria ook ander kinders gehad het, maar hyself
dra sorg dat Sy ma versorg sal wees na Sy dood.
Hierdie uitreik van Jesus na Maria, is tekenend van Sy
uitreik na ons. Hy het aan die kruis gesterf juis omdat Hy vir ons omgee. Hy
sterf, sodat Hy kan sorg vir ons. Jesus stel hier vir ons ‘n besonderse
voorbeel: om vir ons ouers te sorg. Oms selfs te midde van eie pyn en lyding
uit te reik na ons ouers en sorg te dra dat dit met hulle goed gaan. Hoe
tragies is nie dat baie bejaardes moet kla dat hulle kinders nie meer omgee
nie. Hulle is te besig, te selfgerig. Hulle eie belange weeg te swaar. Hulle sit
te gefokus op hulself. Ons behoort die voorbeeld van Jesus in so ‘n mate te volg
en om te gee vir ons ouers, ongeag die omstandighede waaronder ons verkeer.
Deur dit te doen, sal ons wys dat die gesindheid van Jesus ook in ons is.
Aan die kruis rig Jesus Hom ook tot Sy Vader. Die intieme en
nou verhouding tussen Jesus en Sy Vader, kom veral in die tyd pas voor die
kruisiging en aan die kruis na vore. Eers lees ons in Johannes 17 hoe Jesus
inig en lank bid. Hy tree in ‘n ernstige gesprek met Sy Vader. In hierdie gebed
bid Hy veral vir Sy navolgers. Daarna lees ons in Matteus 26:36-46 van Jesus se
ernstige gebede in Getsemane. Daar bid Hy nie vir ander nie, maar dat die beker
by Hom verby moet gaan as dit die wil van God is. Hy is doodsbenoud, en Hy
pleit by Sy Vader: “Laat hierdie beker by my verbygaan. Aan die kruis roep Hy
tweemaal na Sy Vader. Die eerste keer roep Hy: “Eli, Eli, lama sabagtani – My God
My God waarom het U my verlaat. Dis ‘n byna desperate en verwytende roep. Aan
die kruis is Hy die volkome verlatene,
Hy is van God en mens verlate. Hy hang aan die kruis – tussen hemel en aarde.
Volkome alleen. So gaan Hy sterf.
Jesus se laaste woorde is volgens Lukas 23:46 aan Sy Vader
gerig. “...en Jesus het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in U hande
gee Ek My Gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.”
Jesus gee Homself volkome oor aan Sy
Vader. Sy laaste woorde getuig van vertroue, berusting, volkome afhankilkheid
en prysgawe. Sy stryd het Hy gestry. Sy werk is afgehandel, en nou gee Hy
Homself oor aan Sy Vader. Dan blaas Hy Sy laaste asem uit. Met Sy Gees
toevertrou aan Sy Vader, sterf Hy. Jesus wys ook hierin vir ons die pad aan.
Staan ons ook in so ‘n noue en intieme verhouding met ons Hemelse vader? Volg
ons die voorbeeld van Jesus na om vir ander in te tree in gebed, soos Jesus in
Johannes 17 gedoen het?
Ons kan ook, soos Jesus met ons Vader worstel as dinge
moeilik raak. Ons mag maar bid dat die beker by ons verbygaan. In benoudheid
mag ons ook pleit dat ons Vader dinge moet laat anders verloop. Maar dan moet
ons altyd netsoos Jesus byvoeg: As dit U wil is . As dinge werklik erg word,
kan ons ook uitroep: “My God, my God waarom het U my verlaat? Waarom Here?
Waarom laat U toe dat hierdie dinge met my moet gebeur?” Waarom gryp U nie in
nie? Soos Habakuk lank gelede en soos Jeremia kan ons met ons vrae na ons Vader
gaan. Soos klein kindertjies soms op die bors van hulle pa’s slaan, kan ons ook
maar.
Maar bo-al moet ons ook soos Jesus ons volkome oorgee aan
ons Vader. Jesus het juis aan die kruis gesterf sodat ons kan oorgee aan ons
Vader. Dit is die kernvraag waarmee ons gekonfronteer word: Het ons al volkome oorgegee
aan ons Vader? As dit nie die geval is nie, is ons lewe nog ‘n soeke in die
donker, ‘n sinlose bestaan wat op niks uitlloop; ‘n lewe op na nêrens... Dis
juis as ons oorgee aan ons Vader dat ons met Hom kan praat en by Hom kan pleit
vir ander; met Hom kan worstel en na Hom kan roep in tye van nood en pyn en
lyding.
Jesus het aan die kruis omgegee, en Homself oorgegee....