POSTED BY Steven Sass on 06:31 under
23 Februarie 2014 Patensie
In botsing met die kerk en kermense
Matteus 16:1-12
In die Evangelie van Matteus lees ons dikwels van die botsing tussen Jesus en die Farisieers en Sadduseers. Dit is trouens een van die sentrale lyne wat dwarsdeur die Evangelie loop, en ons kan dit nie sommer so afmaak as niks nie. Dit gaan om ‘n ernstige botsing in en met die kerk. Dit sluit aan by wat ons alreeds in die Ou-Testament aantref en wat ons sedertdien nog altyd in die geskiedenis gevind het en wat vandag nog kop uit steek.

Die stryd tussen Jesus en die kerkleiers van Sy tyd, is tekenend van botsende teologiese standpunte, ons lees mos byna daagliks van die debatte oor die Bybel en die teologie.

As Jesus in botsing is met die kerkleiers van destyds, dan is dit mos ‘n botsing tussen God en Sy kerk. In die Ou-Testament lees ons nogal heelwat van botsings wat die profete bv. met die kerkleiers gehad het. So is Amos belet om verder te profeteer, Jeremia was skerp in botsing nie net met die politieke leiers nie, maar ook in botsing met die godsdiesntige leiers. Jesus het ook verwys na die feit dat die profete in Jerusalem vervolg is en die boodskappers van God daar gestenig is.

Afgesien hiervan vind ons selfs Ou-Testamentiese boeke wat geskryf is as kritiek teen sekere teologiese standpunte wat gehuldig is. Hier kan ons veral dink aan die boek van Job, wat primêr ‘n polimiek is teen die vergeldingsleer. Hulle het geglo dat as teenspoed mens tref en jy siek word, dan kan dit toegeskryf word aan jou sonde. Dit word baie skerp afgewys in die boek Job. Habakuk het ook geworstel met die heersende teologie van sy tyd, wat tot ‘n mate as voorspoedsteologie bestempel kan word en waarin bely is dat dit met gelowiges goed sal gaan terwyl ongelowiges teenspoed sal beleef. Dit wat hy in die praktyk beleef het, het egter nie gerym met die teologie en wat die kerk vir hom vrtel het nie.

In Matteus 16 word die dissipels gewaarsku teen die invloed van die Farisieërs en die Sadduseërs. Nou is dit so dat ons ‘n negatiewe persepsie van hierdie groep het, maar voor ons hulle so maklik veroordeel, moet ons darem ook weet wie hulle was.Eerstens was hulle baie vroom en opregte mense gewees, hulle het ordentlik geleef en vir hulle was die hoof doel van die lewe om die Wet  en die res van die Ou-Testament te bestudeer en noukeurig daarvolgens te leef. Hulle het besondere aandag daaraan gegee om seker te maak dat hulle presies volgens die Woord van God leef en alle godsdienstige bepalings nakom. Hulle het nie net gereeld na die sinagoge en tempel toe gegaan nie, maar ook toegesien dat hulle die godsdienstige gebruike elke dag besonder noukeurig na kom. Hulle was baie godsdienstig en toegewyd, en oor al hulle kennis van die Ou-Testament kan boekdele geskryf word. Min van ons het naastenby ‘n kennis van die Bybel soos wat hulle gehad het, en hulle kon die grootste daarvan, indien nie alles nie uit hulle koppe opsê. Ons moet daarom versigtig wees om hulle sommer af te skryf of om met hulle die spot te dryf. As ons mooi kyk, sien ons dalk nie net baie van onsself in hulle nie, maar selfs baie van wat ons as idieaal sien in hulle.

Bykans dwarsdeur die openbare optrede van Jesus vind ons dan ook telkens dat van hulle naby Jesus is. Hulle luister na Sy prediking, hulle sien Sy wonders, en hulle tree dikwels in gesprek met Hom. Hoe baie keer lees ons nie dat ‘n Farisieër, of Sadusieër vir Hom vra gevra het nie. Trouens, ‘n groot deel van die Evangelie van Matteus word gewy aan die antwoorde wat Jesus  aan hulle gegee het.

Nogtans waarsku Jesus Sy dissipels teen die Farisieërs en die Sadusieërs. Ons weet dat die verskille tussen Jesus en die kerkleiers al groter geword het en dat hulle uiteindelik direk verantwoordelik was vir Sy gevangeneming, verhoor en teregstelling...hoe tragies. Dis nie die wêreld, leiers van ander godsdienste of ongelowiges wat dit aan Jesus doen nie, maar die leiers van die kerk. Die leiers van die kerk waarin Jesus groot geword het, waarin Hy gepreek het...Sy eie mense doen dit aan Hom.

Waar het hierdie skeuring dan gekom? Hoekom het hulle so verskriklik vyandig teen Hom geword? Wat het skeef geloop? Miskien kan ons ‘n paar dinge identifiseer... Een van die belangrikstes was seker die wyse waarop Jesus die Ou-Testament geïnterpreteer het. Hulle het die Ou-Testament letterlik verstaan...presies soos dit daar staan. Hulle het dan verder gegaan en hulle interpretasies en hulle toepassings daarvan op hulle tyd verabsoluteer. So het hulle oor die Sabbatsgebod allerlei bepalings gemaak oor wat met op die Sabbat mag en nie mag doen... en dit het hulle ook oor al die ander gebooie gedoen. Presies so en so moet jy optree, en hiervan mag jy nie afwyk nie. Alles is netjies in hokkies geplaas. SO word die godsdiens formeel... ‘n formele spel. As jy net doen wat vereis word, dan is alles regso. Hoe noukeuriger jy aan die kerklike voorskrifte voldoen, hoe vromer is jy. Jou posisie en status in die kerk en gemeenskap hang alles af van hoe toegewyd jy is in die sin van hoe noukeurig jy die kerklike bepalings en tradisies nakom. Sorg maar net dat jy op die regte tye bid; jou offers reg bring; gereeld in die kerk is; doen wat die kerkleiers vra en die kerklike gebruike en tradisies volg, en dan is jy reg!

Klink dit nie bekend nie? Al te dikwels beperk mense hulle godsdiens tot hulle uiterlike betrokkenheid. Nou sê ons nie dat mense nie by die kerklike aktiwiteite betrokke moet raak nie, glad nie, net maar dat ons godsdiensuitlewing nie beperk moet word tot Sondae of kerklike bedrywighede nie. Elke dag en op alle terreine moet ons ons geloof uitleef. Juis ook daar waar niemand anders dit sien nie...sonder ophef of vertoon.

Nou kom Jesus en Hy interpreter die Bybel baie anders...Hy gooi niks weg nie, Hy lees dit nie letterlik nie. Hy lê die klem op die betekenis  en boodskap van die Ou-Testament. Hy omskryf nie wie die naaste is wat ons moet liefhê nie, maar spel eerder uit wat die geweldige implikasies van die liefde is en wat die liefde alles in hou. Hy lees die Bybel nuut, hieroor sou die kerleiers Hom nie vergewe het nie....
Die vraag kom dan: hoe lees ons die Bybel? Lees on dit soos die kerkleiers in die tyd van Jesus? Daar is baie wat vandag nog die Bybel baie selektief en letterlik lees, dan word na bepaalde teksverse verwys sonder om ander tekste in ag te neem. Die woorde word letterlik en presies net so toegepas sonder om die kontek waarin dit geskryf staan, in ag te neem. Dan word allerlei bepalings daarby gevoeg, en te min word die Bybel in geheel gelees, van Genesis tot Openbaring. Te min word daar gevra na die sentrale tema en boodskap van ‘n Bybelboek, en hoe ons dit in ons tyd moet uitleef. Dit is noodsaaklik dat ons in die voetspore van Jesus sal volg en soos Hy die Bybel lees: vra na die betekenis en boodskap van die Bybel, Bybelboek en gedeelte. Wie in die voetspore van Jesus volg, moet erns maak met die lees, interpretasie, uitleg en uitleef van die boodskap van die Bybel....

Die Farisieërs en die Saduseërs het gedink hulle is wonderlik. Met hulle selfbeeld was daar niks verkeerd nie. Of liewers, so het hulle gedink. Maar hulle het gedink dat hulle beter is as anders mense. Hulle kom mos uit die gelsag van Abraham, hulle was mos die uitverkore geslag, die volk van God. Alle ander mense en volke was dan in hulle oë minderwaardig...hoe tragies. Maar dit is iets wat ons nou nog oral raaksien en waaraan ons ook skuldig maak. Al wil ons dit nie erken nie...dit is so...

Die vraag kom dan of ons nie presies leef soos die kerkleiers van daardie tyd nie? Is ons dan nie in botsing met Jesus nie? Ons moet baie krities na onsself kyk, lees ons nie die Bybel soos hulle nie? Is ons nie net so onbetrokke soos hulle nie? Is ons nie net so selfverheffend soos hulle nie?


Wie in die voetspore van Jesus volg, moet ook na Sy voorbeeld betrokke raak by mense in nood...ons moet persoonlik betrokke raak....self iets doen en nie indirek betrokke wil wees nie. Dit in nederigheid en sonder om dit aan die groot klok te wil hang en daarop te roem. Na die voorbeeld van Jesus moet ons diensbaar wees, al lei dit tot botsings met ander gelowiges. En as ons teenspoed kry van medegelowiges en selfs die Kerk, wees dan getgroos in die wete dat Jesus in botsing was met kerksmens...
POSTED BY Steven Sass on 06:01 under
Lukas 4:14-30
Kom ons vertaal die Bybel  
Die gedeelte wat ons nou sopas saam gelees het, vertel ons van een van Jesus se eerste openbare optredes as volwasse man. Na sy versoeking deur die duiwel in die woestyn, vertel Lukas ons, keer Jesus terug na Galilea toe en gaan na Nasaret, waar Hy grootgeword het. Daar gekom, gaan Jesus, soos dit sy gebruik was, op die Sabbatdag na die sinagoge toe.
En kom ek sê eers so ‘n ietsie meer oor die sinagoge van daardie tyd voor ek verder gaan, dat ons beter verstaan wat presies hier gebeur het. Daar was nie, soos in die geval van die tempel, by die sinagoge offers gebring nie. Die sinagoge, kan ons sê, was 'n plek van oordenking. Daar is uit beskikbare boekrolle gelees en dan is die gedeeltes wat gelees is, oordink.
By die tempel in Jerusalem kon alleenlik die priesters offers aan God bring, hulle was daar in beheer. By die sinagoge was dit egter nie so nie. By die sinagoge was daar nie priesters aan diens nie. Dit het enige man vry gestaan om deel te neem aan die erediens in die sinagoge, as mens dit so kan noem. 'n Man sou aanbied om voor te lees uit die boekrolle van die Ou Testament wat beskikbaar was, en dan het hy gaan sit op 'n klein platformpie en sê wat die gedeelte vir hom beteken het.
Dit is dan ook wat daardie dag met Jesus gebeur het. Toe Hy opstaan om te lees, is die boek Jesaja aan Hom gegee, en Hy het dit oopgemaak by Jesaja 61 vers 2, 'n gedeelte wat baie bekend en baie gewild onder die Jode van daardie tyd was. Die gedeelte het vir hulle hoop gebring, want dit sê dat God vir hulle uitkoms sal bring, dit het hulle daaraan herinner dat God steeds by hulle was.

Die  presiese gedeelte uit Jesaja speel af in 'n tyd toe die volk uit ballingskap in Babilon na Israel toe teruggekeer het. Al was hulle terug in hulle vaderland, het dit maar moeilik met hulle gegaan. Hulle het hard gewerk om die tempel te herbou, maar het deurentyd die wind van voor gekry. Tye was hard, kos was skaars, en die toekoms het maar donker gelyk. Die mense het begin moedeloos raak, en dit het vir hulle voel asof God hulle vergeet het. Hulle was naderhand so moedeloos dat hulle in sak en as gaan sit het, kompleet asof hulle getreur het oor iemand wat dood is.
Midde in hierdie gebeure kom die profeet Jesaja en sê vir hulle dat God by hulle is, en dat Hy uitkoms sal bied. Hy sal hulle red, Hy sal hulle weer 'n magtige nasie maak. Dus 'n boodskap van hoop, van nuutgevonde vryheid, van verlossing.
Die genadejaar waarvan die teks in Jesaja praat, verwys na die jubeljaar (wat elke vyftigste jaar gevier is) waarin mense wat as gevolg van skuld as slawe verkoop is, vrygelaat moes word. ‘n  Mens kan verstaan hoekom juis hierdie Skrifgedeelte by die Jode in Jesus se tyd so gewild was: Hulle het swaargekry onder die onderdrukking van die Romeinse regering, hulle het gesmag na uitkoms, hulle sou graag weer 'n genadejaar, 'n jubeljaar wou beleef, ‘n Genadejaar waarin hulle bevry sou word van vreemde oorheersing en uitbuiting.
Nadat Jesus uit die boekrol gelees het, het Hy dit aan die amptenaar van die sinagoge teruggegee en gaan sit. Almal se oë was op Hom gerig. Hulle wou graag hoor wat Jesus oor die Skrifgedeelte te sê het. En wat Jesus op die ou ent sê, is die heel laaste ding wat hulle ooit sou kon verwag!
Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul. Jy kon seker 'n speld hoor val in daardie sinagoge. Jesus los 'n spreekwoordelike bom onder die Jode. Hy sê vir hulle dat Hy die een is wat God se verlossing bring, die uitkoms wat God bring, kom deur Hom. Hy, Jesus, Hy is die vervulling van God se belofte van hoop, Hy is die vervulling van God se belofte van bevryding.
Aanvanklik reageer die hoorders heel positief, maar hoe meer Jesus met hulle praat, hoe meer raak hulle ontsteld, totdat ons uiteindelik lees: Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg om Hom van die krans af te gooi. Maar Jesus het tussen hulle deur geloop en weggegaan.
Met ander woorde, Jesus word nie aanvaar deur die mense tussen wie Hy grootgeword het nie. Hulle verwag iets meer, iets groter, iets wonderbaarliks wat hulle vir eens en vir altyd sou vrymaak van die onderdrukking van die Romeine. Maar nee, voor hulle staan 'n doodgewone jong man. Hulle ken Hom as Jesus, seun van Josef die timmerman wat daar onder in die dorpie bly. En nou kom hierdie Jesus vir hulle staan en vertel dat Hy die Messias, die langverwagte Verlosser is wat God hulle belowe het?
Nee wat, wat te erg is, is te erg. Kom ons gaan gooi hierdie Godslasteraar by die naaste krans af, sê hulle vir mekaar.
Netso ook beleef ons ook elke Sondag dat Jesus as 't ware voor ons kom staan vir ons uit die Bybel lees van God se beloftes van uitkoms en verlossing en ook vir ons sê: Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.
En nou is die vraag: Wat maak ons met hierdie Jesus? Aanbid ons Hom, volg ons Hom, dien ons Hom,  of probeer ons dalk ook spreekwoordelik om Hom by die naaste krans af te gooi: die krans van onbetrokkenheid, die krans van ongehoorsaamheid, die krans van traak-my-nie-agtigheid, van onverskilligheid?
Kom ek probeer dit anders s¨º: Die storie word vertel van vier dominees wat gesit en stry het oor watter vertaling van die Bybel kwansuis die beste is. Die eerste dominee het gesê dat die Ou Vertaling, die 1933-vertaling vir hom die beste is, want daar is so 'n waardige Bybelse taal wat in die vertaling gebruik word. Die tweede dominee het gesê dat hy die Nuwe Vertaling, die 1983-vertaling, verkies want dit is nie 'n letterlike woord vir woord vertaling nie die vertaling gee vir mens eerder die betekenis van 'n gedeelte weer. Die derde dominee was heelwat jonger as die ander en het gesê dat hy 'n moderne weergawe soos Die Boodskap verkies, want die taal wat daarin gebruik word, spreek sy leefwêreld aan.
Toe hulle die vierde dominee vra watter vertaling van die Bybel hy die meeste van hou, het hy hulle so gesit en kyk en toe vir hulle gesê Die vertaling waarvan ek die meeste hou, is my pa se vertaling, want sien, hy vertaal elke dag die woorde van die Bybel oor in dade. Hy sit die woorde van die Bybel oor in dade en dit is die mees oortuigende vertaling wat ek ken!
En is dit nie ook presies wat Jesus kom doen het nie? Hy het God se beloftes oorvertaal in optredes, Hy het die woorde van God se beloftes omgesit in dade. Hy sorg dat daar vir almal hoop en uitkoms en verlossing kom. Hy maak ons, wat die slawe was van die skuld van ons sondes, vry van hierdie skuld, Hy maak elke jaar vir ons 'n jubeljaar, elke dag 'n jubeldag, want ons kan weet, maak nie saak wat op ons pad kom nie...God is by ons, Hy laat ons nooit weer alleen nie, Hy is elke tree van elke dag se paadjie saam met ons op pad na 'n heerlike toekoms saam met ons Hemelse Vader. Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.
Hoe, lyk ons vertaling van die Bybel? Is dit maar net woorde, bly dit maar net by goeie voornemens, leë beloftes? Of kry ons dit reg om die woorde van die Bybel oor te vertaal en om te sit in dade? Jesus het dit vir ons kom doen. En dit is nou ons beurt, ons tyd om elke dag 'n stuk vertaling te doen, om die woorde die Bybel om te sit in dade. Soos die Vader my gestuur het, stuur ek julle, het Jesus gesê.
 Kom ons begin, sommer vandag nog, met ons lewenslange vertalingsprojek!

POSTED BY Steven Sass on 06:54 under
Februarie 2014 PatensieLukas 4 : 1- 13
Dit is ’n baie interessante verhaal wat hom hier afspeel. Dis nie 'n storietjie nie, dit het regtig gebeur.
Ek wil van hierdie gebeure op ons van toepassing maak, want alles wat Satan op Jesus probeer het, probeer hy op ons ook. Kom ons kyk bietjie van nader hoe die duiwel te werk gaan...
Vers 1: Toe is Jesus deur die Gees die woestyn ingelei. LW. Dit was met die volle goedkeuring van God dat dit plaasgevind het. En die gedeelte eindig in vers 13 met, "die engele het Hom kom versorg". God die Vader het nooit vir Jesus verlaat nie, maar Hy het dit toegelaat!
Satan se strategie. En hy is so arrogant om by Jesus te begin. Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie. Hoekom nie? Omdat hy niks gehad het nie? Ek glo nie. Want toe was die duiwel nog nie by Hom nie. Waarskynlik eerder omdat Hy in daardie tyd gevas het. Om te vas beteken om jouself aan God af te sonder. Daar staan: "Die versoeker het toe gekom." Dus na veertig dae, toe Hy begin honger word het. "As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word." Hier probeer hy vir Jesus tot op die been toets. Toe Hy honger word, kom probeer hy om vir Jesus te verlei met iets wat Hy baie nodig het. En Jesus sê: "'n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom." Kan jy sien dat die duiwel self Jesus se wonderwerkende krag erken, en dit wil gebruik om Hom te verlei? Net so kom die duiwel vandag na my en jou toe met kennis, en insig, maar hy verdraai dit so dat ons daarvoor val. En soos wat hy vir Jesus probeer onderkry toe Hy honger was, doen hy dieselfde met ons. Hy gebruik ons swak punte, of kom na ons op tye wat ons kwesbaar is. Neem net hierdie bietjie geld daar by die werk, jy gaan dit mos die einde van die maand terugsit. Dit word leen genoem, maar dis diefstal. OF: Hoe kan liefde verkeerd wees, dis dan absoluut 'n goddelike beginsel. Jy raak betrokke in 'n buite-egtelike verhouding, want jy is kwansuis nie meer lief vir jou vrou nie, sy verstaan jou nie meer nie; of iets soos, ek het nie gevra dat dit gebeur nie. O ja, jy het. Dit word liefde genoem, maar dis eintlik wellus.
Die Satan word die verleier genoem. En dis presies wat dit is. Soos 'n suikerlagie om 'n bitter pil. Die pilletjie proe lekker, tot die suiker weg is.
Satan neem vir Jesus na die tempel toe en sê: "spring dan af." Verse 5 - 7. Kan jy sien dat Satan die skrif ken. Wat hy sê, is heeltemal waar. Maar hy haal dit net uit konteks uit. En dan sê Jesus iets wat ek en jy vir onsself kan neem. Daar staan óók geskrywe. Die duiwel kom en misbruik skrifgedeeltes om hom te pas. Iets soos "Jy hoef net te glo, en niks te doen nie". Ons moet seker maak dat ons die hele Bybel lees en leef. Ons wil so graag hoor wat God in Sy liefde doen - en dis reg so - maar ons wil nie hoor van Sy opdragte nie. Jesus noem dit: "Jy mag nie die Here jou God op die proef stel nie." Ons hoef nie Sy beloftes te toets nie. Ongelukkig doen ons dit dikwels net vir ons eie gewin.
Die volgende versoeking waarvan ons lees in vers 8 en 9, is 'n baie sterk toets. Kyk wat doen die duiwel, hy bied vir Jesus iets aan wat reeds aan Hom behoort. Alles behoort in elk geval aan God. Satan probeer as't ware vir Jesus met materialisme omkoop. Die wêreld met al sy prag. Val neer en aanbid my, dan is alles U s’n. Net so kom Satan na my en jou toe en sê: Jy kan alles kry, op 'n skinkbord, moet net nie meer vir Jesus aanbid en dien nie. 'n Mens kan nie God en Mammon dien nie. Satan se leuens laat dit alles so aanloklik lyk. So maak die duiwel ook met God se verlossingsplan. Hy probeer iets aanbied wat so reg lyk. Al sê die Bybel iets pertinent, probeer hy vir jou sê "Dis nie so erg nie", of "nee wat, die Bybel word eintlik net verkeerd geïnterpreteer". Dan bied hy vir jou iets aan wat hy nie eers besit nie. Hy probeer selfs  'n weg tot saligheid bied; wat hy beslis nie het nie.
Ons lees hoedat Jesus hom net wegjaag. "Gaan weg Satan, die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien". Net een God, net een verlossingsplan, net een Messias. Ek en jy het ook die mag om te sê, "gaan weg, Satan. Ek dien die Here."
Sê nou Jesus het net op een ding toegegee, dan sou Sy hele Goddelikheid daarmee heen wees. Sy integriteit sou weg wees. Satan wou Jesus uitdaag om Sy Goddelikheid te bewys, terwyl dit reeds vas gestaan het. Hy wou Hom iets voer toe Hy swak was. Hy wou vir Hom iets gee wat Hy reeds besit het. En Jesus jaag hom net weg. As ek en jy vandag sukkel met sonde, dan lees ek vir jou …
Hebr 4 : 15 - 16. " Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16 Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word."
Hy was totaal mens en is aan baie versoekinge onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Dis omdat Hy kon vasstaan, dat Hy aan die kruis kon uitroep: "Dit is volbring". Volmaak God, asof Hy nooit mens was nie, volmaak mens asof Hy nooit God was nie. Die volmaakte God vir die volmaakte mens. As Jesus toegegee het aan een ding, sou Sy hele verlossingsplan daarmee heen gewees het, want dan het Hy voor 'n ander god die knie gebuig. Ek en jy is nie volmaak nie, maar as ons die oog net op Jesus gerig hou, sal ons ook kan uitroep: "Gaan weg Satan, ek het gekies om net Een God te dien. En as jy vir my iets aanbied wat jy nie besit nie, beteken dit dat jy dit iewers probeer steel. Ek hoef nie hierdie gesteelde goed te vat nie, want ek is 'n mede-erfgenaam van Jesus."

Die verleier gaan jou probeer vang met 'n slap riem, maar lees en ken God se Woord.

Maar ons, ons dien die Here.