POSTED BY Steven Sass on 06:15 under
17 November 2013 Patensie

Psalm 118:22-29

Die gawe van vreugde

Die afgelope week het ek  tydens ‘n paar huisbesoeke, het dit my opgeval dat een saak vlak in die harte van baie mense lê: die behoefte aan vreugde...
Ons lidmate, en ook baie ander mense, vra deesdae een vraag al hoe meer: hoe kan ‘n mens, in tye soos hierdie, in omstandighede soos ons deesdae beleef, nog vreugdevol leef. Dit is eintlik nie moontlik nie. Vir baie voel dit net envoudig nie moontlik nie.
Maar die behoefte is duidelik daar.

 Anders sou mense nie hierdie behoefte, op een of ander manier, opgehaal het nie. Mense wil vreugde ervaar, hulle wil blye mense wees, hulle wil hulle lewens sinvol ervaar.
Oor die behoefte om bly te wil wees, om vreugde te wil ervaar, moet ek nou een opmerking maak. Dit is nie maar net ‘n selfsugtige behoefte van mense nie. Nee. Ons is nie in hierdie behoefte besig met ‘n opsionele ekstra in die lewe nie. Inteendeel. Om vreugdevol te leef, is ‘n opdrag van God.
Dit sê Filippense 4:4 baie duidelik: ‘Wees bly’. Asook Psalm 118:24: ‘ dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees!’.
Dit is miskien te sterk gestel, maar ek glo dat ons geskape is om, naas baie ander dinge, gelukkig te wees. En as ons vreugde in die lewe misloop, loop ons daarom een belangrike rede vir ons bestaan mis. Want vreugde, leer God ons, is in ‘n sekere mate een van die grootste geheime van die lewe.

Hoekom, is ons egter baie min kere blye mense? Wat is die probleem? Ons sou seker baie redes kan noem. Maar miskien is die belangrikste rede vir ons gebrek aan vreugde dat ons so dikwels juis nie die dinge doen waarvoor ons geskape (en gered!) is nie. Dit is soos iemand een keer gesê het: ons sluit onsself in ‘n donker hok in die middel van ‘n donker kamer toe, en dan kla ons dat God ons daar hou. In kort: ons weier eintlik om die vreugde van elke dag, van elke dag wat God vir ons geskape het, te ervaar.
Maar kom ons vra eers, voor ons aangaan: as ons van vreugde praat, die vreugde waartoe God ons ‘n opdrag gee, waarvan praat ons? Die vreugde waartoe God ons opdrag gee, is nie oppervlakkige of gewone plesier nie. Gewone plesier is iets wat ons tydelik bly kan maak, kan maak dat ons tydelik van ons sorge en kommer kan vergeet, maar as die soort plesier verby is, is die kommer en sorge maar weer daar.
Die vreugde en blydskap waartoe God ons opdrag gee, is egter nie ‘n vreugde wat ons vir onsself kan skep nie. Ons kan dit net ontvang. As gawe uit God se hand. Vreugde wat ons nie maar net in staat om tydelik van ons kommer en sorge te vergeet nie, maar juis ons kommer, probleme en sorge, elke dag, in elke omstandigheid, blye mense te kan wees.
Ware vreugde, is dankbaarheid. Dankbaarheid vir die feit dat ek vandag, in hierdie dag wat die Here vir my gegee het, nog te kan leef, al is alles in hierdie dag nie reg nie. Want die lewe is mos maar so: ons lewens is hoofsaaklik werk en worsteling. Die meeste van ons bring die meeste van ons tyd deur, deur te wonder, te tas, te sukkel, soms te kruip en soms weer te hardloop, en dit alles teen die getik van die horlosie.
Hoe ervaar ‘n mens vreugde in sulke omstandighede? Wanneer ‘n mens besef: my lewe is ‘n geskenk uit die hand van God. Dit is goed dat ek lewe. Maar selfs meer: my lewe, ek, is ‘n gawe aan hierdie wêreld, en van my vra God nie om net self vreugde te ervaar nie, maar ook om die bron van ander se vreugde te wees. Juis omdat hierdie dag, elke dag, deur God aan my gegee is, en omdat, sê Filippense 4:5, in hierdie dag God naby aan my is.
Maar het ons enige aanspraak op vreugde? Mense vra hierdie vraag baie gereeld. Moet ons nie meer net eerder van hierdie opdrag om bly te wees vergeet en eenvoudig maar net aanvaar dat die lewe net moeite is nie? Nee, is God se antwoord. Julle het ‘n aanspraak op vreugde, want elke dag word deur My gegee. Wees daarom en daaroor bly!
Kom ons kyk na hierdie dag, elke dag, wat God vir ons gegee het in sy eenvoudigste betekenis. Hierdie dag, is elke dag. Daardie bladsy in die dagboek of daardie blokkie op die kalender. Hierdie dag is ook nie ‘n herhaling van gister nie. Hierdie dag is nie gister toe alles nog reg was en ek ongekende sukses beleef het nie. Hierdie dag is ook nie môre nie. Nie die toekoms waarin jy miskien die gejaagdheid van die lewe sal ontkom nie, of wat jy ook al sal bereik nie.
As die Here sê ‘wees bly oor hierdie dag’, dan is dit nie gister of môre nie, dit is vandag. Wat as dag op ‘n keer gelewe moet word.
Hoekom moet ons dit so letterlik verstaan? Omdat vandag die lewe — die ware lewe — is wat God moontlik gemaak het deur te sterf en op te staan en so die God te word wat elke dag by ons is. Wat beteken dat elke nuwe dag nie maar net dag is nie, maar die begin van ‘n nuwe skepping, ‘n nuwe toekoms, met die belofte van hoop wat daarmee saamkom. Die hoop dat môre beter sal wees.
Maar kom ons neem dit nog een stap verder. Wanneer Psalm 118:24 sê dat God hierdie dag gemaak het en dat ons die voorreg het om op hierdie dag te lewe, dan het God nie meer net nog ‘n dag gemaak nie, maar ook aan ons die lewe in nog ‘n dag gegee. Daarom, nie alleen ‘n dag wat aan Hom behoort nie, maar ook lewe wat aan Hom behoort. Lewe waarin ons die vreugde kan ervaar hoe God versorg, troos en help. ‘n Dag waarin ons die vreugde kan ervaar om God by ons te kan hê, en daarom te kan lag en te kan huil, te kniel en te kan bid.
Want ons lewe nog. In ‘n dag wat aan God behoort, terwyl ons in hierdie dag aan God behoort. Nog ‘n dag waarin ons nie alleen is nie, maar ‘n dag waarin die Here naby is. Daarom kan ons vreugde ervaar. Kan ons bly wees.
Want al kan alles in hierdie dag hoe verkeerd wees: God is by ons. Ons is nie alleen nie. En God gee nie alleen elke dag aan ons nie, Hy onderhou dit ook. En daarom kan ons bly wees. Moet ons bly wees. Want in hierdie dag leef ons dan waarvoor ons geskape is: om in God se teenwoordigheid, as God se kinders, onder God se versorging te kan lewe.
Tog, beleef baie mense hulle dae nie so nie. Miskien ons ook nie. Al stem ons saam met alles wat ons vanoggend tot dusver gesê het. Hoekom nie. Ek verwys net na drie moontlike redes.
Sommige mense oordeel dat hulle dit nie verdien om vreugde te kan ervaar nie. Hulle is te sleg daarvoor. En bo alles, vreugde val nie maar net in ‘n mens se skoot nie. Daarom soek hulle daarna. Werk hulle daarvoor. Span hulle hulleself daarvoor met oorgawe in. Maar dit bly hulle ontwyk. Hoekom?
Omdat al die inspanning om vreugde te vind, juis die vreugde uit die lewe neem. Hulle span hulleself so in dat hulle vergeet dat elke dag uit die hand van God kom om te geniet en te beleef.
‘n Tweede rede hoekom sommige mense so vreugdeloos lewe is die illusie dat hulle die verantwoordelikheid dra vir al die ellendes in die wêreld. Dit is ons skuld dat alles so sleg en verkeerd is. Daarom moet ons iets aan alles doen.
God vra dit nie. God vra om te doen wat ons kan. Geniet elke dag, vind vreugde in die lewe as gawe en bring vreugde in ander se lewe. En dit waaraan ons niks kon doen nie, dit is so omdat ons nie anders kon nie.
‘n Derde rede vir ‘n gebrek aan vreugde is ongeloof. Ons maak van niks iets, en van iets rampe wat ons glo vir ons lê en wag. En in plaas daarvan om te glo dat God van ons rampe niks sal maak nie, maak ons van niks rampe. So steel ons ons eie vreugde, en voor ons sien, is ons lewens een stuk paniek.
Ek sluit af. Ware vreugde is nie plesierigheid nie. Dit kan nie self geskep of selfs gevind word nie. Dit is ‘n gawe uit die hand van God. Dit is dankbaarheid vir die gawe van elke dag, en die gawe van lewe in daardie dag.
Dit is om bly te wees dat God nog ‘n lewensdag, spesiaal vir my, aan my gegee het. Dit is om te weet dat in elke dag God naby aan my is. Dit is om te weet dat vreugde nooit sonder pyn en hartseer is nie. Want hierdie dinge is soms deel van elke dag.
Ware vreugde is ook om vir ander ‘n vreugde te wees. Om, soos God naby aan ons is, vir ander naby te wees. Om te doen wat ons hand vind om te doen. En in die aand tevrede te wees met wat ek vandag met my lewe gemaak het. En in die vertroue te gaan slaap dat môre nog beter sal wees.
Ware vreugde is die leef van die lewe, saam met God. Dit is nie om vreugde te gaan soek iewers waar alles in my lewe, volgens my, in plek sal wees nie. ‘n Geloof dat dit moontlik is, steel ons vreugde.
Wat wel moontlik is om elke dag, as gawe van God, uit God se hand, en soos God se hand teenoor ander te gaan lewe. Dan vind ons vreugde in ons bestaan. Dan vind ons vreugde in die wete: ek lewe saam met God
POSTED BY Steven Sass on 05:36 under
Esegiël 37:1-14; Handelinge 2:37

Woorde wat lewe gee 


In Psalm 77 bid Asaf dat die Here hom sal help. Maar dan antwoord die Here nie. En hoe harder Asaf bid, hoe stiller bly God. Totdat Asaf besluit dat hy God liewer maar moet afskryf. Want God wil nie meer help nie, dalk, sê Asaf, kan God nie meer nie.
Ook ons, kom soms in hierdie situasie. Dinge gebeure met ons, goed kom ons oor, probleme of probleempies stap oor ons lewenspad, ons drome word nie bewaarheid nie, wat ons gehoop het gaan met ons in ons lewens gebeur gebeur toe nie so nie, daar kom angs oor ons oor ‘n bepaalde situasie, noem maar op. Almal sake wat maak dat ons by ‘n punt in die lewe kom waar ons voel, soos Asaf, dat God weg is.
Of dalk, ervaar ons God afwesig in ons lewe as gevolg van sonde wat ons gedoen het. Dit is ook moontlik. Waar ons so verwerp in onsself voel dat ons nie meer kans sien vir die lewe nie. Ons almal, ken daardie doodsheid wat soms oor ‘n mens sak, ‘n doodsheid wat ‘n gevoel van nutteloosheid en totale moedeloosheid oor ‘n mens laat kom.
In Esegiël 37 vind ons vir Esegiël in presies dieselfde situasie. Behalwe dat die volk in ballingskap was (dit wil sê, weg van hulle land, hulle tempel en baie van hulle mense), is al wat hulle gehoor het die oordele van God. Lees gerus maar Esegiël so van hoofstuk 12 af deur. Die profete is soos jakkalse, daarom gaan Ek gaan hulle straf, los julle afgode, julle gaan sterf, vuur gaan julle verteer, Jerusalem sal soos ‘n klein boompie platgevee word, die wat sondig gaan sterf, ellende wag op my volk, Ek gaan optree teen die profete. Net oordele. Dit is al wat hulle hoor.
Alles was soos die dood. Daar was niks meer om voor te lewe nie. So het die volk gevoel. Maar ook die profeet Esegiël. Ook hy was maar goed moedeloos. Wat meer is, deur die krag van die Here, lees ons, kom Esegiël in ‘n laagte vol doodsbeendere aan. En wat sien hy? Presies wat hy voel. Baie bene wat droog is, ‘n hele laagte vol. Presies soos sy hart vol dood is. Dus: wat hy voel, is nou maar net wat hy sien. Alles is vir hom en die volk dood, alles is verby.
Maar dan gebeur daar iets. Terwyl Esegiël so tussen die bene rondloop, kom God na hom toe met ‘n vraag. Dink jy, Esegiël, dat daar weer lewe in hierdie bene kan kom? Esegiël se antwoord, broers en susters, dat net die Here weet, beteken eintlik: nee wat Here, daar is nie ‘n kans nie. Menslik gesproke is dit nie moontlik nie. Hoe kan ‘n klomp dooie droë bene weer begin lewe? Maar u sal weet, Here. Maar weet, ek dink nie so nie.
Wat dan gebeur, moes Esegiël seker tot skaamte gebring het. Gaan jy Esegiël, sê die Here, en sê vir hierdie bene: lewe weer. En wat gebeur? Met die hoor van die woord van die profeet beweeg die bene na mekaar toe, word dit met senings oorgetrek, en kom daar ‘n vel oor. En daar lê almal toe, kan ons sê.
Toe kom die Here weer na Esegiël, sien ons, en sê vir hom: sê vir die Gees om in hierdie mense in te gaan. En toe Esegiël dit doen, gaan die Gees in almal in, en hulle staan regop.
Wat, het hier gebeur? Ons kan dit alles eintlik baie eenvoudig en kort saamvat: die volk was dood. Hulle het gevoel God is weg. Daar is nie weer kans tot lewe nie. Toe kom God en gebruik ‘n mens, sy profeet om twee dinge te doen. Sy woord te verkondig dat daar lewe in God is, en God te bid om sy Gees weer uit te stort. Met twee gevolge: God se volk het weer begin lewe, en, baie belangrik, almal het besef dat die Here God is. Dat Hy wel in beheer is, dat Hy lewe wil en kan gee.
Kom ons sê dit nog meer eenvoudig: God gee lewe deur sy Woord en sy Gees. Daar waar sy woord verkondig word, en waar sy Gees hierdie woord op mense se harte laat val, daar kom lewe. So eenvoudig werk God. Baie kerke maak vreeslik baie van die gebeure rondom Pinksterdag soos ons dit in Handelinge 2 raaklees.
Wat het eintlik daar gebeur, as ons dit in sy eenvoudigste boodskap wil raaklees? Soos belowe, het God se Gees uitgestort. Onder leiding van hierdie Gees, soos die geval met Esegiël, verkondig Petrus dat Jesus gesterf het, opgestaan het, opgevaar het, dat Hy lewe, en ons wat dit glo, ook sal lewe. En wat gebeur? Deur die Gees word hierdie woord deur meer as 3000 gehoor, wat tot bekering kom en God se kinders word.
Waar nie lewe was nie, was nou lewe. Hoekom? Omdat iemand, die Woord verkondig het, en God deur sy Gees hierdie Woord op vrugbare grond laat val het. So eenvoudig,dat ons nie meer dink dat dit moontlik is dat God nuwe lewe kan gee nie.
Want ons koppe werk anders. Ons is moderne mense. Ons dink in terme van prosesse. In terme van oorsake en gevolge. Dinge moet vir ons redelik en logies wees. En as ons kan sien wat aan die gebeur is, nog beter. Want dan kan ons dit selfs beskryf, en dalk nog beter verklaar.
God, werk nie so nie. Soveel te meer werk die Gees ook nie so nie. Johannes 3 sê juis die Gees is soos die wind, hy waai wanneer en waar Hy wil. Ons kan Sy werking nie sien nie. Maar beteken dit,omdat ons die werking van die Gees nie kan sien nie, dat die Gees nie werk nie, nie nuut kan maak nie?
Soos Esegiël gedink het. Nee wat Here, hierdie klomp ou dooie en droë bene? Daar is nie ‘n kans nie. En wat gebeur toe? Esegiël moes erken dat die Here God is. Wat meer is, hy moes erken dat deur sy woorde, in opdrag van God, onder leiding van die Gees, lewe gegee het.
Besef ons,dat ons woorde in ons dra wat die lewe kan gee aan ander? En al dink ons dit is nie moontlik nie, is dit so. Hoekom? Want wanneer die Gees in ons lewe, lewe die Woord van God ook in ons. Wat meer is, dit is nie uit eie krag of insig wat ons hierdie Woord moet verkondig nie. Dit is nie op eie stoom nie. Want ook die krag wat ons nodig het om deur ons woorde en dade die woorde en dade van God te word, kom van die Gees.
Ons moet dit net met woord en daad gaan verkondig. Al dink ons dat dit geen effek sal hê nie. Esegiël het vir die Here gesê: nee wat Here, hier kan nie weer lewe in hierdie doodsbeendere kom nie. Maar toe hy gaan doen wat die Here gevra het, het daar lewe gekom. Want, sê vers 14, die Here het dit gesê, die opdrag gegee, en dit deur Esegiël gedoen.
Met Pinkster het die Gees oor mense gekom. Hoekom? Sodat ons in staat sal wees om te gaan verkondig en te gaan leef, en so nuwe lewe te wek.
Kom ons bid, en sê dankie dat God ons so wil gebruik. Kom ons bid dat ons sal raaksien dat dit is hoe God werk. En kom ons bid sat God ons so sal gebruik, dat lewe geskep word waar ons beweeg en werk.
 Esegiël het verkondig, en dooie bene het lewend geword. Petrus het verkondig, en drie duisend mense het tot bekering gekom. Wie verstaan dat God vandag nog sy kinders so gebruik, sal lewe gee.
POSTED BY Steven Sass on 05:40 under
Lukas 18:1-8
Gebed is ‘n uitdrukking van ons geloof
Ek onthou nog goed, toe ek ’n eerstejaar-student in die koshuis op Stellenbosch was, hoe diep beïndruk ek was met een van die seniors in die koshuis. Hy was ’n finalejaar teologie-student, en hy het my vertel hoe hy Saterdae in die berge ingaan dan daar vir ure lank bid. Ek het gewens ek kon ook so bid, vir ure aanmekaar. Ek het gedink dit is die toppunt van vroomheid en geestelike volwassenheid.

Ek het ’n idee baie mense is op een of ander stadium van hulle lewe daar waar ek was: ongemaklik en onseker oor hulle gebedslewe. En dan, as iets in jou lewe gebeur wat jy nie wou gehad het nie, dink jy: ja, dis omdat ek nie genoeg bid nie.

Nou, as ’n mens hierdie gelykenis wat Jesus vir ons vertel, so vinnig lees, versterk dit natuurlik hierdie persepsie. As jy net lank en ernstig genoeg bid, sál God jou hoor. So dink ons. So lyk dit ook uit die gelykenis, want Jesus sê tog self: ons moet altyd aanhou bid sonder om moedeloos te word. Dit kan dan lyk asof ’n mens sal kry wat jy vra as jy net lank genoeg aanhou.

Maar as ons só oor gebed dink, is ek bevrees, is ons nie vreeslik Christelik nie. Die heidene reken ook so. Dink maar aan die verhaal van Elia en die Baälpriesters op die berg Karmel (1 Kon 18). Daar het hulle die hele dag aangehou om tot hulle god Baäl te roep en te dans en later selfs hulleself stukkend te sny, menende dat hulle só Baäl kon oorreed om na hulle te luister. Dit het natuurlik nie gehelp nie, want Baäl is ’n afgod, nie die lewende God nie. Maar dis hoe hulle gedink het: as jy net lank en hard genoeg bid, sal Baäl se hart sag word en hoor.

Is dít hoe jy oor gebed dink? Dat jy God moet oorreed met jou lang en aanhoudende gebede? Dat jy sy hart moet sag maak? Of dalk só moet irriteer met jou aanhoudende gekerm dat Hy maar later ingee? Dalk omdat jy iewers, diep in jou hart, dink God is bietjie soos die hardvogtige regter in die gelykenis? Dat Hy nie sommer ingee nie, en daarom eers bietjie aangepor moet word voordat Hy antwoord? Dat Hy so besig is met ander sake dat jy hard en lank moet kerm voordat dit sy aandag vang? Dis mos wat Elia vir die Baälpriesters gesê het: dalk slaap Baäl. Hulle moet harder roep om hom wakker te maak.

Miskien dink jy: maar dis tog wat hier staan! Jesus moedig ons aan om soos die vrou in die gelykenis aan te hou totdat ons God moeg maak vir ons gesanik. Maar dis nie hoe ons die gelykenis moet verstaan nie. ’n Gelykenis probeer meestal net een punt tuisbring, nie ’n klomp nie, en as ons elke aspek van die gelykenis probeer toepas, gaan ons by die verkeerde gevolgtrekking uitkom. Die gelykenis vra dat ons na die vrou moet kyk, nie na die regter nie. Trouens, Jesus sluit af deur te sê God is juis nié soos die regter nie. Hy is totaal anders. Hy is nie onregverdig en hardvogtig nie. Hy wag nie om oorreed te word nie. Hy sal help, en gou ook (vers 8). Want Hy is ons hemelse Vader wat ons liefhet, wat met sagte, vriendelike oë na ons kyk, wat met gespitste ore na ons gebede luister.

Nee, die punt van die gelykenis is nie die regter nie, maar die vrou en haar volharding om te stry vir wat reg is. Dís waar ons moet aanhaak in die gelykenis. Dis ook hoe Lukas dit verstaan. Hy skryf in vers 1 dat Jesus die gelykenis vertel het om duidelik te maak dat ’n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.

Daar is mense wat sê hulle sê ’n ding net een keer vir God, en dan los hulle dit by Hom, want Hy weet die beste. Maar as ek hierdie gelykenis reg verstaan, sê Jesus ons kan ’n saak maar weer en weer voor God se troon bring. Ek dink altyd só daaroor: ek bid oor ’n saak tot ek ’n antwoord kry, of dit nou ja of nee of later is. Maar ek mag aanhou, nee, ek móét aanhou bid tot ek ’n antwoord kry. Dis wat Jesus hier vir ons sê. Want sien, ons lewe mos in ’n verhouding met God, en net soos ons in ander verhoudings vrymoedigheid neem om iets meer as een keer te vra, kan ons dit in ons verhouding met God ook doen. Partykeer is dit juis in die herhaalde vra dat God ons hart beter leer verstaan, en beter weet hoe ons dink en waar ons passie lê.

Uiteindelik is dít geloof: om in ’n oop, eerlike verhouding, en in afhanklikheid, voor God te leef. ’n Mens wat net een keer bid en dit dan los, doen dit dalk nie omdat hy so ’n diep geloof het nie, maar omdat hy nie regtig oortuig is God sal antwoord nie. Daarom hou hy op voordat hy ’n antwoord kry. Daarom sê Jesus in vers 8: Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind? Want gebed het alles met geloof te make. Gebed is direk verbind aan die innigheid waarmee jy aan God verbonde leef. Sonder hierdie innige verhouding, sonder geloof, droog gebed sommer gou-gou op.

Dis hoe ons hierdie laaste opmerking van Jesus moet verstaan. Hy sê ons dink die fout met gebedsverhoring lê dalk by God, omdat Hy soos die hardvogtige regter is. Maar Jesus sê nee, die fout lê nie by God nie, Hy hoor en verhoor ons gebede. Die fout lê eerder by ons wat nie meer glo nie, en daarom nie genoeg moeite met ons gebede voor God doen nie.

Ek dink nie Jesus wil in dié gelykenis vir ons sê ons moet soos daardie teologie-student ure lank elke dag of week tot Hom bid nie. As dit is hoe jy voor God leef, is dit reg en wonderlik. Maar ons is nie almal dieselfde nie. Dit gaan nie oor hoe lank jy op ’n keer kan bid nie. Dit gaan eerder oor ’n daaglikse oop verhouding met God, om ’n lewe waarin jy jou hart voor God met vrymoedigheid en met vreugde oopmaak, elke dag, omdat Hy jou Here en jou God is.

Mag ek en jy só voor God leef!


Amen.