6 Oktober 2013 Patensie
Wees diensbaar
Matteus 12:15-21, 20:28
Wie wil jy
wees: Die baas of die werker? Die hoof of die dienaar? Die belangriskte
amptenaar of ‘n ondergeskikte onderdaan? Ek dink die keuse is maklik. Kom ons
wees eerlik, ons sal almal seker kies om die baas, die hoof of die belangrikste
amptenaar te wees. Ons is mos van kleins af geleer om te strewe na die hoogste
sport. Ons stel ons daarop om te presteer, om bo uit te kom is mos vir ons
belangrik. So maak ons ook ons kinders groot. Prestasie en posisie word
belangriker. Dit is seker nie baie verkeerd nie. Of is dit?
Dit was in
die geskiedenis nog altyd so gewees. Blaai ons deur die geskiedenisboeke, dan
val dit ons op hoe die strewe na mag en status ook baie negatiewe gevolge vir
baie gehad het. Ons sien dit vandag nog en baie van ons het dit al beleef...mag
maak mense korrup. Mag lei tot nog groter magsbeheptheid. Hoë posisies lei
soms, en soms te dikwels, daartoe dat mense
hulle verbeel hulle is die kat se snorbaard. Hulle is so belangrik dat hulle op
ander neersien. Dit maak dat mense op mekaar trap en ander vertrap in die poging om bo uit te kom. Dit lei tot
ongelukkigheid en verwoes selfs ander se lewens.
Matteus
vertel vir ons dat Jesus uit die belangrikste geslag van Israel gekom het. Hy
is uit die geslag van Dawid, uit die mees aristokratiese stam. Bowendien was Hy
meer as net uit die geslag van Dawid, Hy was die Messias. Nog meer, Hy was die
Seun van God, hoe hoog en belangrik was Hy nie. Geen mens kan met Hom vergelyk
word nie. Voor Hom was daar niemand wat Sy gelyke was nie, en na Hom was daar
al niemand wat gelyk is aan Hom nie. Hy
staan uit bo alle mense. Sluit die Evangelie nie af met die stelling dat alle
mag in die hemel en aarde aan Hom gegee is nie? Oor Sy posisie en Sy mag kan
daar nie twyfel wees nie. Sy wysheid ken geen grense nie, en Sy almag ken geen
grense nie. Daarvan is Sy wonderwerke bewyse. Sonder vrees en teenspraak kan
gesê word dat Jesus sonder gelyke is. Hoog bo alle ander mense verhewe. Dit is
mos ook die boodskap wat nie net in die Evangelie van Matteus voorop staan nie,
maar dit is ook die sentrale boodskap van al die Evangelies. Dit weerklink ook
in al die ander boeke van die Nuwe Testament. Maar nou die keersy van die munt.
Matteus teken Jesus ook vir ons as die Dienaar.
Hy haal
Jesus aan: “So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien
te word nie, maar ook om te dien en Sy lewe te gee as losprys vir baie mense”
(20:28). Hoe radikaal anders is dit nie. Hy wat bo alle mense verhewe is, word ‘n
Dienaar. Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar Hy het gekom om te dien.
Dit sê Jesus as antwoord op die versoek van die seuns van Sebedeus wat Jesus
versoek het om aan hulle ereplekke te gee in sy ryk. Hulle het Hom gevolg en
getrou gedien, maar wil darem seker maak dat as Jesus Sy ryk daarstel, hulle elkeen
‘n ereplek sal kry. Hulle wou darem vergoed word vir hulle getroue diens, en
hulle wou darem belangrike plekke
inneem. Dis dan dat Jesus hulle skerp aanspreek en sê dat dinge in Sy ryk
anders werk. Die belangrikste persone in die koninkryk van die hemel is diegene
wat bereid is om die minste te wees. Die dienaars is die belanrikste. Dit gaan
nie in Sy ryk om mag en posisie nie, maar om nederigheid en diensbaarheid.
Jesus sê,
nie net dit nie, Hy wys hulle op Sy lewe en Sy werk. Hy was nie magsbehep nie,
en het nie gestreef na ‘n hoë posisies nie, Hy wou nie regeer nie, en Hy wou
nie baasspeel nie, Nee, Hy het gekom om te dien en diensbaar te wees....Maar
aan wie was Hy so diensbaar? Hy het Hom diensbaar gestel aan die uitgeworpenes
en verwerptes. Aan diegene op wie die gemeenskap neergesien het. Hy het die wat
in nood was, gehelp. Die melaatses, die siekes, die uitgeskoptes, die slawe,
tollenaars en sondaars. Die heel laagstes op die sosiale orde. Dis hulle
wat Hy dien. Hy dien hulle ook nie van ‘n
afstand of uit die hoogte nie, maar Hy staan langs hulle, raak aan hulle, vat
aan hulle en trek hulle na Hom toe.
In Matteus
12:15-21 sê Matteus dan ook dat Jesus gekom het om te dien en so die erfporsie
van Jesaja te vervul. Hy is die geliefde oor wie God Hom verheug. Hy is die Een
op wie die Gees van die Here gekom het. Hy het die wil van God bekend gemaak,
Hy het nie getwis en geskreeu nie, Hy het nie die geknakte riet gebreek nie, Hy
het nie die dowwe lamppit uitgedoof nie...maar Hy het die liefde en die genade
betoon aan diegene in nood. Hy het in
liefde uitgereik na almal wat Hom nodig gehad het. As ons hierdie woorde lees,
dan besef ons weer dat die vervulling in Jesus veel groter was as die
verwagting wat gekoester is. Jesus het gekom om by elkeen in nood te wees. Hy
reik uit na almal wat geval het. Hy rig die geboë hoofde op. Hy gee die
vermoeide nuwe krag. Hy maak die stukkendes heel.
Jesus gaan
verder en sê dat Hy gekom het om te dien en Sy lewe te gee as losprys vir baie.
Hy loop nie net die ekstra myl nie, maar Hy is bereid om alles te gee, ja Sy
lewe te gee. Dit het Hy mos ook gedoen. Hy maak nie net praatjies nie, maar
voeg die daad by die woord. Aan die kruis van Golgota sterf Hy. Nie omdat Hy
die dood so verdien het nie, maar sodat Hy die lewe vir ons elkeen kon verdien.
Hy lê Sy lewe vrywillig af as losprys vir baie; ook vir ons. Hy betaal die
uiterste prys. Hy dien tot die dood.
Ons het ons
lewe te danke aan die feit dat Hy bereid was om te kom en te dien en Sy lewe as
losprys vir ons te gee. Hiervoor kan ons maar net in aanbidding voor Hom kniel.
Ons verdien dit nie. As Hy dit nie gedoen het nie, sou ons nie verlos kon word
en kinders van God kon wees nie. Dan was ons verlore en het ons geen hoop op
die ewige lewe gehad nie.
Hoe tragies
is dit nie dat die gesindheid van Jesus so min in Sy kinders se lewens gesien
word nie. Dit ten spyte van die feit dat Paulus ons ook oproep as hy pleit dat
die gesindheid wat in Jesus was, ook in ons moet wees. Hy wat in die gestalte
van God was, wat self God was, het dit nie ontsien om mens te word en te dien
en Sy lewe as losprys te gee nie. Hoekom is ons dan so vreeslik onwillig om te
dien? Hoekom slaan die strewe na mag en status, na ereplekke en posissies nog
so sterk by on suit?
Kyk ons na
die Kerk, dan sien ons so min wat bereid is om te dien. Om in stilte te dien
waar niemand dit sien nie. Om betrokke te raak by hulp aan hulle wat hulp nodig
het. Ons raak soms betrokke vir so ‘n kort tydjie...Ek sal eenkeer help, maar
wil myself nie verbind nie, en sien darem nie kans om regtig permanenet
betrokke te raak nie. Ek sal help, maar wil nie regtig daal tot op die vlak van
die mense waarvoor die hulp is nie.... Diensbaarheid na die voorbeeld van Jesus
beteken om volledig en oor ‘n lang tyd betrokke te raak en diensbaar te bly.
Die vraag
kom dan: Is ek bereid om te dien? Of wil ek net gedien word? Vergeefs sal ons
bely dat Jesus ons Verlosser is as Sy gesindheid nie konkrete gestalte in ons
vind nie. Jesus het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe
as losprys vir baie af te lê. Kan daar van elkeen van ons gesê word dat ons nie
gedien wil word nie, maar dat ons dien en bereid is om alles op te offer vir
ander?