POSTED BY Steven Sass on 06:16 under
22 September 2013 Patensie
Mede-skepper, besing die Skepper!
Psalm 8
Psalm 8 is een van die mooiste lofliedere in die boek Psalms. Hierdie Psalm is moontlik deur ‘n herder geskryf wat dikwels snags met sy skape in die veld deurgebring het. Dit kon ook net wees dat dit geskryf is deur iemand wat gereeld na die sterrehemel gekyk het of by geleentheid diep aangegryp is deur die grootsheid van die die sterrehemel. Feit bly dat hier nie een of ander grootse ingrype van God in die geskeidenis van die volk of die lewe van die digter is wat dié Psalm ten grondslag lê nie.

Wat wel aanleiding tot die loflied gegee het, was ‘n geloofskyk na iets wat elke dag en nag net eenvoudig daar is. Iets wat ons ook elke aand of nag kan sien en ervaar. Gebeur dit? Of gaan dit by ons verby en het ons te afgestomp geword om te sien? Of is ons so besig dat ons nie tyd maak om ‘n bietjie rondom ons te kyk nie?

As die digter opkyk na die sterre en onder die besef van die grootsheid en die skoonheid van die sterrehemel kom, dan roep hy uit: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde. Hy spreek die Here aan op Sy verbondsnaam (in Hebreeus :Jahweh) en voeg daaraan toe die Hebreeuse woord Adonai: ‘n title vir die koning of heerser. Here, ons Meester.

As mense baie lief is vir mekaar, dan spreek hulle mekaar soms op die naam aan en voeg daaraan ‘n troeteltitel by. Ons sê die naam en my liefling/skat/skapie ensovoorts. Hierdie aanspreekvorm dui op so ‘n intieme liefdesverhouding tot die Here. Hiermee alleen wil die digter dan ook al sê dat hy in ‘n noue verhouding tot die Here staan en dat die Here vir hom baie spesiaal is. Dit is asof hy alreeds hiermee sê dat iets spesiaals en besonders gaan volg. Hy gaan dan voort deur te sê dat die Here se naam wonderbaar is oor die hele aarde. Dit is asof die sterre die naam van die Here uitspel – Sy handtekening is wat oor die hele aarde skyn en sigbaar is. Kyk net op na die sterre en sien hoe groot God se naam oor die hele aarde geskryf is.

Verder sê die digter: “Hoe glansryk is alles wat U aan die hemelruim geplaas het”. Die hemelruim is so anders as die donker en stowwerige aarde. Daar skitter alles. Vir die digter is dit so omdat dit so na aan die woning van God is. Hy gee die glans. Sy heiligheid word weerkaats in die sterrehemel. Dit is dan juis wat die woord heilig beteken: skitterend en stralend, soos die son en die sterre.

Hiermee beklemtoon die digter dat die hemelruim die lof van God verkondig. ‘n Nederlandse digter het by geleentheid gesê dat alles die lof van God verkondig – as die siel maar net wil luister. Psalm 8 wil sê: kyk net na die helemruim en sien hoe alles die lof van God verkondig; Sy Naam is wonderbaar; Sy werke is stralend en glansryk.

Die gevolg hiervan is dat kinders en suigelinge die magtige werk van die Here besing. Selfs die in die gemeenskap wat nog nie tot die volle kennis en insig gekom het nie, kan beleef dat die Here wonderbaar is en Sy werke glansryk.  Hulle prys Hom. Die teenstanders van die Here word tot swye gedwing as hulle Sy magtige werke sien. Wie kan anders as om stil te word by die aanskoue van die magtige skeppingswerke van God? En ons? Besing ons die magtige werk van God? Staan ons in verwondering stil voor Hom?

By die aanskoue van die magtige werk van die Here, vra die digter dan: “wat is die mens dat U aan hom dink en na hom omsien?”. Die aanskoue van die hemelruim en die besef van die grootsheid van die werke van die Here, bring hom tot die diepe besef van sy eie nietigheid. Hoe klein is die mens nie. Ja, die mens is nie eers ‘n spikkeltjie nie. Die mens is eintlik weglaatbaar klein. Nietig en verganklik. So sonder skynsel dof, so amper niks nie. Boonop stel die mens God voortdurend teleur deur sy woorde en dade. Ons is so onbelangrik, so nietig, van so min belang... die besef van die van die grootsheid van God se skepping maak ons diep nederig en stroop ons van alle grootheidswaan. Miskien is dit nodig dat ons almal van tyd tot tyd na die sterrehemel sal kyk en sal besef dat ons nietig en klein is. Dat ons sal stil word en gestroop word van al ons grootheidswaan sodat ons soos die suigelinge en kinders die lof van die Here kan besing.

Maar wat het God met die mens gedoen? God het vir die mens ‘n spesifieke plek gegee in die skepping; ‘n bepaalde status en ‘n duidelike taak. Dit word in die volgende verse omskryf. Die Here het die mens, wat so klein en nietig is: net minders as ‘n hemelse wesen gemaak; met aansien en eer gekroon en hom laat heers oor die werk van die Here.

Die mens beklee ‘n besondere plek in die skepping – net minder as ‘n hemelse wese is die mens. Dit herhinner ons aan Genesis 1 waar gesê word dat die mens na die beeld van God geskep is. Die mens is die skaduwee van God. Die een wat se weerkaatsing hier op aarde is. Onlosmaaklik aan God verbonde. “n Hoë en verhewe posisie beklee die mens. Ons is Koningskinders; God se kinders. As sodanig is die mens met aansien en eer beklee. Ons het nie aansien en eer uit onsself nie; ons verwerf dit nie deur al ons belangrike werk nie. Ons kry dit van die Here af, Hy gee dit aan Sy kinders. Die aansien en eer van die kind van die Here, die almagtige Skepper. Daarom is die mens nie minderwaarig nie. Mag die gelowige nie dink dat hy/sy niks beteken en onbelangrik is nie. In die oë van die Here is die mens baie belangrik, want Hy beklee die mens met aansien en eer. Dit beteken dat ons moet leef ,waardig die aansien en eer wat God aan ons gee. Ons moet ons nie met die semels meng nie. Ons moet nie ons aansien en eer misken en vertrap nie. Elke mens is vir God belangrik, ja so belangrik dat Hy Sy Seun gestuur het om in ons plek te sterf sodat ons deur Hom aangeneem kan word as Sy kinders. Die gelowige kan hieraan vashou, al probeer die wêreld jou afbreek, al het jou selfbeeld ‘n lelike knou gekry, en al wil jy twyfel oor jou vermoë, dan moet jy hieraan vashou: God het aan ons aansien en eer gegee.

Verder sê die Psalm wat die taak van die mens is, naamlik om te heers oor “die werke van U hande”. Die mens het ‘n heersertaak. God het alles aan die mens onderwerp en die mens moet heers oor die skepping. Dit plaas ‘n groot verantwoordelikheid op die mens. Ons mag nie God se skepping verniel of vernietig nie. Die mens is in ‘n besonderse posisie geplaas en mag nie misbruik maak van hierdie posisie nie. Die koning het in die Ou-testamentiese tyd ‘n definitiewe omskrywing van sy heerserstaak gehad. Dit het veral drie dinge behels: hy moes sy onderdane bekerm teen gevare van buite, hy moes omsien na die swakkes in die gemeenskap wat nie na hulle self kon kyk nie en moes sorg dat reg en geregtigheid geskied en die een nie benadeel word deur ‘n ander nie. Dit is wat dit beteken om te heers. Let op, dit gaan nie om ‘n ereposisie en om gedien en geëer te word nie, maar eerder om te dien. Het Jesus nie ook hierin die volmaakte  voorbeeld gestel nie? As ons oor God se skepping moet heers, dan beteken dit dat ons dit moet beskerm, moet omsien na die belange van die swakkes en die wat nie na hulleself kan omsien nie en dat ons moet sorg dra dat reg en geregtigheid geskied.


Die Psalm eindig dan soos dit begin het: die sirkel word voltooi met die bring van die lof en die eer aan die Here: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is U Naam oor die hele aarde!” Nadat die Psalmdigter die grootsheid van die skepping van die Here beleef het, Sy lof besing het, in verwondering besef het wat die plek, posisie en taak van die mens is, besef hy weer eens dat dit alles deur die genade van die Here is. Daarom kan hy nie anders as om weer eens die lof aan die Here te bring nie. So moet die bring van die lof en eer aan die Here ook ons hele lewe omvat en omsluit. 
POSTED BY Steven Sass on 06:29 under
15 September 2013 Patensie
Die Here soek die mens op, al loop alles skeef
Genesis 3
Een skemermiddag, so vertel Genesis 3 vir ons, het die Here God by die mens kom kuier. Die manier waarop dit vertel word, skep die indruk dat dit nie ‘n uitsonderlike kuier was nie. Dit wil klink asof dit die gebruik van die Here was om elke middag as die werk tot ‘n einde gekom het, by die mens te kom kuier. Dit gebeur so laatmiddag. Dis mos daardie besonderse tyd van die dag. Die tyd as die gejaag tot stilstand gekom het. As die sweet van die harde werk afgewas word...as die mens met ‘n lekker koppie koffie kan sit en ontspan. As man en vrou die verloop van die dag met mekaar kan deel. Sommer net saam sit en alles van jou laat afrol.

Die manier waarop dit hier vertel word, laat mens dink aan ‘n pa wat teen skemertyd by sy kinders gaan kuier. Hy wil hoor hoe dit gaan en wil die mooi tyd van die dag saam met hulle geniet en deel in hulle vreugdes.

Helaas, die middag toe die Here God weer kom kuier, het ales skeef geloop. Eintlik het dinge die hele dag gelol en dit het hoe later hoe kwater geword. Die dag was ‘n totale mislukking. Hoe sou hulle nie wens dat die dag anders verloop het nie! Die Here het nie robotte gemaak nie, maar mense. Dit beteken dat hulle ‘n vrye keuse gehad het en kon kies wat hulle wou doen.

Daardie dag het die vrou die slang raakgeloop. Sy leen haar ore uit vir die slang en laat toe dat hy haar ‘n gat in die kop praat. Al sê sy aan die begin vir hom dat hy die woorde van die Here verdraai, begin sy vinnig twyfel en wonder of hy nie dalk reg kan wees nie. Die Here het die vrugte van die bome in die middel van die tuin vir Homself uitgehou, maar sy het nie daaraan gedink dat dit dalk kan wees dat as hulle van die vrugte eet, hulle soos God sal word nie. Hoe lekker sou dit nie wees nie. Dan hoef hulle nie meer namens die Here en tot Sy eer te werk nie, maar kan hulle in Sy plek gaan staan en gelyk wees aan Hom. Dan is hulle nie meer kleimensies nie, nie nietig en verganklik nie, maar groot en ewig. Dit kan net lekker wees. Die gedagte was so aantreklik dat sy van die vrugte gevat en geëet het. Boonop gee sy dan vir haar man daarvan. Hy dink nie eers tweemaal nie, maar eet toe sommer ook.

Kom ons wees eerlik: Is dit nie ook soos baie van ons dae verloop nie? Ons leen ons ore uit. Ons wil so graag groot wees: soos God wees. Ons luister nie aldag na wat die Here sê, en dis dan dat ons presies soos die vrou en haar man optree. Hoe dikwels het dit nie al die afgelope tyd gebeur nie?

Helaas, alles het toe verkeerd uitgewerk en skeef geloop. In plaas dat hulle soos God word, besef hulle skielik dat hulle kaal is. Hulle is skaam vir mekaar. Van skurwe en krapperige vyeblare maak hulle gou iets om hulle mee toe te maak. Daar kom skeiding tussen hulle. As hulle teen die laatmiddag hoor dat die Here God op pad is, kruip hulle weg. Hulle is skaam en bang. Die heerlike oop verhouding met die Here is tot niet.

Die Here God weet dadelik dat iets skeef geloop het. Maar Hy draai nie om en loop weg nie. Hy vererg Hom nie so vir die mens dat Hy daar en dan besluit dat Hy nooit weer iets met die mens te doen wil hê nie. Nee, Hy soek die mens op.Hy roep na die mens: “Waar is jy?” Reeds op die eerste bladsye van die Bybel kom die liefde van die Here sterk na vore. Hy soek na die mens. Hoe maklik kon die Here die mens nie afgeskryf het nie. Hoe maklik kon Hy ons ook nie afgeskryf het nie. Hy is immers nie afhanklik van ons nie. Ons is nie so belangrik dat Hy nie sonder ons kan klaarkom nie. Hy soek ons op ten spyte van die feit dat ons vir Hom wegkruip. Hy roep ons nogsteeds: “Waar is jy?”

Die mens besef dat hy nie vir die Here kan wegkruip nie. Die Here sal hom in elkgeval die een of ander tyd kry. Hy sê dan maar waar hy is en waarom hy daar wegkruip. “Ek het U gehoor wandel in die tuin en het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip”. Hy kom met die hele sak patats uit. Miskien moet ons hierdie voorbeeld meer navolg. Ons kan tog nie vir die Here wegkruip nie. Ons sal een of ander tyd tog vir Hom moet sê waar ons is en hoekom ons daar is.

Die Here tree in gesprek met die mens. Uit die wyse waarop die Here begin praat, is dit duidelik dat Hy dadelik by die kern uitkom. Die mens antwoord deur iemand anders te blameer. Dis die Here se skuld, dis die vrou se skuld...die vrou wat U vir my gegee het, het my verlei...sy het vir my van die vrugte gegee. Dit is so, maar dit neem nie die feit weg dat hy geëet het nie, dit was sy eie keuse. Nee om ander te blameer help niks nie. Ons kan nie die skuld op ander pak en boonop die Here verwyt nie. Die Here wend Hom dan tot die vrou. Dieselfde gesindheid vind ons weer by haar. Sy blameer die slang...en ook dit werk nie. In plaas van ‘n aangename kuier, het ons dan ‘n hartseer storie van verwyte en vrees.

Wat gebeur dan? Gaan die liefdevolle Vader alles oorsien? Gaan Hy sê: ag hoe jammer, miskien het hulle nie van beter geweet nie.Kom Ek sien dit maar oor. Nee, dis glad nie wat ons hier gelees het nie. Die Here straf elkeen wat nie geluister het na wat Hy gesê het nie. As hulle Sy huurooreenkoms verbreek, moet hulle die gevolge dra. Elkeen kry ‘n besondere straf. Dis nie ‘n algemene straf vir almal nie, maar eerder ‘n spesifieke straf vir elkeen. Die slang sal op sy pens seil, wie hom teëkom, sal hom doodmaak. Die vrou sal met pyn en lyding kinders in die lewe bring. Die man sal swoeg en sweet om ‘n bestaan te maak en aan die lewe te bly. Die heerlike onbesorgde lewe is verby. Van nou af sal die lewe ‘n stryd wees. Omdat die mens die huurooreenkoms met die Here verbreek het, word hulle uit die tuin verdryf en moet hulle buite die tuin vir hulle ‘n plekkie onder die son soek waar hulle kan probeer om liggaam en siel aanmekaar te hou.

Nou moet ons ook nie soos die man en sy vrou waarvan ons in Gensis 3 lees, reageer en die blaam op ander plaas nie. Hoe maklik doen ons dit nie? Hoe dikwels hoor mens nie: as Adam en Eva nie gesondig het nie, het ons nog in die paradys gewoon. Dis hulle skuld dat ons so swaarkry. Dis Eva se skuld dat vroue met smart kinders in die lewe bring en die mans oor hulle heers. Dis Adam se skuld dat daar dorings en distels is en ons so bitter swaar kry en sukkel om aan die lewe te bly. Dis alles hulle skuld. As hulle maar net geluister het. Dit is egter nie wat hierdie vertelling wil bereik nie. Dit word mos juis hier afgewys. Dit werk nie. Nee, ons is die mens en sy vrou. Want het ons opgelet: die man en vrou het nog nie hier name nie. Hier word net van die man of mens en sy vrou gepraat. Ons is daardie man, daardie vrou. Dis mos ons wat nie luister nie, ons volg ons eie kop. Ons doen wat teen die wil en bevel van die Here is. Ons kruip weg, ons is bang. As die Here na ons toe kom, dan kruip ons weg uit vrees. Daarom is die straf ons eie straf. Ons persoonlike straf. Ons verdiende loon. Dis eers as ons dit besef en bely, dat daar hoop is.

Genadiglik eindig die Bybel mos nie hier nie. Dit vertel hiervandaan oor en oor vir ons hoe die Here na die mens kom en die mens soek. Hoe die Here die verhouding met Hom weer wil herstel. Dit vertel mos vir ons dat God Sy Seun gestuur het om ons vry te maak. Hy wil in Jesus ons aanneem as Sy kinders. Jesus wil ons volkome vry maak. Hy wil dat alles nuut word, dat ons weer in die tuin van die Here God sal bly. Dat Hy weer elke dag by ons sal wees en by ons sal kom kuier om al die mooi dinge met ons te deel; en ons die ewige lewe met Hom kan deel.

Die Bybel roep ons elke keer weer op om te vra of ons na die voorbeeld van die Here, ons Hemelse Vader leef. Ons bely immers dat ons kinders van God is en die Bybel leer ons dat ons die skaduwees van die Here moet wees. Daarom behoort ons immers na Sy voorbeeld te leef.

Waartoe word ons dan in hierdie verhaal opgeroep? Natuurlik dat ons nie soos die man en die vrou moet leef nie, maar juis dat ons na die voorbeeld van God moet leef. Soos Hy na die man en die vrou in die tuin gekom het, moet ons ook na ander uitreik. Ons moet tyd maak om by ons kinders en ouers uit te kom. Ons moet ons familie en vriende opsoek, ons moet ‘n draai maak by ons bure. Ons moet selfs na vreemdelinge toe uitreik. Ons is so besig en so selfsugtig dat ons so bitter min tyd het om ander op te soek. Nee, dis nie die voorbeeld wat ons Vader hier stel nie...


Die Here het nie omgedraai en Sy rug gedraai op die mense wat Hom teleurgestel en seergemaak het nie. Toe hulle vir Hom weggekruip het, het Hy na hulle geroep totdat Hy hulle gekry het. As daar een ding is wat ons baie maklik doen, is dit om die rug op ander te draai. Ons sê so maklik: hulle het my in die steek gelaat, of hulle het my tena gekom, hulle wil my nie sien nie en daarom loop ek weg en wil niks met hulle te doen hê nie...Maar dis nie wat die vader hier gedoen het nie!
POSTED BY Steven Sass on 06:08 under
9 September 2013 Patensie
Galasiërs 1:6-10 

‘n Dienaar van Christus 


Die tema van vanoggend se preek  is: ’n Dienaar van Christus, en dan wil ek hierdie tema verder belig met ‘n gedeelte uit Efesiërs 2 vers 3: “Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het ...”
Ek wil hê dat julle julleself vir ’n oomblik moet indink as passasiers op een van daardie groot plesierbote. Kom ons sê dat julle op reis is na een of ander bestemming - dit maak nou nie saak waarheen nie - terwyl julle die rustigheid op die oop see geniet. En net soos die flieks baiekeer met die kamera op sekere tonele in fokus, kom ons fokus onsself in op ‘n sekere toneel: Jy sien die kaptein van die skip wat in sy kajuit staan ... hy loop na ’n interkomstelsel toe, en maak die volgende aankondiging: “Aandag alle passasiers... dit is die kaptein hier. Ek wil julle almal uitnooi om nou alles waarmee julle besig is, net so te los, en dan te gaan doen waarvoor julle lus het. Julle hoef nie meer vir enigiets te betaal nie, alles is op die huis (skip). As daar enige persoon is wat lus is om kroeg toe te gaan, gaan drink net soveel as wat jy kan. As daar enige mans is wat wil gebruik maak van ons lieflike ontklee dames, wel, hulle is tot julle beskikking...verniet. En as daar dalk dames is wat ons Chippendales van naderby wil ontdek, hulle is ook tot julle beskikking... teen geen koste nie....”

Kom, sê nou vir my, wat sal julle eerste reaksie wees? Ek is seker dat die meeste mense onmiddellik van hierdie kanse gebruik sal maak ... ja, baie sal nie eers twee keer nadink oor die uitnodiging nie. Ja, hierdie is darem werklik ’n gawe kaptein. Dis mos nou nie my skuld nie, dis op sy boekie so hoekom nie?

Wel, kom ons neem so bietjie die kamera se fokus verder as net die kaptein in sy kajuit. Soos die kameralens groter word, sien jy ander kajuite wat in fokus kom; jy sien mense wat rondskarrel ... elkeen haastig om uit te kom by dít wat hulle die graagste wil doen; uiteindelik sien jy die hele skip soos hy vaar op die groot oseaan. Dan word die kameralens weer in gefokus op die agterkant van die skip ... op die naam ... TITANIC. As jy hierdie naam hoor, dan het jy net een gedagte: Hierdie skip gaan mos sink ... baie mense gaan verdrink! Ja, nou verstaan jy ook hoekom die kaptein so ’n lekker aankondiging gemaak het ... hy is nie gepla oor die passasiers nie ... hy weet die skip is stadig maar seker besig om te sink, maar hy skep ’n valse beeld van sorgeloosheid. Wat die passasiers egter nie weet nie, is dat die skip binne die volgende paar ure op die bodem van die see gaan lê ... met party van hulle nog daar binne-in gevange.

Dit is presies wat ons teksvers vir ons wil vertel. Hierdie verslawing aan die wêreld, of ons sondige begeertes, klink by die eerste oogopslag baie aanloklik en lekker. Sjoe, jy kan doen net wat jy wil ... jy kan kry wat jy begeer. Ja, dit is mos nou hemel op aarde! Máár wat jy egter nie besef nie, is dat hierdie wêreldse plesierrit binnekort in ’n absolute nagmerrie rit gaan verander ... wat jy nie besef nie, is dat hierdie skip sinkende is. Ja, die koninkryk van die duisternis is ’n sinkende skip, en jy is deel van daardie klomp passasiers wat gaan verdrink in hulle sondes.

Gemeente, omdat ons prediking vandag handel oor die feit dat ons niks anders is nie as dienaars van Christus, wil ek hê ons moet luister na wat Paulus vir ons sê. Sommer die eerste woorde waarmee ons vanoggend begroet is in die Skriflesing, was Paulus se verbasing oor hoe maklik ons afvallig word en ’n ander evangelie aanhang. En dan hoor ons hoe hy amper woedend uitskreeu: “Daar is geen ander evangelie nie” (v 7). Wat bedoel hy daarmee? En watter ander evangelie kan ons tog moontlik aanhang?
Om te verstaan wat hy hiermee bedoel wil ek begin met die einde. Paulus sê in vers 10 die volgende: “As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.” Met hierdie woorde wil Paulus eintlik vir ons sê dat ’n gelowige nie optree in jou eie naam nie, maar in opdrag van die Naam van God. Die oorspronklike Griekse woord, wat ons oor vertaal het met “dienaar”, is eintlik slaaf. Met ander woorde, Paulus sê letterlik hier dat hy ’n slaaf van Christus is! En ons glo mos in die kerk dat ons base het, mense wat bo ons aangestel word ... mense soos die dominee, die ouderlinge en die diakens. Nou lees ons dat een van die grootste kerkleiers homself ’n slaaf noem.
Deesdae ken ons nie meer so iets soos ’n slaaf nie. Die naaste wat ons dalk aan so ’n begrip kan kom, is ons bediendes. Gewoonlik werk hulle vaste ure en boonop kry hulle nog ’n salaris ook. Destyds, in die eerste eeu na Christus, was slawe nog ’n realiteit. ’n Slaaf het geen vryheid of regte gehad nie ... daar was nie iets soos ’n vakbond of unie waaraan hy kon behoort om sy regte, as mens, te beskerm nie. Slawe en slavinne is gewoonlik ook op vendusies verkoop teen die hoogste bieër. Die nuwe eienaar het dan hierdie slawe gemerk soos wat ons vandag beeste brandmerk. Omdat hierdie slawe geen regte gehad het nie, kon hulle mishandel en selfs doodgemaak word as hulle nie doen wat hulle base vir hulle beveel het nie. Daarom moes die slawe maar eenvoudig doen wat vir hom of haar gesê is, ja, hulle het nie ’n keuse gehad nie. Soms het hulle darem goeie behandeling gekry as hulle doen wat hulle base sê.
Maar, geliefdes van ons Here Jesus, die Bybel sê iets heeltemal anders. Die beste base, sê die Bybel, is juis dié wat soos slawe is. Wat word daarmee bedoel? Wel, die persoon wat baas wil wees, moet eers weet hoe dit moet voel om slaaf te wees, jy moet ook weet hoe dit voel om agter in die ry te staan sodat jy uiteindelik voor kan kom. ’n Leier is iemand wat help waar hy kan, dit is iemand wat nie omgee om self te werk as dit moet nie, dit is iemand wat praat van “ons” en nie van “ek” of “my” nie. Ja, ’n leier is nie iemand wat die heeltyd sy eie beuel blaas en bevele uitskree nie, dit is nie iemand wat die heeltyd bedien en “aanbid” wil word nie. Om in hierdie boos en donker wêreld te oorleef, het die kerk vandag sulke mense nodig. Christene wat eerder dienaars wil wees, as base.

Dit is nie net Paulus wat homself ’n dienaar, ’n slaaf, van die Here noem nie. Nee, selfs Jesus se eie ma, Maria, het haarself ’n slavin van die Here genoem in Lukas 1 vers 38: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Nou kan die vraag by julle opkom: Hoe kan ek vandag ’n slaaf, ’n dienaar, van Jesus Christus wees? Wat maak van ons slawe? Wel, kom ek probeer dit so verduidelik: die Here Jesus het ons op die markpleine van hierdie sondige wêreld gesien. Hy het die goeie kwaliteite in ons raakgesien en besluit om ons aan te koop. Ja, Hy het vir ons betaal, nie met geld nie, maar met sy lewe, met sy eie bloed. Ons is slawe van Jesus Christus, Hy is ons Here, of te wel “Baas”. Ons behoort aan niemand anders meer nie! Ons is nou die Here se eiendom (vgl Joh 1:11). Voorheen het ons dalk behoort aan ’n ander “baas”. Die Bybel noem hierdie vorige eienaar die sonde, die wêreld of Satan. Maar nou het ons van eienaars verwissel ... ons behoort nie meer aan die sonde nie, maar aan Jesus Christus. Luister maar wat staan in Romeine 6 vers 18: “Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat Sy wil doen.” Paulus het dit baie goed besef toe hy die volgende woorde geskryf het: “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons leef, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons dan sterwe, ons behoort aan die Here. Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: Om Here te wees van die dooies en die lewendes” (Rom 14:7-9). Daarom moet ons deeglik besef dat ons nie base in die kerk het nie; nie een van ons is die ander se baas of slaaf nie. In die kerk van Jesus Christus is daar net een Baas, en dit is die Here Jesus sélf. Die res van ons is almal slawe en slavinne, broers en susters, medeslawe van Jesus Christus.
En as jy jouself ’n dienaar van Christus noem, dan móét jy doen wat jou Eienaar van jou vra. En wat is dit wat jou Eienaar, Jesus Christus van jou vra? Net een ding: Wees gehoorsaam! Daarom is dit onontbeerlik dat jy soms op tone sal trap, dat jy soms mense - ja, selfs familie - sal moet aanspreek oor hulle leefwyse. Boonop sal jy jouself ook gereeld moet aanspreek oor jou eie leefwyse! Jy moet nie huiwer om reguit te praat nie.
Dit is eintlik baie voordelig en lekker om ’n slaaf van die Here Jesus te wees ... dit is wonderlik om te weet dat jy ’n Eienaar het wat vir jou lief is, en wat jou nie net sien as ’n besitting nie. As dit nie vir jou ’n lekker gedagte is nie, of as jy nie wil hê dat die Here Jesus jou Eienaar moet wees nie, moet jy besef dat jy iemand of iets anders se slaaf gaan wees. Dit is waarom ek vir julle die voorbeeld van die plesierboot gegee het. Ons teksvers sê mos baie duidelik: “Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het ...”
Ja, dink maar wat vang mense alles in die laaste oomblikke van die koninkryk van die duisternis aan. Dit is ’n gejaag en gewerskaf agter wêreldse dinge aan, agter plesier en genot aan, agter aardse skatte aan. Ja, hulle het behoorlik, soos Paulus sê, “afvallig geraak en ’n ander evangelie aangeneem.” Maar daar is géén ander evangelie nie ... julle moet dit baie deeglik besef! Jy kan nie naas die Here Jesus ook nog vir Mammon dien nie, jy kan nie twee base dien nie, want jy sal “óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep ...” (vgl Mat 6:24). En soos ek vir julle gesê het, is Paulus woedend as hy in hierdie brief met die Galasiërs raas. Nie omdat sy eie eer aangetas of sy persoonlike gesag deur die mense ontken word nie, maar omdat hulle met hulle leefwyse God se eer aantas en die enigste ware evangelie verdraai vir hulle eie selfsugtige begeertes, net omdat die kaptein van die wêreldse skip gesê het hulle mag. En daaroor is Paulus baie reguit as hy sê dat die een wat ’n ander evangelie verkondig as die ware evangelie, deur God se vloek getref sal word. Dit maak nie saak of dit jou ouers, jou man of vrou, jou vriende of wie ook al is nie, ja, Paulus sê selfs hý is ook nie daarvan uitgesluit nie, want iemand wat ’n ander evangelie as die ware een verkondig, soek moeilikheid ... jy speel op AVBOB se stoepe!
Gemeente, dit is waarom ons as Christene, as slawe van Jesus Christus, nie kan toelaat dat die kerk ’n ander evangelie verkondig as die ware een nie. En die ware evangelie is dat nét Jesus Christus vir ons die verlossing kan bring, en dat jy aan Sy kerk móét behoort om deel te hê aan sy genade en liefde. As jy dit nie glo nie, as jy dit nie uitleef en verkondig nie, is jy besig om ’n ander evangelie te verkondig. Dan is jy besig om eerder in die mense se goeie boekies te wil bly. Dit is jou plig as slaaf van die Here Jesus om aan Hom gehoorsaam te wees, en daarom moet jy ook vir ander medeslawe aanspoor tot gehoorsaamheid. Jy móét hulle aanspreek oor hulle swak kerkbywoning, die swak uitleef van hulle Christenskap en hulle swak en flou verskonings. Daarom, as jy besig is om met jou kinders, jou ouers of jou familie te praat oor hulle kerklewe, vra jouself af, soos Paulus: “Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom?” (v 10). Wat gaan jou antwoord hierop wees?
Wel, kom ek probeer dit vir julle uit die Bybel beantwoord. Ons lees in 2 Korintiërs 12 vers 14 die volgende: “Dit is nou die derde keer dat ek gereed is om na julle toe te kom, en ek sal nie vir julle ‘n las wees nie: Ek soek nie julle geld nie, maar vir julle ...” Kyk, die mense op daardie plesierboot besef nie dat hulle besig is om onder te gaan nie, hulle besef nie dat hierdie lekker plesierrit in ’n nagmerrie rit gaan verander nie. Ja, die kaptein van die plesierrit van die wêreld, die eienaar van die koninkryk van die duisternis, ja, Satan, is besig om hulle onder ’n valse voorwendsel te verlei. Luister wat staan in 2 Timoteus 4 verse 4b tot 5: “Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God. Hulle sal nog die uiterlike skyn van godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.”

Ek weet dat dit nie maklik is nie. Ek weet dat dit dalk vir jou probleme gaan veroorsaak tussen jou en jou familie of vriende, maar jy moet besluit wat is vir jou die belangrikste: Om in die goeie boekies van mense te bly, of om guns by God te soek? As ’n slaaf van Jesus Christus sal jy partykeer weggejaag word, sal jy dalk leë hande teruggestuur word, sal jy afgemaak word as baasspelerig of beterweterig ... ja, jy sal slae kry ter wille van jou gehoorsaamheid aan die Here Jesus Christus. Verduur maar hierdie houe omdat Jesus in jou plek gespoeg, gegésel en gekruisig is. As jy dit verdra soos ’n slaaf van jou Eienaar, Jesus, al is dit soms nie lekker nie, dan sal jy beloon word. So sal jy nuwe sin en betekenis in jou lewe kry. Jy sal besef dat die Here Jesus se slawe waardigheid het. Ja, hierdie laastes, die slawe van die Here Jesus, sal die eerstes wees in die Koninkryk van God. Maar die eerstes, die slawe van hierdie sondige wêreld, hulle sal die laastes wees op die dag as die Here Jesus weer kom. Dan sal hulle besef dat die kaptein van hierdie wêreldse plesierboot hulle onder valse voorwendsels - verniet, sonder enige betaling - dinge laat geniet het. Dan sal dit te laat wees! Die wêreldse plesierboot sal ondergaan met kaptein en al sy passasiers.
Ek hoop en vertrou dat almal van ons vandag met ’n sekere hart kan sê dat jy ’n dienaar, ’n slaaf, van Jesus Christus wil wees. En as jy dit wil wees, dan moet jy soos Paulus ook kan sê: “As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.”
POSTED BY Steven Sass on 05:41 under


Lukas 15:11-32 Patensie 2013
Die lewe gaan oor keuses.
Baie keer as `n mens deur moeilike omstandighede gaan dan wil ons `n eksterne faktor in ons lewe daarvoor blameer.
 Dit is die duiwel, dit is daardie persoon, God wil my beproef,  dit is a.g.v. my agtergrond en die manier wat ek grootgeword het...Alhoewel hierdie dinge `n bydraende faktor kan wees tot dit wat jy en ek in ons lewens ervaar, is dit nie die oorsaak nie.
Ek hou nie daarvan om `n enkele rede of oorsaak uit te sonder oor hoekom dinge met jou en my gebeur nie, maar seer sekerlik een van die hoof oorsake van dit wat jy en ek vandag ervaar is a.g.v. die keuses wat ons maak op `n daaglikse basis...

As jy vandag kies om die spoedgrens te oorskry kan jy nie die duiwel, iemand anders, God of jou agtergrond daarvoor blameer nie.
 As jy vandag kies om jou huweliksmaat te verneuk, kan jy nie die duiwel, iemand anders, God of jou agtergrond, blameer omdat jou  huwelik op die rotse is nie. As jy vandag kies om nie die maatskappy waarvoor jy werk se reëls en regulasies te handhaaf nie, kan jy nie die duiwel, iemand anders,                God, en jou agtergrond blameer as jy sonder werk sit nie.


 As jy vandag kies om 3 pakkies gunston per dag te rook, kan jy nie die duiwel, iemand anders, God of jou agtergrond blameer as jy sit met longprobleme nie.
As jy vandag kies om op skuld te leef, kan jy nie die duiwel, God, iemand anders blameer as jy nie meer geld oor het nadat jy al daardie                 skuld moet betaal nie. As jy vandag kies om God se Woord nie te gehoorsaam m.b.t. tot finansies dan kan jy nie die duiwel, iemand anders, God of jou agtergrond          blameer omdat daar nie seën op jou lewe is nie.

Die gelykenis van die verlore seun, is `n mooi verhaal wat jou keuses en die gevolg daarvan uitlig.

Daar is baie dinge wat die keuses wat jy en ek maak op `n daaglikse basis beinvloed, en somtyds maak ons die verkeerde keuses in ons lewe, maar in die tyd wat jy daardie keuse gemaak het, het dit vir jou na die regte ding gelyk om te doen.

Ek is seker daardie verlore seun het sy opsies oorweeg, en gedink dat om na `n ver land te reis, sou vir hom `n beter opsie gewees het as om in sy Vader se huis te bly.


Hy het moontlik gesit en worstel met dieselfde probleem as wat menigde tieners mee worstel
·         Hier is niks vir my in Patensie nie, en boonop is my pa te streng, hy wil my nooit die vryheid gee waarop ek geregtig is nie..
·         Ek is moeg vir my werk, ek is seker dat ek iets beters op `n ander plek kan kry.
·         Ek is verveeld met my huweluk - (hie – wil ek uit.)
·         Dinge lyk net doodeenvoudig beter vir my daar as hier.


It feels Free…for a time! (Past Brain Bell)

How many a college students have moved away to a distant land,away from mom & dad, away from accountability, away from
watchful eyes, enjoying there new felt freedoms; that often landed them right on their faces. It doesn’t mean don’t ever move out...just a motive check!  It is like sky diving, wind in your face, living fast,…with no shoot! They felt restrained by home, & attracted by the world.The beginning of all sin is when we no longer enjoy God’s presence, love, & ways.  We become restless when we can’t find satisfaction in God.


Dit maak nie saak wat jy vandag besluit om te doen nie daar is altyd `n prys om te betaal.

Hierdie jong man het die vader gevra om sy erf porsie te kry – om hierdie eksursie van hom te finansiër.
 Jy sien – soveel keer is ons nie bereid om te wag vir dit wat ons reken ons toekom nie, en die resultaat is ons verloor dit – omdat ons nie bereid is om te wag nie. Die jongman was miskien ontevrede met sy loon in die vader se huis,en het gedink dat ek kan beter doen op `n ander plek.


Die Bybel sê nie direk of hy sy erfporsie terug gekry het nie, net dat die Vader hom weer in ere herstel het, en daarmee wil ek sê dat somtyds het die keuses wat ons maak sekere direkte implikasies en repekussies, en wanneer hierdie goed dan in ons lewens realiseer dan is ons spyt oor dit wat ons gekies het.


Daar is 2 baie belangrike dinge wat in ag geneem moet word, wat gaan bepaal of dit wat jy besluit het gaan suksesvol wees of nie.
1. Het ek genoeg dissipline om dit wat ek besluit het deur te voer.

2. Het ek genoeg kennnis m.b.t. die ding wat ek vandag wil aanpak.


Luk 15:13 “Nie lank daarna nie het die jongste seun alles tot geld gemaak en van die ouerhuis af na ‘n ver land toe vertrek. Daar het hy sy geld verkwis deur losbandig te lewe...”



John Mcarthur sê die volgende.
This is stupid, sacrificing your future on the altar of the immediate. He goes on a journey into a distant country. That was the whole point, get as far away from home as you can, far away from accountability as you can, far away from restraint as you can, far away from anybody’s scrutiny as you can. Get out there where you can live exactly the way you want to live and nobody that cares about you is going to know.


Om die lewe te maak werk verg dissipline, en ons is nie altyd totaal losbandig nie, maar ook nie gedissiplineerd genoeg nie. Ons almal het die potensiaal om suksesvol te wees in die lewe, maar nie almal het die dissipline om suksesvol te wees nie

Die ander ding wat daardie jong man se planne in die wiele gery het was kennis.
Hy het niks geweet van die finansiële klimaat van daardie land nie -jy sien `n hongersnood (moderne naam – resessie) kom nie oornag nie, dit bou op oor `n paar jaar.

Hy het seker vir homself gesê – omdat ek nie weet van hierdie goed nie, stel ek nie daarin belang nie, en omdat hy nie belang gestel het nie, het hy nie voorsiening gemaak vir die dag van môre nie


Sy lewe was dan `n selfvervulde profesie
Hos 4:6 “My volk gaan onder omdat hulle nie aan My toegewy is nie. Omdat jy jou taak om hulle aan My toe te wy, verwerp het, verwerp Ek jou as My priester. Omdat jy die wil van jou God te verontagsaam het, verontagsaam Ek die priesters wat onder jou dien.”

`n Groter probleem as `n gebrek aan kennis is gebrekkige kennis – ons weet net genoeg om gevaarlik te wees met die kennis wat ons het.


Dit maak nie vandag saak wat die oorsaak was van dit wat u en ek vandag ervaar nie.
• Jy sien ons kan vandag besef dat ek het verkeerde keuses in die lewe gemaak, op `n hoop gaan
sit en ons self bejammer en nooit weer opstaan en ander keuses wil maak nie.
• Of ons kan besef , ja ek maak nie altyd die regte keuses nie, maar ek gaan leer uit dit wat met
my gebeur en seker maak dat ek maak nie weer dieselfde foute nie


Ons kan nie `n beter resultaat in ons lewens kry as ons aanhou om dinge op dieselfde manier te doen nie.

Daardie jongman het tot inkeer. gekom
Luk 15:17 “Toe kom hy tot inkeer en sê: “My pa het wie weet hoveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger.”


Brain Bell in sy preek “ from rags to ritches” sê die volgende:
He came to himself – like awaking from a dream, he came to grip with reality.  He finally saw himself as he really was & remember his father’s home At this point no hope of restored son-ship, but hopes for a servant position.  It was not the badness of his life that brought him to his senses, but the goodness of his father! [Oh yah!]


Rom 2:4
“God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur Sy goedheid tot bekering wil lei nie?”

Wil jy nie ook vandag saam met my opnuut tot inkeer kom nie? Kom ons kom terug na die Here toe en sorg dat ons in Sy huis bly. Kom kruip saam met my onder sy Vader vlerk in  sodat ons onder Sy wonderlikke beskerming kan leef. Ons kan nie sonder Hom nie, ons kan nie sonder mekaar nie en ons kan nie sonder ons gemeenskap van gelowiges nie. Nerens anders is dit beter as hier nie.... kom huis toe!


Die 6 dinge wat hy gedoen het is belangrik.
1. Hy het gedink oor sy probleem – Hy het tot homself gekom.
2. Hy het onthou – Hoe baie huurlinge van my vader(`n verwysingspunt)
3. Hy het die probleem besit – Vader ek het gesondig (we cannot rectify that which we do not own)
4. Hy Besit die oplossing (maak `n besluit om te verander) – Ek sal opstaan.
5. Hy voer sy besluit uit – En hy het opgestaan en na sy vader gegaan.
6. Hy bely sy sonde – Vader ek het gesondig


 Al is jy vandag besig om die wrang vrugte te eet van dit wat jy besluit het – die Vader wil jou vandag herstel.Inteendel Hy het jou reeds herstel (nog voordat jy die verkeerde keuse gemaak het).Meer as 2000 jaar terug het Jesus die prys betaal daarvoor.
Jy het alles wat jy vandag het om jou probleme op te los reeds binne in jou


2Pe 1:3  “Sy goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te  lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur Sy heerlikheid en mag.”