28April 2013 Patensie
Johannes 21:15-19
Jesus kom na mense
wat Hom in die steek gelaat het
Ons hoor so dikwels van die belangrikheid van
kommunikasie. Miskien is dit nodig in
die lig van die feit dat kommunikasiegapings so dikwels voorkom en kan lei tot
allerlei spanning en skeuringe en verbreking van verhoudings. Selfs in pogins
om verhoudinge te herstel, kom kommunikasiegapings voor. Mense, en dit is almal
van ons, hoor net wat hulle wil. Geen wonder dat daar dikwels soveel
misverstand en verwarring is nie. Dit lyk my dat ons teksgedeelte en die
interpretasie daarvan ‘n voorbeeld is...
Na die opstanding het Jesus mos verskeie kere aan
mense verskyn. Maar dit wil egter voorkom asof Hy veral uitgereik het na mense
wat of gering geskat was (soos die vroue en die Emmausganger) of na mense wat
met probleme geworstel het (soos Tomas en Petrus). Soos Jesus voor Sy
kruisiging in die besonder uitgereik het na die wat Hom baie nodig gehad het,
doen Hy dit ook na Sy opstanding.
Hierdie keer verskyn Jesus aan Petrus en knoop ‘n
gesprek met hom aan. Opvallend is dat Jesus dieselfde vraag driemaal aan Petrus
vra. Dit laat mens onwillekeurig dink aan die feit dat Petrus Jesus driemaal
verloën het. Driemaal het hy toe presies dieselfde gesê: ek ken Jesus nie. Nou
antwoord hy driemaal dat hy Jesus liefhet.
Jesus vra drie keer dieselfde vraag: “Het jy My
lief?” Nou is dit so dat hier in die Grieks verskillende woorde gebruik word.
Die eerste twee keer gebruik Jesus die woord “agape” en die laaste keer die
woord “phileo”, die woord wat Petrus deurgans gebruik. Hiervan is al baie
gemaak en daar is al selfs onderskei tussen goddelike en menslike leifde. Dit
blyk egter uit talle studies en vergelykings dat die woorde eintlik presies
dieselfde beteken. Ons mis die punt waaroor dit gaan as ons hier verskille wil
raaksien, netsoos Petrus die punt waaroor diet gegaan het gemis het.
Dit lyk my
dat dit nie net om die vraag en die antwoord daarop gaan nie, maar dat die klem
moet val op die opdrag wat op die vraag en antwoord volg. Jesus vra eers, dan
antwoord Petrus en op grond van die vraag en antwoord, volg ‘n opdrag. Dit gaan
dan in hierdie gedeelte om die herstel van die verhouding tussen Jesus en
Petrus en die gevolge van die herstelde verhouding.
Petrus se verloening van Jesus het sekerlik tot
gevolg gehad dat daar ten minste innerlike spanning oor hulle verhouding by
Petrus was. Dit het nogsteeds soos ‘n donker wolk oor hom gehang. Nou reik
Jesus uit en wil die verhouding herstel. Daarom vra Hy driekeer: “Het jy my
lief?” Die enigste grond waarop die verhouding kon herstel kon word is liefde.
As die liefde ontbreek is daar geen moontlikheid dat die verhouding herstel akn
word nie.Waar daar egter ware liefde is, is daar geen gronde waarom die
verhouding nie volkome herstel kan word nie.
Die feit dat dieselfde vraag driemaal gevra word,
dui op volkomenheid – Jesus wil 100% seker maak dat Petrus Hom liefhet. Dit
word versterk deur die toevoeging by die eerste vraag: “meer as hulle hier”
(Joh. 21:15). In die Grieks is dit dubbelsinnig. Dit kan of dui op die ander
dissipels of dit kan dui op die ander dinge, met ander woorde sy vroeëre
beroep(visvang). Pas vantevore het ons gelees dat Petrus die leiding geneem het
toe hulle weer die ou beroep begin beoefen het en gaan visvang het. Jesus wil dus
weet of Petrus se liefde vir Hom groter is as die van ander mense en groter is
as sy liefde vir sy beroep. Dit laat mens dink aan die groot gebod: “Jy moet
die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele
verstand (Matt. 22:37). Dit gaan dus om dieselfde beginsel as die samevatting
van die hele tien gebooie.
Elke keer as Petrus Jesus antwoord, gee Jesus aan
hom ‘n opdrag. Daarmee word gesê: “As jy my liefhet, dan is daar iets wat jy
moet doen. Die verklaring van liefde kan nie tot woorde beperk bly nie. Dit
moet uitloop op dade. Wat is dit wat Jesus van Petrus verwag? Hy sê: “Laat my
lammers wei, pas my skape op en laat my lammers wei.” Toe Jesus Petrus geroep
het, het Hy vir hom gesê om Hom te volg en dat hy van nou af ‘n visser van menses
al wees. Hier word die metafoor verander: hy sal nie meer ‘n visser wees nie
maar ‘n herder. Dui dit op die radikale verandering wat daar sal wees?
Die metafoor van ‘n herder word baie dikwels in
die Bybel gebruik. So word dan ook gesê dat God die Herder is(vgl. Bv Ps 23) en
sê Jesus dat Hy die goeie Herder is (vgl. Joh. 10:11). Hier word dus gesê dat
Petrus in die voetspore van Jesus moet volg. Die lammers kan dui op die jonges
of kleintjies, maar dit kan ook dui op die swakkes en die wat sorg nodig het.
Dit lyk my of dit waarskynlik hier die geval kan wees omdat Jesus juis vir die
swakkes ‘n besondere plek het. Hulle staan bo-aan die prioriteitslys.
Eerstens moes voorsien word in die behoeftes van
hulle wat nie instaat is om an hulself om te sien nie. Dan volg die opdrag om
die ander op te pas. Hy moet dus beskermend optree teenoor die kudde van die
Here. Laastens kom die algemene opdrag om te voorsien in die behoeftes van
almal. Ons sou hier dan ook nie te veel skeiding probeer maak tussen die
behoeftes op geestelike en materiële vlak nie. Pas vantevore het Jesus voorsien
in die basiese behoefte aan kos (Joh. 21:12-13). Versorging is ‘n omvattende
begrip. Lees ons dan ook dat Jesus so dikwels die klem op dade geplaas het nie
en gesê het dat geloof vergeefs is as dit nie vergesel is van werk nie?
Die opdrag aan Petrus, so lyk dit vir my, is om na
die gelowiges om te sien en hulle op alle vlakke te dien en te ondersteun. Dit
is ‘n enorme taak. Geen wonder dat Jesus absoluut seker wou maak dat die basis
hiervoor reg is nie. As liefde ontbreek, kan dit nie gebeur nie.
Jesus draai ook geen doekies om nie en sê vir
Petrus dat die uitvoering van dié opdragte geen maklike taak sal wees nie en
selfs sal leit tot lyding en ‘n marteldood. Petrus moes besef: die antwoord op
die vrae van Jesus sal alles van my verg, ja dit sal my lewe vra. Was hy bereid
om alles, selfs sy lewe te gee omdat hy Jesus liefhet?
Aan die begin van Jesus se openbare optrede het
die dissipels alles prysgegee en Jesus gevolg. Tog was daar by hulle die idee
dat Jesus ‘n radikale verandering aan hulle huidige situasie te weeg sou bring
en dat dit daartoe sou lei dat hulle ereposisies sou beklee. Nou gaan dit nie
om ereposisies nie, maar om diensbaarheid en bereidwilligheid om alles prys te
gee ter wille van Jesus.
Ongelukkig lyk dit asof Petrus nie mooi gehoor het
wat Jesus gesê het nie, want ons lees dat Petrus bedroef geword het toe Jesus
dieselfde vraag drie keer gevra het. Hy het die vraag gehoor en daarop geantwoord,
maar skynbaar nie besef dat dit gaan om die opdragte wat gevolg het nie. Hy het
gedink dat dit maar voldoende is as hy sê dat hy Jesus liefhet. Maar dit is
nie, dit gaan juis daarom dat die antwoord lei tot ‘n opdrag wat uitgevoer moes
word.
Hier sê Jesus aan Petrus dat as hy nie omsien na
sy kudde nie, dit ‘n aanduiding sal wees dat hy Hom nie liefhet nie; of
andersom: as Petrus na die kudde omsien; sal dit daarop dui dat hy Jesus liefhet.
Sy liefdesverklaring moes dus konkrete gestalte in dade, wat sy hele lewe moes
omspan, vind.
Wat is die betekenis en relevansie van die
gedeelte vir ons? Dit lyk my dat dit weer eens wil beklemtoons dat Jesus
uitreik na diegene wat onder spanning verkeer. Hulle wat worstel met gebeure en
dade in die verlede. Elkeen oor wie daar ‘n donker wolk hang. Elkeen wat diep
binne ‘n las het om te dra. Wat van tyd tot tyd depressief word en wonder of
dit wat gebeur het, ooit sal verbygaan. En let op: Hy kom nie met verwyte nie, maar
vra net: “Het jy My lief? Het jy My meer lief as enigiets of enigiemand
anders?.....