21 Oktober 2012 Patensie
Skerp woorde in liefde is ook nodig
Matteus 11:20-24; 23:37-39
As ek sou
vra: wat is die eerste ding wat by jou opkom wanneer jy aan Jesus dink, dan sal
die meeste van ons seker sê: liefde. Ja, Jesus is mos die volmaakte voorbeeld van wat liefde is. Hy
is liefde. Hy het vir ons kom wys wat liefde werklik inhou en beteken. Tog is
dit nie al wat ons van Jesus in die Bybel leer nie. Ons moet dan ook nie te
enkelvoudig oor Jesus dink nie.
Matteus
onderstreep ook ‘n ander aspek. Dit loop soos ‘n draad deur die hele Evangelie.
Jesus is ook die een wat skerp oordeel. Van die begin tot bykans aan die einde
van die Evangelie kry ons verwysings daarna.
Reeds in die
Bergrede kom dit baie duidelik na vore. So sê Jesus vir Sy volgelinge dat hulle die sout van die
aarde is. Maar as die sout laf word, dan deug dit vir niks. Dan word dit
buitekant uit gegooi en word dit deur die mense vertrap. ‘n Christen wat nie sy
of haar Christenskap uitleef nie en wat nie die gemeenskap beinvloed sodat dit
aangenaam en goed is nie, is niks werd nie. So ‘n persoon word uitgewerp en
vertrap.
Jesus sê: wie dan ook die geringste van hierdie genooides
ongeldig maak en mense so leer, sal die minstegeag word in die koninkryk van
die hemel. En: “As julle getrouheid nie meer inhou as die van die
Skrifgeleerdes en die Fariseers nie, sal julle nooit in die hemel ingaan nie”.
Dis erg en skerp!
Die
Skrifgeleerdes en die Fariseers was immers die kerkleiers van destyds. Hulle
was baie vroom. Hulle het gereeld na die sinagoge toe gegaan, en was uiters
getrou in die uitlewing van al hul godsdienstige pligte. Hulle het skynbaar
voorbeeldige lewens gelei. Maar Jesus sê as ons nie getrouer is aan die Woord as hulle nie, is
die poorte van die hemel vir ons gesluit.
Net ‘n entjie
verder sê Jesus dat as
jy jou broer uitskel vir ‘n idioot, dit strafbaar is in die helse vuur. Is dit nie
iets waaraan so baie van ons ons skuldig maak nie? Dit gebeur so maklik. Tog
spreek Jesus ‘n baie skerp oordeel hieroor uit.
In die
Bergrede spreek Jesus ook skerp oordele uit oor almal wat nie hulle vyande
liefhet nie. Ook oor mense wat pragtige dinge doen en dit aan die groot klok
hang. As jy dit wat ons as noodsaaklik sien, soos die versorging van armes en
om te bid, in die openbaar doen sodat ander daarvan kennis dra, dan sê Jesus, is dit nutteloos en verkeerd.
Jesus het ook
by verskeie geleenthede Sy dissipels en volgelinge skerp aangespreek. So was
die dissipels by geleentheid baie bang toe die skuitjie waarin hulle was in ‘n
hewige storm wou sink en die golwe oor die dek geslaan het. Maar Jesus raas met
hulle: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?”
By ‘n ander
geleentheid, toe hulle nie ‘n siek seun kon genees nie, noem Jesus hulle ‘n
ongelowige en ontaarde geslag en vra: “Hoe lank moet Ek julle nog verdra?”
(17:17). En so kan ons maar aangaan.
In Matteus
11:20-24 lees ons dat Jesus kras oordele uitspreek oor drie stede: Gorasin,
Betsaida en Kapernaum. Hy oordeel hierdie stede omdat hulle nie ag geslaan het
op dit wat hulle gehoor en gesien het nie. Hulle het Sy wonders gesien, maar
dit het nie sodanige indruk op hulle gemaak dat hulle hulle lewens op grond
daarvan verander het nie. Hulle wy nie hulle lewens aan Hom nie. Hulle gaan
maar aan soos voorheen.
Wat dit nog
erger maak, is dat Hy vir ‘n tyd lank in Kapernaum gewoon en gewerk het. Dit
was dus nie ‘n eenmalige preek en of ‘n eenmalige optrede waarvan hulle getuies
was nie. Jesus het ook talle wonders in Gorasin gedoen. Van die Apostels kom
van Betsaida af. Die mense het dus nie goeie verskonings gehad om nie ag te
slaan op die woorde en dade van Jesus nie.
In Sy oordeel
verwys Jesus na Tirus en Sidon. Hierdie stede was in die Ou-Testamentiese tyd
die simbool van goddelose stede buite Israel. Hierdie stede is later heeltemal
verwoes en slegs die ruines het oorgebly as teken van die eens beroemde, of
liewer berugte stede. Verder verwys Jesus na Sodom... die stad wat simbool was
van goddeloosheid binne Israelitiese grondgebied. Die stad wat verwoes is in
die tyd van Abraham. Dit sal die lot van hierdie stede wees. Hulle sal verwoes
word.
Jesus gaan
verder in Sy oordeelswoord. Hy sê dat die verwoesting nie die einde sal wees nie. In die
oordeelsdag sal die inwoners van al hierdie stede weer eens veroordeel word.
Dan sal dit vir die inwoners van Tirus en Sidon en Sodom verdraagliker wees as
vir Gorasin en Betsaida en Kapernaum. Met ander woorde, daar sal nie ‘n erger
oordeel wees as dit wat vir hulle wag nie.
Wat hierdie oordeelswoord
van Jesus nog erger maak, is die feit dat dit nie gaan oor gruwelike dade wat
die mense gepleeg het nie. Hulle het hulle nie skuldig gemaak aan volksmoord of
verkragtings of moord of enige sodanige gruwelike sondes nie. Wat hulle wel
gedoen het, is om die boodskap van Jesus te ignoreer. Hulle wou nie hulle
lewens verander nie. Hulle hoor maar doen nie wat Jesus eis nie.
Is dit nie
maar presies wat vandag nogsteeds gebeur nie? Ons hoor en hoor maar gee nie
gehoor nie. Ons doen nie wat Hy vra en eis nie. Ons leef nie in liefde teenoor
God en ons naaste nie. Ons steur ons nie besonder baie aan Sy Woord in ons
daaglikse lewens nie. So min is daar te sien in die praktiese uitlewing van die
Boodskap van die Bybel. En as ons dood eerlik is met mekaar, moet ons erken dat
ons gemeenskap skokkend baie lyk soos die gemeenskappe van Gorasin, Betsaida en
Kapernaum. Die vraag kom dan of ons hierdie woorde en hierdie skerp oordeel van
Jesus ter harte neem. Of lees ons maar daaroor of lees dit glad nie, en dink
dat hierdie gedeelte net van toepassing was op daardie stede en nie meer betrekking
het op ons nie. Nee, hierdie woorde is ook aan ons gerig. As ons nie luister na
wat Jesus sê en nie leef in
ooreekoms met wat Hy vir ons sê en van ons verwag nie, staan ons onder dieselfde oordeel as
Gorasin, en Betsaida en Kapernaum.
Wie in die
voetspore van Jesus wil volg, moet hierdie woorde van Jesus baie ernsitg
opneem. Dit beteken nie net dat ons ag moet slaan op Jesus se woorde en moet
lees volgens Sy woord en liefdesgebod nie, maar ook dat ons hierdie ernstige
boodskap moet oordra. Dit beteken ook nie dat ons nou net oordeelsboodskappe
moet oordra nie. Dit beteken nie dat ons mense so bang moet maak vir die hel dat
hulle op grond van vrees vir die hel die Here moet dien nie. Dit kan nie, want
dan gaan dit mos nie om opregte diens aan die Here uit liefde vir Hom nie, maar
om “diens” aan die Here sodat ons die hel kan vryspring en dit met ons goed kan
gaan in die lewe hierna. Dan het ons ‘n verkeerde motief vir die “diens van die
Here”. Nee ons moet Hom dien en leef volgens Sy Woord net omdat Hy ons liefhet
en ons verlos het en ons Hom liefhet en Hy ons Vader en Verlosser en Trooster
is.
Dit beteken wel
dat ons nie alles sal goedpraat en verdra en verkeerde lewenswyses oor die hoof
sal sien of sal maak of ons dit nie sien
nie. Ouers mag nie dit wat hulle kinders verkeerd doen goedpraat of maak of
hulle dit nie raaksien nie. Sulke “liberale” ouerskap lei altyd tot latere
ernsige problem. Kinders kan die spoor byster raak as hulle nie reg gehelp word
nie. Hoe baie mense beland nie in ersnstige probleme omdat niemand die moed
gehad het om ernstig met hulle te praat toe hulle begin het om verkeerde dinge
te doen en nie in ooreenkoms met die Woord van die Here te leef nie. Opvoeding
behels ook dat ouers norme en waardes duidelik uitspel en uitleef en eis dat
daarvolgens geleef word. Ons behoort in die voetspore van Jesus te volg deur
ook van tyd tot tyd en altyd wanneer dit nodig is, reguit en hard te praat en
te waarsku. ‘n Harde woord wat ‘n lewe kan red is baie meer woord as ‘n sagte
woord wat lei tot lewens vernietiging.
Wie in die
voetspore van Jesus wil volg, moet erns maak met die skerp oordeelswoorde wat
Jesus uitgespreek het, hulle lewens verander en leef volgens Sy liefdesgebod.
Wie in die voetspore van Jesus wil volg, moet ook soos Hy hierdie boodskap
oordra, al is dit nie gewild of maklik nie....