POSTED BY John Wait on 05:21 under

Jakobus 3:13-18

Die vraag word baie direk aan ons gevra...en let wel aan elkeen van ons....daar kan nie iemand in die Kerk vanoggend wees, maak nie saak hoekom jy hier is nie, wat dalk kan dink dat die vraag nie aan jou ook direk gevra word nie. “Is daar ‘n wyse en vestandige mens onder julle?”

Hierdie vraag sny baie diep, want op verskeie maniere, hoewel nie elkeen se lewens en gedagtes dieselfde is nie, is daar baie van ons wat op een of ander stadium mos oortuig is van ons eie slimmigheid, of wysheid.

Baie keer is ons mos heel opgewonde oor hoe slim ons nou eintlik is, veral as ons iets wou beplan of beraam wat uitgeloop het op sukses. Dan dink ons mos veral dat dit juis is as gevolg van ons eie vermoëns en wyshede. Baie van ons is dan selfs geneig om vir ander te vertel hoe goed ons nou eintlik is met dit of dat en dat hulle eintlik dan by ons moet kom leer! So loop en verkoop ons dus net onsself en prys ons eintlik dan net ons eie sterte.

Maar soos ek reeds gesê het,  sny hierdie vraag baie diep! Die vereiste van hierde wysheid of besonderse vermoëns en kennis,  wat dan in ons lewens partykeer sigbaar geword, is die volgende: Dit moet getuig van goeie gedrag, nederigheid en wysheid... En hierdie is nie sommer sulke kortstondige oomblikke van van helderheid of suskes nie, maar dit is langdurig en blywend.... altyd deel wees van ons lewens...

Nou hoe lyk ons lewens? Die meeste van ons lewens is besaai met momente van “sukses” maar veral ook besaai met tye van mislukking. Die meeste van ons hunker mos na die moment van “sukses” en dis dan waarop baie van ons dan ook ingestel is. Maar juis asgevolg van ons strewes na hierdie suksesse is ons fokus baie keer verkeerd en kan ons dan ook nie verstaan hoekom ons nie altyd dan suksesvol, slim en wys kan wees nie! Dit frustreer ons en maak ons baie keer ook depressief....want ons het mos net die beste van intensies gehad. Ons bedoelling was dan so vreeslik goed gewees. Ons wou mos maar net die beste vir ons en ons kinders en familie gehad het...

Nou wat moet ons fokus dan wees? Want dit lyk as ons fokus reg is sal ons ook sukses en wysheid behaal! Die antwoord is eenvoudig: “Jou fokus moet op God wees! En meer as dit: “Jou fokus moet wees om in ‘n regte verhouding met Hom te wees!” Waneer dit jou fokus dan in die lewe is, wanneer dit jou primêre begeerte geword het, dan sê die Bybel vir ons sal jy die ware wysheid wat van bo af kom verkry.

Hierdie wysheid word dan beskryf met die volgende eienskappe wat dan blywend en altyd deel sal word van elkeen van ons se lewens: Dit is sonder bybedoellings, dit is vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, dit is onpartydig en opreg (Jakobus 3:17)....

....Nou as dit dan deel word van jou lewe, wat dan? Wat maak jy dan hiermee?

Die antwoord is ook netso eenvoudig: Omdat jou fokus dan nou God is en nie meer jou eie wins en voordeel nie, en omdat jy nou in ‘n regte verhouding teenoor God staan, sal jy hierdie wysheid kan gebruik om vrede mee te maak!

Die opdrag kom dus na ELKEEN van ons vanoggend. Gaan uit en gaan wees vredemakers!
POSTED BY John Wait on 17:00 under

1 Kor. 12:4-31. Galasiers 5:22

Die Heilige Gees is die Groot brugbouer. Dit is Hy wat ons in Christus inlyf en aan mekaar verbind. Die Gees lyf ons ook in die liggaam van Christus, in die kerk, in. Hy gee ons deel aan die skatte wat Christus vir ons verdien het...soos regverdiging, heiliging en verheerliking. Deur die gees het ons nou deel aan Christus. Sonder die Gees kan ons nie Christene wees nie.

Die Heilige Gees bou die brug tussen God en die mens. Dit is Hy wat ons oortuig van sonde en van die verlossing in Christus. Dit is die Heilige Gees wat die beeld van Christus al meer gestalte laat vind in gelowiges sodat die beeld van Christus al meer na vore kan kom in hulle lewens. Dit wil sê, gelykvormig aan die opgestane en verheerlikte Christus (Rom. 8:29). Die Gees wil ons dag vir dag lei en help om al meer na die voorbeeld van Jesus te lei....

Dit is soos die kinders wat mens sien grootword...namate hulle groter word, lyk hulle al hoe meer na hulle ouers. Mens sien en hoor algaande veel meer van hulle ouers in hulle. Nie meer net die gelaatstrekke nie, maar ook die persoonlikheidstrekke. Kinders praat soos hulle ouers, gebruik dieselfde uitrdrukkings, die stemme klink dieselfde. Mens sien ook dieselfde geaardhede, hetsy positief of negatief. Hoor ons nie die mense sê: die kind is netso humeurig of verdraagsaam soos sy pa/ma nie? Soms is mens trots daarop, maar soms raak mens maar skaam.

Dit is wat hier ter sprake is: die Gees lei ons om Christus gelykvormig te word. Al meer soos Hy te leef en te praat. Soos Hy op te tree, Sy gesindheid te reflekteer. Is dit dan nie waarvoor ons hier is nie? Het God ons nie gemaak om Sy skaduwee , Sy afskynsel op aarde te wees nie? Het Jesus nie juis gekom sodat ons wat deur die sonde Sy beeld in ons verbreek het, weer kinders en beeldraers van God te kan wees nie?

Die werking van die Gees is nie beperk tot die redding en heil van die individu nie, maar Hy is ook werksaam  in die gemeente. Daarom is die werking van die Gees in die lewe van die gelowige eintlik met die oog op die bedienning aan die gemeente. Die afsonderlike gawes wat die Gees aan die individu gee, is juis om tot voordeel van almal te wees. Die Gees is verantwoordelik vir die verskeidenheid en eenheid in die gemeente (1Kor. 12:7-11).

Eenheid en veskeindenheid: is dit twee aparte entiteite wat teenoor mekaar staan of kan mens in dieselfde asem van eenheid en verskeindenheid praat? Dit is tragies dat ons so dikwels of....of... dink. Ons dink aan of die eenheid of die verskeindenheid. Eenheid en verskeindenheid moet juis saam bedink word. Dit vind ons baie sterk in die briewe van Paulus en veral in 1 en 2 Korintiers.

Paulus praat hier van die liggaam van Chsristus. IN hierdie beeld beklemtoon hy 2 aspekte; in die liggaam is daar groot verskeindenheid van ledemate, maar die liggaam kan alleen sinvol funksioneer as die verskeidenheid van ledemate onderling aan mekaar verbind is.

Te lank het ons eenheid en verskeidenheid eksklusief as opponerende kenmerke van die kerk gesien, in plaas van komplimenterende kenmerke. Eenheid en verskeindenheid bedreig mekaar nie, maar maak eerder mekaar sinvol. Hoe kan ‘n liggaam funksioneer as dit net oë is? Die ledemate moet onderling van mekaar verskil om die liggaam sinvol te laat funksioneer. Netso moet die verskeindenheid van ledemate in ‘n eenheid saamgebind wees. As die oë, vanweë die een of ander versteuring, nie boodskappe na die brein stuur nie, sal die voete byvoorbeeld nie weet waarheen om te loop nie, en dit kan dan daartoe lei dat die voete hulle stamp en die liggaam hom stukkend val. Trouens dit sal nog duideliker word as ons aan die Gawes van die Gees en die wyse waarop hulle funksioneer, dink.

Terwyl die Gees in elke Christen se lewe presies dieselfde vrug dra, gee Hy juis verskillende gawes aan elke mens. Waarom? Elkeen van ons het tog die uitwerking van elke gawe nodig, of dit nou profesie, wysheid of genesing of wat ookal is.

God het dit ook so beskik dat ons nie elkeen al die gawes sal kry nie omdat Hy ons aan mekaar wou bind. Ek is afhanklik van my broer en suster se gawes en hulle is weer afhanklik van myne. Hoe kan ‘n liggaam funksioneer as een arm of been afgeskeur word, of die oë uitgehaal is? Sal die kerk so kan funksioneer?

Hierdie eenheid en onderlinge verbondenheid van Christene blyk ook uit die vrug van die Gees in ons lewens. Die vrug van die Gees verbind mense aan mekaar terwyl die praktyke van die sondige natuur mense uitmekaar skeur. Liefde, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, en nederigheid is saambindende eienskappe. Vyandskap, naywer, skeuring en partyskap skeur mense uit mekaar en verbreek die gemeenskap.

Die vrug van die Gees is gerig op die eenheid onder Christene. Trouens, Paulus het die Efesiërs bevel om hulle daarop toe te lê om die eenheid wat die Gees tussen hulle gesmee het, te handhaad (Ef.4:3). Dit beteken allereers dat die eenheid die werk van die Gees is. Hierdie eenheid is kosbaar, maar word so dikwels bedreig. Daarop moet Christene hulle daarop toelê om dit te beskerm en te bewaar. Die eenheid moet bewaar word deur in vrede met mekaar te leef. Mekaar te aanvaar. Mekaar te ondersteun en op mekaar te steun, mekaar te dra en te verdra. Dit gaan oor konkrete en sigbare eenheid. Mense moet kan sien dat ons een is....

Maar hoe dikwels lê ons nie klem op of die eenheid of die verskeidenheid nie. Die Heilige Gees is die Brugbouer tussen mense. Hy wil ons aan mekaar bind. Juis in ons verdeelde wêreld met sy baie verskille waarin ons so dikwels teenoor mekaar staan, wil Hy eenheid bring.

Dit volg net as die Heilige Gees eers die gaping tussen ons en die Here oorbrug het. Net as ons een is met God, kan daar eenheid tussen mense wees. Eers aan God verbonde, dan aan mekaar verbonde. Dit kan ons nie uit onsself nie. Dit kan ons alleen deur die Heilige Gees, die Groot Brugbouer.

Dit beteken dat ons teenoor ander geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing openbaar (Gal. 5:22). Die Heilige Gees wil ons van dag tot dag vernuwe sodat ons in volle gemeenskap met die Here, in liefde en vrede met onsself en ander sal leef, tot die  opbou van die gemeente en bevordering van die wil en eer van God kan leef.