POSTED BY John Wait on 16:54 under

Psalm 19:8-15

Ons wil tog so graag hê dat ons kinders “volmaak” moet wees. Hoekom!? Dalk is dit, omdat ons self al agtergekom het dat ons nie self volmaak is nie...of het jy dit nog nie agtergekom nie?

Jy is vol foute en jy is vol tekortkominge...en jy gaan defenitief nie als sommer so eensklaps regmaak deur jou kinders en jou vrou of man dalk te probeer blinkpoets, aanmoedig, forseer, omkoop of ompraat nie. Jy kan nie omdat jy diep in jouself weet van als wat jy dalk anders wou gedoen of anders wou gehad het, jou kinders of jou geliefdes in die een of ander super wese verander nie.

Ons almal is maar net doodgewone mense met ons foute.... nie een van ons is volmaak nie....

Maar hoekom het ons dan hierdie dryf, hierdie strewe na volmaaktheid, na ‘n ere plek? Daar is soveel elemente in elkeen van ons se lewe wat skreeu van die soeke of begeerte na die een of ander vorm van volmaaktheid...hoekom? Ek dink die antwoord is baie makliker as wat ons dink.

Ons is mos gemaak, elkeen met ‘n doel op aarde. Elkeen met iets wat ons moet bereik. Nou wat is die heel belangrikste “iets” wat jy moet bereik? Is dit dalk om jou eie motor te besit, jou eie huis of strandhuis, jou eie stukkie grond?

Nee, dit het als te make met Hom wat ons gemaak het. Met God wat vir ons met hierdie een doel voor oë geskape het....naamlik om naby aan Hom te leef en deur ons lewe ons optrede en ons denke eer aan God te bring! Dis hoekom ons hierdie ingeboude strewe ook het na die goddelike, na die volmaakte. Ongelukkig mis baie van ons die punt en  “streef” na die verkeerde doelwit, naamlik selfverheerlikking, en erkenning. Jy wil darem ook gekên word, of hoe?

Nou wat is dan volmaak? En hoe kan ons dan iets van hierdie volmaaktheid deel van ons maak, of ons kinders of man of vrou maak? Die antwoord kom uit die gedeelte wat ons sopas gelees het, naamlik: “Die woord van die Here is volmaak”. En nog verder as dit: “...dit gee lewe”.

So eenvoudig kom God se Woord nou na jou toe. Sy woord is volmaak natuurlik! Want sy woord kom tog uit hom uit, dus...  moet dit volmaak wees. Dit is betroubaar, dit gee wysheid aan jou wat nog onervare is, dit gee vir ons die regte koers aan, dit bring blydskap, dit gee insig, dit is goed, en staan altyd vas, dit is reg en regverdig, dit is kosbaar.... Elke liewe eienskap is perfek. En hier is die groot geheim, elkeen van die eienskappe van die Woord van God, is juis die tipe eienskappe wat ons graag self wil wees, wat ons vir ons kinders wil hê! Nie waar nie?

Dus as jy al hierdie perfekte eienskappe, hierdie volmaaktheid wil hê, as jy elkeen van hierdie eienskappe aan jou kinders wil toedig, moet jy sorg dat jy ook vanuit God (want Sy woord wat volmaak is, kom mos uit Hom uit) moet leef, vanuit God moet wees!

Maar so baie keer voldoen ons nie eers naastenby aan ons lewensroeping nie. So baie keer verloor ons fokus, en dan forseer ons nog ons eie verwronge aspirasies af op ons kinders en ons geliefdes.

In Matteus 20 lees ons van 2 dissipels se moeder wat vir Jesus vra om haar seuns ‘n ereplek langs Hom in Sy koninkryk te gee. Sy is totaal ingestel op die “sukses” en beloning van haar kinders. Om haar idees van sukses en beloning dan af te dwing as’t ware selfs op die Here, ontsien sy ook niks en niemand nie. Sy is nie eers bewus van God se idée van sukses of beloning nie, en dit lyk nie eers of dit haar pla nie.

Soos baie ma’s is sy ook nie eers bekommerd of iemand anders in die proses seer kry of te na gekom word nie. Haar seuns was tien teen een nie eers self op soek na so ‘n ere plek nie, maar sy was baie seker oor die plek wat sy gedink het haar kinders verdien.

 Dit is so dat baie ma’s en pa’s tot die uiterstes sal gaan om te sorg dat hul kinders volmaak moet wees, selfs aan die regter en linker kant van God te moet sit!

Baie van ons ma’s en pa’s netsoos die ma van die twee dissipels vergeet dat hulle eintlike plig en roeping met hulle kinders is eintlik om te sorg dat hulle kinders in die hemel moet kom, en dat dit die heel belangrikste beloning  van ons lewens is....

Nou goed; dis duidelik dat ons as ouers se roeping dan moet wees om te verseker dat ons kinders hemel toe gaan, maar die vraag kom weer onmidddelik op: Hoe werk dit dan prakties? Hoe verseker ek my geliefdes se beloning by die Here?

Die eerste stap is om self seker te maak jou eie enigste doelwit in die lewe is om die Here te verheerlik en naby Hom te wees en om vanuit Hom te leef! Jy kan tog nie ‘n situasie hê waar ‘n ongeredde die evangelie en weg tot saligmaking verduidelik moet word aan iemand anders nie.

Maak jou eie saak onmiddelik reg. Ondersoek jouself en gaan op jou kniee en bid dat God jou genadig sal wees en dat hy jou sal gebruik soos wat Hy wil. Besef ook dat jy nooit jou roeping sal kan verwesenlik vanuit jou eie kragte nie. Jy kan baie keer sommer alreeds in jou kop of gedagtes al moed verloor.  Romeine 12:2 sê dit so duidelik: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Deur te lank net oor alles na te dink kan jy dalk nog tou opgooi nog voordat jy eers probeer het om te doen wat die Here vir jou gesê het om te doen. Dan raak jy depressief.

Ons moet anders dink, jy sal moet besef dat jyself kan nooit jou eie lewe verander nie, maar as jou gedagtes en denke met God s’n vereenselwig word, sal jy sukses en beloning in jou lewe ervaar. Hoe kan jy jou denke dan verander...? Deur dit elke dag met God se Denke, met Sy Woord te programmer....

Ek sluit af met die laaste gedeelte van Psalm 19: 12:... “wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.”
POSTED BY John Wait on 07:27 under

Daniel 7

Dit is nou eenmaal so dat ons almal graag wil weet wat die toekoms gaan inhou. Miskien is dit juis so omdat die toekoms onbekend is en ons weet goed dat ons nie weet wat die dag van more gaan inhou nie. Ongelukkig is dit ook so dat ons dikwels gegewens uit die Bybel gebruik om die toekoms te bepaal en beskryf. Die boek Daniel word soms ook gebruik om sulke toekomsvoorspellings te maak. Die doel van die boek was en is nie om die toekoms te voorspel nie. Die skrywer het oorspronklik ten doel gehad om sy tydgenote te bemoedig en hulle wat onder moeilike omstandighede geleef het, aan te moedig om in geloof te volhard en getrou te bly aan die Here. Dit is dan ook die oogmerk met hierdie hoofstuk.

Die skrywer maak hier  van ‘n besondere manier gebruik. Op beeldryke wyse word ‘n oorsig oor die geskiedenis gegee. Dit word gedoen in die vorm van ‘n visioen. Visioene was destyds een van die bekende wyse waarop kennis oorgedra is. Wat behels hierdie visioen en wat is die betekenis daarvan?

Hierdie visioen val in drie dele uiteen. In die eerste deel sien Daniel vier diere wat uit die see uitkom. In die tweede deel sien hy ‘n hofsitting en in die derde ‘n persoon wat op die wolke kom en tot koning gekroon word.

Daniel sien vier stormagtige winde wat oor die see waai en ‘n geweldige storm veroorsaak. Dan kom daar skielik vier diere uit die see. Die eerste lyk soos ‘n leeu, die tweede soos ‘n beer, die derde soos ‘n luiperd, en die vierde soos ‘n skrikwekkende monster wat nie soos enige ander dier was wat ons ken nie. Hy het alles verslind wat voorkom en wat oorbly, het hy vertrap. Dood en verwoesting het hy gesaai. Hierdie dier het tien horings gehad. Terwyl Daniel kyk, het ‘n elfde horing uitgekom. Die horing het drie ander horings uitgeruk. Dit het oë en ‘n mond gehad en het baie verwaande dinge kwytgeraak.

Nou verskuif die fokus. Daar word reggemaak vir ‘n hofsaak. God neem Sy plek as Regter in. Hy is die Gesagvolle en Heilige wat deur miljoene gedien word. Teenoor die onrustige en verwoestende diere uit die see, staan die Here as die rustige wat volkome in beheer is. Ons lees dan nie van die hofsaak self nie. Niks word gesê oor die aanklagte en die verhoor nie. Daar word sommer dadelik verskuif na die vonnisse. Die heerskappy van die diere word weggeneem en die laaste dier word vernietig.

Weer skuif die fokus. Daniel sien ‘n persoon wat in die wolke aankom na God toe. Hierdie persoon ontvang dan die heerskappy en koningskap. Sy koningskap sal nie ophou nie en sal universeel wees. Hierdie PERSOON staan teenoor die diere. Hulle kom uit die see, die plek van die doderyk en chaos. Hy kom van die hemel, die woonplek van God. Die diere saai verwoesting, bring ongeluk en dood en hulle triomftyd word beëindig deur geweld. Hy kom om ‘n ewige en universele ryk daar te stel.

Daniel word bang en is ontsteld oor die visioen. Wat kan dit tog beteken? Hy wat vir die konings hulle drome uitgelê het, kan nie hierdie visioen uitlê nie. Die uitleg word deur ‘n engel gedoen. In daardie tyd  was die opvatting algemeen dat engele gesante van God is wat na die aarde kom en die wil van God aan die mense bekend kom maak. Dit gebeur ook hier. Hy gee eers ‘n oorsig oor die visioen. Die vier diere  verteenwoordig vier wêreldryke en die persoon die heiliges van die Allerhoogste wat sal triomfeer.

Die vier diere verteenwoordig die groot wêreldryke van destyds. Die eerste, die leeu verteenwoordig die Babiloniese Ryk. Die beer die Ryk van die Mediërs, die luiperd die Persiese Ryk en die monster die Hellinistiese of Grieks-Masedoniese Ryk. Die eerste drie word byna net in die verbygaan genoem en die klem val op die laaste tydperk. Dit kan begryp word omdat dit die tyd is waarin die skrywer geleef het. Die eie tyd is die tyd van belang.

Die vierde Ryk begin met Aleksander die Grote wat binne ‘n ommesientjie die hele destydse bekende wêreld onder sy mag gekry het. Hy is opgevolg deur tien konings en daarna het daar ‘n elfde na vore gekom wat anders was as al die voriges. Die konings was waarskynlik: Aleksander die Grote, Seleukos l, Antiogos ll, Seleukos ll, Seleukos lll, Antiogos lll, Seleukos lV, Demtrios en Antiogos lV Epifanes. Hier val die klem weer die eie tyd en dan veral op die regering van Antiogus Epifanes. Hierdie koning word al hoe magtiger en arroganter. Hy laster teen die Allerhoogste. Dit verwys onder andere na die feit dat Antiogus ‘n beeld van Zeus in die tempel in Jersualem opgerig het. Hy het ook die heiliges van die Allehoogste vervolg. Dit is welbekend dat Antiogus aanvanklik probeer het om die gelowiges op verskillende maniere oor te haal om die Griekse godsdiens en kultuur aan te hang. Toe hy nie daarin kon slag nie, het hy hulle gedwing om offers aan die Griekse gode te bring. Hy het die wat nie gehoor wou gee nie, vervolg en selfs om die lewe gebring. Dit klink nie na ‘n boodskap van troos en hoop nie.

Die engel sê egter dat die heerskappy van Antiogus beperk is. Hy sal net vir die vasgestelde tyd daar wees. Dan sal die hof sit en sy koningskap sal weggeneem word en hy self sal sterf. Die heerskappy en mag en grootheid van al die koninkryke op aarde sal gegee word aan die heilige volk van die Allerhoogste.

Die hoofstuk is in die eerste plek geskryf vir die gelowiges wat in die tyd van Atiogus Epifanes geleef het. Hulle het baie gely vanweë hulle geloof. Hulle is gedwing om ander gode te dien. Hulle is verbied om die Here alleen te aanbid. Hulle is vervolg en selfs om die lewe gebring as hulle aan die Here getrou gebly het. Na hulle kom die boodskap: al lyk alles donker, is God nogsteeds in beheer. Die wêreldryke en hulle konings is in God se hande.

Dit is die boodskap ook vir ons. God is in beheer. Ook in ons tyd lyk dinge maar ook partykeer baie donker. Dis asof daar uit die chaos van ons tyd allerhande diere en monsters ook na vore kom. Die lewe word soms so moeilik gemaak. Wat kan ons tog doen? Leef ons nie ook in ‘n tyd dat daar gesê word dat alle godsdienste gelyk is nie? Leef ons dan nie ook in ‘n tyd waarin daar geëis word dat mense begrip moet hê vir ander godsdienste nie. Word Christelike godsdiens onderrig nie uit ons skole geweer en verban nie?

Mens kan dit ook toepas op individue en hulle persoonlike omstandighede. Mens kry swaar en wonder hoe lank die onderdrukking sal voortduur. Dis vir almal wat ly dat hierdie boodskap kom: God is steeds in beheer...