POSTED BY John Wait on 18:04 under
Eksodus 15:22-16:7

Wie van ons het nie bekommernis nie? Wie van ons kan in alle eerlikheid sê: Daar is absoluut niks waaroor ek my nie bekommer nie? Het bekommernis nie ‘n inherente deel van ons lewenswyse geword nie?

Miskien bekommer jy jou oor jou gesondheid, jou huwelikslewe, jou kinders, jou finansiële toestand, jou werk of dalk jou plaas, of besigheid? Miskien oor jou geestelike lewe of die kerk? Miskien oor ons land of ons toekoms?

Bekommernis, het die Spreukerdigter gesê: is die einde van vreugde(Spreuke 14:13), elders sê Spreuke: “Bekommernis in die hart van die mens druk dit neer”(Spreuke 12:25). As ons rondom ons kyk dan sien en ervaar ons so min vreugde en blydskap. Mense loop in die strate, met kommer wat uit die stroewe gesigte en tam houdings blyk. Baie van ons mense is so teeneergedruk, platgedruk deur bekommernis.

Iemand het eenkeer so raak gesê: “Bekommernis bedek nie net die blink van ons vreugde nie; dit roes ons lewe langsamerhand dwarsdeur.Daar is slegs een middel om die blink ongeskonde te bly bewaar, en dit is om dit elke more met geloof en lewensblyheid te vryf.”

Bekommernis kan baie negatiewe gevolge hê. Daar is daagliks honderd en een dinge wat jou heeltemal tereg besorg, maar as jy jou net laat gaan, sal hulle jou gou onderkry en sal jy van die een depressie na die ander beweeg. Sodoende groei daar ‘n atmosfeer van onbehaaglikheid in en rondom jou. Dan stort jy nie alleen jouself in die ongeluk nie, maar ook jou gesinslede, jou familie, jou vriende en almal wat bekommerd is oor jou. Bekommernis is die grootste moordenaar van  die liefde. Dit laat jou voel soos wanneer ‘n drenkeling aan jou vasklou. Jy wil hom graag help, maar jy weet hy gaan jou verwurg in sy paniek.

Bekommernis kan tot depressie aanleiding gee. Dokters en sielkundiges se spreekkamers sit vol mense wat so volhard het in hulle bekommernis dat hulle in een of ander vorm van depressie verval het.

Dui bekommernis nie dalk ook op ‘n gebrek aan geloof en geloofsvertroue nie? Iemand het eenmaal gesê: “Bekommernis is om ‘n las te dra wat God ons nooit opgelê het nie.”

Natuurlik is dit so dat diep gelowiges ook met groot bekommernisse rondloop en dat ons geloof ons nie vrywaar van bekommernis nie. Inteendeel, gelowiges kan ook depressief word. Dink maar net aan Elia wat die woestyn in geloop het, onder ‘n boom loop lê het en gewens het hy kan sterf omdat alles om hom donker geword het en hy het nie meer kans gesien het vir die lewe nie. Die vraag is net: hoe hanteer ons ons bekommernisse?

In Eksodus 15 en 16 lees ons van ‘n depressiewe volk van die Here. Dit gaan hier oor die bekommernis van die Israeliete en hulle hantering van hulle bekommernisse. Kom ons kyk daarna, want dalk gee dit vir ons riglyne, dalk leer ons hoe ons nie ons bekommernisse behoort te hanteer nie.

As die Here hulle verlos en hulle deur die see lei en hulle vyande vernietig, sing hulle van blydskap. Maar die oomblik as hulle swaarkry, as hulle sonder kos of water is, dan verdwyn die vreugde. Dan word die bekommernis oor wat hulle sal eet en drink allesoorheersend. Danbekommer hulle hulle en sê: “Wat moet ons eet en drink?”

Die oomblik as hulle hulle begin bekommer, begin hulle verwyt. Hulle verwyt hulle leiers as hulle sê: “Julle het ons in die woestyn uitgelei om hierdie hele vergdadering van honger te laat sterwe”(Eks. 16:3). Hulle bekommernis lei niet net daartoe dat hulle vertroue in hulle leiers verloor nie, maar dat hulle ook hulle vertroue op die Here verloor. Hulle verwyt die Here. Hulle verwyt Hom omdat Hy hulle uit Egipte verlos het. Hulle bekommernis verdryf hulle geloof in die Here; hulle vertroue in die Here; hulle liefde vir die Here. So breek hulle kommer heeltemal af.

Maar nog meer. Hulle bekommernis lei daartoe dat hulle alleen na die verlede hunker. Hulle verlang terug na die vleispotte van Egipte. Maar was die verlede so wonderlik as wat hulle nou in ‘n toestand van depressie maak? Nee. Hulle idealiseer die verlede. Hulle siening van die verblyf in Egipte is nie waar nie, want toe hulle in Egipte was, het hulle geroep om uit Egipte verlos te word...

Hulle bekommernis lei daartoe dat hulle nie meer wil leef nie. So word hulle tipies depressiewe mense wat net moeg is vir die lewe, wat nie die mooie te midde van moeilike omstandigehede raaksien nie....

Die arme Israeliete! Hoe kon hulle tog so dwaas gewees het? Hoe kon hulle tog so bekommerd, so depressief geword het? Dit dan pas nadat hulle die grootste verlossingsdade van die Here aanskou en beleef het.

Miskien het hulle gedink as die Here ons verlos het, sal alles seepglad verloop. Dan sal daar geen probleme meer wees nie. Toe moes hulle op die harde manier ontdek: die pad van die verloste loop ook deur die dorre woestyn van swaarkry en lyding...

Hier in die woestyn het hulle bekommerd geword. Maar hier kon hulle ook leer wat Petrus later vir die gelowiges wat diep gely het, skryf: Werp al julle bekommernis op Hom wat sorg vir julle. Dit was nie nodig dat hulle bekommerd en selfs depressief geraak het nie. Die Here het voorsien. By Mara het Hy die bitter water soet gemaak. Hy het hulle gelei na Elim waar twaalf fonteine was. Hy het water uit die rots laat borrel. Die Here het hulle gevoed met manna en kwartels. Hulle bekommernis was vergeefs...want hulle het geleer, dat dit niks baat om jou te bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet en wat julle sal drink nie.(Matt.)

Wees nie bekommerd, of besorgd, of depressief nie. Glo net. Die Here is jou God wat jou verlos het. Jou lewe is in Sy hande, Hy sorg vir jou, Hy dra jou...

Mag ek weer vra: “Is jy bekommerd? Druk die kommer van die lewe jou plat sodat jy mismoedig en pessimisties voel? Sodat jy wil uitroep: “Ek kan nie meer nie?”

Ons leef in ‘n kommervolle wêreld. Is ons deel daarvan? Ons wat onlangs nog gejuig het oor die verlossing van die Here, ons wat gehoop het: nadat die Here ons vrygemaak het, sal hierdie swart kommerwolk verdwyn.

Nou lê alles soos ‘n berg voor ons. Bekommer ons ‘n geliefde wat siek is; oor ons huwelik; oor ons kinders; oor ons werk;oor ons finansies. Dit voel asof ons niks daaraan kan doen nie, ons word depressief. Die bekommernis verdryf alle vreugde en maak ons lam en passief, en dan begin die verwyte teenoor ander, dan begin ons mos die fout by ander soek. Miskien sê ons: dit is die Here se skuld dat alles so gebeur... dan verloor ons perspektief en hunker ons ook na ‘n verlede wat ons geïdealiseer het maar wat eintlik nooit so bestaan het nie. Dan sien ons nie meer kans vir die hede of die toekoms nie.

Miskien sê ons ook... ek wens ek was eerder dood. Ag as die Here my maar net wil kom vat.

Nee, ons mag nie. Ons behoort nooit ons bekommernisse so te hanteer nie. Eintlik het Israel op die wyse glad nie hulle bekommernisse hanteer nie. Verwyte, veridealisering van die verlede en verlies van perspektief, wanhoop en die wens om te sterf, is tog nie positiewe hanteringsmeganismes nie. Dit lei tot niks, behalwe om dinge verder te vertroebel en te verduister...

Die Israeliete moes leer dat God ‘n plan met hulle gehad het. Hy was met hulle op pad van die land van onderdrukking na ‘n eie land waar hulle vry kon wees. Isarel moes leer dat die Here vir hulle sou sorg. Hulle moes nie angstig rondkyk nie, Hy sou hulle beskerm en dra, Hy sou versorg, Hy het water, kwartels en manna voorsien...netso moet ons ook nie angstig rondkyk nie...dieselfde Vader wat vir gister gesorg het, sal vandag en more sorg. Ons moenie ons bekommernis hanteer soos die Israeliete nie....ons moet net op God vertrou en op Hom wag...sonder om ons oor onnodige dinge te bekommer....
POSTED BY John Wait on 05:30 under
Johannes 3

Die inhoud van gesprekke hang af van die partye wat aan die gesprek deelneem. Mens kan nou eenmaal nie met ‘n kind van driejaar dieselfde gesprek voer as met ‘n volwassene nie. Die ontwikkelingsvlak, verwysingsraamwerk en konteks van ‘n gesprek bepaal die vlak van die gesprek.

Johannes 3 is ‘n weergawe van een van die diep gesprekke wat Jesus gehad het. Trouens, in die Evangelie van Johannes vind ons meer diepte gesprekke as in enige van die ander Evangelies. Dit is insigself insiggewend en dui op die geestelike diepte van die skrywer en van die ontvangers en eerste lesers van Johannes se evangelie.

Jesus voer hierdie gesprek met Nikodemus. Hy het een aand laat na Jesus gekom om met Hom te praat. Nikodemus was ‘n Fariseër en lid van die Joodse Raad. Hy was dus ‘n gesiene man  en erkende leier in die gemeenskap. Die Joodse Raad het immers bestaan uit verteenwoordigers van die verskillende godsdiesntige groepe. Die leiers van hierdie groepe, wat die Fariseërs en Saduseërs ingesluit het, het op die Joodse Raad gedien. Die Joodse Raad was die hoogste Raad. Daar kan dus nie twyfel wees dat Nikodemus ‘n man van statuur en aansien was nie.

Nikodemus was ‘n Fariseër. Ons het nogal dikwels ‘n negatiewe persepsie van die Fariseërs, maar ons moet egter onthou dat die Fariseërs eintlik een van die groot “kerke” van destyds was. Daar was toe veral vier “kerke”, naamlik die Fariseërs, die Saduseërs, die Selote en die Esseners. Anders as vandag, was daar destyds baie groter skakeling tussen die kerke en het hulle gesamentlik in die tempel aanbid(alhoewel nie altyd gesamentlik in die sinagoges nie) en gesamentlik die feeste gevier. Die Fariseërs was baie toegewyd en gesteld op die suiwerheid van die leer en op die nakoming van die Wet, soos baie gelowiges vandag nog.

Nikodemus kom een nag na Jesus toe. Dit word nie gesê dat dit in die geheim was nie. Mens kan eerder daaraan dink dat dit eintlik die beste of selfs die enigste tyd vir so ‘n gesprek was. ‘n Gesprek wat nie verlaag word deur die teenwoordigheid van baie mense nie, dis nie ‘n twisgesprek nie, nie ‘n stryery nie, net ‘n eerlike diep gesprek. Daarvoor is die stilte van die nag die beste tyd. Die feit dat Jesus hierdie diep gesprek met Nikodemus voer, dui op Jesus se waardering van sy geestelike vlak.

Nikodemus begin die gesprek met ‘n belydenis oor Jesus: “Ons weet dat U ‘n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat U doen as God nie by hom is nie”. Hy het dus al na Jesus geluister, hy het Jesus al sien optree. Nie van hoorsê nie, maar op grond van eie waarneming weet hy dit. Hieruit blyk sy respek vir Jesus.

 Jesus se antwoord gaan nie oor homself nie. Hy vertel vir Nikodemus dat niemand die koninkryk van God kan ingaan tensy hy nuut gebore word nie.

Nikodemus is nie passief nie...hy praat met Jesus. Hy vra vrae en kom met argument, hy vra om verduidelikings...hier is aktiewe dialoog aan die gang. Nikodemus is bereid om te sê dat hy nie verstaan nie en dat dit nie vir hom logies klink nie. Hoe kan ‘n volwassene nuut gebore word?

Nikodemus stel vir elke gelowige ‘n voorbeeld. Maak tyd om met Jesus in gesprek te tree. Ons kan maar met Hom praat, ons mag maar vrae ook vra. Ons kan sê wat ons nie verstaan nie, en ons kan ook sê as dinge nie vir ons sin maak nie. Leer ons dit nie dwarsdeur die Bybel nie? So het Habakuk en Jeremia en Job mos ook met die Here gepraat.

Ons dink te dikwels dat ons net passief moet luister. Dit leer die Bybel ons nie. Maak tyd en praat met Jesus.

Jesus wys daarop dat Hy nie van ‘n nuwe fisiese geboorte praat nie, maar van ‘n geboorte uit die Gees en dit is belangrik om te weet dat Johannes niks meer oor die water gesê het nie. Jesus verwys dan na die wind wat waai waar hy wil. Mens weet nie vanwaar die wind kom en waarheen dit gaan nie. Ons kan maar  net die werklikheid  van die wind aanvaar en dit beleef. So, sê Jesus, gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.

Ons moet goed luister na hierdie deel. Ons wil mos altyd alles verklaar. Ons poog selfs om bekering en wedergeboorte breedvoerig te omskryf. Sommiges wil selfs stappe voorskryf...maar dis nie wat Jesus hier sê nie. Hier beklemtoon Hy die wonder wat maar net beleef en nie verklaar kan word nie. Miskien moet ons meer ruimte vir die verwondering hiervan laat. Aanvaar dit, glo dit...beleef dit.

In die res van die gesprek met Nikodemus verwys Jesus na twee sake, naamlik die Ou Testament en die wêreldbeeld wat in sy tyd algemeen aanvaar is (laasweek se preek).

In daardie tyd het die mense geglo dat daar twee wêrelde is. Die wêreld daar bo(die hemel) en die wêreld hier onder(aarde). Die wêreld daarbo was mos die wêreld van die lewe, en lig sonder gebrek. Die wêreld hieronder ken die dood, duisternis en gebrek. Die twee het in direkte kontras met mekaar gestaan, en daar was volgens hulle geen kontak moontlik tussen die twee wêrelde nie.

Maar nou kom Johannes en laat die klem daarop val dat Jesus van die wêreld daarbo af gekom het en die twee kom verbind. Deur Hom kan die mens nou deel hê aan die lig, die lewe en die koninkryk van God. Dit is wat Jesus in die laaste gedeelte van Sy gesprek met Nikodemus beklemtoon.

Hy kom van die hemel af. Hy het na die aarde toe gekom om die gaping tussen hemel en aarde te oorbrug. Hy het gekom om God en mens met mekaar te versoen. Hy het gekom om die mens te red. In die opsig verwys hy na die slag wat Moses in die woestyn verhoog het. Toe die slange dood gesaai het, is diegene wat opgekyk het na die slag, gered. Die slang is in die ou tyd gesien as die simbool en die konkretisering van demonise magte wat dood bring. Jesus trek die lyn dan deur en verwys na Sy komende dood. Hy sal verhoog word aan die kruis...nie verhoging in die sin van ‘n hoë posisie nie, inteendeel, dit sal die dieptepunt van Sy lyding wees. Hierdeur bereik die twee uiterstes mekaar. In die verhoging wat die dieptepunt is, breek die lig deur die duisternis.

Deur Sy dood oorwin die lewe. Alles word omgedraai. Nou heers die dood nie meer nie. Daar is redding. Dit beteken die volle en volledige omkeer van alles. Soos Paulus later kon bely: alles word nuut. Die ou dinge het verbygegaan. Die hemel het aangebreek hier op aarde. Die koninkryk van God vind gestalte in jou en my, hier en nou.

Johannes 3 word dikwels die kern van die Bybel genoem. Dit was nie net ‘n diep gesprek tussen Jesus en Nikodemus nie. Dis Sy gesprek met jou vanoggend. Hierna kan ons met blydskap luister. Ons kan elke word hier op onsself toepas en vir onsself toeëin. Tr
POSTED BY John Wait on 07:07 under
Johannes 6:41-7:9

Johannes vetel nogal dikwels in sy Evangelie dat mense Jesus nie verstaan het nie. Omdat mense Hom nie verstaan het nie, was daar telkens verskillende reaksies op Sy woorde en dade. Daar was meer verdeeldheid oor Jesus se optrede as wat daar eenstemmigheid was. Dis helaas nogsteeds so.

Waarom het die mense wat na Jesus geluister het, nie altyd goed verstaan wat Hy gesê het nie? Ons kan verskillende antwoorde gee. Wat Jesus gesê het, was nie in lyn met hulle tadisies nie. Dit het nie altyd ooreen gestem met hulle opvattings oor dinge nie. Hulle het op ‘n ou geykte manier gedink, en Jesus praat op ‘n nuwe manier. Hy ruk hulle en hulle moet nut dink oor dinge. Daarby praat Hy, soos blyk uit die Evangelie van Johannes, nie altyd op maklike manier nie. Mens moet mooi luister en goed nadink oor wat Hy gesê het as jy iets daarvan wil verstaan en begryp.

Dit was nie net destyds so nie. Ons verstaan ook nie aldag mooi nie. Ons is maar netso geneig om op bepaalde tradisionele maniere te dink. Ons begryp ook nie aldag nie omdat ons alles wil verklaar in ooreenstemming met wat ons dink en ken. Ons wil selde nuut en ernsitg dink oor Jesus en wat hy dan gesê het.

In hierdie vorige deel het Jesus vir die skare wat deur Hom gevoed is, gesê dat Hy die brood van die lewe is. Hy is die brood wat God gee en wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee. Dit sluit aan by die algemene wêeldbeeld van destyds.

Die mense het toe gedink daar is eintlik twee wêrelde : die wêreld daar bo, of liewer die hemel, en die wêreld hier onder of die aarde. In die hemel is alles volmaak, dis dan die woonplek van die gode. Daar is lig en algehele afwesigheid van enige gebrek. Die teenoorgestelde is waar van die aarde of die wêreld hier onder. Vir hulle was die hemel en die aarde geskei en was daar geen moontlikheid dat die mens van die wêreld na die hemel toe kon gaan nie. Hulle het hoogstens gedink dat as mens sterf, jou siel bevry word soos ‘n voël uit ‘n kou en slegs dan sal jy iets van die die hemel dalk kon smaak.

Nou sluit Johannes by hierdie beeld aan. Maar hy beklemtoon dat Jesus van die hemel gekom het. Trouens dit doen Hy meer as enige van die ander Evangeliste. Jesus bring so die hemel aarde toe. En Hy open die weg na die hemel. Nou kan die mens wat in Hom glo, deur Hom die ewige lewe hê. Kan die gelowige reeds hier op aarde iets van die hemelse heerlikheid smaak en sal die gelowige na die dood die volheid daarvan beleef. Dit is wat Jesus onderstreep as Hy sê dat Hy die brood van die lewe is.

Die Jode verstaan dit nie. Hulle kan dit nie begryp dat Hy die brood is wat van die hemel af kom nie. Hulle ken dan Sy ouers, hulle ken Sy familie...Nee, Sy koms van die hemel is nie te rym met hulle kennis nie. Rasioneel kan hulle dit nie verklaar nie. Dit pas nie in by hulle kennis en verwysingsraamwerk nie.

In die daaropvolgende gesprek poog Jesus om dit duideliker te maak. Hy noem ‘n paar dinge. Eerstens sê Hy dat niemand na Hom toe kom as die Vader wat Hom gestuur het, die person nie na Hom toe trek nie. Die mens kan nie uit sy eie na Jesus toe kom nie, soos die die mens nie uit sy eie na God toe kan gaan nie. God is mos in die hemel en niemand kan van die aarde by die hemel uit kom nie. Om by Jesus en God uit te kom, is nie die prestasie van die mens nie, maar ‘n genadedaad van God. God trek ons na Hom toe .

“n Bietjie later sê Hy dat die wat na die Vader luister en van Hom geleer het, na Jesus kom. God trek dus nie sommer nie. Hy trek diegene wat luister en leer.

Tweedens sê Jesus dat Hy die gelowiges op die laaste dag sal laat opstaan uit die dood. Wie, in Hom glo, het die ewige lewe. Let op, sal nie eendag die ewige lewe hê nie, maar het nou al die ewige lewe. Is dus nie meer van die aarde aards en sterflik nie, maar lewe. Al sou hy dan sterf, dan sal hy nog opstaan op die laaste dag.

Derdens sê Jesus dat niemand die Vader gesien het behalwe Hy nie. Later sou Hy hierop uitbrei en daarop wys dat wie Hom gesien het, die Vader gesien het. Nie net is kontak met die hemel moontlik nie. Nie alleen kan die mens nou reeds die ewige lewe hê nie, maar die mens kan nou kontak met God hê. So ‘n persoonlike kontak met Hom hê en in so ‘n persoonlike verhouding met Hom staan dat gelowiges as’t ware God sien. Maar dit is alles net moontlik deur Jesus.

Jesus sê dat mense net deel kan hê aan die ewige lewe as jy Sy liggaam eet. Dit het die Jode glad nie verstaan nie. Bepleit Hy dan nou kannibalisme? Hoe kan mens tog Jesus eet? Dis mos nie logies of aanvaarbaar nie? Nee wat, dit kan ons nie aanvaar of glo nie. Die Jode verstaan nie, en hulle verwerp Sy uitsprake.

Jesus herhaal wat Hy gesê het. Laat dit goed gehoor word en insink. Wie nie die liggaam van die Seun van die mens eet en Sy bloed drink nie, het nie die lewe nie. Wie My liggaam eet en My bloed drink, het die ewige lewe.

Nou is dit nie net die Jode wat nie verstaan nie...baie van die dissipels van Jesus sê: Wat Hy nou sê is darem te erg. Dit klink bietjie te kras. Dit kan tog nie! Wie kan dit nou doen?

Jesus hoor dat hulle mor en sê dan dat dit vir die mens onmoontlik is om te glo. Maar dit is alleen deur die Gees dat die mens kan glo. Dit is immers dat as God die mens na Hom toe trek dat die mens kan glo en verstaan. Nog verstaan of aanvaar baie dit nie. Trouens, hulle is so geskok dat hulle omdraai en huis toe gaan en nie meer saam met Jesus wil gaan nie. Baie draai die rug op Jesus. Nou sê Hy darem dinge wat te erg is. Nou verstaan ons nie meer nie. Wat Hy nou sê pas nie in by hulle denke nie.

Dit het nie net toe gebeur nie. Dit gebeur vandag nogsteeds. Baie draai die rug op Jesus omdat die eise wat Hy stel nie inpas by ons denke en opvattings nie. Die ergste is dat baie nog op die oog af saamgaan; in die kerk is, maar lankal nie meer regtig by Hom is nie.

Daar was egter ook ‘n ander reaksie. Sommige van die dissipels bely hulle geloof. By monde van Petrus bely hulle: U het die woorde wat lewe gee. En ons glo vas dat U die Heilige van God is. Al verstaan hulle nie alles nie. Hulle kan net glo. Vas glo dat Jesus die Heilige van God is. Is dit nie nodig dat ons ook soms maar net moet bely nie? Ons verstaan nie alles nie, maar glo vas dat Jesus die Heilige van God is. Dis eintlik al wat Hy vra. Aanvaarding, gehoorsaamheid en die navolging van Sy voorbeeld.

Daar was nog reaksie op Jesus se woorde. Die reaksie van Sy broers. Hulle wil hê dat Jesus na Judea toe moet gaan. Al het hulle geweet dat die Jode Hom wou doodmaak. Uit hulle reaksie blyk dit dat hulle eintlik kwade bedoelings gehad het. So asof hulle moeg is vir Hom. So sarkasties. Hy wil mos bekend en beroemd wees. Dan moet Hy Hom mos openlik aan die wêreld bekend maak. Hoor ons die spot; die vermaaklike toon? Hierdie reaksie is ook een van verwerping. Johannes skryf: Selfs Sy broers het nie in Hom geglo nie.

Nou is dit maklik om vinnig te oordeel. Dit pas egter nie. Ons moet onsself raaksien in hierdie mense en groepe. Reageer ons soos die Jode of soos die wat weggedraai het of soos die broers op Jesus? Of hou ons aan Hom vas soos die ander dissipels? Miskien het ons dit verkeerd gestel. Ons sal mos almal gou-gou sê dat ons saam met Petrus  bely dat Jesus die Heilige van God is en die woorde van die lewe het. Teoreties miskien... Maar wat gebeur in ons lewens? Daar reageer ons almal maar soms soos die Jode en die wat omgedraai en weggeloop of soos die broers wat spot....