POSTED BY John Wait on 10:06 under ,

Lukas 22, Galasiërs 5:13, 6:2

Dink julle ek is net maar julle slaaf.  Is ek voltyds in julle diens? Moet ek net altyd regstaan vir julle? Ek moet net aldag gee en gee en gee en die res van die gesin en familie eis en eis net. Ek is so moeg om heeldag reg te staan en almal te dien. En dan behandel hulle my nog boonop soos ‘n vloerlap. Het ons nie al dikwels hierdie woorde in baie van ons se huise gehoor nie. Het jy dit nie al dalk self gesê nie?

Daar is pa’s wat voel dat hulle net daar is om die res van die gesin te dien. Hulle verwag van hom om altyd reg te staan. Hy moet almal help, hy moet sorg dat daar kos op die tafel is. Hy moet betaal vir alles. Hy moet die huis en tuin versorg en sorg dat alles wat kan loop in ‘n lopende toestand is. Hy moet altyd beskikbaar wees vir die vrou en kinders. Geen wonder hy voel soms soos ‘n gebruiksvoorwerp nie. Sommer maar net almal se bediende.

Daar is seker nog meer ma’s wat voel dat hulle almal se slavin is. Sy moet altyd regstaan met die kos en klere. Sy moet sorg dat die huishouding soos ‘n goed geoliede masjien werk. Sy moet in almal se behoeftes voorsien. As pa sy vinger klap moet sy spring, as boetie of sussie skree moet sy maar daar wees. Haar hele lewe word opgeslurp deur man en kinders. En dan is daar so bitter min erkenning en dankbaarheid.

Daar is kinders wat ook voel dat hulle die onbetaalde gesinslawe is. Seuns voel mos maar dikwels dat die ma’s die dogters voortrek en dat die dogters niks hoef te doen nie terwyl die seuns al die harde en ondakbare werk moet doen. Hulle moet die gras sny en swembad skoonmaak en nog baie meer. So voel die dogters weer dat die seuns nie hulle kant bring nie. Die dogters moet die huis skoonmaak en wasgoed en skottelsgoed was.

Ons dink mos maar almal dat die ander dit altyd makliker het. Ons kry so swaar. Ek is maar net die gesinslaaf.

Agter hierdie woorde en gesindheid, lê ‘n diepgewortelde strewe na mag. Ons wil eintlik net die belangrikste wees. Ons wil die ereplek beklee. Ons wil gedien word. Dit was nog altyd so.

Josef wou ook so graag gedien word. Dit blyk duidelik uit sy drome en die manier waarop hy dit oovertel het. Dit blyk ook duidelik uit die feit dat ons by meer as een geleentheid lees dat die dissipels ook gestry het oor wie die belangrikste was en dat sommiges selfs vir Jesus gevra het om die ereplek in Sy koninkryk te beklee. Kom ons wees maar eerlik: droom ons nie almal maar daarvan nie? Ons wil die belanrikste wees. Ons wil die hoof wees. Ons wil gedien word. En nie net by die werk nie maar by die huis ook.

In Lukas 22:24 lees ons dat daar onenigheid onder die dissipels ontstaan het oor wie die belangrikste was. Die dissipels het vir alle praktiese doeleindes soos ‘n familie gefunksioneer met Jesus aan die hoof van die huishouding of familie. In hierdie familie het daar dan nou ook onenigheid ontstaan. Wie is die belangrikste? Dit is tragies dat dieselfde onenigheid vandag nog in baie families voorkom. Daar is so dikwels spanning oor wie die belangrikste is.

Wat hierdie situasie nog meer tragies maak, is die feit dat hierdie onenigheid pas voor die dood van Jesus na vore kom. Dit vind plaas pas na die laaste avondmaal en die instelling van die nagmaal! Dit moes dan nou juis ‘n besonderse en gewyde tyd gewees het. Nou word dit so verlaag deur ‘n gestryery oor wie die belangrikste is.

Maar moenie oordeel nie. Ons maak ons mos al te dikwels hieraan skuldig. So rondom ‘n groot fees of belangrike geleentheid raak ons mos aan die baklei oor beuselagtighede. Nog voor die dood van ouers raak kinders aan die stry oor die erfporsie en wie die belangrikste is. Dan spat baie gesinne en families uitmekaar.

Jesus praat met hulle. Hy wys daarop dat dit by die nasies so is: die koning speel baas. Maar die wêreldse gesindheid pas nie in die koninkryk van God nie. Hier geld ander beginsels. Hier gaan dit nie om eie mag en aansien nie. Die belangriskte onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien. Die een wat dien, is die belangriskte! Die orde word dus omgeraai!

Jesus sê dit nie net vir Sy volgelinge nie. Hy het dit ook van Homself gesê. Hy het mos gesê: die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as die losprys vir baie. Dit het Hy nie net gesê nie, maar ook gedoen.

Hy het heirdie belangrike kernwaarheid van die koninkryk van God prakties gedemonstreer. Hy het gekom om te dien. Dwarsdeur Sy lewe het Hy gedien. Hy het uitgereik na siekes en hulpbehoewensdes. Hy het Hom ontferm oor die wat in nood verkeer het. Hy het die verworpenes met ope arms ontvang. Hy het almal gedien. Ja, tot aan die kruis het Hy ons gedien en Sy lewe gegee as losprys vir ons. Hy het die volmaakte voorbeeld vir ons gestel. Wat Hy vra, doen Hy eers…

Hierdie woorde van Jesus het ook betrekking op ons familielewe. Ook in gesins- en familieverband geld die beginsel van die koninkryk van God; die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat leier is, soos die een wat dien.

Dit geld vir ons almal. Al te dikwels wil die man baasspeel. Die vrou en kinders moet hom dien, want hy is mos koning. Of die vrou…die man moet net na haar pype dans en alles doe nom in haar goeie boekies te bly. Die kinders moet mooi in hulle spore trap, want as ma nie gedien word nie, is die gort gaar. Ons kry dit ook onder kinders: ek is die bealngriskte… en party kinders kry dit selfs reg om hulle ouers so te manipuleer dat alles om hulle draai en die ouers in hulle diens staan, en ons kry dit veral in Christen gesinne. Dit rym glad nie met die beginsels wat Jesus hier stel nie. Dit rym nie met die voorbeeld wat Jesus gestel het nie. Die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees.

In Galasiërs 6:2 skryf Paulus: “Dra mekaar se laste, en gee op die manier uitvoering aan die wet van Christus.” Dit geld ook vir die gesninslede en in die gesinslewe. Dien mekaar in liefde. Dra mekaar se laste. Help mekaar. Staan mekaar by, ondersteun mekaar… nie uit dwang nie, nie omdat dit jou plig is nie, nie omdat iemand dit van jou eis nie. Dien mekaar in liefde. Die man dien sy vrou omdat hy haar liefhet. Die vrou dien haar man omdat sy hom liefhet. Ouers en kinders dien mekaar uit liefde.

So moet ons ook in gesninsverband mekaar se laste dra en so uitvoering gee aan die wet van Christus. Man en vrou moet mekaar ondersteun. Moet mekaar se laste dra. Ouers en kinders moet mekaar help en bystaan. Ouers het soms swaar laste om te dra en waaronder hulle knak. So is daar ook kinders wat swaar laste moet dra. Laste wat hulle nie alleen kan dra nie. Wat baat dit as ons praat oor die liefde van Christus as ons nie mekaar se laste dra nie?

Die woorde van ons teksvers roep ons vanoggend op tot selfondersoek: hoe gaan dit in ons huise? Wil ons baasspeel en ander domineer en manipuleer? Stel ons net eise? Of is ons die geringste; bereid om te dien? Dien ons mekaar uit liefde? Dra ons mekaar se laste? Is die gesindheid van Christus ook in ons lewens sigbaar? Is ons bereid om die minste te wees en te dien?
POSTED BY John Wait on 04:16 under ,

2 Kronieke 9:1-12

“Ons vrouens is slimmer as wat ons lyk”, dit moet ons mos dikwels hoor. Hoe waar is dit nie! Laat ons dit maar in liefde erken: vrouens is netso slim, indien nie slimmer as mans nie. Daar is baie wyse dames in ons midde. Soos daar deur die eeue nog altyd baie wyse dames was. In die Bybel lees ons dikwels van wyse vrouens. Vrouens wat netsoveel insig indien nie meer nie, as mans gehad het.

Die koningin van Skeba was een so ‘n wyse vrou. Sy het te hore gekom van die legendariese wysheid van Salomo. Nuuskierig, soos baie vroeuns maar ook kan wees, besluit sy om self te kyk of dit nie weer ‘n geval is van grootpraat nie.

Die feit dat sy besluit om self ondersoek in te stel, is positief. Sy eet nie alles vir soetkoek op nie en glo nie sommer alle strories nie. Dit gee alreeds ‘n aanduiding dat ons hier met ‘n wyse vrou te doen het. Sy het toe self na Jerusalem toe gekom om Salomo met moeilike vrae te toets. Miskien is dit die eerste aanduiding van wysheid: moenie alles sommer glo nie. Stel selfondersoek in. Toets die stories en gaan maak self seker of die gerugte waar is. Moenie soos baie mense op loop raak met stories en gerugte nie.

As die koning by Salomo kom, “het sy met hom gepraat oor alles waaraan sy kon dink” (2Kron. 9:1). Sy voer ‘n ingeligte gesprek met hom. Dis byna ‘n skaakspel. Sy luister nie net na sy praatjies nie. Sy stuur die gesprek in bepaalde rigtings. Sy het beplan en voorberei. Sy toets sy kennis nie net op een vlak nie, maar op verskeie vlakke en onderwerpe. Om dit te kon doen, moes sy self ingelig gewees het.

Dis net ‘n wyse mens wat oor ‘n verskeidenheid onderwerpe intelligent kan praat. Hier het ons nie iemand wat sommer instorm en haar begewe op tereine waarvan sy nie kennis dra nie. “n Wyse dame wat ‘n navolgingswaardige voorbeeld stel.

Salomo het nie sleg afgekom nie. Inteendeel, dit blyk dat die sotries oor sy legendareise wysheid nie oordryf was nie, want ons lees: “Salomo het vir haar ‘n antwoord gehad op al haar vrae. Niks was vir Salomo onverklaarbaar nie: hy kon haar op alles antwoord”(2Kron. 9:2). Twee hoogs intelligente mense was hier in gesprek met mekaar.

Die wyse koninging van Skeba erken die wysheid van Salomo. “Die koninging van Skeba het onder die indruk gekom van Salomo se wysheid” (2Kron 9:3). Dit kos ‘n groot en wyse persoon om die wysheid en insig van ‘n ander te erken. Al te dikwels is dit nie die geval nie en slaan jaloesie uit. Mense kan tog so lelik wees as hulle besef dat die ander persoon oor meerdere kennis, insig of wysheid beskik. Dit is nie ‘n slegte idée dat ons na onsself sal kyk en vra of ons so wys soos die wyse koningin optree nie.

Wat verder opvallend is, is die feit dat die koningin van Skeba nie net na Salomo se woorde luister en op grond daarvan ‘n oordeel fel nie. Sy kyk holisties en let ook op na sy optrede. “Die koningin van Skeba het onder die indruk gekom van Salomo se wysheid, die tempel wat hy gebou het, die geregte op sy tafel, die manier waarop sy amptenare aangesit het, die bedienning van sy tafelbediendes met hulle monderings, sy skinkers met hulle monderings, en van die optog wanneer hy na die huis van die Here toe gegaan het. Haar asem het daarvan weggeslaan”(2Kron. (:2-4).

Sy kyk wyd en diep. Niks ontgaan haar skerp waarnemingsvermoë nie. Die hele prentjie beindruk haar. Is dit nie ‘n teken van wysheid nie? Ons kyk so dikwels net na een aspek en mis die volledige prentjie. Miskien moet ons leer om breër te kyk na dinge…

Die wysheid van die koningin van Skeba kom verder na vore in haar reaksie. Sy sê dat dit wat sy gehoor het, oortref dit wat sy vooraf gehoor het. Sy sê verder dat sy onderdane bevoorreg is om ‘n koning van sy statuur te hê. Haar wysheid kom veral na vore in haar volgende woorde: “geloof sy u God, die Here, wat aan u soveel liefde bewys dat Hy u op Sy troon gesit het, ‘n koning deur u God, die Here self aangewys!. Dit is omdat u God vir Israel liefhet en die volk vir altyd wil instand hou, dat Hy u as koning oor hulle aangestel het om die orde en die reg te handhaaf”(2 Kron. 9:8).

Ware wysheid is om die bron van wysheid te erken! Wysheid kom nie vanself nie. Dit is nie iets wat die mens self het of kry nie. Dit is ‘n geskenk, ‘n gawe van die Here. Hy is die bron van wysheid. Hy gee dit aan mense. Dit is ook nie iets waaroor enigiemand kan roem nie. Dis iets waaroor wyse mense maar net in dankbaarheid voor Hom kan kniel en Hom erken.

Wysheid is dit wat ons in ander moet raaksien en erken en waaroor ons die Here moet loof. Geloof sy die Here wat wysheid aan mense gee. Dank die Here vir wyse mense. Dank die Here vir wyse leiers. Die volk of die gemeenskap wat hulle wyse leiers het, is gelukkig. Ook dit is ‘n genadegawe van die Here- Hy gee wyse leiers aan die volk en gemeenskap en familie en diegene wat Hy liefhet.

Die wyse koningin van Skeba gee aan Salomo besonder baie en groot geskenke. Sy gee so erkenning aan wat sy gesien en gehoor het. Om op tasbare wyse erkenning te gee, is ook mos ‘n teken van wysheid. Dit hoef nie deur duur geskenke te wees nie. Miskien moet ons ook leer om op tasbare wyse erkenning te gee…

Die koning van Skeba is beslis nie die enigste wyse vrou waarvan ons in die Bybel lees nie. Daar was en is, so baie wyse vrouens. Daar is so baie mooi vrouens:mooi van binne, vrouens vol wysheid en insig. Hoe tragies is dat ons dit nie aldag sien en erken en wardeer nie. Miskien kan mens die woorde van die koninging van Skeba bietjie aanpas en sê dat die gesin van wyse vrouens geseënd is. Ons is geseënd omdat die Here ons ma’s en vrouens liefhet. Sal ons nie met groter waardering na die hele prentjie rondom ons vrouens en ma’s kyk nie: na wat hulle by die huis doen en berek en hoe hull eons en ander onthaal en die tusite skep en alles om hulle mooi maak nie; ‘n veilge hawe vir ons kinders; ‘n wonderlike tuiste vir hulle mans. “n Wyse vrou wat die Here liefhet is so oneindig kosbaar.

Wyse vrouens is gawes van die here. Omvou haar met liefde en wardering. Dank en loof die Here vir haar…

POSTED BY John Wait on 07:18 under

Genesis 24, 25:19-34,27

Van droomvrou tot rugsteker. Dit is die tema van die verhaal van Rebekka. Dit is helaas ook die verhaal van so baie sedertdien. Die verhaal word vir ons in die Bybel vertel as spieël waarin ons na onsself moet kyk. Die verhaal wat ons oproep tot selfondersoek en optrede. Gaan ons soos sy leef of wat gaan ons doen.

Die verhaal van Rebekka begin so romanties. Destyds was dit veral die pa se verantwoordelikheid om toe te sien dat sy kinders, en veral sy seuns, getroud kom. As mens onthou dat die lewensverwagting destyds maar gemiddeld om en by veertig was, kan mens maklik verstaan dat kinders baie jonk getrou het. Dan is dit nog meer verstaanbaar en aanvaarbaar dat die ouers die grootste sê in die keuse van ‘n huweliksmaat gehad het. Geen wonder dat die oorgrote meerderheid huwelike gesluit is na onderhandelinge tussen die ouers van die bruid en die bruidegom nie.

Getrou aan die gebruike is Abraham baie berkommerd dat hy sal sterf voor sy seun Isak getroud is. Hy laat sy oudste slaaf sweer dat hy vir Isak ‘n geskikte vrou uit sy stam sal soek. Die slaaf gehoorsaam. Hy maak die soeke na ‘n vrou vir sy baas se seun ‘n gebedsaak. Nou verwag mens mos dat sulke gelowige optrede geseën sal word. Wat gaan gebeur?

Nog voor hy klaar gebid het, sien hy ‘n pragtige jong meisie! ‘n Beeldskone maagd kom na hom toe aangestap. Mens kan nie anders as om die slaaf se mond te sien oopval nie. Die meisie is nie net beeldskoon nie, sy is boonop baie vriendelik.

As hy vra: “Laat my tog ‘n bietjie water drink uit jou kruik”, antwoord sy: “drink gerus meneer!” Sy doen meer as wat hy vra, sy bied ook aan om sy kamele te laat drink. Sy is hardwerkend, want ons lees dat sy nie net die kruik leegmaak in die krip sodat die kamele kan drink nie, maar dat sy heen en weer tussen die put en die krip hardloop om te sorg dat die kamele genoeg kry om te drink. En al drink die kamele nie elke dag nie, kan hulle baie drink. “n Pragtige gasvrye flukse meisie! “n Droomvrou. Geen wonder die slaaf het haar met kosbare geskenke oorlaai nie (Gen.24:22). Die meisie is boonop nog gasvry. As hy vra of hulle nie dalk slaapplek vir hom het nie, bied sy dadelik en sonder huiwering aan dat hy die aand by hulle kan oornag. Weer gaan sy verder as wat verwag kan word en bied sommer nog voer vir die kamele ook aan. Dit is opvallend. Sy gaan raadpleeg nie eers haar ouers en kry nie eers goedkeuring nie. Sy tree selfstandig op. Vir daardie tyd was dit nogals iets besonders…

Die slaaf se gebede is verhoor. Hy gaan sommer dadelik oor om te onderhandel oor ‘n huwelik. Hierdie droomvrou moet hy vir sy baas se seun kry! Beter kan dit nie. Die onderhandelinge loop nou goed af. Hy wil so gou moontlik terug gaan. Haar ouers wil dat hy nog ‘n dag of tien bly, maar hiervoor sien hy nie kans nie. Dan gebeur nog iets besonders, die ouers raadpleeg die dogter  en laat die finale sê aan haar oor. Sy besluit dat sy dadelik met die slaaf sal gaan. Sy aarsel nie en wil die voorgenome huwelik nie uitstel nie. Weereens tree sy selfstandig op.

Sy is nie net beeldskoon, hardwerkend, gasvry en vriendelik nie, maar ‘n vrou in eie reg wat self dink, self besluit en die daad by die woord voeg. Sy hink nie op twee gedagtes nie en vat nie ‘n ewigheid om tot ‘n besluit te kom nie. Inderdaad ‘n droomvrou.

Sou ons, en veral alle vroue, nie ons graag met hierdie droomvrou wou identifiseer nie? Inderdaad stel sy ‘n voorbeeld by uitnemendheid. Vriendelik, gasvry, hardwerkend. Iemand wat besluite kan neem en dit tot uitvoering bring.

“n Rukkie daarna, as sy oppad na haar voorgenome man en huwelik op ‘n dag ‘n man sien nader kom, en vra wie dit is, hoor sy dat dit haar bruidegom is. In ooreenstemming met die tradisies en gebruike, versluier sy haar gesig. Dit was die teken dat sy ‘n maagd en hubare meisie is. Haar toekomstige man moet nie verlief raak op haar uiterlike skoonheid nie. Hy moet darem ook bietjie dieper kyk.

Van die huweliksluiting lees ons niks, ook nie van die fees wat daarmee saamgaan nie. Is dit nie jammer nie? Ons lê mos so baie klem op sulke dinge, maar hier val die klem op die regte plek. Ons lees hier dat hulle getroud is en dat Isak haar liefgehad het (Gen. 24:67).

Al het hy haar nie self uitgekies en het romantiese liefde nie ‘n rol gespeel in die keuse van ‘n huweliksmaat nie, het ons baie duidelik ‘n liefdesverhaal. Isak het Rebekka liefgehad! Dit is die eerste keer in die Bybel dat ons so uitdruklik lees dat ‘n man sy vrou liefgehad het. Dit is so belangrik. Dit is die fondament. Liefde, respek, eerbied, agting. “n Droomvrou in ‘n droomhuwelik! En inderdaad sou almal van ons ook wou hê dat ons huwelike gekenmerk moet word deur liefde! My man het my lief! Ek het my vrou lief!

In die derde toneel word die ideale beeld voortgesit. Die droomvrou is onvrugbaar, en destyds was dit ook iets verskrikliks. Om kinders te kon hê was die hoogste prioriteit in die huwelik. Ons lees dat Isak tot die Here gebid het oor sy vrou, want sy was kinderloos (Gen.25:21). Isak bid vir sy vrou. Hulle probeer nie allerhande dinge nie, hy bid. Is dit nie nog ‘n aanduiding van ‘n wonderlike huwelik nie? Moet ons nie by hom leer en meer bid vir die onvervulde ideale van ons eggenotes nie?

Die Here verhoor Isak se gebed. Rebekka word swanger. Maar dinge loop nie al te lekker nie. Sy worstel selfs met die vraag hoekom sy so swaar moet kry met die swangerskap. Ook op die vraag kry sy ‘n antwoord. Dis omdat sy ‘n tweeling verwag. Boonop sal die tweeling twee volke word wat vir altyd in stryd met mekaar sal leef. “n Stryd wat tot vandag toe nog voortduur. Gebedsverhoring beteken nie altyd dat alles van daardie oomblik voor die wind sal gaan nie. Daar kan moeilike en baie swaar tye volg op die aanvankilke gebedsverhoring. Isak het gebid. Rebekka het swanger geword maar dit was die begin van ‘n lang en bitter stryd. “n Stryd wat nie net die twee seuns geraak het nie, maar die gesin geskeur het en van die droomvrou ‘n rugsteker gemaak het. “n Stryd wat na eeue nog steeds voortduur.

Die twee seuns het soos dag en nag verskil. Die verskille het hoe langer hoe duideliker na vore gekom. Dit het gelei tot spanning. Essau was ‘n man van die veld. Sy pa se droomseun. Geen wonder dat sy pa hom voor getrek het nie. Jakob weer was ‘n sagte en rustige kind wat by die huis gebly het. Hy was sy ma se oogappel.Sy het hom voor getrek. So het elke ouer ‘n witbroodjie gehad (Gen25:28). En dit werk nooit nie. Dit lei tot meer spanning en groter wedywering.

In die laaste toneel waarin Rebekka verskyn, het ons ‘n heel ander prentjie van die eens droomvrou. Nou is sy en haar man al oud. Hy vrees dat hy binnekort kan sterf. Hy roep sy geliefde oudste seun en vra hom om gereed te maak om sy seen te ontvang. Maar Rebekka het ander planne. Sy luister die gesprek af. Sy het nie respek vir Isak se privaatheid nie, en vertrou hom nie meer nie. Sy beraam ‘n slinkse plan om Isak, haar man wat haar liefhet, te dwarsboom. Sy beraam nie net die plan nie. Sy voer dit uit. Dis soos ‘n goed beplande misdaad – wat dit inderwaarheid ook was.

Dit was vir ons aan die begin maklik om met Rebekka te identifiseer. Maar nou? Die vraag is of ons nie baie keer netsoos sy optree nie. Ons vertrou mekaar nie meer nie. Ons skend ook mekaar se privaatheid. Ons maak ook ander planne. Ons belieg en bedrieg mekaar, net om ons eie sin te kry. Op die ou ent is ons ook maar net sulke rugstekers soos Rebekka. Al is dit nie ten opsigte van sulke skynbaar groot sake soos hier die geval was nie. Maar is daar nou groot sonde en klein sondetjies; goot rugstekery en klein rugstekerytjies?

Het Rebekka geslaag in haar doel? Skynbaar ja. Isak het wel vir Jakob geseën. Hy word nou die eersgeborene en ontvang ‘n dubbele erfdeel. Maar gou-gou hoor Rebekka ‘n ander gesprek.

Sy hoor dat Essau vir Jakob wil doodmaak. Weer beraam sy ‘n plan. Weer lieg sy vir haar man. Nou moet Jakob vlug. Die eersgeborene met die groot sosiale aansien en dubbele erfdeel, word ‘n vlugteling met niks het nie! Sy ma se rugstekery het hom duur te staan gekom!

Miskien moet dit vir ons ‘n les wees. Sonde slaag nooit nie. Dit bereik al te dikwels die teenoorgestelde van wat ‘n mens daarmee wil bereik. Dit raak die wat die naaste aan jou is en wat jy wil bevoordeel dikwels slegter as vir jou. Hierna verdwyn Rebekka van die toneel. Hoe tragies. Van droomvrou tot rugsteker… Hoe lyk dit met ons?