POSTED BY John Wait on 19:36 under ,
Genesis 40
                                                                       
Drome is ‘n uiters boeiende verskynsel. Sigmund Freud het ‘n boek geskryf met die titel, Die Traumdeutung (Die verklaring van Drome) wat hom wêreldberoemd gemaak het.

Ek is self geen droomdeskundige nie. Tog wil dit voorkom of daar iets soos beroepsdrome bestaan. Skinkers droom van druiwe; bakkers van brood. Droom en werklikheid is klaarblyklik op ‘n wonderlike, soms verwarrende, wyse met mekaar verweef.

Ongetwyfeld bestaan daar iets soos dominee-drome. In ‘n tipiese dominee-droom bevind jy jou in wat die Hollanders noem jou “houte-broek” d.w.s die preekstoel. Hoe jy daar gekom het, weet jy nie. Wat jy moet sê, weet jy nog minder. Waarom jy in jou pajamas is, weet jy nog die minste. Word jy wakker voel jy, soos die skinker en die bakker na hulle drome, ietwat bedruk.

In die Ou Ooste is drome dikwels as goddelike openbarings beskou. In die Bybel gebeur dit nie so dikwels nie, maar daar is wel uitsonderings. In die ou Statevertaling se weergawe van Genesis 37: 19 bestempel Josef se broers hom spottend as die “meesterdromer”. Ook Josef die vader van Jesus, is nog ‘n voorbeeld. Maar eintlik is openbarings in drome in die Bybel meer uitsondering as reël. Die “Bewaarder van Israel wat nie sluimer of slaap nie”, word eerder ge-assosieer met ‘n toestand van wakker-wees as met die droomwêreld waar jou onderbewuste jou allerlei parte mag speel.

Miskien kan ons sê dat die skepping uit verskillende grade van wakkerwees bestaan. Die grootste deel van die skepping verkeer altyd so min of meer in ‘n droomtoestand. Ook ons mense, die wakkerste deel van die skepping, slaap glo omtrent ‘n derde van ons lewe. Sommige meen selfs dat ons wakkerwees, ons wêreldbewussyn en selfbewussyn, ‘n siektesimptoom, ‘n patologiese afwyking is. Hulle verlang terug na die diereryk.


In die Bybel is die rigting van ons verlange egter nie rugwaarts na die diereryk nie, maar vooruit na die Godsryk. Dan eers sal ons werklik wawyd wakker wees. Dit is daardie werklikheid waarna God se Gees, die Gees van die Toekoms wat uitgestort is anderkant kruis en opstanding, ons nou reeds roep met die woorde (Efesiërs 5:14): “Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig.” Want ook ons wakkerwees kan soms so verwarrend wees, byna asof ons lewe self ‘n droom is wat ‘n verdere verklaring nodig het.

OOK ONS WAKKERWEES IS VERWARREND. Josef lê nou wel die skinker en die bakker se drome uit, maar hoe moet ‘n mens die skrille kontras in die twee se lewenslot verklaar? Waarom word die skinker vrygestel en die bakker tereggestel? As iemand tog net hierdie raaisel vir ons kan oplos; hierdie geheimenis kan verklaar. Besonder pynlik word van beide letterlik in die Hebreeus gesê dat hulle hoof verhoog sal word. In die skinker se geval het dit ‘n figuurlike betekenis en dui op sy verhoging uit die tronk tot die koninklike paleis. Vir die bakker beteken dit letterlik dat dat hy aan ‘n paal, ‘n vloekhout, verhoog (opgehang) sal word waar die voëls van die hemel sy vlees sal vreet. Waarom word die een verhef en die ander getref? Wat kan tog die verklaring daarvan kan wees?

Dit is hierdie soort “waaroms” wat dikwels dreig om alle lewensvreugde te laat verdamp. Soms het jy die onrustige suspisie dat jou voorspoed die gevolg is van ander se leed; dat ander ly sodat jy gelukkig kan wees. Jy het meermale die vermoede dat die een se verkiesing die ander se kruis is. In ons gelese gedeelte wil dit voorkom of die bakker se dood, die skinker se brood is. Dit laat mens wonder of die skinker toe daarin kon slaag om op die farao se fees die bakker se brood deur sy kake te kry.

As jy tog net ‘n verstaanbare patroon kan ontdek. As jy net met sekerheid kan vasstel dat dit met goeie mense goed, en met slegte mense sleg gaan. Job se vriende het gereken dit is die wyse waarop die wêreld in mekaar sit. Die boek Job is egter geskryf om alle Jobstroosters van hierdie illusie te verlos. Was die 18 mense (Lukas 13) op wie die toring van Siloam geval het skuldiger as al die ander inwoners van Jerusalem? Nee, sê Jesus.

In Genesis 40 is geen spoor daarvan te vind dat die skinker onskuldig en die bakker ‘n skurk was nie. Van albei lees ons in vs. 1 dat hulle verkeerd opgetree het teenoor hulle koning. As die een skuldig was, geld dit ook die ander. Die skandalige wyse waarop die skinker na sy verhoging aan die koninklike hof skoon van Josef vergeet het, tel ook nie juis in sy guns nie. Dit staan in skrille kontras met wat ons lees in Lukas 23: 42, 43 waar die medeveroordeelde misdadiger aan die kruis vir Jesus vra: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom”, en dan uit Jesus se mond verneem: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”. In Genesis 40: 14 vra Josef uitdruklik vir die skinker: “Maar wanneer dit goed gaan met jou, moet jy aan my dink en moet jy my ‘n guns bewys.” In vs 23 lees ons egter: “Maar die hoof van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, hy het van Josef vergeet.”

Dit is hierdie soort verhaal waarvan die lewe vol is, wat jou natuurlike sedelike besef soms geheel en al in verwarring bring. Net soos die arbeiders wat volgens Matteus 20 reeds vroeg die oggend gehuur is (“Gelykenis van die arbeiders op verskille ure gehuur”), suur is omdat die laatkommers dieselfde loon ontvang, skryf ons natuurlike besef van sedelikheid voor dat mense hulle verdiende loon moet kry. Wat sake selfs nog slegter maak vir ons natuurlike sedelike voorkeure, is die feit dat die skinker en die bakker miskien ewe sleg was, maar hulle was beslis nie ewe belangrik nie. In Egipte korrespondeer iemand se sosiale stand en status met ‘n vaste natuurlike orde wat ooreenkomste vertoon met die diereryk. Soos in laasgenoemde geld ook in Egipte die wet van die “survival of the fittest”. Ook in ons menslike samelewing is dit nog steeds die magtiges en belangrikes wat die toon aangee. Dit is net so natuurlik soos die stand van die sterre. En uiteraard skyn die een ster helderder as die ander. In Egipte is ‘n bakker byvoorbeeld, baie blinker as ‘n skinker. Jy kan dit ook goed begryp: brood is belangriker as brandewyn. Laasgenoemde is ‘n luukse; brood is broodnodig. Brood is vir die werksdag; wyn is vir die feesdag. “In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood eet”. Dit is natuurlik, dood-natuurlik!

VOORKEUR VIR DIE FEES

In hierdie verhaal vind egter ‘n vreemde omkering van die natuurlike orde plaas. Dit hou waarskynlik verband met die feit dat die farao verjaar het. Op hierdie fees gee die farao voorkeur aan die skinker bo die bakker. Sou dit dalk die rede wees waarom hierdie vreemde verhaal sy pad gevind het na die Bybel?

In die Skrif heers daar ‘n vreemde voorkeur vir die fees. Die Kerkhervorming het begin toe die Reformatore dit ontdek het. Dit gaan lynreg in teen ons prestasiegedrewe en suksesbesete samelewing. In die Bybel is die mens se bestemming nie die werksdag nie, maar die feesdag, die rusdag, die Sabbatdag. Wyn is in die Bybel meer maal die simbool van die feesdag waarheen die ganse skepping oppad is. Die Reformatore het besef dat by daardie fees die toegang gratis is of glad nie. Vir hierdie fees is belangrikheid ‘n belemmering. Wat dit juis so feestelik maak is die feit dat ons dit nie verdien nie. Geen wonder nie dat in die Evangelie volgens Johannes die eerste teken van Jesus die wynwonder is tydens die bruilof te Kana waartydens die Seun van God die groot Skinker was.

Dit laat mens vermoed dat Johannes dit verstaan as ‘n voorteken van die bruilofsfees van die Lam waarvan ons lees in die Openbaring 19: 7. By daardie fees sal tallose aansit wat belangrike mense normaalweg vermy. Soos die Fariseërs en Skrifgeleerdes wat aanstoot neem omdat Jesus saam eet met die semels. Indien jy nie deel wil wees van hierdie gulhartige fees nie, moet jy jouself uitsluit. Jesus se etes, soos die laaste Avondmaal, soos elke nagmaal, is tekens, sakramente van die groot fees waarheen skepping en geskiedenis oppad is.

Het dit jou al opgeval watter vreemde voorkeur in die Bybel heers vir diegene wat van nature minder belangrik is, diegene wat die sosiale en godsdienstige elite minderwaardig vind? Dink byvoorbeeld aan die voorkeur in die Skrif vir die jonger seun, d.w.s die een wat “van nature” minder belangrik is – mense soos Abel, Jakob, Josef, Gideon, Dawid, Salomo. Meer nog: het die vreemde voorkeur vir die verlorenes jou al aan die dink gesit?

Dink aan die verlore tollenaar, die verlore Lasarus (bedelaar), die verlore penning, die verlore skaap, die verlore seun. Op die byna uitspattige fees van sy vader vir laasgenoemde mislukking, stel die jonger seun deur sy verlorenheid sy voorbeeldige ouer broer in die skadu (Noordmans).

DIE BROOD VAN ELLENDE

Naas die skinker se beker vind ons op die nagmaalstafel ook die bakker se brood. Tydens die Joodse paasfees het brood en wyn verskillende funksies gehad. Die moment waarop Jesus die woorde: “Dit is my liggaam, wat ter wille van julle gebreek word” uitgespreek het, was op die stadium dat die volk op paasfees die ongesuurde brode gebreek het met die woorde: “Dit is die brood van ellende wat ons vaders in Egipte geëet het.” Anders as by die beker van blydskap, val die aksent by die nagmaalsbrood op die sonde en ellende, die nood en dood waarvan die Lam van God ons verlos het (Joh 1: 29).

Van die bakker loop net so ‘n duidelike lyn na die nagmaalstafel as van die skinker. Nou is dit egter nie die bakker as ‘n belangrike man nie, maar as ter dood veroordeelde aan ‘n vloekhout. Die Joodse hang aan ‘n paal, soos die Romeinse hang aan ‘n kruis, en die Germaanse hang aan ‘n galg, beteken dat jy hang tussen hemel en aarde. Nêrens is daar vir jou plek nie. Nóg die hemel, nóg die aarde is in jou geïnteresseerd. Soos die bakker se teregstelling word ook Jesus se kruisdood meermale in die Evangelie volgens Johannes beskryf as sy “verhoging” aan ‘n vloekhout. Byvoorbeeld Johannes 12: 32, 33: ‘“As Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.’ Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe”.

Daar is soveel wanhopige “waaroms?” in die wêreld. In die kruisroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” word alle “waaroms?” in die wêreld saamgepers. Alle lyding in skepping en geskiedenis van die een namens die ander, is deelname aan Christus se lyding ter wille van die wêreld in sy nood. Dit geld van die diere-offers namens die volk in die Ou Testament; van Josef namens sy broers; van die bakker namens die skinker; van die agtien op wie die toring van Siloam geval het, namens die ander inwoners van Jerusulem. Die geheim van die lewe is plaasbekleding. “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie” (Romeine 14:7). In sigself het die lewe geen sin nie, maar dit ontvang sin deur Gods genade. Want “as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.

Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword; om Here te wees van die dooies en die lewendes” (Romeine 14:8-9). “Drie dae” na die dood gee God self die antwoord op alle “waaroms?”. Op Pinksterfees sê die Heilige Gees deur die verkondiging van die apostels: “Daarom!”. Dan word alle vraagtekens uitroeptekens.

DIE BEKER VAN BLYDSKAP

Soos die brood verwys ook die beker na Jesus se dood, maar die aksent lê anders. Die moment waarop die Seun van God die woorde: “Hierdie is die nuwe testament in my bloed wat vir julle vergiet word” uitgespreek het, was op die tydstip tydens paasfees waarop die sogenaamde “beker van danksegging” of “ die beker van lofprysing” gedrink is. By die drink van hierdie beker het die vreugde oor die verlossing uit die slawehuis van Egipte deurgebreek. Die “nuwe testament” (verbond) waarna Jesus verwys is die heilsbedeling waaraan elkeen deel het wat nie aanstoot neem aan die geselskap van sondaars en sukkelaars nie.

By hierdie beker val die aksent nie op die nood waarvan ons verlos is nie, maar op die vreugde waartoe ons verlos is, die vreugde en vrede van die Sabbatsrus wat die Heilige Gees deur Woord en sakrament aan ons toesê. Dit is roep tot die rus van ons eie werke, in die volbragte werk wat God in Christus op Golgota volbring het.

Vir hierdie fees geld nie die reël van die “survival of the fittest” nie, maar is die “revival of the unfittest” (Bram van de Beek) naamlik die opstanding uit die dood, deurslaggewend. Die Heilige Gees is die “eerstelinggawe” van die groot Toekoms wat ons nou reeds in die tyd laat deel aan die bruilofsfees van die Lam.

Geen wonder nie dat die vreugde op Pinkster oor “die groot dade van God” (Handelinge 2: 11) so oorweldigend was dat sommige gedink het die deelnemers was vol soetwyn (Handelinge 2: 13 – 1953-vertaling). Dit was reeds ‘n voorsmaak van die fees van die voleinding wanneer Jesus saam met sy dissipels, die vrug van die wynstok nuut sal drink in die Koninkryk van sy Vader (Matt 26: 29).

Van hierdie uitbundige fees lees ons reeds in Jesaja 25: 6-8 (1953-vertaling): “En die Here van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ‘n maaltyd van vetspyse, ‘n maaltyd van ou wyn en vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn. En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is. Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here Here sal die trane van alle aangesigte afvee…”. Dit klink soos ‘n vader of moeder wat ‘n huilende kind wat pas wakker geword het styf vashou en verseker: “Toemaar, toemaar, die nagmerrie is verby. Jy is nou wakker. Jy is veilig by die huis”.

TUSSEN GELOOF EN AANSKOUING

Sover is ons nou nog nie. Ons situasie tussen Christus se oorwinning en ons opstanding uit sonde en dood in die voleinding, herinner aan ‘n drama wat afgespeel het tydens die 50-tiger jare in die myndorp Lengede in Duitsland. Dit was as gevolg van ‘n mynramp waartydens ‘n aantal mynwerkers lewend begrawe was in ‘n mynskag. Aangesien die reddingspoging destyds wêredlwyd op TV uitgesaai is, het dit ‘n besondere indruk gemaak.

Eers is vanaf die oppervlakte ‘n gat deurgeboor tot by die vasgekeerdes in hulle “graf”. Daarna het ‘n uiters spanningsvolle moment aangebreek toe ‘n mikrofoon in die gat laat sak is. Die hele wêreld het met ingehoue asem gewag terwyl die name van die vasgekeerdes afgelees is om vas te stel wie nog lewe. Aangrypend was dit om die mense uit die diepte (Psalm 130) te hoor roep. Die aflees van die name het een teoloog laat dink aan aflees van die dopelinge se name tydens Doopsondag. Die Bybel praat immers van die doop as die “bad van die wedergeboorte” (Titus 3: 5, 1953-vertaling). Maar ‘n mens sou ook aan die nagmaal kon dink.

Deur hierdie opening in die dood kon met hulle gepraat word, kon noodvoorraad soos medisyne en voedsel neergelaat word om die vasgekeerdes aan die lewe te hou totdat die reddingspoging voltooi was. Enersyds was hulle dus reeds gered; andersyds sou dit nog ‘n rukkie duur voordat hulle redding ondubbelsinnig duidelik aan die lig sou tree, of in Bybelse taal, geopenbaar sou word. Intussen kon hulle egter reeds asemhaal deur hierdie gat in hulle graf, kon hulle oorleef van die noodvoorraad, kon hulle kommunikeer na bo.

Paasfees beteken dat God in Christus ingeboor het tot by ons waar ons vasgeval was in sonde en dood. Sy opstanding impliseer dat daar ‘n gat in die dood is waardeur ons nou reeds in die geloof die skoon blou lug van God se Koninkryk kan aanskou. Sedert Pinkster waai die wind van die Gees deur hierdie opening in die dood sodat ons nie geestelik versmoor nie. Die tekens van brood en wyn is noodvoorraad wat God uit die hemel neerlaat om ons geestelik te laat oorleef. In vergelyking met wat wag by die “Bruilof van Lam” is die tekens van brood en wyn maar skamel. Tog verkondig dit reeds by voorbaat: netnou is ons Bo!

Nou is die tyd om te volhard in die geloof. Eers by die finale tuiskoms by God, sal ons werklik “op en wakker” wees. Amen.
POSTED BY John Wait on 17:16 under
Matteus 11:25-30

Ons almal het bagasie uit die verlede. Party mense dra swaarder as ander aan die bagasie. Vir party is die bagasie vir ons net ‘n las. Vir ander is die bagasie noodsaaklik. Hoe ons ook al daarna kyk, daar is nie een van ons sonder bagasie op ons lewensreis nie.

Ek dink nie daar is een ouer tussen ons wat sy of haar kind op reis stuur sonder om vir die kind iets in te pak nie. Geen reis sonder bagasie nie! Dit is dan net normaal dat dit ook op ons lewensreis gebeur. Ouers sorg van die vroegste kinderjare af vir bagasie, dit kan noodsaaklike bagasie wees, waarsonder die kind nie die lewensreis kan aanpak nie. Dit sluit egter ook soms negatiewe bagasie in wat weer die lewensreis bemoeilik en selfs ondraaglik kan maak.

In Engels is daar twee woorde vir bagsie: baggage en luggage. Baggage kan dan ‘n negatiewe en luggage ‘n positiewe konnotasie hê.

Daar is diegene wat swaar dra aan die bagasie van verwerping. Verwerping is immers seker een van die allerverskriklikste dinge wat ‘n mens kan oorkom. ‘n Kind wat deur sy ouer verwerp word, dra lewenslank aan hierdie swaar las. Hierdie verwerping kan op verskillende vlakke lê: van die voortrek van een kind bo die ander, die nie-luister na die kind, verwerping op grond van bepaalde optrede en so aan.

‘n Lewensmaat wat verwerp is, sukkel baie lank om hierdie las af te skud en slaag dikwels nooit daarin nie, maar gaan lewenslank gebukkend onder hierdie swaar las. Dis nie maklik om ontrouheid te verwerk nie en sommige sukkel baie lank met die stuk swaar bagasie.

Daar is so baie wat ook die bagasie van mishandeling saam met hulle deur die lewe moet sleep. Dis bagasie wat al te dikwels toegesluit en versteek saamgedra word. Dis bagasie wat lood swaar is en baie later knak onder die gewig daarvan. Kindermishandeling is seker een van die verskriklikste gruweldade wat ‘n kind aangedoen kan word. Dit laat letsels wat nie sommer toegroei nie. Dit sluit seksuele misbruik fisiese aanranding, emosionele mishandeling en verbale geweld in. Dit gaan mense se verstand te bowe dat sulke dinge kan plaasvind. Die tragiese werklikheid is dat dit wel voorkom. En dan nie net in heidenkringe nie, maar ook onder kerklidmate! In huisgesinne wat skynbaar kerklik meelewend is.

Jesus het by geleentehid gesê: “Elkeen wat wat een van hierdie kindertjies wat in my glo, van My afvallig laat word, vir hom is dit beter as ‘n groot meulsteen aan sy nek vasgemaak en hy in die see gegooi word” (Markus 9:42).

In plaas daarvan dat die kind lewenslank  ‘n swaar las dra, behoort die mishandelende ouer met ‘n meulsteen aan die nek in die see gegooi te word! Daar is ook die mishandeling van lewensmaats. Daar is mans en vrouens wat fisies mishandel is, en dan is daar die wat verbaal mishandel is. Kom ons erken dit: Daar is onder ons mense wat swaar dra aan die bagasie van mishandeling!

Ons dra verder die bagasie van die sosiale, politieke en ekonomiese omstandighede waaronder ons groot geword het, met ons saam. En dan maak ons nog met die verloop van die tyd nog ander bagasie ook bymekaar.

Ons dra hierdie bagasie in ons huwelike in. Elke huweliksmaat stap die huwelik in met sy en haar eie bagasie. En hoor mooi, dis nie net mense wat ‘n tweede huwelik aangaan wat bagasie uit die verlede in die huwelik indra nie. Dit geld vir elke liewe huwelik. Soms dra ons ons amper dood aan al ons bagasie, veral as ons dit nog in die geheim alleen wil dra. Soms is die bagasielas so swaar dat die huweliksbootjie sink, of dat gesinne of families uitmekaar spat.

In Matteus 11 spreek Jesus die probleem van bagasie wat mense dra en wat swaar laste word aan. Dit gaan hier in die eerste plek om godsdienstige bagasie. Die Farisieërs en Sadduseërs, die kerkleiers van daardie tyd , het allerlei bepalings gehad wat nagekom moes word. Hulle het die wet geinterpreteer en baie bepalings gemaak wat ten doel gehad het om vir die mense duidelike riglyne te wees oor hoe om die wet te onderhou en sodoende gehoorsaam  te wees aan die wil van God.

So is daar vir elke moontlike geleentheid bepalings gemaak. Dit het daartoe gelei dat hulle naderhand amper meer as 250 bepalings gehad het oor hoe presies die Sabbat onderhou moes word. In plaas van riglyne het dit wette geword. Die spontane aanbidding van die Here het toe plek gemaak vir gereguleerde diens.

Sodonede het godsdiens ‘n formele pligpleging geword. In plaas van ‘n vreugdevolle lus het dit ‘n ondraaglike las geword. Nie meer noodsaaklike bagasie (luggage) vir die lewensreis nie, maar onnodige loodsware bagasie (baggage) wat elke lewensreis ‘n sware affêre gemaak het.

Jesus kom met ‘n heel ander en nuwe perspektief. Die regulasie word vervang met ‘n enkele woord: liefde. Jy moet die Here jou God liefhê met jou ganse menswees en jy moet ander netso liefhê as wat jy jouself liefhet. Leef in liefde.

Hy rig ‘n uitnodiging: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig (Matt. 11:28-29).

Jesus nooi mense om hulle bagasie om te ruil. Ruil die swaar laste om vir ligte bagasie: die bagasie van liefde.

Nou sal ons dalk sê dit klink baie mooi, maar is dit moontlik en hoe kan ek dit doen? Ja, dit is moontlik. Jesus het immers geweet waarvan Hy praat, want Hy het ook byvoorbeeld die las van verwerping gedra. Hy is nie net deur die kerkleiers van Sy tyd verwerp nie, maar ook deur die volk. Hy is verwerp deur die mense wat vroeër na Hom toe gestroom het vir kos en wondertekens en genesings. Hulle het die rug op Hom gedraai en geëis dat Hy dood gemaak word.

Hy is selfs deur Sy vriende en navolgers verwerp wat met Sy verhoor en teregstelling skitter hulle in hulle afwesigheid. Maar erger nog. Aan die kruis roep Hy uit: “My God, My God, waarom het U My verlaat?”

Hy het ook mishandeling geken. Hoe is Hy ook nie beledig nie. Hoe baie skinderstories en liegstories is nie oor Hom versprei nie. Hy weet van seerkry. Die bagasie wat Hy aan die einde van Sy lewe moes dra, was swaar genoeg om enige mens te kank. Hy weet waarvan Hy praat.

Hy nooi almal wat uitgeput en oorlaai is om die swaar las te ruil vir sy las. Sy las van liefde. Bring die bagasie uit die verlede wat ander mense loodswaar gelaai en jyself nog voller gemaak het en ruil dit om vir ‘n ander tas. Al wat jy nodig het vir die lewensreis, is die bagasie wat Jesus jou bied: liefde.

Dryf liefde dan nie vrees weg nie? Laat liefde verwerping nie verdwyn nie? Heel liefde nie die wonde van mishandeling nie? Dryf die son van liefde nie duisternis en koue en haat weg nie? Hierdie uitnodiging van Jesus staan vandag nog. Sal ons nie vandag ons sware laste na Hom bring en dit in ruil vir Sy ligte bagasie nie. Dan kan ons die lewensreis met vreugde aanpak – wie lig reis, reis mos lekker!

Paulus het by hierdie uitnodiging van Jesus aangesluit toe hy geskryf het: dra mekaar se laste en gee op hiedie manier uitvoering aan die wet van Chrsitus (Gal.6:2). Jy sien, dit help nie om ons eie laste te ruil vir Jesus se ligte las nie as ons nie bereid is om mekaar se laste te dra nie. Geen Christen kan immers sy sware bagasie by Jesus laat en dan ander se bagasie met swaar laste vul nie. Nee, as ons las lig geword het, moet ons mekaar se laste dra.

Lewensmaats moet mekaar se bagasie uit die verlede help dra. Nie klaend en meerderwaardig nie, maar uit liefde. So moet ouers en kinders ook mekaar se laste dra. En familielede en vriende. Dit is iets waaraan ons ons lewens as Christene kan toets: as ons mekaar se bagasie dra, leef ons na die voorbeeld van Christus en dus tot Sy eer. As ons die laste op ander lê, kan ons nie met eerlikheid sê dat ons Jesus navolg nie en dat Sy liefde weerklank in ons lewens vind nie.

Die vraag is dan: wat doen ons met ons bagasie uit die verlede? Sleep ons dit lewenslank saam met ons? Laat ons toe dat dit ons knak? Of het ons dit al na Jesus toe gebring en verruil vir Sy liefdesbagsie? Dra ons mekaar se bagsie en laste of laai ons laste op ander?
POSTED BY John Wait on 17:31 under
Johannes 10:1-42

Hoeveel mense ken ons wat regtig omgee? Op hoeveel mense kan ons vertrou? Is dit nie maar bitter min nie? Ons kan nie ellelange lyste van mense gee wat werklik omgee en op wie ons werkli kan vertrou nie. En baie van ons was al seker ook diep geskok oor die optrede van ander…

In hierdie gedeelte spreek Johannes juis hierdie saak aan. Hy praat hier oor mense wat hulp en beskerming nodig het. Hy praat ook oor onbetroubare mense wat slegs eie gewin voor oë het. Hy wil egter veral daarop wys dat Jesus omgee en dat Sy volgelinge daarom ook moet omgee.

Hierdie hoofstuk draai om een metafoor, naamlik die verhouding tussen die herder en die skape. Om dit te kan verstaan, moet ons iets weet van veeboerdery in daardie tyd. Dit is so dat daar in die Bybel besondere agting is vir veeboere. “n Veeboer het ‘n besonderse plek beklee en is met agting behandel. Sy aansien was hoër as die van byvoorbeeld van ‘n saaiboer, vakman, of ‘n handelaar. Miskien omdat dit die droom van byna almal was om darem ‘n klompie skape of bokke te hê. Miskien omdat so baie skaapboere in die Ou-Testamentiese tyd uitgestyg het, soos Abraham en Dawid en Amos. Oor die algemeen het die skaapboere nie groot troppe gehad nie. Net maar ‘n paar of ‘n klompie. Maar hulle het hulle skape soos goud opgepas.

Die skaapboer het met sy skape agter die beste weiveld aan getrek. Daar was toe nie afgekampte plase soos ons dit vandag ken nie. Landerye is op spesifieke plase aangelê, maar die res van die land was oop wieveld. Daarheen het die veeboere getrek. Soms moes hulle ver trek om geskikte weiding te vind, en dan het hulle nie elke dag terug huis toe gegaan nie.

Gewoonlik het ‘n klompie herders in dieselfde omgewing opgepas. In die aand het hulle die skape in krale ingejaag om hulle te beskerm teen rowers en roofdiere. Die krale was of grotte, veral oorhangkranse en kalksteengrotte of dit was klip-of takkrale. Van die krale het hekke gehad, maar meestal was dit nie die geval nie. Die herders het dan in elkgeval in die ingang of by die hek geslaap om die skape te beskerm. In die oggend het die herders dan hulle skape uitgelei na die weiveld. Hulle het hulle skape geroep. Meestal het hulle skape name gehad en is die skape ook by die naam geroep. Die skape het dan agter die herder aangeloop (hulle het nooit hulle skape aangejaag nie).

In die eerste vyf verse maak Jesus ‘n aantal baie algemene stellings. Stellings wat trouens aan almal bekend was. Hy sê dat die een wat nie by die ingang van die kraal ingaan nie, ‘n dief en ‘n rower is. Dis mos bekend. In teenstelling daarmee, gaan die herder by die ingang in. Dis ook bekend. Die skape luister na sy stem. Hy roep die skape by hulle naam en lei hulle uit. Dis nie nuut nie.. Almal het die gebruik geken. Die skape sal nie na ‘n vreemde luister nie, maar op die vlug slaan as hulle ‘n vreemde stem hoor. Ook dit was algemene kennis. Dis dan geen wonder dat ons in vers 6 lees dat die mense Hom nie verstaan het nie. Wat probeer Hy nou eintlik sê?

Wat Hy gesê het, was ou en welbekende fiete. Maar dis soos Jesus nogal dikwels Sy vertellings begin. Hy begin met die bekende . Met dit waarmee almal saamstem. As hulle dan tot hiertoe saamstem, dan behoort hulle mos ook saam te stem as Hy die die toepassings tot die storie maak. Of hoe?

Jesus gebruik nie net hierdie bekende gebruik om Sy verhouding met Sy volgelinge te belig nie, maar sluit ook aan by die bekende Psalm23, waar die Psalmis vreugdevol sing omdat die Here sy Herder is. Trouens, dit was ‘n bekende metafoor wat dikwels in die Ou-Testament gebruik is. Die Here is ons Herder en ons is Sy skape.

As Jesus dan hierdie metafoor gebruik en na Homself verwys, kan mens al klaar die spanning voel oplaai. Gaan Hy Hom  dan nou met God gelykstel?

Jesus laat die klem dan op ‘n paar aspekte rondom Sy herderskap val. Hy sê eerstens dat Hy die ingang is. Daar is geen ander ingang nie. Net deur Hom kan die skape inkom en uitgaan. Die ander wat al gekom het en sal kom, is diewe en rowers wat nie die heil van die skape voor oë het nie, maar hulle eie selfsugtige belange. Hulle wil niks vir die skape doen nie, maar net hulleself verryk. Jesus is die ingang. Hy beskerm Sy skape. Hy sien toe dat niemand Sy skape steel of om die lewe bring nie.

In teenstelling met ‘n huurling, wat nie baie omgee nie, is Jesus bereid om alles te gee om Sy skape te beskerm. Hy is bereid om Sy lewe af te lê ter  wille van Sy skape…

Jesus gaan verder deur te beklemtoon dat Hy nie net die Beskermer is nie, maar ook die Een wat lewe en oorvloed bring. Hy sorg vir Sy skape. Hy sorg nie net dat hulle veilig is nie, maar ook dat hulle kry wat hulle nodig het. Hy gee lewe in oorvloed.

Jesus sê verder dat Hy Sy skape ken. Maar dan kom ‘n verrassende wending. Die klem verskuif van die verhouding tuusen Jesus en die skape na Jesus en die vader.. Netsoos die Vader Hom ken, ken Hy die Vader. Later stel Hy dit ook onomwonde: Ek en die Vader is Een.

Die metafoor bereik nog dieper profetiese perspektief as Jesus sê dat die Vader Hom nie net ken nie, maar ook liefhet. Die rede waarom die Vader Hom liefhet word uitgespel. Omdat Hy bereid is om Sy lewe af te lê vir die skape, het die Vader Hom lief. Maar nie net omdat Hy Sy lewe sal aflê nie, maar ook omdat Hy dit weer sal opneem. Weereens word dit beklemtoon deur herhaling. Jesus sal sterf, maar Hy sal weer opstaan uit die dood. Dit doen Hy omdat Hy die mag daartoe het. Hy sal nie passief wees in Sy sterwe nie. Hy het die mag om op te staan uit die dood.

Ons lees dat die Jode Hom toe gevra het om duidelik vir hulle te sê of Hy die Chrsitus is. Nou ons sou ook tien teen een ook nie mooi verstaan het nie. Ons verstaan dit dan selfs nou nog nie aldag nie en hulle het dit lank voor die kruisiging en opstanding gehoor.

Hoe reageer ons hierop? Hy sê dat Hy darem al gesê het dat Hy die Chrsitus is. Meer nog, Hy het met Sy dade bewys dat Hy die Christus is. As hulle dan nog nie glo nie, dan lê die fout by hulle. Dan is dit omdat hulle nie van Sy kudde is nie. Die skape wat nie Sy stem herken en in Sy dade sien dat Hy die Herder en Christus is nie, behoort nie aan Hom nie.

Wie gee regtig om? Hierdie gedeelte maak dit baie duidelik dat Jesus werklik omgee. Hy gee om vir elkeen wat na Hom toe kom. Dit is die troosboodskap van hierdie gedeelte en van die hele Bybel. As ons voel dat almal ons in die steek laat en dat niemand vir ons omgee nie, kom hierdie troosboodskap van Jesus na ons toe: Jesus gee om. Hy gee so baie om dat Hy Sy lewe vir ons afgelê het. Hy gee om en sal ons beskerm teen alle gevare. Hy sorg vir ons. Hy is onder alle omstandighede by ons en sal ons nooit in die steek laat nie. Hy is ons goeie Herder.

Hierdie gedeelte roep elke volgeling van Jesus ook op om regtig om te gee. Soos Hy moet ons omgee vir ander. Moet ons ander beskerm. Moet ons ander versorg. Moet ons ander liefhê soos wat Hy ons liefhet. Wat baat dit as ons bely dat Jesus regtig omgee en in alle opsigte betroubaar is as ons nie omgee en betroubaar is nie?
POSTED BY John Wait on 18:44 under
Psalm 42

In hierdie Psalm het ons gelees van iemand wat na God smag… Hierdie persoon beskryf hierdie “smagting” hierdie hunkering, verlange na God, soos wat ‘n wildsbok na water smag. Hy plaas dit op dieselfde voet as ‘n wildsbok wat vir dae sonder water was en wat amper sy laaste kragte inspan net om by ‘n koel waterstroom te kom.

Ons kan dit eintlik vir ons in ons gedagtes voorstel hoe die arme diertjie net alles gee om by die water te kom, die water wat vir hom die bron van sy lewe is…die water wat verhoed dat hy ‘n uitgerekte dood van lyding sal sterf…

Nou met ons, is die hele gedagte van die wildsbok wat so na water smag dalk bietjie al “afgewater”, jammer vir die uitdrukking want, ons sing mos gereeld die lied wat dit veronderstel om so mooi vir ons te beskryf… en dan gaan daar ongelukkig ‘n stuk van die betekenis verlore omdat dit so bekend is aan ons.

Die gewig van die woorde en die werklikheid daarvan gaan eintlik by ons verby. En dan sukkel ons om die vraag met genoeg erns te beantwoord: “Waarna smag jy nou?”

Dis amper asof dit vir ons so voor die hand liggend moet wees, maar ons kom net nie by die regte woorde uit nie. Dalk is dit omdat sommige van ons selfs die erns van die antwoord al so kunstig omseil het, of so met die jare saam al gewoond geraak het aan die harde waarheid dat ons sukkel om by die regte antwoord uit te kom.

Of dalk is jy al so “traak-my-nie-agtig” daaroor dat jy lankal nie meer die erns van die vraag en antwoord besef nie…: “Waarna smag jy, waarna streef jy, waarna hunker jy vanoggend met al jou kragte en jou hele wese?

Hoekom, dink jy dalk dat die antwoord “God” is, maar jy besf dalk dat dit nie jou enigigste hunkering in die lewe is nie. Hoekom dwaal jou gedagtes nou op hierdie oomblik so gou weg van die preek af? Jy het dalk al “gewoond” of “rustig” geraak oor die feit dat jy netsoos die arme wildsbokkie besig is om stadigaand ‘n geestelike dood te sterf…

Want kom ons beantwoord gou die maklike vraag: Wat is die uiteinde van die wildsbokkie as hy nie by die waterbron uitkom nie? Wat gaan met die bokkie gebeur as hy nie kan water drink nie… natuurlik is die antwoord eenvoudig: “Hy gaan stadig maar seker dood.”

Hy gaan nie skielik dood nie, nie soos wanneer hy dalk geskiet word deur ‘n jagter nie, nee hy gaan stadig dood ly. Nou werk dit mos netso met ons ook vanoggend. As jy nie genoeg hunker na God nie, as jy nie op hierdie oomblik alles insit om Hom te ontmoet en ‘n verhouding met Hom te hê nie, gaan jy ook ‘n stadige geestelike dood sterf.

Dalk is dit die rede dat ons so ‘n dooieruge spul partykeer is. Dalk is dit die rede hoekom mense so vinnig hulle rug op God draai. Dalk moet mens so iets op die naam noem – Geestelike selfmoord…. En dalk is dit juis dit, waarna jy vanoggend in jou onderwussein of dalk nog erger doelbewus, na smag.

Die Psalm sê so mooi in vers 5 : “As ek my lewe voor my laat verbygaan, dink ek daaraan hoe ek opgetrek het na die woonplek van God, voor ‘n skare uit, na Sy huis toe geloop het met gejuig en lofsang…”

Kan jy dit ook eendag sê as jy moet terugkyk. Dat jy God gereeld saam met mede gelowiges opgesoek het? Sal jy ook kan sien hoedat jy jou alles gedoen het om altyd naby God te wees?

Is dit nie sleg dat so min van ons dit dalk kan sê nie… dat so baie van ons ons besig hou met onbenullige dinge, veral op Sondae as ons in die kerk moet wees?

Is dit dan nie deel van ons geesteliike grootword, om in ons gedagtes en gebede saam met God terug te dink oor al die kere in die verlede waar Hy ons gehelp en bygestaan het nie. Dit is seker een van die lekkerste dinge van Christenskap om so terug te dink aan die tye wat jy gedink het dis die einde van my, dis die einde van die wildsbokkie, en dan kom gee Hy so mooi en getrou soos altyd vir jou uitkoms.

Hoe minder jy aan al hierdie dinge en tye dink hoe verder voel dit vir jou en hoe swaarder tref elke droogte tyd, elke geestelike droogtetyd jou. Maar hoe meer jy met God praat, en hoe meer jy Hom toelaat om jou op sulke gedagte-vlugte te neem hoe nader leef jy aan Hom, en hoe makliker oorkom jy al die storms van hierdie ou wêreld! Dis mos nou die moeite werd!

(vers6)“Waarom is ek so in vertwyfeling, en waarom kerm ek so? Die antwoord kom so mooi na ons toe vanogend. Die antwoord is tog so vreeslik eenvoudig en duidelik vanoggend. Al wat jy moet doen is om op God te vertrou! Jy moet weer vir Hom ‘n loflied sing. Hy is jou Helper, Hy is jou God! (vers7).

Maar ons is so geneig om ons ore uit leen vir al die reaksies en raad en praatjies van mense. Vers 11 praat van mense wat vir ons ook vra: “En waar is jou God nou?” Die vreeslike waarheid is juis dat omdat ons nie reguit aan die begin van die preek eers eerlik kon antwoord waarna ons vanoggend smag nie, sal ons mos nooit in der ewigheid die vraag kan beantwoord as mense nog in moeilike tye ook vir ons nog vra : “Waar is jou God dan nou nie!”

Kom nou uit jou vertwyfeling uit. Kom huis toe. Kom na die Water toe, en drink jou vol. Kom maak jou vol van die Here… sodat ons elkeen weer ‘n loflied kan sing, sodat ons elkeen weer kan erken : “Hy is my Helper en my God!